Vrae van lesers
◼ Wat moet ’n Christengesin doen as hulle kind ’n skool moet bywoon waar godsdiensonderrig verpligtend is?
Christenouers het geen begeerte om hulle kinders met valse godsdiens te laat indoktrineer nie. Maar daar kan situasies wees wanneer kinders nie kan weier om ’n klas by te woon waar godsdiensonderrig gegee word nie, hoewel hulle nie sal deelneem aan valse godsdiensgebruike of -seremonies nie.
God se vriend Abraham het ’n goeie voorbeeld met betrekking tot godsdiensonderrig vir kinders gestel. Hy het sy kinders in Kanaän grootgemaak, waar hulle omring was deur godsdiensdwaling en afskuwelike “heilige” gebruike. (Vergelyk Exodus 34:11-15; Levitikus 18:21-30; Deuteronomium 7:1-5, 25, 26; 18:9-14.) Nogtans was hy die bron van godsdiensonderrig vir sy gesin. God het die vertroue gehad dat Abraham “sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen”.—Genesis 18:19.
Jesus het ook as jong man baat gevind by gesins- en gemeentelike onderrig in ware aanbidding. Hy het dus “toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense”.—Lukas 2:52.
In die meeste dele van die aarde ontvang jong Christene sekulêre opvoeding in openbare skole. Nie alles wat hulle geleer word, is in volle ooreenstemming met Bybelwaarheid en bewese feite nie. Talle geslagte jong Christene het byvoorbeeld al wetenskap- of biologieklasse bygewoon as ’n deel van hulle gewone leerplan. Die meeste van hulle is dus blootgestel aan heersende evolusieteorieë en verwante beskouings oor die “natuurlike” oorsprong van die lewe op aarde.
Hierdie blootstelling het egter nie van hierdie jong Christene voorstanders van Godlose evolusie gemaak nie. Waarom nie? Omdat hulle reeds vooraf tuis en by Christenvergaderinge juiste informasie gekry het wat op God se geïnspireerde Woord gegrond is en wat hulle gehelp het om hulle ‘geestesvermoëns te oefen om goed van kwaad te onderskei’ (Hebreërs 5:14). Baie ouers het ook die gebalanseerde bespreking van evolusie, wat aangebied word in die geloofversterkende boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?a, saam met hulle kinders gestudeer. Toegerus met dié kennis het hierdie skoolkinders nie die klasonderrig oor evolusie as geloofwaardig aanvaar nie. Hulle het nogtans in hulle klasoptrede en toetse getoon dat hulle aandag geskenk het en dat hulle die gegewens wat aangebied is, kon bemeester. Party het selfs die geleentheid gehad om alternatiewe verduidelikings te gee wat strook met die feite wat deur die mens se Skepper in die Bybel voorsien is.—1 Petrus 3:15.
Maar wat van klasperiodes wat aan onderrig in die vernaamste plaaslike godsdiens of selfs aan godsdiens oor die algemeen gewy is?
Dit is onwaarskynlik dat sulke onderrig op ’n neutrale grondslag, as blote inligting, aangebied sal word. Die onderwyser beoefen moontlik self daardie godsdiens en kan dus probeer om die hart en verstand van die leerlinge te beïnvloed. Jehovah se Getuies verkies dus dat hulle kinders van klasse verskoon word waar godsdiensonderrig gegee word. Sodoende kan hulle kinders hul tyd by die skool nuttiger gebruik deur take vir ander vakke te voltooi of deur in die skool se biblioteek te gaan leer.
Op party plekke is sulke versoeke egter geweier; die skool of openbare owerheid vereis moontlik selfs dat alle kinders ’n godsdienskursus moet bywoon en voltooi voordat hulle kan slaag. Elke gesin moet self besluit wat om in sulke gevalle te doen.
Party van God se eertydse knegte het hulle teen hulle sin in situasies bevind waar hulle blootstelling aan godsdiensleringe of gebruike moes verduur, maar hulle het getrou gebly aan die ware God. Dit was heel moontlik die geval met Moses. Hy is grootgemaak as die kleinseun van Farao van Egipte en is “opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars” (Handelinge 7:20-22). Dit het heel waarskynlik in sekere mate die opvattings en godsdiensgebruike ingesluit wat algemeen in Egipte was. Maar Moses is beskerm deur die verhewe onderrig wat hy klaarblyklik van sy gesin en moontlik van ander Hebreërs gekry het.—Exodus 2:6-15; Hebreërs 11:23-26.
Dink ook aan die voorbeeld van die drie jong Hebreërs, metgeselle van Daniël, wat spesiale onderrig in Babilon ontvang het en regeringsamptenare gemaak is (Daniël 1:6, 7). Dit het hulle nie vrygestaan om te doen of te weier wat hulle wou nie. By een geleentheid het koning Nebukadnesar beveel dat hulle saam met die ander amptenare by die goue beeld byeen moes kom wat hy in die dal Dura opgerig het, waar dade van nasionalistiese toewyding sou plaasvind. Hoe het die drie Hebreërs opgetree? Ons kan seker wees dat hulle sou verkies het om nie teenwoordig te wees nie, maar dit was nie moontlik nie.b Hulle het nogtans getrou gebly aan hulle opvattings en aan hulle geloof in die almagtige God. Hulle godvrugtige gewete het hulle toegelaat om teenwoordig te wees, terwyl hulle egter vasberade geweier het om deel te neem aan, of persoonlik mee te doen aan, enige valse godsdiensdaad.—Daniël 3:1-18.
Wanneer dit verpligtend is dat alle leerlinge ’n godsdiensklas moet bywoon, en moontlik moet studeer om standaardtoetse te kan slaag, kan kinders van ware Christene moontlik sulke klasse bywoon, net soos daardie drie ook in opdrag van Nebukadnesar teenwoordig was. Maar jong Christene sal God eerste stel. Net soos die drie Hebreërs nie probeer het om in te meng toe die ander voor die beeld van goud neergebuig het nie, hoef hulle nie elke onjuiste bewering wat gemaak word, of elke onskriftuurlike gebruik waaraan die ander deelneem, te betwis nie. Jong Christene sal egter nie self aan dade van aanbidding, gesamentlike gebede, godsdiensliedere en soortgelyke dinge deelneem nie.
Op ander tye behoort hierdie jong mense hulle bes te doen om opbouende kennis in te neem ‘van die heilige Skrifte wat hulle wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus’ (2 Timotheüs 3:15). Deur kommunikasie met hulle kinders moet ouers voortdurend die inhoud van klasonderrig kontroleer. Dit sal volwasse Christene help om te bepaal wat reggestel of uit die Bybel verduidelik behoort te word, sodat hulle kinders nie verwar of mislei word nie.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Daar is geen aanduiding in die Bybel dat Daniël op die plein Dura teenwoordig was nie. Miskien het sy hoër rang in die regering hom toegelaat om verskoon te word.