Paradys of vullishoop—Watter een verkies jy?
NIEMAND sou hom aansien vir enigiemand anders as wat hy was nie: ’n Europese toeris wat rus nodig gehad het en graag die sonskyn op ’n eilandparadys wou geniet. Terwyl hy oor die uitgestrekte sandduine langs die seestrand geklim het, het hy versigtig deur ’n spul ou bottels, blikkies, plastieksakke, kougom- en lekkergoedpapiertjies, koerante en tydskrifte geloop. Hy het geïrriteerd gewonder of dít die paradys was waarnatoe hy gereis het.
Het jy al ooit ’n soortgelyke ondervinding gehad? Waarom droom mense oor ’n vakansie in die een of ander paradys, maar wanneer hulle eers daar is, verander hulle dit blykbaar sonder die minste kwelling in ’n ware vullishoop?
Nie net in die “paradys” nie
Hierdie blatante minagting van skoonheid, netheid en sindelikheid is nie beperk tot die “paradyse” waarheen baie toeriste stroom nie. Die hedendaagse samelewing word ernstig geteister deur besoedeling wat byna orals voorkom. Talle ondernemings veroorsaak grootskaalse besoedeling deur tonne afvalprodukte te skep. Giftige afvalstowwe waarvan daar nie behoorlik ontslae geraak word nie en oliestortings wat per ongeluk veroorsaak word, dreig om groot dele van ons aarde te verniel en dit ongeskik vir lewe te maak.
Oorloë veroorsaak ook besoedeling. Terwyl die wêreld in afgryse toegekyk het, het die oorlog in die Persiese Golf in 1991 ’n nuwe betekenis aan besoedeling gegee. Troepe uit Irak het opsetlik ongeveer 600 oliebronne aan die brand gesteek wat Koeweit “in ’n apokaliptiese visioen van die hel” verander het, soos ’n Europese koerant dit beskryf het. Die Duitse tydskrif Geo het die inferno “die grootste omgewingskatastrofe wat tot nog toe deur die mens veroorsaak is”, genoem.
Ná die oorlog is daar onmiddellik met opruimingswerk begin. Dit het baie maande van harde werk geverg om net die brandende oliebronne te blus. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gesê dat die verhoogde besoedeling in Koeweit die sterftesyfer daar met 10 persent kan laat toeneem.
Minder gevaarlik, maar baie irriterend
Vir elke belangrike en flagrante voorbeeld van grootskaalse omgewingsbesoedeling is daar duisende voorbeelde van kleinskaalse besoedeling. Morsjorse en graffiti-“kunstenaars” is moontlik minder gevaarlike besoedelaars, maar hulle help nietemin om die planeet Aarde te beroof van sy potensiaal om ’n paradys te wees.
Graffiti kom in sommige plekke so algemeen voor dat burgers “graffiti-blind” geword het en dit nou skaars raaksien. Dit kom op moltreine, op die mure van geboue en op telefoonhokkies voor. Graffiti word nie meer tot die mure van openbare toilette beperk nie.
Party stede het talle vervalle en verlate geboue. Woonbuurte word deur onversorgde huise en tuine ontsier. Motorwrakke, ou masjinerie en rommeloorblyfsels lê op plaaswerwe rond wat andersins nog mooi kon wees.
In sekere kringe steur mense hulle blykbaar nie veel daaraan dat hulle liggaam vuil en onversorgd is nie. As jy slordig aantrek en onnet is, is dit moontlik nie net aanvaarbaar nie maar ook in die mode. Diegene wat netheid en sindelikheid op prys stel, word as hopeloos outyds beskou.
Wat ’n reusewerk!
Wat ’n reuseopruimingskampanje sal nodig wees om die strande, woude en berge van ons aardse tuiste te verander in die paradyse wat op die voorblad van glanstydskrifte vir toeriste verskyn—om nie eers te praat van wat met stede, dorpe en plase en met mense self gedoen sal moet word nie!
Die toeris wat vroeër gemeld is, was bly toe hy later die dag ’n opruimingspan sien wat deur die gebied gaan en die groter stukke rommel verwyder. Maar hulle het stukke gebreekte glas, botteldoppies, die metaallussies van blikkies en ’n ontelbare hoeveelheid sigaretstompies agtergelaat. Daar was dus selfs na ’n opruimingsessie oorgenoeg bewyse dat die gebied eerder ’n vullishoop as ’n paradys was.
’n Wêreldwye opruiming om te verhoed dat die planeet Aarde ’n wêreldwye vullishoop word, sal vereis dat daar van alle spore van hierdie onooglikhede ontslae geraak word. Is daar enige vooruitsig dat so ’n opruiming sal plaasvind? Indien wel, hoe? Wie sal dit doen? Wanneer?