Gelukkig is die nederiges
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”—1 PETRUS 5:5.
1, 2. Hoe het Jesus in sy Bergpredikasie getoon dat geluk met nederigheid verband hou?
HOU geluk en nederigheid met mekaar verband? In sy beroemdste preek beskryf Jesus Christus, die grootste mens wat nog geleef het, nege saligsprekinge, of situasies wat ’n mens gelukkig maak (Mattheüs 5:1-12, vgl. NW). Het Jesus geluk met nederigheid in verband gebring? Ja, hy het, want nederigheid hou verband met verskeie van die saligsprekinge wat hy gemeld het. Iemand moet byvoorbeeld nederig wees om bewus te wees van sy geestelike behoefte. Net die nederiges honger en dors na geregtigheid. En die trotsaards is nie saggeaard en barmhartig nie, en hulle is ook nie vredemakers nie.
2 Die nederiges is gelukkig omdat dit reg en eerlik is om nederig te wees. Daarbenewens is die nederiges gelukkig omdat dit verstandig is om nederig te wees; dit dra by tot ’n goeie verhouding met Jehovah God en met mede-Christene. Wat meer is, nederige mense is gelukkig omdat nederigheid ’n blyk van hulle liefde is.
3. Waarom verplig eerlikheid ons om nederig te wees?
3 Waarom vereis eerlikheid dat ons nederig moet wees? Vir eers omdat ons almal onvolmaaktheid geërf het en voortdurend foute maak. Die apostel Paulus het van homself gesê: “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” (Romeine 7:18). Ja, ons almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God (Romeine 3:23). Eerlikheid sal voorkom dat ons trots raak. Dit verg nederigheid om ’n fout te erken, en eerlikheid sal ons help om aanspreeklikheid te aanvaar wanneer ons ook al ’n fout maak. Aangesien ons voortdurend te kort skiet in wat ons graag wil doen, het ons goeie rede om nederig te wees.
4. Watter dwingende rede gee 1 Korinthiërs 4:7 ons om nederig te wees?
4 Die apostel Paulus gee ons nog ’n rede waarom eerlikheid ons nederig moet maak. Hy sê: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korinthiërs 4:7). Dit sal inderdaad oneerlik wees as ons die eer vir iets neem, as ons trots is op ons besittings, vermoëns of dit wat ons bereik het. Eerlikheid dra daartoe by dat ons ’n goeie gewete voor God het, sodat ons ons ‘in alle dinge eerlik sal gedra’.—Hebreërs 13:18, NW.
5. Hoe sal eerlikheid ons ook help as ons ’n fout gemaak het?
5 Eerlikheid help ons om nederig te wees wanneer ons ’n fout maak. Dit sal ons gewilliger maak om aanspreeklikheid te aanvaar pleks van onsself te probeer regverdig of iemand anders die skuld te gee. Hoewel Adam Eva die skuld gegee het, het Dawid Batseba nie beskuldig en gesê: ‘Sy moes nie gebad het waar mense haar kon sien nie. Ek kon nie help om in die versoeking te kom nie’ (Genesis 3:12; 2 Samuel 11:2-4). Daar kan in werklikheid gesê word dat eerlikheid ons enersyds help om nederig te wees; nederigheid help ons andersyds om eerlik te wees.
Geloof in Jehovah help ons om nederig te wees
6, 7. Hoe help geloof in God ons om nederig te wees?
6 Geloof in Jehovah sal ons ook help om nederig te wees. As ons besef hoe groot die Skepper, die Universele Soewerein, in werklikheid is, sal dit voorkom dat ons onsself te ernstig neem. Hoe goed herinner die profeet Jesaja ons tog hieraan! In Jesaja 40:15, 22 lees ons: “Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. . . . Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane.”
7 Geloof in Jehovah sal ons ook help wanneer ons meen dat ons veronreg is. Pleks van ons oor die saak te verknies, sal ons nederig op Jehovah wag, soos die psalmis ons in Psalm 37:1-3, 8, 9 daaraan herinner. Die apostel Paulus sê dieselfde: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”—Romeine 12:19.
Nederigheid—die verstandige weg
8. Waarom dra nederigheid tot ’n goeie verhouding met Jehovah by?
8 Daar is baie redes waarom dit verstandig is om nederig te wees. Een daarvan is, soos reeds getoon is, dat dit tot ’n goeie verhouding met ons Maker bydra. God se Woord sê duidelik in Spreuke 16:5: “Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ’n gruwel.” Ons lees ook in Spreuke 16:18: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” Die trotsaards sal vroeër of later smart ly. Dit móét eenvoudig so wees na aanleiding van wat ons in 1 Petrus 5:5 lees: “Wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Jy sal dieselfde gedagte aantref in die gelykenis wat Jesus vertel het van die Fariseër en die tollenaar wat albei gebid het. Die nederige tollenaar was regverdiger as die Fariseër.—Lukas 18:9-14.
9. Hoe help nederigheid ’n mens in tye van teëspoed?
9 Nederigheid is die verstandige weg omdat nederigheid dit vir ons makliker maak om ag te gee op die raad wat in Jakobus 4:7 aangetref word: “Onderwerp julle dan aan God.” As ons nederig is, sal ons nie opstandig raak as Jehovah toelaat dat ons teëspoed ervaar nie. Nederigheid sal ons in staat stel om met ons omstandighede tevrede te wees en te volhard. ’n Trotsaard is onvergenoegd, wil altyd meer hê en kom in opstand teen moeilike omstandighede. Die nederige mens daarenteen verduur die probleme en beproewinge, net soos Job gedoen het. Job het al sy besittings verloor en is deur ’n pynlike siekte geteister, en toe het sy vrou hom selfs aangespoor om die trotse weg te volg en het gesê: “Vervloek God en sterf!” (NAV). Hoe het hy gereageer? Die Bybelverslag sê vir ons: “Hy antwoord haar: Soos ’n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ek van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie” (Job 2:9, 10). Omdat Job nederig was, het hy nie opstandig geraak nie, maar hom op verstandige wyse onderwerp aan wat Jehovah ook al toegelaat het om oor hom te kom. En op die ou end is hy ryklik beloon.—Job 42:10-16; Jakobus 5:11.
Nederigheid dra by tot ’n goeie verhouding met ander
10. Hoe verbeter nederigheid ons verhouding met mede-Christene?
10 Nederigheid is die verstandige weg omdat dit tot ’n goeie verhouding met ons mede-Christene bydra. Die apostel Paulus gee ons tereg hierdie goeie raad: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Filippense 2:3, 4). As ons nederig is, sal ons verstandig wees deur nie met ander te wedywer of bo ander te probeer uitblink nie. Sulke gesindhede skep vir ons en ons mede-Christene probleme.
11. Waarom kan nederigheid ons help om foute te vermy?
11 Nederigheid sal ons keer op keer help om foute te vermy. Hoe? Want nederigheid sal voorkom dat ons te selfversekerd raak. Ons sal eerder Paulus se raad in 1 Korinthiërs 10:12 waardeer: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” Die trotsaard het te veel selfvertroue, en hy is dus geneig om vanweë eksterne invloede of sy eie swakhede foute te maak.
12. Watter skriftuurlike verpligting sal nederigheid ons help om na te kom?
12 Nederigheid sal ons help voldoen aan die vereiste om onderdanig te wees. In Efesiërs 5:21 word ons vermaan: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (NAV). Moet ons almal nie inderdaad onderdanig wees nie? Kinders moet onderdanig aan hulle ouers wees, vrouens aan hulle mans en mans aan Christus (1 Korinthiërs 11:3; Efesiërs 5:22; 6:1). Dan moet almal in elke Christengemeente, met inbegrip van die bedieningsknegte, aan die ouere manne onderdanig wees. Is dit nie ook so dat ouere manne onderdanig is aan die “getroue dienskneg”-klas, veral soos hulle deur die kringopsiener verteenwoordig word nie? Die kringopsiener weer moet onderdanig wees aan die streekopsiener en die streekopsiener aan die Takkomitee van die land waar hy dien. Wat van die Takkomiteelede? Hulle moet “aan mekaar onderdanig” wees en ook aan die Bestuursliggaam, wat “die getroue en verstandige dienskneg”-klas verteenwoordig en op hulle beurt aan Jesus, wat as Koning op die troon geplaas is, verantwoording moet doen (Mattheüs 24:45-47). Soos in enige liggaam van ouere manne moet die lede van die Bestuursliggaam mekaar se beskouings eerbiedig. Een dink moontlik dat hy ’n goeie idee het. Maar as te min van die ander lede met sy voorstel saamstem, moet hy die saak daar laat. Ons moet inderdaad almal nederig wees, want ons almal is onderworpe aan iemand.
13, 14. (a) In watter spesifieke situasie sal nederigheid ons help? (b) Watter voorbeeld het Petrus ten opsigte van die aanvaarding van raad gestel?
13 Dat nederigheid die verstandige weg is, kan veral gesien word aan die feit dat nederigheid dit vir ons makliker maak om raad en dissipline te aanvaar. Ons almal het soms dissipline nodig, en dit sal goed wees om op die raad in Spreuke 19:20 ag te gee: “Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees.” Soos daar al gepas gesê is, haal nederigheid die angel uit teregwysing of dissipline. Daarbenewens gee die apostel Paulus ons in Hebreërs 12:4-11 raad oor hoe verstandig dit is om ons nederig aan dissipline te onderwerp. Dit is die enigste manier waarop ons kan hoop om in die toekoms verstandig te wandel en as beloning die prys van die ewige lewe te verkry. Wat ’n vreugdevolle resultaat sal dit tog nie wees nie!
14 In hierdie verband kan ons na die voorbeeld van die apostel Petrus kyk. Die apostel Paulus het hom streng tereggewys, soos ons in die verslag in Galasiërs 2:14 sien: “Toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ’n Jood is, soos ’n heiden lewe en nie soos ’n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?” Het die apostel Petrus aanstoot daaraan geneem? Indien wel, was dit nie vir altyd nie, want hy praat later van “ons geliefde broeder Paulus” in 2 Petrus 3:15, 16.
15. Hoe hou ons nederigheid met ons geluk verband?
15 Dan moet ’n mens ook vergenoegd, tevrede, wees. Ons kan eenvoudig nie gelukkig wees as ons nie met ons lot, ons voorregte, ons seëninge tevrede is nie. Die nederige Christen se gesindheid is: “As God dit toelaat, kan ek dit verduur”, en dit is in werklikheid wat die apostel Paulus sê, soos ons in 1 Korinthiërs 10:13 lees: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” Ons sien dus weer hoe nederigheid die verstandige weg is, want dit help ons om gelukkig te wees ongeag wat ons lot in die lewe mag wees.
Liefde sal ons help om nederig te wees
16, 17. (a) Watter skriftuurlike voorbeeld beklemtoon die belangrikste eienskap wat ons help om nederig te wees? (b) Watter sekulêre voorbeeld lig ook hierdie punt toe?
16 Veral onselfsugtige liefde, a·gaʹpe, sal ons help om nederig te wees. Waarom kon Jesus sy folterpaalondervinding so nederig verduur soos Paulus dit aan die Filippense beskryf? (Filippense 2:5-8, vgl. NW). Waarom het hy dit nie oorweeg om aan God gelyk te wees nie? Want, soos hy self gesê het: ‘Ek het die Vader lief’ (Johannes 14:31). Dit is waarom hy te alle tye die heerlikheid en eer aan Jehovah, sy hemelse Vader, gegee het. Daarom het hy by ’n ander geleentheid beklemtoon dat net sy hemelse Vader goed is.—Lukas 18:18, 19.
17 Hierdie punt word toegelig deur ’n gebeurtenis in die lewe van een van Amerika se vroeë digters, John Greenleaf Whittier. Hierdie man het gedurende sy kinderjare ’n nooi gehad, en eenkeer tydens ’n spelkompetisie het sy ’n woord reg gespel wat hy verkeerd gespel het. Sy het baie sleg daaroor gevoel. Waarom? Hy onthou nog dat sy gesê het: “Ek is jammer dat ek daardie woord reg gespel het. Ek haat dit om beter as jy te doen . . . want jy sien, ek is lief vir jou.” Ja, as ons iemand liefhet, sal ons daardie een hoër stel as onsself, en nie benede onsself nie, want die liefde is nederig.
18. Nederigheid sal ons help om op watter skriftuurlike raad ag te gee?
18 Dit is ’n goeie les vir alle Christene, veral vir broers. Sal ons, wanneer dit by ’n spesiale diensvoorreg kom, verheug wees as ons broer, en nie ons nie, dit ontvang het, of sal ons ’n bietjie jaloers en afgunstig wees? As ons ons broer waarlik liefhet, sal ons verheug wees dat hy daardie spesiale toewysing, erkenning of diensvoorreg ontvang het. Ja, nederigheid sal dit maklik maak om op hierdie raad ag te gee: “Die een moet die ander voorgaan in eerbetoning” (Romeine 12:10). ’n Ander vertaling lui so: “Eer mekaar bo julleself” (New International Version). Dan word ons weer eens deur die apostel Paulus vermaan: “Dien mekaar deur die liefde” (Galasiërs 5:13). Ja, as ons liefde het, sal ons graag ons broers van diens wees en as slawe vir hulle dien deur hulle belange en welsyn bo ons eie te stel, wat nederigheid verg. Nederigheid sal ook verhinder dat ons spog en sodoende die gees van jaloesie of afguns in ander wek. Paulus het geskryf die liefde “praat nie groot nie, is nie opgeblase nie”. Waarom nie? Omdat die beweegrede wat agter grootpratery en opgeblasenheid skuil selfsugtig, egotisties, is, terwyl liefde die kern van onselfsugtigheid is.—1 Korinthiërs 13:4.
19. Watter Bybelvoorbeelde toon dat nederigheid en liefde soos trots en selfsug hand aan hand gaan?
19 Dawid se verhouding met koning Saul en sy seun Jonatan is ’n treffende voorbeeld van hoe liefde en nederigheid hand aan hand gaan en hoe trots en selfsug hand aan hand gaan. As gevolg van Dawid se sukses tydens oorloë het die vroue van Israel gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” (1 Samuel 18:7). Saul was glad nie nederig nie, maar was eerder verteer van die trots en het van toe af ’n moorddadige haat teenoor Dawid gekoester. Hoe anders was dit tog as sy seun Jonatan se gesindheid! Ons lees dat Jonatan Dawid soos sy eie siel liefgehad het (1 Samuel 18:1). Hoe het Jonatan dus gereageer toe dit met verloop van tyd duidelik geword het dat Jehovah Dawid geseën het en dat hy, en nie Jonatan nie, Saul as koning van Israel sou opvolg? Was Jonatan jaloers of afgunstig? Glad nie! Vanweë sy groot liefde vir Dawid kon hy sê, soos ons in 1 Samuel 23:17 lees: “Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed.” Jonatan se groot liefde vir Dawid het hom gehelp om nederig te aanvaar wat hy gesien het God se wil is oor wie sy vader as die koning van Israel sou opvolg.
20. Hoe het Jesus getoon dat daar ’n noue verband tussen liefde en nederigheid bestaan?
20 ’n Gebeurtenis tydens die laaste nag wat Jesus Christus saam met sy apostels was voor hy gesterf het, het die verband tussen liefde en nederigheid verder beklemtoon. In Johannes 13:1 lees ons dat Jesus, “omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad [het] tot die einde toe”. Daarna lees ons dat Jesus soos ’n kneg sy apostels se voete gewas het. Wat ’n kragtige les in nederigheid!—Johannes 13:1-11.
21. Ter opsomming, waarom moet ons nederig wees?
21 Daar is inderdaad baie redes om nederig te wees. Dit is die regte, die eerlike ding om nederig te wees. Dit is die weg van geloof. Dit dra by tot ’n goeie verhouding met Jehovah God en met ons medegelowiges. Dit is die verstandige weg. Dit is bowenal die weg van liefde en dit bring ware geluk.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Op watter maniere help eerlikheid ’n mens om nederig te wees?
◻ Waarom kan geloof in Jehovah ons help om nederig te wees?
◻ Wat toon dat nederigheid die verstandige weg is?
◻ Waarom help veral liefde ons om nederig te wees?
[Prent op bladsy 21]
Job het hom nederig aan Jehovah onderwerp. Hy het nie ‘God vervloek en gesterf’ nie
[Prent op bladsy 23]
Petrus het nederig gehoor gegee toe Paulus hom in die openbaar tereggewys het