Jesus se lewe en bediening
Hulle kan Jesus nie verstrik nie
JESUS het mense in die tempel geleer en het pas tevore vir sy godsdiensvyande drie gelykenisse vertel wat hulle slegte dade aan die kaak stel. Die Fariseërs is kwaad en hou saam raad om hom te verstrik sodat hy iets sê waarvoor hulle hom kan laat arresteer. Hulle beraam ’n plan en stuur hulle dissipels, saam met Herodiane, om hom te probeer uitoorlê.
“Meester”, sê hierdie manne, “ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie—sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?”
Jesus word nie deur die vleitaal geflous nie. Hy besef dat as hy sê: ‘Nee, dit is nie geoorloof of reg om hierdie belasting te betaal nie’, hy aan sedisie teen Rome skuldig sal wees. Maar as hy sê: ‘Ja, julle moet hierdie belasting betaal’, sal die Jode, wat hulle onderwerping aan Rome verag, hom haat. Daarom antwoord hy: “Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt.”
Wanneer hulle vir hom een bring, vra hy: “Wie se beeld en opskrif is dit?”
“Die keiser s’n”, antwoord hulle.
“Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”
Wel, toe hierdie manne hierdie meesterlike antwoord hoor, is hulle verwonderd. En hulle gaan weg en laat hom alleen.
Wanneer hulle sien dat die Fariseërs nie iets teen Jesus kon kry nie, nader die Sadduseërs, wat sê dat daar nie ’n opstanding is nie, hom en vra: “Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek. Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. So ook die tweede en die derde tot die sewende toe. En laaste van almal het die vrou ook gesterwe. In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees—want hulle almal het haar gehad?”
In antwoord sê Jesus: “Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie? Want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou hulle nie en word hulle nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele wat in die hemele is. En wat die dode betref, dat hulle opstaan—het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie? God is nie ’n God van dooies nie, maar ’n God van lewendes. Julle dwaal dus grootliks.”
Die skares is weer eens verwonderd oor Jesus se antwoord. Selfs party van die skrifgeleerdes erken: “Meester, U het goed gespreek.”
Wanneer die Fariseërs sien dat Jesus die Sadduseërs stilgemaak het, kom hulle in een groep na hom. Om hom verder te toets, vra een van hulle: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?”
Jesus antwoord: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.” Trouens, Jesus voeg by: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”
’n Skrifgeleerde stem saam: “Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers.”
Jesus bemerk dat die skrifgeleerde verstandig geantwoord het en sê vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God nie.”
Jesus leer mense nou al drie dae lank—Sondag, Maandag en Dinsdag—in die tempel. Die mense luister graag na hom, maar die gefrustreerde godsdiensleiers wil hom om die lewe bring. Mattheüs 22:15-40; Markus 12:13-34; Lukas 20:20-40.
◆ Watter plan beraam die Fariseërs om Jesus te verstrik, en wat sal gebeur as hy ja of nee antwoord?
◆ Hoe verydel Jesus ook die Sadduseërs se pogings om hom te verstrik?
◆ Watter verdere poging wend die Fariseërs aan om Jesus te toets, en wat is die resultaat?
◆ Hoeveel dae leer Jesus mense in die tempel gedurende sy finale bediening in Jerusalem, en met watter gevolg?