Die bieg van sondes—Is iets daarmee verkeerd?
“BIEG is ’n geestelike suiwering, ’n manier om weer te begin, ’n manier om die lei skoon te vee. Ek hou baie daarvan om na die bieg te gaan, die priester van my sondes te vertel, sy vergifnis te kry en die euforie wat daarop volg.” So sê een toegewyde Katoliek.—Bless Me, Father, for I Have Sinned.
Volgens die New Catholic Encyclopedia “het Christus aan die priester alleen die mag gegee om te bind en los te maak, om [sondes] te vergewe of nie te vergewe nie”. Dieselfde naslaanwerk sê dat wanneer ’n mens gereeld bieg dit veronderstel is om “die heiligheid van lewe te herstel wat deur ernstige sonde geskend is en . . . om ’n mens se gewete te reinig”. Tog toon die morele klimaat in talle lande dat nie baie wat gereeld gaan bieg, gehelp word om ‘af te wyk van wat verkeerd is, en te doen wat goed is’ nie (Psalm 34:15). Is iets dus daarmee verkeerd?
Net ’n ritueel?
Om na die bieg te gaan, begin moontlik as ’n blote ritueel. In Ierland vind die eerste bieg onmiddellik voor die eerste kommunie plaas. En is dit enigsins verbasend dat ’n sewejarige dogtertjie meer belang sal stel in die mooi bruidsrokkie wat sy gaan dra as in ‘die herstel van die heiligheid van lewe wat deur ernstige sonde geskend is’?
“Buiten die geld wat ek van my familie gekry het, was die grootste opwinding vir my die rok”, erken Ramona, wat op sewe vir die eerste keer gaan bieg het. “Daar was geen gevoel van geestelikheid onder enige van die meisies wat ek geken het nie”, vertel sy verder. Nie een van ons het destyds eens aan God gedink nie.”
Trouens, dit kan tot ’n meganiese herhaling van woorde lei as jong kinders verplig word om hulle sondes gereeld te bieg. “Ek het net dieselfde sinne oor en oor gesê”, sê Michael, wat ook as sewejarige na die bieg begin gaan het.
Sommige Katolieke se opmerkings wat in die boek Bless Me, Father, for I Have Sinned aangehaal word, toon dat die bieg vir hulle, selfs toe hulle ouer was, min geestelike waarde gehad het. “Die bieg leer jou om leuens te vertel omdat daar party dinge is wat jy net nie vir die priester kan vertel nie”, het een persoon erken. ’n Gebrek aan konsekwentheid onder priesters kan ook uitgebuit word vir die minimum boetedoening. Party het na ’n “goeie” biegvader gesoek sodat hulle die raad kan kry wat hulle wil hoor. “Nadat ek drie maande lank gesoek het, het ek my biegvader gevind. Ek sien hom elke maand van aangesig tot aangesig in die versoeningsvertrek, en hy is fantasties”, het een jong vrou gesê. “As jy slim is, sal jy ’n priester soek wat doof is en geen Engels praat behalwe die woorde ‘three Hail Marys’ nie”, het ’n ander Katoliek gesê.
Dit is dus duidelik dat daar iets skort met die manier waarop sekere mense hulle sondes bely. Maar die Bybel toon dat sondes bely moet word, want dit sê: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”—Spreuke 28:13.
Beteken dit dat ’n Christen al sy sondes moet bely? Indien wel, aan wie? Die volgende artikel sal hierdie vrae ondersoek.