Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 10/1 bl. 4-7
  • Hoe lank sal God nog geduldig wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe lank sal God nog geduldig wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom is God so geduldig?
  • ’n Voorbeeld van God se geduld
  • Waarom God vandag geduldig is
  • Die geskil oor heerskappy
  • Vind nou baat by God se geduld
  • Nie veel langer nie!
  • Leer uit die geduld van Jehovah en Jesus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Volg Jehovah se geduld na
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hou aan om geduldig te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Kan jy geduld beoefen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 10/1 bl. 4-7

Hoe lank sal God nog geduldig wees?

’NWYSE man het ongeveer 3 000 jaar gelede geskryf: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). En vandat hy daardie opmerking gemaak het, het dinge nie verbeter nie. Deur die geskiedenis heen het individue of groepe die een na die ander die bewind oorgeneem, oor ander mense geheers en hulle uitgebuit. Jehovah God het dit geduldig verdra.

Jehovah was geduldig terwyl regerings miljoene tydens oorloë na hulle dood toe gestuur het en skreiende ekonomiese onregte toegelaat het. Hy lê vandag nog steeds geduld aan die dag onderwyl die mens die osoonlaag vernietig en die lug en die see besoedel. Hoe moet dit hom tog nie grief om die vernietiging van die goeie vrugbare grond en die nodelose uitwissing van woude en die diere- en plantelewe te aanskou nie!

Waarom is God so geduldig?

’n Eenvoudige illustrasie kan ons help om hierdie vraag te beantwoord. Dink aan die gevolge vir ’n sakeonderneming wanneer ’n werknemer voortdurend laat kom. Wat moet die eienaar doen? Blote geregtigheid kan vereis dat hy die werknemer summier afdank. Maar hy onthou dalk die Bybelspreuk: “Hy wat langsaam is tot toorn is oorvloedig in onderskeidingsvermoë, maar wie ongeduldig is, verhef dwaasheid” (Spreuke 14:29, NW). Onderskeidingsvermoë kan hom laat wag alvorens hy optree. Hy besluit miskien om tyd toe te laat sodat iemand anders opgelei kan word om die werknemer te vervang sodat die onderneming nie nog meer ontwrig word nie.

Hy kan ook uit meegevoel wag. Hy kan miskien die nalatige werknemer waarsku om te sien of hy hom nie wil regruk nie. Hy kan selfs met hom praat en só probeer uitvind of sy gereelde laatkommery as gevolg van ’n probleem is wat opgelos kan word en of dit as gevolg van ’n onveranderlike slegte gesindheid is. Hoewel die eienaar van die sakeonderneming kan besluit om geduld aan die dag te lê, sal sy geduld egter perke hê. Die werknemer sal óf sy gedrag moet verander, óf moet aanvaar dat hy uiteindelik sy werk gaan verloor. Dít sal tog net billik wees teenoor die onderneming self en teenoor die werknemers wat die reëls nakom.

Op feitlik dieselfde wyse beoefen Jehovah God geduld wanneer hy met oortreding te doen kry deur tyd toe te laat sodat hy bepaalde probleme op ’n regverdige wyse kan oplos. Daarbenewens bied sy geduld oortreders die geleentheid om hulle weë te verander en ewige seëninge te ontvang. Gevolglik vermaan die Bybel ons om nie ongelukkig te voel omdat God geduldig is nie. Hy sê daarenteen: “Beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word.”—2 Petrus 3:15, NAV.

’n Voorbeeld van God se geduld

Jehovah God was geduldig voor die groot Vloed van Noag se dag. Die destydse wêreld was vol geweld en was uiters goddeloos. Ons lees: “Toe [sien] die HERE . . . dat die boosheid van die mens op die aarde groot was . . . En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg” (Genesis 6:5, 7). Ja, Jehovah het destyds ’n uiteindelike oplossing in gedagte gehad vir die probleem van goddeloosheid: die uitwissing van die goddelose mense. Maar hy het nie dadelik opgetree nie. Waarom nie?

Omdat nie almal goddeloos was nie. Noag en sy gesin was regverdig in die oë van God. Jehovah het om hulle ontwil geduldig gewag sodat die paar regverdige mense voorsorg vir hulle redding kon maak. Daardie lang wagtydperk het Noag ook die geleentheid gegee om as “die prediker van geregtigheid” op te tree sodat daardie goddeloses die geleentheid kon hê om hulle weë te verander. Die Bybel sê: “Die lankmoedigheid van God [het] eenmaal gewag . . . in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is.”—2 Petrus 2:5; 1 Petrus 3:20.

Waarom God vandag geduldig is

Vandag bestaan ’n soortgelyke situasie. Die wêreld is weer eens vol geweld. God het reeds, soos in Noag se dag, hierdie wêreld veroordeel, wat, volgens die Bybel, “bewaar word vir die dag van die oordeel en die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7, NW). Wanneer dit gebeur, sal verderwing van die omgewing, onderdrukking van die swakkes of hebsugtige magsmisbruik iets van die verlede wees.

Waarom het God goddelose mense dan nie lankal vernietig nie? Omdat daar geskille was wat besleg moes word en belangrike sake wat gereël moes word. Trouens, Jehovah werk aan ’n permanente oplossing vir die vraagstuk van goddeloosheid, ’n oplossing wat baie dinge behels, onder andere die verlossing van regskape mense uit slawerny aan siekte en die dood.

Jehovah het, met laasgenoemde doel voor oë, hom voorgeneem om ’n Verlosser te voorsien wat ’n losprys vir ons sondes sou betaal. Die Bybel sê aangaande hom: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Duisende jare was nodig om die weg voor te berei sodat Jesus kon kom en sy lewe ten behoewe van die mens kon opoffer. Gedurende al daardie jare het God liefdevolle geduld aan die dag gelê. Maar was dit nie die moeite werd om vir so ’n voorsiening te wag nie?

Jesus het bykans tweeduisend jaar gelede die losprys vir die mensdom voorsien. Waarom is God dan nog steeds geduldig? Om maar een rede te noem, Jesus se dood het die begin van ’n onderrigtingsveldtog aangedui. Die mensdom moes van hierdie liefdevolle voorsiening te wete kom en die geleentheid gebied word om dit aan te neem of dit te verwerp. Dit sou tyd kos, maar dit sou tyd wees wat goed bestee is. Die Bybel sê: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”—2 Petrus 3:9.

Die geskil oor heerskappy

’n Ander belangrike saak sou ook tyd verg. Die geskil oor heerskappy oor die mens moes besleg word. Aanvanklik was die mens onder goddelike heerskappy. Maar in die tuin van Eden het ons eerste ouers dit die rug toegekeer. Hulle het verkies om onafhanklik van God te wees en wou hulleself regeer (Genesis 3:1-5). Maar die mens is werklik nie gemaak om homself te regeer nie. Die profeet Jeremia het geskryf: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23; Spreuke 20:24.

Aangesien die geskil oor heerskappy ontstaan het, het Jehovah nietemin geduldig tyd toegelaat om dit te besleg. Trouens, hy het die mens goedgunstiglik duisende jare lank toegelaat om alle denkbare regeringvorme op die proef te stel. Met watter resultaat? Dit het duidelik getoon dat geen menseregering verdrukking, onregverdigheid of ander oorsake vir ongelukkigheid uit die weg kan ruim nie.

Kan enigiemand, met die oog op die mens se geskiedenis, nog met reg sê dat God onregverdig is wanneer hy sy voorneme bekend maak om met alle menseregerings weg te doen en hulle met sy eie regering te vervang? Seer sekerlik nie! Ons verwelkom beslis die vervulling van hierdie Bybelprofesie: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Die hemelse Koning van daardie Koninkryk is die verrese Jesus. Dit het tyd geverg om hom vir daardie posisie op te lei en ook om mense uit te kies wat sy medeheersers sou word. God het gedurende daardie hele tyd geduld aan die dag gelê.

Vind nou baat by God se geduld

Vandag vind miljoene mense in minstens 212 lande baat by God se geduld. Hulle is verenig deur hulle begeerte om God te gehoorsaam en sy hemelse regering te dien. Wanneer hulle in hulle Koninkryksale vergader, leer hulle hoe goed dit is om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas. Hulle neem nie deel aan die verdelende politiek van hierdie wêreld nie, hoewel hulle hulle aan menseregerings onderwerp so lank as wat God in sy geduld hierdie regerings toelaat om te bestaan.—Mattheüs 22:21; Romeine 13:1-5.

Hierdie samewerking onder soveel mense regverdig Jehovah as die Een wat harmonie kan bewerkstellig onder mense met wilsvryheid wat geleer het om hom lief te hê en wat hom wil dien. Jy het ongetwyfeld al met hierdie mense kennis gemaak terwyl hulle die werk voortsit wat Jesus self begin het, naamlik die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Jesus het die klimaks van hierdie werk voorspel toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.

Nie veel langer nie!

Die sigbare getuienis bewys dat die reëlings vir God se regverdige regering om die daaglikse bewind oor die aarde oor te neem byna voltooi is. Nadat Jesus die verskriklike gevolge van die mislukking van menseheerskappy beskryf het wat ons gedurende hierdie eeu gesien het, het hy gesê: “Julle [moet] ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.”—Lukas 21:10, 11, 31.

God gaan binnekort die goddelose mense van die aardse toneel af uitwis. Die psalmis se woorde sal dan ’n letterlike vervulling ondergaan: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word . . . En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie” (Psalm 37:9, 10). Kan jy jou ’n wêreld sonder goddeloosheid voorstel? Wie sal dan die aangeleenthede van die mens bestuur? Die Bybel sê: “’n Koning [Christus Jesus gekroon in die hemele] sal regeer in geregtigheid, en vorste [sy lojale aangestelde verteenwoordigers op aarde] sal heers volgens reg. En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.”—Jesaja 32:1, 17, 18.

God se hemelse regering sal dus die slegte gevolge van die mens se oortreding uitwis en diegene wat hulle hoop op Hom gevestig het in ’n harmoniese mensegemeenskap organiseer. Die Bybel beskrywe hierdie harmonie en sê: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja . . . Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:6-9.

Wat ’n luisterryke resultaat gaan bereik word vanweë die feit dat God geduld beoefen het! Daarom moet ons nie kla omdat God so lank gewag het nie, maar ons moet eerder voordeel uit sy geduld trek deur ons aan sy Koninkryk te onderwerp. Leer uit die Bybel wat sy standaarde is en kom hulle na. Vereenselwig jou met ander wat eensgesind aan hom onderworpe is. Dan sal God se geduld vir jou ewige seëninge tot gevolg hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel