Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 11/15 bl. 15-20
  • Ware liefde is lonend

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ware liefde is lonend
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons beste voorbeeld
  • Jesus se goeie voorbeeld
  • Paulus se voorbeeld
  • Ware liefde is lonend in ons dag
  • Ware liefde en ons bediening
  • Lonend in ander opsigte
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Die grootste hiervan is die liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Jy moet die God liefhê wat jou liefhet
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 11/15 bl. 15-20

Ware liefde is lonend

“God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat julle betoon het vir sy Naam.”—HEBREËRS 6:10.

1, 2. Waarom is ware liefde vir ons persoonlik lonend?

ONSELFSUGTIGE liefde is die grootste, edelste, kosbaarste eienskap wat ons aan die dag kan lê. Hierdie liefde (Grieks, a·gaʹpe) verg voortdurend baie van ons. Maar omdat ons deur ’n God van geregtigheid en liefde geskep is, vind ons dat onselfsugtige liefde waarlik lonend is. Waarom is dit so?

2 Een rede waarom ware liefde lonend is, het te doen met die psigosomatiese beginsels, die uitwerking van gedagtes en emosies op ons liggaam. ’n Gesaghebbende oor stres het gesê: “‘Jy moet jou naaste liefhê’, is een van die wysste brokkies mediese raad wat ooit gegee is.” Ja, “’n man van liefderyke goedheid behandel sy eie siel op ’n belonende wyse” (Spreuke 11:17, NW). Net so belangrik is die woorde: “Die edelmoedige siel sal self vet gemaak word, en wie ander ryklik laaf, sal ook self ryklik gelaaf word.”—Spreuke 11:25, NW; vergelyk Lukas 6:38.

3. Hoe tree God op om ware liefde lonend te maak?

3 Liefde is ook lonend omdat God onselfsugtigheid beloon. Ons lees: “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy [God] sal hom sy weldaad vergelde” (Spreuke 19:17). Jehovah se Getuies tree in harmonie met hierdie woorde op wanneer hulle die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Hulle weet dat ‘God nie onregverdig is om hulle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat hulle betoon vir sy naam’.—Hebreërs 6:10.

Ons beste voorbeeld

4. Wie is die beste voorbeeld dat ware liefde lonend is, en hoe het hy dit getoon?

4 Wie is die beste voorbeeld dat ware liefde lonend is? Dit is niemand anders nie as God! Hy ‘het die [mense]wêreld so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het’ (Johannes 3:16). Dit het beslis baie van Jehovah geverg om sy Seun te gee sodat dié wat daardie losprysoffer aanvaar die ewige lewe kan hê, en dit het duidelik getoon dat hy liefde sowel as empatie het. Dit blyk verder uit die feit dat Hy ‘in al Israel se benoudheid in Egipte benoud was’ (Jesaja 63:9). Hoeveel te meer moes dit Jehovah nie benoud gemaak het om sy Seun te sien ly aan die folterpaal en hom te hoor uitroep nie: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”—Mattheüs 27:46.

5. Wat het gebeur omdat God die mensdom so liefgehad het dat hy sy Seun as ’n offerande gegee het?

5 Het Jehovah sy eie betoning van ware liefde lonend gevind? Hy het beslis. Wat ’n antwoord kon God veral aan die Duiwel gee omdat Jesus getrou gebly het ondanks alles wat Satan aan hom kon doen! (Spreuke 27:11). Trouens, alles wat die Koninkryk van God sal doen om Jehovah se naam van smaad te suiwer, die Paradys op hierdie aarde te herstel en miljoene die ewige lewe te gee, sal geskied omdat God die mensdom so liefgehad het dat hy die kosbaarste skat van sy hart as ’n offerande gegee het.

Jesus se goeie voorbeeld

6. Wat het liefde Jesus beweeg om te doen?

6 Nog ’n goeie voorbeeld om te bewys dat ware liefde lonend is, is dié van God se Seun, Jesus Christus. Hy het sy hemelse Vader lief, en daardie liefde het Jesus beweeg om Jehovah se wil tot elke prys te doen (Johannes 14:31; Filippense 2:5-8). Jesus het aangehou om sy liefde vir God te betoon selfs al het dit soms beteken dat hy “met sterk geroep en trane” ’n smeekbede tot sy Vader moes rig.—Hebreërs 5:7.

7. In watter opsigte het Jesus ware liefde lonend gevind?

7 Is Jesus vir sulke self-opofferende liefde beloon? Hy is beslis! Dink aan die vreugde wat hy geput het uit al die goeie dinge wat hy gedurende sy bediening van drie en ’n half jaar gedoen het. Hoeveel het hy mense tog nie geestelik en liggaamlik gehelp nie! Jesus het bowenal die tevredenheid gesmaak om te bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is deur te demonstreer dat ’n volmaakte man volkome onkreukbaarheid teenoor God kan handhaaf ondanks alles wat Satan aan hom kan doen. Daarbenewens het Jesus, as ’n getroue kneg van God, die groot beloning van onsterflikheid ontvang toe hy tot ’n hemelse lewe opgewek is (Romeine 6:9; Filippense 2:9-11; 1 Timotheüs 6:15, 16; Hebreërs 1:3, 4). En watter wonderlike voorregte lê vir hom voor by Armageddon en gedurende sy Duisendjarige Heerskappy, wanneer die Paradys op die aarde herstel sal word en miljarde opgewek sal word! (Lukas 23:43, NW). Dit ly geen twyfel nie dat Jesus ware liefde lonend gevind het.

Paulus se voorbeeld

8. Wat het Paulus ervaar as gevolg van sy ware liefde vir God en vir sy medemens?

8 Die apostel Petrus het Jesus eenkeer gevra: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?” Jesus het deels geantwoord: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe” (Mattheüs 19:27-29). Nog ’n treffende voorbeeld, wat spesiaal deur Lukas in die boek Handelinge opgeteken is, is dié van die apostel Paulus, wat talle seëninge geniet het. Ware liefde vir God en vir sy medemens het Paulus beweeg om sy loopbaan as ’n geëerde Fariseër te laat vaar. Dink ook aan wat Paulus verduur het ten opsigte van slae, doodsgevare en ontberinge—alles as gevolg van ware liefde vir God en Sy heilige diens.—2 Korinthiërs 11:23-27.

9. Hoe is Paulus beloon omdat hy ware liefde betoon het?

9 Het Jehovah Paulus beloon omdat hy so ’n goeie voorbeeld gestel het wat die betoning van ware liefde betref? Wel, dink aan hoe vrugbaar Paulus se bediening was. Hy kon die een Christengemeente na die ander stig. En watter wonderwerke kon hy nie in God se krag doen nie! (Handelinge 19:11, 12). Paulus was ook bevoorreg om bonatuurlike gesigte te sien en om 14 briewe te skryf wat nou deel van die Christelike Griekse Geskrifte is. Daarbenewens het hy die prys van onsterflikheid in die hemele ontvang (1 Korinthiërs 15:53, 54; 2 Korinthiërs 12:1-7; 2 Timotheüs 4:7, 8). Paulus het waarlik gevind dat God ware liefde beloon.

Ware liefde is lonend in ons dag

10. Wat sal dit dalk verg om Jesus se dissipel te wees en ons liefde vir Jehovah te openbaar?

10 Jehovah se Getuies het vandag eweneens gevind dat ware liefde lonend is. Die betoning van liefde vir Jehovah deur ons standpunt aan sy kant in te neem en Jesus se dissipels te word, kan ons selfs ons lewe as handhawers van onkreukbaarheid kos. (Vergelyk Openbaring 2:10.) Dit is waarom Jesus gesê het dat ons die koste moet bereken. Maar ons doen dit nie om te bepaal of dit lonend is of nie om ’n dissipel te wees nie. Ons doen dit eerder om onsself voor te berei om enige prys te betaal wat dissipelskap sal verg.—Lukas 14:28.

11. Waarom versuim sommige om hulle aan God toe te wy?

11 Vandag glo baie—ongetwyfeld miljoene—die boodskap wat Jehovah se Getuies vir hulle uit God se Woord bring. Maar hulle huiwer om hulle aan God toe te wy en hulle te laat doop. Is dit dalk omdat hulle nie die ware liefde vir God het wat ander het nie? Baie versuim om die stappe te doen om hulle toe te wy en te laat doop omdat hulle die guns van ’n ongelowige maat wil behou. Ander nader nie tot God nie omdat hulle die gesindheid het van ’n sakeman wat vir ’n Getuie gesê het: “Ek hou van sonde.” Sulke mense waardeer klaarblyklik nie alles wat God en Christus vir hulle gedoen het nie.

12. Wat het hierdie tydskrif gesê wat die beloninge beklemtoon van kennis wat ons in ware liefde nader aan God bring?

12 As ons opregte waardering het vir alles wat Jehovah God en Jesus Christus vir ons gedoen het, sal ons dit toon deur gewillig enige prys te betaal wat dit verg om ons hemelse Vader te dien en een van Jesus se dissipels te wees. As gevolg van ware liefde vir God het mans en vroue uit alle lewensterreine—suksesvolle sakemanne, bekende sportpersoonlikhede en so meer—net soos die apostel Paulus selfsugtige beroepe vir die Christelike bediening verruil. En hulle sal die beloninge om God te ken en te dien vir niks anders verruil nie. Wat dit betref, het The Watch Tower eenkeer gesê: “Ons het soms gevra: Hoeveel broeders sal bereid wees om duisend rand te aanvaar vir hulle kennis van die Waarheid? Nie een hand is gesien nie! Wie sal tienduisend rand aanvaar? Niemand nie! Wie sal ’n miljoen rand aanvaar? Wie sal die hele wêreld aanvaar in ruil vir wat hy weet oor die Goddelike wese en die Goddelike Plan? Niemand nie! Toe het ons gesê: Julle is nie ’n vreeslik onvergenoegde skare nie, liewe vriende. As julle so ryk voel dat julle niks sal aanvaar in ruil vir julle kennis van God nie, dan voel julle net so ryk soos ons” (15 Desember 1914, bladsy 377). Ja, juiste kennis van God en sy voornemens bring ons nader aan hom in ware liefde wat waarlik lonend is.

13. Hoe moet ons persoonlike studie beskou?

13 As ons God liefhet, sal ons daarna strewe om sy wil te ken en te doen (1 Johannes 5:3). Ons sal persoonlike studie, gebed en die bywoning van Christelike vergaderinge as belangrik beskou. Dit alles verg selfopoffering, want hierdie bedrywighede behels dat ons tyd, energie en ander hulpmiddele daaraan afstaan. Ons moet dalk kies of ons na ’n televisieprogram gaan kyk en of ons persoonlike Bybelstudie gaan doen. Maar hoeveel sterker word ons geestelik, hoeveel beter kan ons vir ander getuig en hoeveel te meer baat ons tog nie by ons Christelike vergaderinge nie wanneer ons sulke studie ernstig opneem en genoeg tyd daarvoor opsysit!—Psalm 1:1-3.

14. Hoe belangrik is gebed en ’n goeie verhouding met Jehovah God?

14 Geniet ons dit om gereeld met ons hemelse Vader te praat deur ‘in die gebed te volhard’? (Romeine 12:12). Of is ons dikwels te besig sodat ons nie reg kan laat geskied aan hierdie kosbare voorreg nie? Om ‘sonder ophou te bid’ is ’n noodsaaklike manier om ons verhouding met Jehovah God te versterk (1 Thessalonicense 5:17). En daar is niks soos ’n goeie verhouding met Jehovah om ons te help wanneer ons voor versoekinge te staan kom nie. Wat het Josef in staat gestel om Potifar se vrou te weerstaan toe sy hom in die versoeking gelei het? En waarom het Daniël nie opgehou bid toe die wet van Meders en Perse hom verbied het om Jehovah in gebed te nader nie? (Genesis 39:7-16; Daniël 6:5-12). ’n Goeie verhouding met God het daardie mans gehelp om seëvierend daarvan af te kom, net soos dit ons sal help om dit te doen!

15. Hoe moet ons Christelike vergaderinge beskou, en waarom?

15 Hoe belangrik beskou ons dus die bywoning van ons vyf weeklikse vergaderinge? Laat ons toe dat moegheid, geringe fisiese ongesteldheid of ’n bietjie slegte weer inmeng met ons verpligting om nie ons byeenkomste met medegelowiges te versuim nie? (Hebreërs 10:24, 25). Een goed besoldigde Amerikaanse masjinis het besef dat sy werk herhaaldelik ingemeng het met sy bywoning van Christelike vergaderinge. Hy het dus van werk verander en finansieel ’n verlies gely sodat hy alle gemeentelike vergaderinge gereeld kon bywoon. Ons vergaderinge stel ons in staat om onderling bemoedig te word en om mekaar se geloof te versterk (Romeine 1:11, 12). Ondervind ons nie in al hierdie dinge dat ‘hy wat volop saai ook volop maai’ nie? (2 Korinthiërs 9:6). Ja, dit is uiters lonend om ware liefde op sulke maniere te openbaar.

Ware liefde en ons bediening

16. Wat kan die resultaat wees as ons deur liefde beweeg word om informeel te getuig?

16 Liefde beweeg ons as Jehovah se volk om die goeie nuus te verkondig. Dit beweeg ons byvoorbeeld om aan informele getuieniswerk deel te neem. Ons huiwer dalk om informeel te getuig, maar liefde sal ons aanspoor om te praat. Liefde sal ons inderdaad aan taktvolle maniere laat dink om ’n gesprek te begin en dit dan na die Koninkryk te lei. Ter toeligting: ’n Christen- ouere man het eenkeer langs ’n Rooms-Katolieke priester op ’n vliegtuig gesit. Die ouere man het die priester eers vrae gevra wat nie aanstoot sou gee nie. Toe die priester uiteindelik van die vliegtuig moes afklim, het hy so belanggestel dat hy twee van ons boeke geneem het. Wat ’n goeie resultaat as gevolg van informele getuieniswerk!

17, 18. Wat sal liefde ons beweeg om te doen ten opsigte van die Christelike bediening?

17 Ware liefde beweeg ons ook om gereeld aan die predikingswerk van huis tot huis en aan ander aspekte van die Christelike bediening deel te neem. Hoe meer Bybelbesprekings ons het, hoe meer sal ons Jehovah God eer en skaapgeaarde mense help om op die weg na die ewige lewe te kom. (Vergelyk Mattheüs 7:13, 14.) Selfs as ons nie Bybelbesprekings kan hê nie, sal ons pogings nie tevergeefs wees nie. Net die feit dat ons by mense se huise was, is ’n getuienis, en ons vind persoonlik baat by die bediening, want ons kan nie Bybelwaarhede verkondig sonder dat dit ons geloof versterk nie. Dit verg weliswaar nederigheid om van huis tot huis te gaan en ‘alles ter wille van die goeie nuus te doen, sodat ons dit aan ander kan meedeel’ (1 Korinthiërs 9:19-23, vgl. NW). Maar as gevolg van liefde vir God en ons medemens span ons ons nederig in en word ons met ryk seëninge beloon.—Spreuke 10:22.

18 Dit verg ook ware liefde van Jehovah se knegte om pligsgetrou terug te gaan na mense wat in Bybelwaarhede belangstel. Om week na week en maand na maand Bybelstudies te hou is ’n blyk van liefde vir God en ons naaste, want hierdie werk vereis tyd, moeite en geld (Markus 12:28-31). Maar is ons nie daarvan oortuig dat ware liefde lonend is wanneer ons sien hoe een van hierdie Bybelstudente gedoop word en miskien selfs die voltydse bediening betree nie?—Vergelyk 2 Korinthiërs 3:1-3.

19. Watter verband is daar tussen liefde en die voltydse diens?

19 Onselfsugtige liefde beweeg ons om materiële geriewe op te offer ter wille van die voltydse diens as dit vir ons moontlik is om aan sulke bedrywighede deel te neem. Derduisende Getuies kan daarvan getuig dat die betoning van liefde in daardie mate uiters lonend is. As omstandighede jou toelaat om aan die voltydse bediening deel te neem maar jy dit nie benut nie, besef jy nie watter seëninge jy verbeur nie.—Vergelyk Markus 10:29, 30.

Lonend in ander opsigte

20. Hoe help liefde ons om vergewensgesind te wees?

20 Nog ’n opsig waarin ware liefde lonend is, is dat dit ons help om vergewensgesind te wees. Ja, liefde “reken die kwaad nie toe nie”. Trouens, “die liefde sal ’n menigte sondes bedek” (1 Korinthiërs 13:5; 1 Petrus 4:8). “’n Menigte” beteken baie sondes, nie waar nie? En hoe lonend is dit tog om vergewensgesind te wees! Wanneer jy vergewe, laat dit jou en die persoon wat teen jou gesondig het beter voel. Maar nog baie belangriker is die feit dat ons nie kan verwag dat Jehovah ons moet vergewe as ons diegene wat teen ons gesondig het nie reeds vergewe het nie.—Mattheüs 6:12; 18:23-35.

21. Hoe help ware liefde ons om onderdanig te wees?

21 Bowendien is ware liefde lonend omdat dit ons help om onderdanig te wees. As ons Jehovah liefhet, sal ons onsself verneder onder sy kragtige hand (1 Petrus 5:6). Liefde vir hom sal ons ook beweeg om ons aan sy uitverkore werktuig, “die getroue en verstandige dienskneg”, te onderwerp. Dit sluit in dat ons onderdanig is aan diegene wat die leiding in die gemeente neem. Dit is lonend, omdat versuim om dit te doen vir ons “nie nuttig” is nie (Mattheüs 24:45-47; Hebreërs 13:17). Natuurlik is hierdie beginsel van onderdanigheid ook van toepassing op die gesinskring. So ’n handelwyse is lonend omdat dit gesinsvreugde, vrede en harmonie in die hand werk terwyl dit ons die tevredenheid gee wat gepaard gaan met die wete dat ons God behaag.—Efesiërs 5:22; 6:1-3.

22. Hoe kan ons waarlik gelukkig wees?

22 Dit is dus duidelik dat a·gaʹpe, die onselfsugtige, beginselvaste soort liefde, die grootste eienskap is wat ons kan aankweek. En daar kan geen twyfel bestaan dat ware liefde lonend is nie. Daarom sal ons inderdaad gelukkig wees as ons hierdie eienskap in immer groter mate aankweek en aan die dag lê tot eer van ons liefdevolle God, Jehovah.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Op watter maniere het Jehovah God ware liefde betoon?

◻ Hoe het Jesus Christus liefde betoon?

◻ Watter voorbeeld het die apostel Paulus gestel in die betoning van ware liefde?

◻ Hoe betoon Jehovah se Getuies ware liefde?

◻ Waarom sal jy sê dat ware liefde lonend is?

[Prent op bladsy 16]

Jehovah se liefde vir die mensdom het hom beweeg om sy Seun te gee sodat ons die ewige lewe kan verkry. Waardeer jy sulke liefde?

[Prent op bladsy 18]

Ware liefde vir Jehovah sal ons beweeg om ‘in die gebed te volhard’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel