Wanneer huweliksvrede bedreig word
“’n Vrou [moet] nie van haar man . . . weggaan nie; . . . en ’n man moet sy vrou nie verlaat nie.”—1 KORINTHIËRS 7:10, 11, NW.
1. Wat was Jehovah se voorneme met die huwelik?
JEHOVAH GOD het die eerste mensepaar in die eg verbind, en dit was sy voorneme dat hierdie band van een vlees blywend moes wees. Dit moes ’n geseënde verbintenis wees wat hulle gelukkig sou maak en waardeur regverdige kinders voortgebring kon word, alles tot eer van God.—Genesis 1:27, 28; 2:24.
2. Wat is een faktor wat daartoe lei dat huweliksbande verbreek word?
2 Daardie ideale huweliksreëling is deur onafhanklike denke en sonde ontwrig (Genesis 3:1-19; Romeine 5:12). Trouens, ’n gees van onafhanklikheid is een van die faktore wat daartoe lei dat huweliksbande vandag verbreek word. Gevolglik was daar gedurende 1985 in die Verenigde State 5 egskeidings—vergeleke met 10,2 huwelike—per 1 000 mense. In 1986 het ’n verslag uit Moskou aangedui dat net 37 persent van die huwelike in die Sowjet-Unie drie jaar hou en dat 70 persent binne ’n dekade eindig.
3. (a) Wat kan huweliksprobleme veroorsaak? (b) Wie is die vernaamste vredeverstoorder in die huwelik?
3 ’n Gees van onafhanklikheid kan onmin in die huwelik veroorsaak. Dit verhinder ook geestelike ontwikkeling, want “die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede” (Jakobus 3:18). Maar wie is die vernaamste vredeverstoorder? Satan. En hoe jammer is dit tog nie wanneer ’n kneg van God ‘aan die duiwel plek gee’ en gevolglik nie ’n huis van rus en vrede geniet nie!—Efesiërs 4:26, 27.
4. Wat moet Christenhuweliksmaats besef, en wat moet hulle doen as hulle ernstige huweliksprobleme het?
4 Wanneer Christenhuweliksmaats skeiding as die enigste oplossing vir hulle huweliksprobleme beskou, verkeer hulle in gevaar om voor Satan se lis te swig en is daar geestelik iets ernstigs verkeerd (2 Korinthiërs 2:10, 11). Een of albei pas God se beginsels nie ten volle toe nie (Spreuke 3:1-6). Hulle moet dus sonder versuim biddende pogings aanwend om hulle onenighede uit die weg te ruim. As hierdie onenighede onversoenbaar lyk, kan hulle die gemeentelike ouere manne raadpleeg (Mattheüs 18:15-17). Hoewel hierdie manne nie gemagtig is om vir medegelowiges te sê presies wat hulle omtrent hul huweliksprobleme moet doen nie, kan hulle die aandag vestig op wat die Skrif sê.—Galasiërs 6:5.
5. Wanneer is ’n egskeiding en moontlike hertroue Skriftuurlik aanvaarbaar?
5 As die huweliksituasie so sleg is dat die Christenegpaar selfs ’n egskeiding oorweeg, kan die ouere manne daarop wys dat egskeiding en hertroue Skriftuurlik aanvaarbaar is alleenlik as jou huweliksmaat hom of haar aan “hoerery” skuldig gemaak het. Hierdie woord sluit egbreuk en ander vorme van onsedelike geslagsomgang en perversies in. (Mattheüs 19:9; Romeine 7:2, 3; kyk Die Wagtoring, 1 Junie 1983, bladsye 28, 29.) Maar wat van ’n geval waar daar nie “hoerery” gepleeg is nie en huweliksvrede tog ernstig bedreig word? Wat sê die Skrif oor geregtelike of de facto-skeiding?
Paulus se geïnspireerde raad
6. (a) Wat is die kern van Paulus se raad in 1 Korinthiërs 7:10, 11? (b) Hoe moet Christenhuweliksmaats huweliksprobleme oplos?
6 Die ouere manne kan ’n Christenegpaar wie se huweliksbande bedreig word, probeer help deur die aandag op die apostel Paulus se woorde te vestig: “Aan die getroudes beveel ek—nie ek nie, maar die Here—dat die vrou nie van die man moet [weggaan] nie; en as sy tog van hom [weggaan], moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet [verlaat] nie” (1 Korinthiërs 7:10, 11, vgl. NW). Christenhuweliksmaats behoort hulle probleme te kan oplos deur menslike onvolmaaktheid in aanmerking te neem. Geen probleem behoort so groot te wees dat dit nie deur opregte gebed, die toepassing van Bybelbeginsels en liefde, wat ’n vrug van God se gees is, opgelos sal kan word nie.—Galasiërs 5:22; 1 Korinthiërs 13:4-8.
7. (a) Wat is die Skriftuurlike posisie van Christenhuweliksmaats wat wel uiteengaan? (b) Watter invloed sal die skeiding van twee getroude Christene moontlik op diensvoorregte hê?
7 Maar sê nou Christenhuweliksmaats gaan wel uiteen? Hulle moet “ongetroud bly” of hulle met mekaar “versoen”. Tensy dit ’n geval is waar ’n egskeiding op grond van “hoerery” verkry is, is nie een van hulle Skriftuurlik vry om weer te trou nie. Met die oog hierop en weens die “algemeenheid van hoerery”, sal dit goed wees as hulle hul sonder versuim met mekaar “versoen” (1 Korinthiërs 7:1, 2, NW). Die ouere manne het geen reg om daarop aan te dring dat die man en die vrou hul skeiding beëindig nie, maar weens hulle huweliksprobleme sal hulle moontlik nie vir sekere diensvoorregte kwalifiseer nie. As ’n man byvoorbeeld “nie weet om sy eie huis te regeer nie”, het by klaarblyklik nie die vermoë om as ’n opsiener ‘vir die gemeente van God sorg te dra’ nie.—1 Timotheüs 3:1-5, 12.
8. Wat is die kern van Paulus se raad in 1 Korinthiërs 7:12-16?
8 Die instandhouding van ’n huwelik word beklemtoon al is net een huweliksmaat ’n gelowige. Paulus het geskryf: “As enige broeder ’n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie [verlaat] nie; en as ’n vrou ’n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie [verlaat] nie. . . . Maar as die ongelowige wil [weggaan], laat hom [weggaan]. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep. Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?” (1 Korinthiërs 7:12-16, vgl. NW). As die ongelowige verkies om weg te gaan, sal die Christen hom laat gaan. Maar omdat die gelowige hoop dat die ongelowige moontlik tot die Christelike geloof oorgehaal sal word, sal hy nie die skeiding aanvoor nie. Timotheüs se moeder, Eunice, het blykbaar by haar ongelowige man gebly, maar het haar seun geestelike onderrig gegee.—2 Timotheüs 1:5; 3:14, 15.
Gronde vir skeiding
9, 10. (a) Wat is volgens 1 Timotheüs 5:8 een grondslag vir die skeiding van huweliksmaats? (b) Wat moet aangestelde ouere manne doen as ’n Christenman beskuldig word van weiering om sy vrou en kinders te onderhou?
9 Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 7:10-16 spoor huweliksmaats aan om bymekaar te bly. Tog het sommige, nadat hulle baie hard probeer het om hulle huweliksverhouding in stand te hou, uiteindelik besluit dat hulle werklik nie anders kan as om uiteen te gaan nie. Watter gronde kan daar vir so ’n stap wees?
10 Opsetlike versuim om te onderhou is een grondslag vir skeiding. Wanneer ’n man trou, neem hy die verantwoordelikheid op hom om sy vrou en enige kinders wat hulle moontlik sal hê, te onderhou. Die man wat lede van sy huisgesin nie onderhou nie, “het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Timotheüs 5:8). Skeiding is derhalwe moontlik in ’n geval van opsetlike versuim om te onderhou. Aangestelde ouere manne moet ’n beskuldiging dat ’n Christen weier om sy vrou en gesin te onderhou natuurlik noukeurig ondersoek. Onversetlike weiering om jou gesin te onderhou kan uitsetting tot gevolg hê.
11. Wat is ’n ander grondslag vir skeiding, maar wat kan die situasie draaglik maak?
11 Uitermatige fisiese mishandeling is nog ’n grondslag vir skeiding. Veronderstel dat ’n ongelowige huweliksmaat dikwels dronk word, woedend word en die gelowige fisiese leed aandoen (Spreuke 23:29-36). Die gelowige sal dalk sulke uitbarstings kan voorkom en die situasie draaglik kan maak deur te bid en deur die vrug van Jehovah se gees aan die dag te lê. Maar as die situasie so ernstig word dat die gesondheid en lewe van die mishandelde huweliksmaat in gevaar gestel word, sal skeiding Skriftuurlik toelaatbaar wees. Gemeentelike ouere manne moet eweneens aantygings van fisiese mishandeling ondersoek indien dit twee Christene is wat sulke huweliksprobleme ervaar, en uitsetting sal dalk nodig wees.—Vergelyk Galasiërs 5:19-21; Titus 1:7.
12. (a) Hoe kan die gelowige se geestelikheid ’n invloed op die kwessie van skeiding hê? (b) Wat moet gedoen word as daar ’n uiters ongesonde geestelike toestand in ’n Christenhuis heers?
12 Algehele ingevaarstelling van geestelikheid bied ook ’n grondslag vir skeiding. Die gelowige in ’n godsdienstig verdeelde huis moet alles moontlik doen om God se geestelike voorsienings te benut. Maar skeiding is toelaatbaar as ’n ongelowige huweliksmaat se teenstand (wat dalk fisiese verhindering insluit) dit waarlik onmoontlik maak om ware aanbidding te beoefen en die gelowige se geestelikheid in gevaar stel. Maar sê nou daar heers ’n baie ongesonde geestelike toestand waar albei huweliksmaats gelowiges is? Die ouere manne moet hulp verleen, maar veral die gedoopte man moet hom ywerig inspan om die situasie reg te stel. As ’n gedoopte huweliksmaat soos ’n afvallige optree en sy huweliksmaat probeer verhinder om Jehovah te dien, moet die ouere manne die saak volgens die Skrif hanteer. As uitsetting plaasvind in ’n geval van algehele ingevaarstelling van geestelikheid, opsetlike versuim om te onderhou of uitermatige fisiese mishandeling sal dit nie strydig met Paulus se raad oor hofsake teen ’n gelowige wees as ’n getroue Christen ’n geregtelike skeiding aanvra nie.—1 Korinthiërs 6:1-8.
13. Onder watter omstandighede kan die skeiding van huweliksmaats geoorloof wees?
13 Skeiding kan dus onder uiterste omstandighede geoorloof wees. Maar flou voorwendsels moet natuurlik nie gebruik word om ’n skeiding te verkry nie. Enige Christene wat wel uiteengaan, moet die persoonlike verantwoordelikheid vir daardie optrede dra en moet besef dat ons almal voor Jehovah rekenskap sal gee.—Hebreërs 4:13.
’n Verstandige stap?
14. (a) Watter probleem sal skeiding waarskynlik skep? (b) Hoe kan skeiding kinders raak?
14 Probleme wat waarskynlik deur skeiding geskep sal word, moet biddend oorweeg word. ’n Eenouergesin voorsien byvoorbeeld selde dieselfde balans en dissipline as tweeouergesinne. En skeiding kan ’n uitwerking op kinders hê wat soortgelyk is aan die van egskeiding, waaroor die tydskrif India Today berig het: “Sheena, met groot oë wat skynbaar die hele wêreld inneem, is ses. Haar ouers is twee jaar gelede na ’n lelike hofstryd geskei. Kort daarna het haar vader met ’n ander vrou getrou. Sy het ’n jaar lank slegte asma-aanvalle gekry en suig gedurig haar duim. Sy woon by haar moeder in Suid-Delhi. Die moeder sê: ‘My hartseer is aan Sheena oorgedra. . . . Sy mis haar pa. . . . Sy is meer volwasse as die meeste kinders van haar ouderdom. Maar sy het onbeheerbare huilbuie, asof sy iets uit haar uit wil kry. Skool was ’n probleem. Kinders kan baie wreed wees. Sy trek haar dikwels in ’n kammaland terug: sy versin vir haar vriende ’n verhaal van hoe ons almal saam uitgaan.’”
15. Watter uitwerking kan skeiding op ’n Christenman of -vrou hê?
15 Skeiding is ook dikwels nie vir ’n Christenman en -vrou voordelig nie. Hulle vind gou uit dat daar sonder ’n huweliksmaat of die kinders ’n knaende leemte is. Die druk wat deur skeiding veroorsaak word, moet nie geïgnoreer word nie. Sal dit moontlik wees om geldelike of ander sake te behartig? En sê nou die spanning van skeiding lei tot onsedelikheid? Jesus het gesê: “Die wysheid is geregverdig deur sy [werke]” (Mattheüs 11:19, vgl. NW). Skeiding lei soms tot baie onverstandige situasies, veral wanneer albei huweliksmaats Christene is.
Probeer om probleme op te los
16. Wat moet Christenhuweliksmaats wie se huweliksvrede bedreig word, doen?
16 Christenhuweliksmaats wie se huweliksvrede ernstig bedreig word, moet hulle verskille bespreek op ’n manier wat dienaars van God betaam. En hulle moet onvolmaaktheid beslis in ag neem (Filippense 2:1-4). Maar wat kan nog gedoen word?
17. Hoe kan verstandigheid in verband met materiële dinge huweliksvrede bevorder?
17 Verstandigheid in verband met materiëele dinge, kan huweliksvrede bevorder. Ter toeligting: Nadat ’n man sy vrou se negatiewe beskouing in ag geneem het, sal hy dalk nietemin besluit dat dit verstandig is vir sy gesin om te verhuis. Dit lyk dalk raadsaam om ekonomiese redes, maar dit sal die gesin moontlik ook in staat stel om Koninkryksbelange te bevorder deur te dien waar meer hulp nodig is (Mattheüs 6:33). Sy Christenvrou wil talk nie trek nie omdat sy haar ouers of ’n bekende omgewing sal moet verlaat. Maar dit sal verstandig van haar wees om ten volle met haar man saam te werk, aangesien hy die hoof van die huisgesin is en die verantwoordelikheid het om te bepaal waar sy gesin gaan woon. Bowendien sal haar onderdanigheid en liefdevolle samewerking tot huislike vrede bydra.—Efesiërs 5:21-24.
18. Watter geleenthede het Christenhuweliksmaats om dinge saam te doen?
18 Gesinsvrede floreer en probleme lyk minder ernstig wanneer huweliksmaats dinge saam doen. Christenhuweliksmaats het byvoorbeeld gulde geleenthede om saam aan die veldbediening deel te neem. As hulle dit gereeld doen en hulle kinders met hulle saamneem, sal die hele gesin daarby baat vind. Daar is moontlik ook verskeie geleenthede om die huweliksband te versterk deur aan ander heilsame bedrywighede deel te neem wat een van die huweliksmaats besonder geniet.
19. Watter soort hoofskap sal gesinsvrede bevorder?
19 Hoofskap wat behoorlik uitgeoefen word, sal huweliksbande versterk. Die ryp Christenman sal natuurlik nie ’n diktator wees nie. Hy sal eerder ‘sy vrou liefhê en nie teen haar verbitter word nie’. Jehovah verwag van hom om liefdevolle hoofskap uit te oefen (Kolossense 3:18, 19). Sulke hoofskap bevorder dan gesinsvrede.
In verdeelde huisgesinne
20, 21. Hoe kan redelikheid voordelig wees wanneer die vrede in ’n godsdienstig verdeelde huis bedreig word?
20 Redelikheid help om huweliksprobleme tussen Christenhuweliksmaats op te los (Filippense 4:5, NW). Maar redelikheid is ook belangrik as die vrede in ’n godsdienstig verdeelde huisgesin bedreig word. As ’n ongelowige man sy Christenvrou probeer verhinder om Jehovah te dien, kan sy probeer om met hom te redeneer en taktvol daarop te wys dat sy hom godsdiensvryheid gun en dat sy logies dieselfde behandeling moet ontvang (Mattheüs 7:12). Hoewel sy relatiewe onderdanigheid teenoor haar ongelowige man moet toon, moet sy God se wil doen wanneer daar ’n konflik is (1 Korinthiërs 11:3; Handelinge 5:29). Dit is tog nie buitensporig om Christenvergaderinge drie keer per week by te woon nie. Maar dit sal dalk vir die gelowige vrou raadsaam wees om ander aande tuis te wees en om die meeste van haar veldbediening te beplan vir tye wanneer haar man werk en die kinders by die skool is. Met redelikheid en goeie beplanning hoef sy nie ‘op te hou om te doen wat voortreflik is nie’.—Galasiërs 6:9, NW.
21 Redelikheid moet ook op ander gebiede getoon word. ’n Mens het byvoorbeeld die reg om ’n sekere godsdiens te beoefen. Maar ’n Christenvrou sal redelik en verstandig wees as sy haar Bybels en Bybelstudiehulpe nie op ’n plek neersit waar haar man wat haar kwaai teëstaan daarteen beswaar sal maak nie. Konflik kan vermy word as sy sulke publikasies tussen haar persoonlike besittings hou en as sy dit privaat bestudeer. Sy moet natuurlik nie regverdige beginsels prysgee nie.—Mattheüs 10:16.
22. Wat kan gedoen word as die godsdiensonderrig van die kinders die rede vir die ontwrigting van huislike vrede is?
22 As die godsdiensonderrig van die kinders die rede vir die ontwrigting van huislike vrede is, kan die gelowige vrou taktvol reël dat hulle haar na vergaderinge en in die veldbediening vergesel. Maar as die ongelowige man en vader dit verhinder, kan sy die kinders Bybelbeginsels leer sodat hulle bes moontlik ware aanbidding sal beoefen wanneer hulle volwasse is en die huis verlaat. As die man die gelowige is, het hy, as die hoof van die huisgesin, die Skriftuurlike verpligting om sy kinders as Christene groot te maak. Hy moet dus ’n Bybelstudie saam met hulle hou, hulle na vergaderinge neem en hulle in die veldbediening oplei (Efesiërs 6:4). Hy moet sy ongelowige vrou natuurlik vriendelik, liefdevol en redelik behandel.
Bewaar vrede as ’n verenigde gesin
23. Wat kan nuttig wees as huweliksvrede bedreig word?
23 Aangesien huweliksmaats “een vlees” is, moet hulle vreedsaam volgens God se reëling vir getroudes saamwoon, veral as albei huweliksmaats Christene is (Mattheüs 19:5; 1 Korinthiërs 7:3-5). Maar as jou eie huweliksvrede bedreig word, moet jy die voormelde Skriftuurlike punte biddend hersien. Dit kan ook nuttig wees om aan jou hofmakery terug te dink. Hoe hard het julle albei tog nie probeer om te doen wat reg is en die grondslag vir ’n gelukkige huwelik te lê nie! Gaan julle nou soortgelyke pogings aanwend om julle huwelik te red?
24. Hoe moet Christene die huwelik beskou?
24 Getroude Christene het ’n wonderlike gawe van God—hulle huwelik! As jy jou huweliksgeloftes nakom en onkreukbaarheid teenoor Jehovah handhaaf, het jy die vooruitsig op die regverdige nuwe wêreld waar hartverskeurende skeiding en egskeiding die mensdom nie meer sal teister nie. Toon dus dankbaarheid vir die huwelik as ’n figuurlike “driedubbele lyn”, waarvan Jehovah ’n noodsaaklike deel is (Prediker 4:12). En mag alle lede van jou verenigde huisgesin die seën van gesinsgeluk in ’n huis van rus en vrede geniet.
Wat is jou antwoorde?
◻ Hoe sal jy Paulus se raad in 1 Korinthiërs 7:10-16 opsom?
◻ Wat is grondige redes vir die skeiding van huweliksmaats?
◻ Hoe kan Christene probleme oplos wanneer huweliksvrede bedreig word?
◻ Hoe kan redelikheid in godsdienstig verdeelde huisgesinne tot vrede bydra?
[Prent op bladsy 23]
Christenhuweliksmaats wie se huweliksvrede bedreig word, moet hulle probleme bespreek op ’n manier wat dienaars van Jehovah betaam