Is jy bereid om na God te luister?
WANNEER ons die Bybel lees, besef ons gou dat die omstandighede van mense in die eerste eeu in baie opsigte met dié in ons dag ooreenkom. Onsedelikheid en oneerlikheid was aan die orde van die dag, veral onder Israel se losbandige bure, vir wie onsedelikheid dikwels ’n deel van hulle godsdiens was. Vir die armes was die lewe onseker, en daar was politieke probleme. Teen die jaar 66 G.J. was Israel en Rome in ’n volskaalse oorlog gewikkel. Destyds het mense, net soos nou, hulp nodig gehad.
Op godsdiensgebied is daar baie ooreenkomste tussen daardie dae en ons tyd. Joodse godsdiensleiers was geveins (Mattheüs 23:15; Lukas 20:46, 47). In die nie-Joodse wêreld het godsdiensbeskouings gewissel van sinisme tot bygeloof en dweepsugtige godsdiensywer. (Vergelyk Handelinge 14:8-13; 19:27, 28.) Selfs in die betreklik nuwe Christengemeente was alles nie pluis nie. Die apostel Johannes het teen die einde van die eerste eeu gewaarsku: “Baie verleiers het in die wêreld ingekom” (2 Johannes 7). Ja, daar was destyds ook baie valse raad oor die kwessie van godsdiens. Maar betroubare hulp was beskikbaar.
Sou jy na Jesus geluister het?
Jesus was iemand wat in daardie dae betroubare raad gegee het. Dit was so oortuigend dat ons die volgende aangaande die uitwerking daarvan lees: “Die skare [was] verslae oor sy leer” (Mattheüs 7:28). Maar min in daardie skare het werklik geluister na wat Jesus gesê het. Jesus het wonderdade verrig en ’n goeie voorbeeld in godvrugtige handel en wandel gestel. Maar selfs die leiers, wat kwansuis beter opgelei was, het geweier om die waarde van sy woorde te erken. Waarom?
Dit was in ’n groot mate aan vooroordeel te wyte. Sommige het Jesus verag omdat hy uit Nasaret gekom het. Ander het hom verwerp omdat hy nie aan een van hulle skole geleer het nie en geen bande met die owerstes gehad het nie (Johannes 1:46; 7:12, 15, 47, 48). Jesus het boonop nie altyd gesê wat die mense wou hoor nie. Hy het slegs die waarheid gespreek, en die Fariseërs het byvoorbeeld dikwels aanstoot geneem aan sy woorde (Mattheüs 15:12-14). Trouens, nadat hy drie en ’n half jaar gepreek het, het die Joodse godsdiensleiers hom laat doodmaak (Lukas 23:20-35). Wat ’n geleentheid het hulle tog laat verbygaan, aangesien Jesus “die woorde van die ewige lewe” gehad het!—Johannes 6:68.
Sou jy, as jy destyds in Jerusalem gewoon het, die godsdiensleiers en die res van die skare gevolg het? Of sou jy ontvanklik genoeg gewees het om die betekenis agter Jesus se woorde te begryp? Dan sou jy soos ’n merkwaardige vrou gewees het wat Jesus ontmoet het terwyl hy op reis was.
Een wat geluister het
Hy het hierdie vrou ontmoet terwyl hy deur Samaria gereis het. Hy het by ’n put gaan sit om te rus, en die vrou het gekom om water te skep terwyl hy daar was. Ons weet nie wat haar naam was nie, maar die Bybel sê dat Jesus, ondanks sy moegheid, die geleentheid gebruik het om met haar oor godsdiens te praat.—Johannes 4:5-15.
Daar was baie redes waarom hierdie vrou Jesus kon veronagsaam het. Sy het ’n ander geloof bely—die Samaritaanse aanbiddingswyse het van die Joodse verskil. Daarbenewens het die Jode die Samaritane verag en nie met hulle omgegaan nie. Verder het Joodse mans gewoonlik ook nie met vreemde vroue gepraat nie (Johannes 4:9, 27). Die Samaritaanse vrou het boonop ’n onsedelike lewe gelei, en sy kon aggressief gereageer het weens die moontlikheid dat sy gekritiseer of haar sondes blootgelê sou word.—Johannes 4:18.
Sy het egter nie so gereageer nie. Sy het eerder verstandige vrae gevra na aanleiding van Jesus se taktvolle, belangwekkende benadering. In die loop van die gesprek het sy ’n moeilike onderwerp aangedurf deur melding te maak van die godsdienskloof tussen die Jode en Samaritane. Jesus het vriendelik dog reguit geantwoord en vir die vrou gesê: “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet” (Johannes 4:19-22). Maar sy het nie aanstoot geneem nie. Haar ontvanklike gemoed was gereed om meer te hoor.
Jesus het derhalwe vervolg met ’n belangrike verklaring: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23, 24). Later het hierdie ontvanklike vrou waardering getoon deur ywerig vir haar bure te vertel wat sy geleer het. Hulle wou op hulle beurt meer leer en het na Jesus se woorde geluister.—Johannes 4:39-42.
Wat kan ons hieruit leer? Wel, miskien woon ons in ’n gebied waar daar sterk rasse-, volks- of godsdiensvooroordele bestaan. Hoe tree ons op wanneer iemand van ’n ander ras, nasionaliteit of geloof ons nader? Swyg ons wanneer dinge bespreek word waardeur ons verkeerd bewys kan word? Of is ons, soos die Samaritaanse vrou, ten minste gewillig om te praat?
Sou jy na Paulus geluister het?
Nog iemand wat gedurende die eerste eeu goeie raad gegee het, was die apostel Paulus. Paulus was tevore ook bevooroordeeld. Hy het erken: “[Ek] wat vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof” (1 Timotheüs 1:13). Hy het egter die waarheid omtrent Jesus Christus aanvaar en van sy vooroordeel ontslae geraak. Sy voorbeeld toon dat Bybelwaarheid kan help om ‘vestings’ in die hart ‘neer te werp’ as sulke dinge skadelik vir ons welsyn is.—2 Korinthiërs 10:4.
Nadat Paulus ’n Christen geword het, het hy die goeie nuus wat hy geleer het onbevrees verkondig. En soos verwag kan word, het hy dieselfde vooroordeel teëgekom as wat hyself vroeër gehad het—maar nie in elke geval nie. In Berea, in noordelike Griekeland, het hy sagmoedige mense gevind wat ’n goeie voorbeeld gestel het in die wyse waarop hulle na raad geluister het. Hulle het die waarheid van Paulus se woorde erken. Gevolglik het hulle “die woord met alle welwillendheid ontvang”. Maar hulle was ontvanklik, nie liggelowig nie. Hulle het “elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Hulle het gehou van die dinge wat hulle gehoor het, alhoewel hulle die betroubaarheid daarvan aan die Bybel getoets het voor hulle dit ten volle aanvaar het.
“Beproef alle dinge”
Vandag bestee Jehovah se Getuies baie tyd aan hulle pogings om die goeie nuus van die Koninkryk met hulle bure van ander gelowe te deel. Watter reaksie kom die Getuies teë? Talle vriendelike mense ontvang hulle graag. Maar party weier, en sommige word selfs kwaad omdat die Getuies hulle besoek.
Dit is betreurenswaardig, want wat Jehovah se Getuies wil bespreek, word in die Bybel “goeie nuus” genoem (Mattheüs 24:14, NW). Bowendien staan hulle die gesindheid van die apostel Paulus voor, wat gesê het: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Al het iemand besliste beskouings, soos die Bereane en die Samaritaanse vrou, behoort hy tog sekerlik ontvanklik genoeg te wees om met ander oor God te praat.
Waarom onbevooroordeeld wees?
Gelukkig is daar elke jaar honderdduisende mense wat juis dit doen. Baie sien die wysheid in wat die Bybel bevat, en dit het daadwerklike, blywende veranderinge in hulle lewe tot gevolg. Sommige was voorheen soos Janet, ’n jong vrou wat lank aan dwelms en drank verslaaf was en uiteindelik selfmoord probeer pleeg het. Vandag is Janet ’n gelukkige Christen. Haar studie van die Bybel het haar gehelp om die krag te verkry om Paulus se raad te volg: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig.”—2 Korinthiërs 7:1.
Vernon was ’n alkoholis, en sy huwelik was baie wankelrig. Maar die Bybel se raad het hom in staat gestel om hierdie euwel te bowe te kom, en hy en sy vrou het versoen geraak (1 Korinthiërs 6:11). Debra het intense rassevooroordeel gehad. Maar ’n Bybelstudie en omgang met Christene het haar gehelp om haar denke te verander (Handelinge 10:34, 35). En wie sou die veranderinge kon glo wat in die lewe van ’n jong prostituut in Nederland sou plaasvind toe sy op ’n dag ingestem het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer? Sy was weldra ’n gedoopte Christen wat ’n rein lewe gelei en haar kinders op verantwoordelike wyse opgevoed het.
Sulke ondervindinge word oor en oor herhaal wanneer mense luister na wat die Bybel sê. Hulle lewe verbeter in opsigte wat talle van hulle nie gedink het moontlik is nie. Nog belangriker, hulle verkry ’n verhouding met God sodat hulle in erns tot hom kan bid as “Onse Vader wat in die hemele is” (Mattheüs 6:9). En hulle verkry ’n vaste, onfeilbare hoop terwyl hulle die waarheid ondervind van Jesus se woorde: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
Dit is hierdie inligting wat Jehovah se Getuies met ander wil bespreek wanneer hulle hul bediening volbring en hulle bure besoek. Hulle sal jou moontlik binnekort weer besoek. Sal jy ontvanklik genoeg wees om na hulle te luister?
[Prent op bladsy 7]
Die Samaritaanse vrou het nie toegelaat dat vooroordeel haar daarvan weerhou om na Jesus te luister nie. Is jy net so ontvanklik?