Jesus se lewe en bediening
God se stem word ’n derde keer gehoor
TERWYL Jesus in die tempel is, verkeer hy in sielesmart oor die dood wat vir hom voorgelê het. Sy grootste bekommernis is hoe sy Vader se reputasie geraak sal word, en hy bid dus: “Vader, verheerlik u Naam!”
Daarop sê ’n groot stem uit die hemel: “Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”
Die skare wat daar rondstaan is verbysterd. “’n Engel het met Hom gespreek”, sê party van hulle. Ander sê dat dit ’n donderslag was. Maar dit was in werklikheid Jehovah God wat gepraat het! Dit is egter nie die eerste keer dat God se stem in verband met Jesus gehoor is nie.
Johannes die Doper het gehoor hoe God tydens Jesus se doop, drie en ’n half jaar vroeër, van Jesus sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” Daarna het Jakobus, Johannes en Petrus ’n ruk na die vorige Pasga, toe Jesus voor hulle verheerlik is, gehoor hoe God verklaar: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!” En nou, op 10 Nisan, vier dae voor Jesus se dood, word God se stem vir die derde keer deur mense gehoor. Maar hierdie keer praat Jehovah sodat skares kan hoor!
Jesus verduidelik: “Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.” Dit lewer bewys dat Jesus inderdaad God se Seun, die beloofde Messias, is. “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld”, gaan Jesus voort, “nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word”. Jesus se getroue lewenswandel bevestig in werklikheid dat Satan die Duiwel, die owerste van hierdie wêreld, verdien om “buitentoe gedryf” te word, tereggestel te word.
Jesus vestig die aandag op die gevolge van sy naderende dood en sê: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Sy dood is geensins ’n neerlaag nie, want daardeur sal hy ander na hom toe trek sodat hulle ook die ewige lewe kan geniet.
Maar die skare protesteer: “Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?”
Die meeste glo nie dat Jesus die ware Seun van die mens, die beloofde Messias, is nie, ten spyte van al die bewyse, met inbegrip van God se eie stem wat hulle gehoor het. Tog praat Jesus weer van homself as “die lig”, net soos hy ses maande vantevore by die Huttefees gedoen het, en hy moedig sy luisteraars aan: “So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word.” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, gaan hy weg en verskuil homself, klaarblyklik omdat sy lewe in gevaar is.
Die Jode se gebrek aan geloof in Jesus vervul die woorde van Jesaja dat die volk “nie sien met hul oë . . . en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie”. Jesaja het in ’n gesig die hemelse howe van Jehovah, met inbegrip van Jesus in sy voormenslike heerlikheid saam met Jehovah, gesien. Tog verwerp die Jode koppig, in vervulling van wat Jesaja geskryf het, die bewys dat hierdie Een hulle beloofde Verlosser is.
Daarenteen stel baie, selfs van die leiers (klaarblyklik lede van die Joodse hooggeregshof, die Sanhedrin) geloof in Jesus. Twee van hierdie leiers is Nikodemus en Josef van Arimathea. Maar die leiers, ten minste vir die huidige oomblik, verklaar nie hulle geloof nie omdat hulle bang is dat hulle uit hulle posisies in die sinagoge ontslaan sal word. Hoeveel verloor sulke persone tog nie!
Jesus merk verder op: “Wie in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het. . . . En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red. . . . Die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.”
Jehovah se liefde vir die mensewêreld het hom beweeg om Jesus te stuur sodat diegene wat geloof in hom stel, gered kan word. Mense se redding sal afhang van hulle gehoorsaamheid aan die dinge wat God Jesus beveel het om te spreek. Die oordeel sal “in die laaste dag” gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy plaasvind.
Jesus sluit af deur te sê: “Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.” Johannes 12:28-50; 19:38, 39; Mattheüs 3:17; 17:5; Jesaja 6:1, 8-10.
◆ By watter drie geleenthede is God se stem in verband met Jesus gehoor?
◆ Hoe het die profeet Jesaja Jesus se heerlikheid gesien?
◆ Wie was die leiers wat geloof in Jesus gestel het, maar waarom het hulle dit nie bely nie?
◆ Wat is “die laaste dag”, en op grond waarvan sal mense dan geoordeel word?