Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 5/1 bl. 21-26
  • Waarom Jehovah se Getuies aanhou waak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom Jehovah se Getuies aanhou waak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vroeë dissipels het daarna gestreef om waaksaam te wees
  • Diegene wat opgehou het om waaksaam te wees
  • Die resultate van groter waaksaamheid
  • Hoe hulle waaksaam gebly het
  • Hou jy aan waak?
  • Interne toetsing en sifting
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Toename in juiste kennis van die waarheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Wees altyd gereed!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die Koninkryk word in die hemel gebore
    God se Koninkryk regeer!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 5/1 bl. 21-26

Waarom Jehovah se Getuies aanhou waak

“Hou . . . aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.”—MATTHEÜS 24:42, NW.

1. Vir wie geld die waarskuwing: ‘Hou aan waak’?

OF ONS jonk of oud is, of ons ons onlangs toegewy het of al jare in die diens is—die Bybel se waarskuwing geld vir elke kneg van God: ‘Hou aan waak’! (Mattheüs 24:42, NW). Waarom is dit belangrik?

2, 3. (a) Watter teken het Jesus klaarblyklik beskryf, en wat is reeds ter vervulling van profesieë getoon? (b) Waarvan word daar in Mattheüs 24:42 melding gemaak wat die egtheid van ons geloof toets, en hoe word dit getoets?

2 Teen die einde van sy bediening op die aarde het Jesus die teken van sy onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag voorspel (Mattheüs, hoofstukke 24 en 25). Hy het klaarblyklik die tyd van sy koninklike teenwoordigheid beskryf—en gebeure ter vervulling van profesieë toon dat hy in 1914 as Koning in die hemel gekroon is. Hy het ook melding gemaak van iets wat gedurende daardie teenwoordigheid die egtheid van ons geloof sou toets. Dit was met verwysing na die tyd wanneer hy as Skerpregter sal optree om die huidige goddelose stelsel gedurende die groot verdrukking te vernietig dat Jesus gesê het: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” En daarmee in gedagte het hy gesê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (NW).—Mattheüs 24:36, 42.

3 Omdat die dag en die uur wanneer die groot verdrukking gaan begin nie aan ons bekend is nie, is dit noodsaaklik dat ons, as ons sê dat ons Christene is, elke dag soos ware Christene lewe. Sal die wyse waarop jy jou lewe gebruik die Here se goedkeuring wegdra wanneer die groot verdrukking aanbreek? Of sal Jehovah jou, indien jy voor die tyd sterf, onthou as ’n mens wat hom tot aan die einde van jou huidige lewe lojaal gedien het?—Mattheüs 24:13; Openbaring 2:10.

Die vroeë dissipels het daarna gestreef om waaksaam te wees

4. Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld van geestelike waaksaamheid leer?

4 Jesus Christus het die beste voorbeeld van geestelike waaksaamheid gestel. Hy het dikwels en vurig tot sy Vader gebid (Lukas 6:12; 22:42-44). Wanneer hy voor toetse te staan gekom het, het hy grootliks op die leiding in die Skrif staatgemaak (Mattheüs 4:3-10; 26:52-54). Hy het nie toegelaat dat sy aandag afgelei word van die werk wat Jehovah hom gegee het nie (Lukas 4:40-44; Johannes 6:15). Sou diegene wat hulleself as Jesus se volgelinge beskou het net so waaksaam wees?

5. (a) Waarom het Jesus se apostels dit moeilik gevind om hulle geestelike balans te handhaaf? (b) Watter hulp het Jesus sy apostels ná sy opstanding gegee?

5 Selfs Jesus se apostels het soms gewankel. Vanweë oorywerigheid en verkeerde idees moes hulle teleurstellings die hoof bied (Lukas 19:11; Handelinge 1:6). Voor hulle geleer het om ten volle op Jehovah te vertrou, het onverwagse beproewinge hulle van stryk gebring. Toe Jesus gearresteer is, het sy apostels dus gevlug. Later daardie nag het Petrus uit vrees herhaaldelik ontken dat hy Christus hoegenaamd ken. Die apostels het op daardie tydstip nog nie hierdie raad van Jesus ter harte geneem nie: “Waak en bid” (Mattheüs 26:41, 55, 56, 69-75). Ná sy opstanding het Jesus die Skrif gebruik om hulle geloof te versterk (Lukas 24:44-48). En toe dit gelyk het of party van hulle die bediening wat hy aan hulle toevertrou het tweede sou stel, het Jesus hulle motivering versterk om hulle op die belangriker werk toe te spits.—Johannes 21:15-17.

6. Teen watter twee strikke het Jesus sy dissipels vroeër gewaarsku?

6 Vroeër het Jesus sy dissipels gewaarsku om geen deel van die wêreld te wees nie (Johannes 15:19). Hy het hulle ook vermaan om nie oor mekaar baas te speel nie, maar om as broers saam te dien (Mattheüs 20:25–27; 23:8-12). Het hulle na sy raad geluister? Het hulle die werk wat hy hulle gegee het eerste gestel?

7, 8. (a) Hoe toon die geskiedenis van die eerste-eeuse Christene dat hulle op Jesus se waarskuwing ag geslaan het? (b) Waarom was volgehoue geestelike waaksaamheid belangrik?

7 Terwyl die apostels nog op die toneel was, het hulle die Christengemeente beskerm. Die geskiedenis bevestig dit dat die vroeë Christene nie by die politieke aangeleenthede van die Romeinse Ryk betrokke was nie en dat hulle nie ’n verhewe geestelikeklas gehad het nie. Daarenteen was hulle ywerige verkondigers van God se Koninkryk. Teen die einde van die eerste eeu het hulle ’n getuienis dwarsdeur die Romeinse Ryk gelewer en in Asië, Europa en Noord-Afrika dissipels gemaak.—Kolossense 1:23.

8 Die feit dat soveel met die predikingswerk bereik is, het egter nie beteken dat dit nie meer nodig was om geestelik waaksaam te bly nie. Jesus se voorspelde koms was nog ver in die toekoms. En toe die gemeente die tweede eeu G.J. binnegegaan het, het situasies ontstaan wat Christene se geestelikheid bedreig het. Hoe so?

Diegene wat opgehou het om waaksaam te wees

9, 10. (a) Watter gebeure ná die apostels se dood het getoon dat baie verklaarde Christene nie waaksaam gebly het nie? (b) Watter tekste, waarna hierdie paragraaf verwys, kon verklaarde Christene gehelp het om geestelik sterk te bly?

9 Sommige wat in die gemeente ingekom het, het hulle leerstellings ooreenkomstig Griekse filosofie begin oordra, sodat die boodskap wat hulle verkondig het vir mense van die wêreld aanvaarbaarder kon wees. Heidense leerstellings, soos die Drie-eenheid en die inherente onsterflikheid van die siel, het geleidelik deel van ’n besmette vorm van die Christelike godsdiens begin uitmaak. Dit het daartoe gelei dat die millenniumhoop laat vaar is. Waarom? Diegene wat die leerstelling van die onsterflikheid van die siel aangeneem het, het tot die gevolgtrekking gekom dat al die seëninge van Christus se heerskappy in die geesteryk verkry sou word deur ’n siel wat ná die dood van die menseliggaam sou voortleef. Daarom het hulle dit nie nodig geag om in afwagting te wees van Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag nie.—Vergelyk Galasiërs 5:7-9; Kolossense 2:8; 1 Thessalonicense 5:21.

10 Hierdie situasie is deur ander gebeure vererger. Sommige wat beweer het dat hulle Christenopsieners is, het hulle gemeentes begin gebruik om vernaamheid vir hulleself te verkry. Hulle het hulle eie opinies en leringe op ’n subtiele wyse met die Skrif gelykgestel of dit selfs hoër as die Skrif gestel. Toe die geleentheid hom voorgedoen het, het hierdie afvallige kerk hom selfs beskikbaar gestel om die politieke belange van die staat te bevorder.—Handelinge 20:30; 2 Petrus 2:1, 3.

Die resultate van groter waaksaamheid

11, 12. Waarom het die Protestantse Hervorming nie ’n terugkeer tot ware aanbidding beteken nie?

11 Ná eeue van wangebruike deur die Rooms-Katolieke Kerk het ’n paar Hervormers hulle in die 16de eeu daarteen uitgespreek. Maar dit het nie ’n terugkeer tot ware aanbidding beteken nie. Waarom nie?

12 Hoewel verskeie Protestantse groepe van die mag van Rome weggebreek het, het hulle baie van die basiese leerstellings en gebruike van die afvalligheid met hulle saamgeneem—die konsep van geestelikes en leke asook geloof in die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en ewige foltering ná die dood. En soos die Rooms-Katolieke Kerk, het hulle ’n deel van die wêreld gebly en ’n hegte verbintenis met die politieke elemente gehad. Hulle was dus geneig om enige verwagtinge oor Christus se koms as Koning te verwerp.

13. (a) Wat toon dat sommige mense God se Woord opreg waardeer het? (b) Watter gebeurtenis gedurende die 19de eeu was vir party verklaarde Christene van spesiale belang? (c) Waarom is baie teleurgestel?

13 Maar Jesus het voorspel dat die ware erfgename van die Koninkryk (wat hy met koring vergelyk het) ná die dood van die apostels tot die oestyd saam met die naamchristene (of, onkruid) sou groei (Mattheüs 13:29, 30). Ons kan vandag nie met sekerheid sê wie die Meester almal as koring beskou het nie. Maar dit is noemenswaardig dat daar gedurende die 14de, 15de en 16de eeu manne was wat hulle lewe en vryheid in gevaar gestel het om die Bybel in die taal van die gewone mens te vertaal. Ander het nie alleen die Bybel as God se Woord aanvaar nie, maar het ook die Drie-eenheid as onskriftuurlik verwerp. Sommige het geloof in die onsterflikheid van die siel en pyniging in ’n helse vuur verwerp as iets wat heeltemal strydig met God se Woord is. Groepe in die Verenigde State, Duitsland, Engeland en Rusland het ook gedurende die 19de eeu as gevolg van intensiewer Bybelstudie die oortuiging begin uitspreek dat die tyd vir Christus se wederkoms naby was. Maar die meeste van hulle verwagtinge het op teleurstelling uitgeloop. Waarom? Grotendeels omdat hulle te veel op mense en nie genoeg op die Skrif vertrou het nie.

Hoe hulle waaksaam gebly het

14. Beskryf die benadering van Bybelstudie wat C. T. Russell en sy metgeselle gevolg het.

14 Toe, in 1870, het Charles Taze Russell en ’n paar van sy metgeselle ’n Bybelstudiegroep in Allegheny, Pennsilvanië, gevorm. Hulle was nie die eerstes wat baie van die Bybelwaarhede wat hulle aangeneem het, verstaan het nie, maar wanneer hulle gestudeer het, het hulle ’n gewoonte daarvan gemaak om al die tekste oor ’n betrokke vraag noukeurig na te gaan.a Hulle doel was nie om stawende tekste vir vooropgesette idees te vind nie, maar hulle wou seker maak dat hulle gevolgtrekkings met alles ooreenstem wat die Bybel oor die saak sê.

15. (a) Tot watter besef het ander benewens broer Russell gekom? (b) Wat het getoon dat die Bybelstudente anders as hulle was?

15 ’n Paar ander voor hulle het besef dat Christus onsigbaar, as ’n gees, sou terugkeer. Party het besef dat die doel van Christus se wederkoms nie is om die aarde te verbrand en die mensdom uit te wis nie, maar eerder om al die geslagte van die aarde te seën. Daar was selfs ’n paar wat besef het dat die Heidense Tye in 1914 sou eindig. Maar vir die Bybelstudente wat met broer Russell geassosieer was, was hierdie dinge meer as net punte vir teologiese bespreking. Hulle het hulle lewe om hierdie waarhede gebou en internasionale publisiteit daaraan verleen op ’n skaal wat destyds ongeëwenaard was.

16. Waarom het broer Russell in 1914 geskryf: ‘Ons is in ’n tyd van toetsing’?

16 Hulle moes nogtans aanhou waak. Waarom? Hoewel hulle byvoorbeeld geweet het dat Bybelprofesieë op 1914 gewys het, het hulle nie presies geweet wat in daardie jaar sou gebeur nie. Dit was vir hulle ’n toets. Broer Russell het in The Watch Tower van 1 November 1914 geskryf: “Laat ons onthou dat ons in ’n tyd van toetsing is. . . . As daar enige rede is wat daartoe sal lei dat iemand die Here en Sy Waarheid versaak en ophou om opofferings vir die Here se Saak te maak, dan is dit nie bloot die liefde vir God in die individu se hart wat belangstelling in die Here geprikkel het nie, maar iets anders; waarskynlik die hoop dat die tyd kort sou wees; die toewyding was net vir ’n sekere tydperk.”

17. Hoe het A. H. Macmillan, en ander soos hy, hulle geestelike balans gehandhaaf?

17 Destyds het sommige Jehovah se diens verlaat. Maar A. H. Macmillan was een van dié wat dit nie gedoen het nie. Jare later het hy openlik erken: “Soms was ons verwagtinge oor ’n sekere jaartal meer as wat die Skrif gewaarborg het.” Wat het hom gehelp om sy geestelike balans te handhaaf? Hy het gesê hy het besef dat “wanneer daardie verwagtinge nie verwesenlik is nie, . . . dit nie God se voornemens verander [het] nie”. Hy het ook gesê: “Ek het geleer dat ons ons foute moet erken en in God se Woord vir verdere lig moet aanhou soek.”b Daardie vroeë Bybelstudente het nederig toegelaat dat God se Woord hulle beskouing regstel.—2 Timotheüs 3:16, 17.

18. Hoe het Christelike waaksaamheid progressiewe voordele opgelewer ten opsigte van afgeskeidenheid van die wêreld?

18 Gedurende die daaropvolgende jare was dit nog net so belangrik om aan te hou waak. Hulle het natuurlik geweet dat Christene geen deel van die wêreld moet wees nie (Johannes 17:14; Jakobus 4:4). In ooreenstemming daarmee het hulle nie saam met die Christendom gestaan toe hulle die Volkebond as ’n politieke beliggaming van God se Koninkryk ondersteun het nie. Maar hulle het eers in 1939 die geskil van Christelike neutraliteit duidelik verstaan.—Sien The Watchtower, 1 November 1939.

19. Watter voordele is ten opsigte van gemeentelike opsienerskap geniet omdat die organisasie waaksaam gebly het?

19 Hulle het nooit ’n geestelikeklas gehad nie, hoewel ’n paar verkose ouere manne gemeen het dat daar niks meer van hulle verwag moes word as om in die gemeente te preek nie. Omdat die organisasie egter ’n sterk begeerte gehad het om die Skrif te volg, is die rol van die ouere manne herhaaldelik in die lig van die Skrif hersien en in Die Wagtoring gepubliseer. Organisatoriese veranderinge is in ooreenstemming met die Skrif gemaak.

20-22. Hoe is die hele organisasie progressief gereedgemaak om die voorspelde wêreldwye Koninkryksverkondigingswerk te volbring?

20 Die hele organisasie is gereedgemaak om die werk wat God se Woord vir ons dag beveel het ten volle uit te voer (Jesaja 61:1, 2). In watter mate moes die goeie nuus in ons dag verkondig word? Jesus het gesê: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Uit ’n menslike oogpunt het dit al dikwels na ’n onmoontlike taak gelyk.

21 Maar met vertroue in Christus as die Hoof van die gemeente het die “getroue en verstandige dienskneg”-klas voortgegaan (Mattheüs 24:45). Hulle het Jehovah se volk getrou en duidelik ingelig oor die werk wat gedoen moet word. Sedert 1919 is daar al hoe meer klem op die veldbediening geplaas. Vir baie was dit moeilik om van huis tot huis te gaan en met vreemdelinge te praat (Handelinge 20:20). Maar studieartikels soos “Geseënd is die onverskrokkenes” (in 1919) en “Hou goeie moed” (in 1921) het party gehelp om die werk met vertroue in Jehovah te begin doen.

22 In 1922 het die oproep “adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk” die nodige stimulus voorsien om aan hierdie werk die prominensie te verleen wat dit verdien het. Van 1927 af is ouere manne wat nie daardie skriftuurlike verantwoordelikheid aanvaar het nie uit hulle amp verwyder. Om en by daardie tyd is die Genootskap se reisende verteenwoordigers, die pelgrims, as distriksdiensleiers aangestel om verkondigers persoonlik in die velddiens op te lei. Nie almal kon pioniers wees nie, maar baie het oor naweke volle dae aan die diens bestee deur vroeg in die oggend te begin, ’n rukkie te rus om ’n toebroodjie te eet en dan weer tot laat in die middag in die diens uit te bly. Dit was betekenisvolle tye van teokratiese ontwikkeling, en ons vind baie daarby baat as ons terugkyk op hoe Jehovah sy volk gelei het. Hy doen dit nog altyd. Met sy seën sal die verkondiging van die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk met welslae voltooi word.

Hou jy aan waak?

23. Hoe kan ons elkeen ten opsigte van Christelike liefde en afgeskeidenheid van die wêreld toon dat ons aanhou waak?

23 Onder Jehovah se leiding waarsku sy organisasie ons nog altyd teen gebruike en gesindhede wat ons as ’n deel van die wêreld sal identifiseer en ons gevolglik in die gevaarlike posisie sal plaas om saam met die wêreld verby te gaan (1 Johannes 2:17). Ons moet op ons beurt self waaksaam bly en op Jehovah se leiding ag slaan. Jehovah voorsien ook riglyne oor hoe ons in eenheid kan leef en werk. Sy organisasie het ons gehelp om ’n groter begrip te kry van wat Christelike liefde werklik beteken (1 Petrus 4:7, 8). Om aan te hou waak, vereis dat ons ywerig daarna strewe om hierdie raad ondanks menslike onvolmaakthede toe te pas.

24, 25. In watter lewensbelangrike opsigte moet ons waaksaam bly, en met watter vooruitsig?

24 Die getroue en verstandige dienskneg herinner ons voortdurend: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en steun nie op jou eie begrip nie” (Spreuke 3:5, NW). “Bid sonder ophou” (1 Thessalonicense 5:17). Ons word vermaan om ons besluite op God se Woord te grond en hierdie woord ‘’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad’ te laat wees (Psalm 119:105). Ons word liefdevol aangespoor om die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk, die werk wat Jesus vir ons dag voorspel het, eerste in ons lewe te stel.—Mattheüs 24:14.

25 Ja, die getroue en verstandige dienskneg waak beslis. Ons moet ook as individue aanhou waak. Mag ons, as ons dit doen, onder diegene wees wat in ’n goedgekeurde posisie voor die Seun van die mens staan wanneer hy kom om die oordeel te voltrek.—Mattheüs 24:30; Lukas 21:34-36.

[Voetnote]

a Faith on the Maart, deur A. H. Macmillan, Prentice-Hall, Inc., 1957, bladsye 19-22.

b Sien The Watchtower, 15 Augustus 1966, bladsye 504-10.

Ter hersiening

◻ Waarom moet ons aanhou waak, soos Mattheüs 24:42 toon?

◻ Hoe het Jesus en sy eerste-eeuse volgelinge geestelik waaksaam gebly?

◻ Watter ontwikkelinge was daar sedert 1870 omdat Jehovah se knegte aangehou waak het?

◻ Wat sal bewys dat ons as individue aanhou waak?

[Prente op bladsy 23]

Jesus het besig gebly in die werk wat sy Vader hom gegee het. Hy het ook vurig gebid

[Prente op bladsy 24]

Charles Taze Russell in sy latere jare

[Prent op bladsy 25]

Daar is meer as 4 700 000 Koninkryksverkondigers bedrywig oor die hele aarde

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel