Is die huwelik die enigste sleutel tot geluk?
“Sy [is] vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here. Sy is egter gelukkiger as sy so bly.”—1 KORINTHIËRS 7:39, 40.
1. Hoe beskryf die Skrif Jehovah, en wat het hy vir sy skepsele gedoen?
JEHOVAH is “die gelukkige God” (1 Timotheüs 1:11, NW). As die Milddadige Voorsiener van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe”, gee hy aan al sy intelligente skepsele—mense en engele—presies wat hulle nodig het om gelukkig te wees in sy diens (Jakobus 1:17). Trouens, ’n voëltjie wat uit volle bors sing, ’n hondjie wat uitgelate baljaar of ’n dolfyn wat speel, getuig almal dat Jehovah ook die diere geskep het om die lewe in hulle onderskeie natuurlike omgewings te geniet. Die psalmdigter gaan selfs so ver as om poëties te sê: “Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het.”—Psalm 104:16.
2. (a) Wat toon dat Jesus vreugde daaruit put om sy Vader se wil te doen? (b) Watter redes tot geluk het Jesus se dissipels gehad?
2 Jesus Christus is ‘die noukeurige afdruksel van Jehovah se wese’ (Hebreërs 1:3, NW). Dit verbaas ons dus nie dat Jesus “die gelukkige en enigste Maghebber” genoem word nie (1 Timotheüs 6:15, NW). Hy stel vir ons ’n wonderlike voorbeeld van hoe dit meer bevredigend as voedsel kan wees en suiwere genot kan verskaf om Jehovah se wil te doen. Jesus toon ook vir ons dat ’n mens vreugde daarin kan skep wanneer jy in die vrees van God wandel, dit wil sê, met diepe eerbied en ’n heilsame vrees om Hom te mishaag (Psalm 40:9; Jesaja 11:3; Johannes 4:34). Toe 70 dissipels ná ’n Koninkrykspredikingsreis “met blydskap” teruggekeer het, het Jesus hom “in die gees verheug”. Nadat hy sy vreugde in gebed aan sy Vader betuig het, het hy omgedraai na sy dissipels toe en gesê: “Gelukkig is die oë wat die dinge aanskou wat julle aanskou. Want ek sê vir julle: Baie profete en konings het begeer om die dinge te sien wat julle aanskou, maar het dit nie gesien nie, en die dinge te hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”—Lukas 10:17-24, NW.
Redes tot blydskap
3. Watter redes het ons om gelukkig te wees?
3 Moet ons oë nie gelukkig wees om die dinge te aanskou wat ons nou sien ter vervulling van Jehovah se Woord en voornemens hier in die tyd van die einde nie? Moet ons nie oorloop van vreugde omdat ons die profesieë verstaan wat getroue profete en konings soos Jesaja, Daniël en Dawid nie kon verstaan nie? Is ons nie gelukkig om die gelukkige God, Jehovah, te dien onder die aanvoering van die gelukkige Maghebber, ons Koning Jesus Christus, nie? Natuurlik is ons!
4, 5. (a) Wat moet ons vermy as ons gelukkig wil bly in Jehovah se diens? (b) Wat is party dinge wat tot ons geluk bydra, en watter vraag laat dit ontstaan?
4 Maar as ons gelukkig in God se diens wil bly, moet ons nie ons voorvereistes vir geluk op wêreldse opvattinge baseer nie. Sulke wêreldse opvattinge kan maklik ons denkwyse benewel, want hulle sluit dinge in soos materiële rykdom, ’n spoggerige leefwyse, en so meer. Enige “geluk” wat op sulke dinge gebaseer is, sal kortstondig wees, want hierdie wêreld gaan verby.—1 Johannes 2:15-17.
5 Die meeste van Jehovah se toegewyde knegte besef dat ware geluk nie daarvan afhang om wêreldse doelwitte te bereik nie. Net ons hemelse Vader voorsien geestelike en materiële dinge wat tot die ware geluk van sy knegte bydra. Hoe dankbaar is ons tog nie vir die geestelike voedsel wat hy deur “die getroue en verstandige dienskneg” aan ons gee nie! (Mattheüs 24:45-47). Ons is ook dankbaar vir fisiese voedsel en ander materiële dinge wat ons uit God se liefdevolle hand ontvang. Dan is daar ook die wonderlike gawe van die huwelik en die vreugdes van ’n gesinslewe wat daarmee verband hou. Dit is geen wonder dat Naomi se hartgrondige wens vir haar weduwee-skoondogters in hierdie woorde uitgespreek is nie: “Mag die HERE gee dat julle ’n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man” (Rut 1:9). Die huwelik is dus ’n sleutel wat ’n deur na groot geluk kan open. Maar is die huwelik die enigste sleutel tot ’n gelukkige lewe? Die jongeres moet veral ’n ernstige ondersoek doen om te sien of dit die geval is.
6. Wat was volgens Genesis die hoofdoel van die huweliksreëling?
6 In sy verhaal oor die oorsprong van die huweliksreëling sê die Bybel: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:27, 28). Deur Jehovah se instelling van die huwelik is Adam gebruik om meer mense voort te bring sodat die mensdom kon uitbrei. Maar die huwelik behels baie meer.
“Net in eendrag met die Here”
7. In gehoorsaamheid aan watter vereiste vir die huwelik het een getroue patriarg groot moeite gedoen?
7 Aangesien Jehovah God die Skepper van die huweliksreëling is, kan ons verwag dat hy die standaarde vir die huwelik sal stel wat tot die geluk van sy knegte sal lei. In die tyd van die aartsvaders is ’n huwelik met iemand wat nie ’n aanbidder van Jehovah was nie ten sterkste afgekeur. Abraham het sy kneg Eliëser voor Jehovah laat sweer dat hy nie vir die patriarg se seun, Isak, ’n vrou uit die Kanaäniete sou neem nie. Eliëser het ’n lang reis afgelê en Abraham se instruksies noukeurig gevolg om “die vrou wat Jehovah vir die seun van sy meester bestem het” te vind (Genesis 24:3, 44, NW). So het dit gekom dat Isak met Rebekka getrou het. Toe hulle seun Esau vir hom vrouens onder die heidense Hetiete geneem het, was hierdie vrouens “vir Isak en Rebekka ’n bitter verdriet”.—Genesis 26:34, 35; 27:46; 28:1, 8.
8. Watter beperking is deur die Wetsverbond op die huwelik gelê, en waarom?
8 Onder die Wetsverbond is Israel verbied om met mans of vroue te trou wat aan bepaalde Kanaänitiese nasies behoort het. Jehovah het sy volk beveel: “Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.”—Deuteronomium 7:3, 4.
9. Watter raad gee die Bybel aan Christene oor die huwelik?
9 Dit verbaas ons dus nie dat daar in die Christengemeente soortgelyke beperkings van krag is op huwelike met mense wat nie aanbidders van Jehovah is nie. Die apostel Paulus het sy medegelowiges gewaarsku: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korinthiërs 6:14, 15). Daardie raad is op verskillende dinge van toepassing en is beslis van toepassing op die huwelik. Paulus se uitdruklike instruksie aan alle toegewyde knegte van Jehovah is dat hulle dit slegs moet oorweeg om met iemand te trou “indien hy in eendrag met die Here is”.—1 Korinthiërs 7:39, voetnoot in NW.
Nie moontlik om “in eendrag met die Here” te trou nie
10. Wat doen baie ongetroude Christene, en watter vraag laat dit ontstaan?
10 Baie ongetroude Christene het besluit om die voorbeeld van Jesus Christus te volg deur die gawe van die ongetroude lewe aan te kweek. Daarteenoor het talle lojale Christene, omdat hulle nie nou ’n godvrugtige huweliksmaat kan vind sodat hulle “in eendrag met die Here” kan trou nie, eerder hulle hoop op Jehovah gevestig en ongetroud gebly as om met ’n ongelowige te trou. God se gees bring vrugte in hulle voort soos vreugde, vrede, geloof en selfbeheersing wat hulle in staat stel om rein te bly in hulle ongetroude staat (Galasiërs 5:22). Onder diegene wat hierdie toets van toegewydheid aan God met welslae die hoof bied, is daar ’n aansienlike getal van ons Christensusters vir wie ons die diepste agting het. In baie lande is daar heelwat meer sulke susters as broers en hulle doen ’n groot deel van die predikingswerk. Ja, “die Here het die woord laat hoor—die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ’n groot skare” (Psalm 68:12). Trouens, baie van God se ongetroude knegte van albei geslagte behou hulle onkreukbaarheid omdat hulle ‘op die HERE vertrou met hulle hele hart en Hy hulle paaie gelyk maak’ (Spreuke 3:5, 6). Maar is dit ’n uitgemaakte saak dat diegene wat nie nou “in eendrag met die Here” kan trou nie ongelukkig sal wees?
11. Waarvan kan Christene wat uit eerbied vir Bybelbeginsels ongetroud bly seker wees?
11 Ons moet altyd onthou dat ons Getuies van die gelukkige God, Jehovah, is en dat ons onder die gelukkige Maghebber, Jesus Christus, dien. Is dit logies om te dink dat God en Christus ons ongelukkig sal laat wees as ons uit eerbied vir die beperkinge wat duidelik in die Bybel neergelê is, ongetroud bly omdat ons nie ’n huweliksmaat “in eendrag met die Here” kan vind nie? Beslis nie. Ons moet dus tot die gevolgtrekking kom dat ons as Christene wel gelukkig kan wees al is ons ongetroud. Jehovah kan ons waarlik gelukkig maak hetsy ons getroud of ongetroud is.
Die sleutel tot ware geluk
12. Wat toon die geval van die ongehoorsame engele met betrekking tot die huwelik?
12 Die huwelik is nie vir al God se knegte die enigste sleutel tot geluk nie. Neem die engele as voorbeeld. Voor die Vloed het party engele begeertes aangekweek wat onnatuurlik vir geesskepsele was en ontevrede geraak omdat hulle nie kon trou nie en vleeslike liggame aangeneem sodat hulle vir hulle vroue kon neem. Omdat hierdie engele sodoende “hul eie woning verlaat het”, het God hulle “vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar” (Judas 6; Genesis 6:1, 2). Dit is duidelik dat God nooit beplan het dat engele moes trou nie. Die huwelik kon dus beslis nie die sleutel tot hulle geluk gewees het nie.
13. Waarom is die heilige engele gelukkig, en wat toon dit aan al God se knegte?
13 Nogtans is die getroue engele gelukkig. Jehovah het die fondamente van die aarde gelê “onder die vreugdevolle samesang van die môresterre en die eenparige toejuiging van die [engele]seuns van God” (Job 38:7, The New Jerusalem Bible). Waarom is die heilige engele gelukkig? Omdat hulle Jehovah God voortdurend dien “in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord” om dit te volbring. Hulle verlustig hulle daarin om “sy welbehae [te] doen” (Psalm 103:20, 21, voetnoot in NW). Ja, die heilige engele put hulle geluk uit getroue diens aan Jehovah. Dit is ook vir mense die sleutel tot ware geluk. Trouens, getroude gesalfde Christene wat God nou vreugdevol dien, sal nie trou wanneer hulle tot hemelse lewe opgewek word nie, maar sal as geesskepsele genot daaruit put om God se wil te doen. Derhalwe kan al Jehovah se getroue knegte, hetsy hulle getroud of ongetroud is, gelukkig wees omdat getroue diens aan die Skepper die ware grondslag vir geluk is.
‘Iets beters as seuns en dogters’
14. Watter profetiese belofte is aan godvrugtige eunugs in eertydse Israel gemaak, en waarom kan dit vreemd klink?
14 Selfs al trou ’n lojale Christen nooit nie, kan God so iemand se geluk verseker. Ons kan vertroosting put uit hierdie woorde wat profeties aan ontmandes, oftewel eunugs, in eertydse Israel gerig is: “Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ’n gedenkteken en ’n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ’n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie” (Jesaja 56:4, 5). ’n Mens sou moontlik verwag dat sulke mense ’n vrou en kinders as belofte sou ontvang om hulle naam te verewig. Maar hulle is iets beloof “wat beter is as seuns en dogters”—’n ewige naam in Jehovah se huis.
15. Wat kan gesê word oor die vervulling van Jesaja 56:4, 5?
15 As hierdie eunugs beskou word as ’n profetiese afbeelding van “die Israel van God” dan verteenwoordig hulle gesalfde Christene wat ’n ewige plek in Jehovah se geestelike huis, of tempel, ontvang (Galasiërs 6:16). Hierdie profesie sal ongetwyfeld ook ’n letterlike toepassing hê op godvrugtige eunugs van eertydse Israel wat in die opstanding teruggebring gaan word. As hulle Christus se losprys aanneem en bly doen wat Jehovah behaag, sal hulle “’n ewige naam” in God se nuwe wêreld ontvang. Dit kan ook van toepassing wees op diegene van die “ander skape” wat hulleself in hierdie tyd van die einde die huwelik en ouerskap ontsê sodat hulle hulle in groter mate aan Jehovah se diens kan wy (Johannes 10:16). Van hulle kan ongetroud en kinderloos sterf. Maar as hulle getrou bly, sal hulle in die opstanding iets ontvang “wat beter is as seuns en dogters”—’n naam wat in die nuwe stelsel van dinge “nie uitgeroei sal word nie”.
Die huwelik nie die enigste sleutel tot geluk nie
16. Waarom kan ons sê dat die huwelik nie altyd geluk bring nie?
16 Sommige is van mening dat geluk onafskeidelik saamhang met die huwelik. Daar moet nietemin erken word dat die huwelik nie altyd geluk bring nie, selfs nie eers onder Jehovah se knegte van vandag nie. Die huwelik los party probleme op, maar skep dikwels ander probleme wat moeiliker is as dié waarmee ongetroudes te kampe het. Paulus het gesê dat die huwelik ‘verdrukking vir die vlees’ meebring (1 Korinthiërs 7:28). Daar is tye wanneer die getroude “besorg” en “verdeeld” is. Hy of sy vind dit dikwels moeilik om ‘die Here voortdurend te dien, sonder om afgelei te word’.—1 Korinthiërs 7:33-35, NW.
17, 18. (a) Wat het sommige reisende opsieners gerapporteer? (b) Watter raad het Paulus gegee, en waarom is dit nuttig om dit toe te pas?
17 Sowel die ongetroude staat as die huwelik is gawes van God (Rut 1:9; Mattheüs 19:10-12). Sukses in die een of die ander vereis egter biddende besinning. Reisende opsieners rapporteer dat baie Getuies té jonk trou en dikwels ouers word voordat hulle gereed is om die verantwoordelikhede wat daaruit voortvloei op hulle te neem. Party van hierdie huwelike verbrokkel. Ander paartjies slaag daarin om hulle probleme die hoof te bied, maar hulle huwelik bring nie vir hulle geluk nie. Soos die Engelse dramaturg William Congreve geskryf het, kan diegene wat gou trou “dit lank berou”.
18 Kringopsieners berig ook dat party jong broers nie vir Betheldiens wil aansoek doen of na die Bedieningsopleidingskool wil gaan nie weens die vereiste dat hulle vir ’n tyd lank ongetroud moet bly. Maar die apostel Paulus raai ’n mens af om te trou vóór sy “bloei van die jeug verby is”, dit wil sê, om te wag totdat die eerste opwelling van geslagsdrif bedaar het (1 Korinthiërs 7:36-38, NW). Die jare wat jy as ’n ongehude volwassene deurbring, stel jou in staat om waardevolle ondervinding op te doen en insig te verkry, sodat jy in ’n beter posisie is om ’n huweliksmaat te kies of om ’n weloorwoë besluit te neem om ongetroud te bly.
19. Hoe kan ons sake beskou as ons nie werklik ’n behoefte aan die getroude staat het nie?
19 Party van ons is verby die bloei van die jeug met sy sterk drang na geslagsintimiteit. Ons dink moontlik soms na oor die seëninge van die huwelik, maar ons het in werklikheid die gawe van die ongetroude lewe. Jehovah besef moontlik dat ons hom goed in die ongetroude staat kan dien en dat ons nie werklik ’n behoefte het aan die getroude lewe nie, aangesien dit sou beteken dat ons afstand sal moet doen van sekere voorregte in sy diens. As die huwelik nie ’n persoonlike behoefte is nie en ons nie geseën is met ’n huweliksmaat nie, kan God moontlik iets anders vir ons in die vooruitsig stel. Laat ons dus geloof daarin beoefen dat hy in ons behoefte sal voorsien. Die grootste geluk spruit voort uit ons nederige aanvaarding van wat blykbaar God se wil vir ons is, net soos ons Joodse broers ‘hulle daarby neergelê en God verheerlik het’ toe hulle besef dat God ook aan mense uit die nasies vergun het om berou te toon sodat hulle die lewe kan hê.—Handelinge 11:1-18.
20. (a) Watter raad oor die ongetroude lewe word hier aan jong Christene gegee? (b) Watter fundamentele gedagte oor geluk bly waar?
20 Die huwelik kan derhalwe ’n sleutel tot geluk wees, maar dit kan ook die deur tot probleme open. Een ding is seker: Die huwelik is nie die enigste weg tot geluk nie. Alles in aanmerking geneem, sal dit dus verstandig wees, veral vir jong Christene, om plek te probeer maak vir etlike jare van ongetroude lewe. Daardie jare kan goed in Jehovah se diens gebruik word sowel as om geestelik vooruitgang te maak. Ongeag ouderdom of geestelike vooruitgang bly hierdie ’n fundamentele waarheid vir almal wat hulle onvoorwaardelik aan God toewy: Ware geluk word gevind in getroue diens aan Jehovah.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom is Jehovah se knegte gelukkig?
◻ Waarom is die huwelik nie die sleutel tot die grootste geluk nie?
◻ Wat word van Jehovah se volk vereis wat hulle keuse van ’n huweliksmaat betref?
◻ Waarom is dit logies om te glo dat Christene wat ongetroud bly gelukkig kan wees?
◻ Wat moet ons omtrent die huwelik en geluk erken?