Waarom neem dit so lank om die geskil te besleg?
GOD se soewereiniteit was sowat 6 000 jaar gelede nie ’n geskilpunt nie. Toe hy sy wonderlike skeppingswerke voltooi het, ‘het God alles gesien wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed’ (Genesis 1:31). Hy het toe ’n lang tydperk van “rus” ingegaan; natuurlik nie omdat hy fisies moeg was nie. Hy het eerder gerus in die sin dat hy sy skeppingswerke op die aarde beëindig het, oortuig dat sy goeie voorneme hiermee ’n volslae sukses sou wees.—Genesis 2:1-3; Jesaja 55:11.
Wat was daardie voorneme? Jehovah het die eerste mensepaar in ’n plek wat die tuin van Eden genoem is, geplaas. Hulle eerste verantwoordelikheid was om na hulle paradystuiste en sy groot verskeidenheid dierelewe om te sien. Hulle moes ook kinders voortbring en grootmaak. Mettertyd moes hulle, namate hulle gesin groter geword het, die Paradys tot aan die uithoeke van die aarde uitbrei in gehoorsaamheid aan God se bevel om ‘die aarde te onderwerp’. Die aarde sou dus uiteindelik ’n pragtige tuiste wees, gevul met ’n gelukkige, verenigde familie wat hulle hemelse Vader dien. Dít was God se oorspronklike voorneme.—Genesis 1:27, 28; 2:8, 15, 20-22.
Sou Adam en Eva end-uit ’n aandeel aan die vervulling van hierdie grootse voorneme hê? Dit het daarvan afgehang of hulle voortdurend in ooreenstemming daarmee sou optree deur hulle Skepper te gehoorsaam. Hulle gehoorsaamheid sou nie blind, onnadenkend wees nie. Ons eerste ouers is wilsvryheid gegee, omdat God wou hê dat hulle hom van harte uit waardering moes dien. As sigbare herinnering aan sy regmatige soewereiniteit het hy hulle aan ’n eenvoudige toets onderwerp. Hulle kon van al die voorsieninge in die tuin, behalwe een, gebruik maak. Daar was ’n vrugteboom waarvan God gesê het: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”—Genesis 2:16, 17.
Hierdie woorde deel ons mee dat Adam en Eva nie geskep is om oud te word en te sterf nie. Hulle sou net sterf indien hulle aan hierdie eenvoudige bevel ongehoorsaam was. As Adam en Eva aan God gehoorsaam gebly het, sou hulle vandag nog op die aarde gelewe het as die ouers van ’n wêreldwye familie van volmaakte nakomelinge.—Sien die beginsel in Psalm 37:29.
Maar een van God se engele, wat nou Satan genoem word, het die manier waarop God regeer, begin kritiseer. Hy het Eva oorreed om van die verbode vrug te eet, en listig beweer dat as sy van God se soewereiniteit onafhanklik is sy daar beter aan toe sou wees. Maar Satan se ware beweegrede was ’n begeerte om die god van die toekomstige mensegeslag te wees.—Genesis 3:1-5; Mattheüs 4:8, 9; Johannes 8:44.
Aangesien Jehovah die eerste mensepaar alles gegee het wat hulle nodig gehad het, moes Eva sy soewereiniteit verdedig het en Satan se leuenagtige voorstel verwerp het. Maar sy het tragies God se wet verbreek. Adam het daarná verkies om hom by sy vrou te skaar in die onverstandige weg wat sy ingeslaan het. Die eiegeregtige paar, sowel as Satan, het sodoende teen God in opstand gekom, en so die geskil oor goddelike soewereiniteit geopper.—Genesis 3:6.
Tyd nodig om lewensbelangrike geskille te besleg
Jehovah kon die drie opstandelinge op die plek vernietig het. Maar dit sou nie die vrae wat weens hulle opstand ontstaan het onweerlegbaar beantwoord het nie. Kan die mens homself met welslae sonder God regeer? Is dit regverdig van God om onderwerping aan sy soewereiniteit te vereis? Met die oog op die eerste paar se optrede het die vraag ook ontstaan: Sou enigiemand onselfsugtig kies om God vrywillig te dien—selfs wanneer Satan hulle beproef? (Job 1:7-11; 2:4). Dit sou tyd neem om hierdie vrae te beantwoord. Dit sou ook tyd neem om die gevolge van daardie oorspronklike opstand uit te wis en God se voorneme te vervul om die aarde ’n paradys te maak wat deur ’n sondelose menseras bewoon word. Ons wag steeds dat hierdie geskille finaal beslis word.
In ooreenstemming met sy wet het God die voorreg om vir ewig te lewe van Adam en Eva weggeneem. Hulle het dit nie meer verdien om ’n aandeel aan die vervulling van sy grootse voorneme te hê nie. Maar voor hulle gesterf het, is hulle toegelaat om kinders voort te bring en groot te maak. Adam en Eva kon hulle nakomelinge weliswaar nie meer sondelose lewe gee nie (Romeine 5:12). Maar hoewel hulle nakomelinge onvolmaak en onder die doodstraf gebore is, het baie mense die geleentheid gehad om te toon waar hulle staan wat die groot geskil oor soewereiniteit betref.
Die geskil word besleg
Hoe sal God hierdie kwessies rakende sy soewereiniteit besleg? Die vrae wat in Eden geopper is, is nou in een opsig al beantwoord. Duisende jare van mensegeskiedenis het dit pynlik duidelik laat blyk dat Satan se bewering dat Eva onafhanklik van God beter daaraan toe sou wees ’n leuen was. Menseheerskappy wat God ignoreer, was nog altyd ’n mislukking. Soos die Bybel sê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.
Daarenteen is daar talle goeie dinge opgeteken gedurende die baie jare sedert Adam en Eva gesondig het. Baie mense het onverbreeklike getrouheid aan Jehovah se soewereiniteit getoon, en “die Seun van die mens”, Jesus Christus, is die vernaamste voorbeeld hiervan (Mattheüs 20:18; Hebreërs 11:1–12:3). Diegene wat God se wette nagekom en sy soewereiniteit erken het, het gevind dat dit werklik die beste weg is. Hulle het uitgevind hoe waar die spreuk is wat sê: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen smart by nie” (Spreuke 10:22, NW). Daarbenewens sal hulle, danksy die voorsiening van die opstanding, uiteindelik ’n aandeel hê aan die vervulling van God se grootse voorneme.—Johannes 5:28, 29.
Jehovah het nie sy oorspronklike voorneme vergeet nie. Diegene wat sy soewereiniteit verwerp, sal nie toegelaat word om vir altyd oor die aarde te heers nie, en die Bybel waarsku dat God binnekort teen hulle gaan optree. Ons lees: “Die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid” (Romeine 1:18). Wanneer God in die toekoms aan sy toorn uiting gaan gee—die Bybel noem dit Armageddon—sal dit onteenseglik toon dat hy wel bestaan. Net diegene wat sy soewereiniteit aanvaar, sal daardie gebeurtenis oorleef. “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”—Spreuke 2:21, 22.
Die groot geskil en jy
Met die oog op hierdie feite moet elkeen van ons—soos Adam en Eva—’n keuse maak. Sal ons probeer om onafhanklik van God te lewe? Of sal ons ons aan sy soewereiniteit onderwerp? Onthou, dit is die belangrikste geskil wat jou vandag raak. Ander geskille, hoe belangrik hulle ook al lyk, het met jou teenswoordige lewe te doen. Hierdie geskil het met die ewige lewe te doen. Die besluit wat jy neem, sal jou ewige toekoms raak.
Hoe kan jy toon dat jy God se soewereiniteit aanvaar? Deur sy Woord, die Bybel, ywerig te bestudeer en daarna te strewe om sy wil saam met ander ware Christene te gehoorsaam (Sefanja 2:2, 3). As jy dít doen, sal jy die vreugdevolle hoop hê om die vervulling van God se grootse voorneme te sien. Jy sal sien hoe hierdie grootse belofte verwesenlik word: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:10, 11). Wat ’n wonderlike seën vir almal wat hulle aan God se soewereiniteit onderwerp het! Wat ’n kragtige rede om ’n verstandige besluit in hierdie allerbelangrikste saak te neem!