Papias het die Here se woorde op prys gestel
“EK HET nie . . . die geselskap geniet van dié wat baie te sê het nie, maar van dié wat die waarheid geleer het.” So het Papias geskryf, ’n verklaarde Christen van die tweede eeu van ons Gewone Jaartelling.
Papias het gelewe in die tydperk wat direk op die dood van Jesus Christus se apostels gevolg het. Trouens, hy was ’n metgesel van Polycarpus, wat na bewering by die apostel Johannes geleer het. Hierdie feit, asook die manier waarop Papias kennis opgedoen het, maak dit waarskynlik dat hy goed ingelig was.
Noukeurige metode
Papias se dors na waarheid blyk duidelik uit die vyf boeke waaruit sy werk oor die woorde van die Here bestaan. In sy jeug het Papias ongetwyfeld baie van die woorde van die waarheid wat hy gehoor het in sy geheue bewaar. Later het Papias, van sy woning in die Frigiese stad Hiërapolis, in Klein-Asië, by die bejaardes probeer vasstel of hulle ooit enige van Jesus se apostels gesien of gehoor het. Hy het hulle gretig uitgevra en opgeteken wat hulle te sê gehad het.
Papias verduidelik: “Ek sal nie huiwer om alles neer te skryf . . . wat ek te eniger tyd by die bejaardes uitgevind het, en sorgvuldig onthou het, om julle van die waarheid daarvan te verseker nie. Want ek het nie, soos die meeste mense, die geselskap geniet van dié wat baie te sê het nie, maar van dié wat die waarheid geleer het; ook nie van dié wat vir ander bevele gee nie, maar van dié wat die [bevele] bekend maak wat die Here aan die geloof gegee het en wat uit die waarheid self voortspruit. En as enigiemand wat ’n volgeling van die ouderlinge was na my toe kom, sal ek die verslae vra wat deur die ouderlinge gegee is—wat Andreas of wat Petrus gesê het, of wat Filippus of wat Thomas of Jakobus, of wat Johannes of Mattheüs, of enige ander dissipels van die Here, gesê het.”
Sy werk
Papias het ongetwyfeld ’n oorvloed geestelike kennis tot sy beskikking gehad. Ons kan ons net voorstel hoe aandagtig hy na die besonderhede ten opsigte van die persoonlike lewe en bediening van elkeen van die apostels moes geluister het. In ongeveer 135 G.J. het Papias sy eie boek geskryf oor wat hy te vertelle gehad het. Ongelukkig het hierdie boek verdwyn. Ireneus, ’n verklaarde Christen van die tweede eeu G.J., en Eusebius, die vierde-eeuse geskiedskrywer, het daaruit aangehaal. Trouens, dit is nog in die 9de eeu G.J. gelees en het moontlik tot die 14de eeu bestaan.
Papias het aan die toekomstige Duisendjarige Heerskappy van Christus geglo (Openbaring 20:2-7). Volgens Ireneus het hy geskryf van ’n tyd “wanneer die skepping, nuut en vry, vanweë die dou van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde ’n oorvloed van alle kossoorte sal lewer, net soos die ouderlinge wat Johannes, die dissipel van die Here, gesien het, vertel het hulle die Here oor daardie tyd hoor leer het.” Papias het verder geskryf: “Vir gelowiges is hierdie dinge aanneemlik. En toe Judas, die verraaier, geweier het om te glo en gevra het: ‘Hoe sal die Here so iets vermag?’ het die Here gesê: ‘Diegene wat dan lewe, sal sien.’”
Papias het geskryf toe Gnostisisme iets algemeens was. Die Gnostici het filosofie, gissings en heidense mistisisme met die afvallige Christelike godsdiens vermeng. Papias se uiteensetting van die Here se godsprake, of woorde, was in werklikheid ’n poging om die verspreiding van Gnostisisme te keer. Ná hom het Ireneus aangehou om die Gnostici se valse en oordrewe geestelikheid te weerstaan. Die Gnostici se lektuur moes baie lywig gewees het sodat Papias sarkasties verwys het na “dié wat soveel te sê het”. Sy oogmerk was duidelik—om valsheid met die waarheid teë te werk.—1 Timotheüs 6:4; Filippense 4:5, NW.
Kommentare oor die Evangelies
In die fragmente van Papias se geskrifte wat nog bestaan, vind ons dat hy die verslae meld wat deur Mattheüs en Markus geskryf is. Papias sê byvoorbeeld van Markus se dokument: “Markus, wat die verklaarder van Petrus geword het, het alles wat hy onthou het akkuraat neergeskryf.” Papias lewer verdere bewys van hierdie Evangelie se akkuraatheid en sê: “Markus het dus nie ’n fout begaan toe hy sommige dinge so neergeskryf het soos hy hulle onthou het nie; want hy het dit sy een doel gemaak om niks uit te laat wat hy gehoor het of geen valse verklaring daarin te maak nie.”
Papias voorsien eksterne bewyse dat Mattheüs sy Evangelie oorspronklik in die Hebreeuse taal geskryf het. Papias sê: “Hy het die woorde in die Hebreeuse taal geskryf, en elkeen het dit na sy beste vermoë uitgelê.” Papias het waarskynlik na die Evangelieverslae van Lukas en Johannes verwys asook na die ander dele van die Christelike Griekse Geskrifte. Indien dit die geval is, is hy een van die vroegste getuies wat bevestig het dat dit betroubaar is en deur God geïnspireer is. Maar ongelukkig het daar net skrapse fragmente van Papias se geskrifte oorgebly.
Bewus van sy geestelike behoefte
As ’n opsiener in die gemeente in Hiërapolis was Papias ’n onvermoeide navorser. Benewens die feit dat hy ’n hardwerkende navorser was, het hy groot waardering vir die Skrif getoon. Papias was reg in sy oordeel dat enige leerstellige verklaring van Jesus Christus of Sy apostels baie waardevoller sal wees om te verduidelik as die onbestendige verklarings wat in die lektuur van sy dag aangetref is.—Judas 17.
Papias het na bewering in 161 of 165 G.J. in Pergamus ’n marteldood gesterf. Daar kan nie met sekerheid gesê word hoe diep die leringe van Jesus Christus Papias se lewe en gedrag werklik beïnvloed het nie. Maar hy het ’n groot begeerte gehad om die Skrif te leer ken en dit te bespreek. Dit is ook die geval met hedendaagse ware Christene, want hulle is bewus van hulle geestelike behoefte (Mattheüs 5:3, NW). En soos Papias stel hulle die Here se woorde op prys.