Openbaar vertroue in Jehovah—deur die dinge wat geleer word toe te pas
“Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid.”—PSALM 37:3.
1, 2. (a) Wat moet die gewenste resultaat van persoonlike studie wees? (b) Watter illustrasie gee Jakobus, en is die gekyk wat hy beskryf ’n vlugtige blik?
JOU studie van God se Woord is nie bloot vir persoonlike genot nie. Studie moet ’n manier wees om vertroue in Jehovah op te bou (Spreuke 3:1-5). Die psalmis se woorde hierbo toon dat godvrugtige vertroue op sy beurt in ’n persoon tot uiting kom deurdat hy ‘doen wat goed is’.
2 Jakobus het gemaan: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse oorlegging bedrieg nie. Want indien iemand ’n hoorder van die woord is en nie ’n dader nie, dan is so iemand soos ’n man wat sy natuurlike gesig in ’n spieël bekyk. Want hy bekyk homself en dan gaan hy weg en vergeet dadelik watter soort man hy is” (Jakobus 1:22-24, NW). Hierdie gekyk moes dus nie bloot ’n vlugtige blik wees nie. Die Griekse woord vir “bekyk” wat hier gebruik word, dui in wese op “die aksie van die verstand om sekere feite omtrent iets te verstaan”.—An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine; vergelyk Handelinge 7:31, Kingdom Interlinear.
3. Hoe kan ’n man wat in ’n spieel kyk gou vergeet “watter soort man hy is”?
3 Stel jou dan ’n man voor wat homself goed in ’n spieel bekyk en wat miskien die spieëlbeeld ietwat onvleiend vind. Hy sien dalk ’n dubbele ken as gevolg van ooretery en strawwe drinkery, sakke onder die oë weens slapeloosheid en plooie op die voorhoof weens knaende bekommernisse. Van aangesig tot aangesig met homself, besluit hy om veranderinge in gewoontes en lewenstyl aan te bring wat hy al lankal moes aangebring het. “Dan gaan hy weg.” Met die verontrustende beeld gerieflik uit die oog, ‘vergeet hy dadelik’, nie soseer hoe hy lyk nie, maar “watter soort man hy is”. Daar kom niks van sy besluit om te verander nie.
4. Hoe is Jakobus se illustrasie op ons studie van die Skrif van toepassing?
4 Jy is miskien insgelyks ’n knap student van die Bybel. Maar hoe reageer jy op wat jy in die spieël van God se Woord sien? Gestel geestelike foute en gebreke word weerspieël. Voel jy net vlugtig bekommerd daaroor of neem jy jou vas voor om die tekortkominge reg te stel? Jakobus het bygevoeg: “Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jakobus 1:25). Die psalmis het gebid: “HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.”—Psalm 119:33.
Wat ons dade van ons vertel
5. (a) Wat vertel ons dade van ons? (b) Watter einde wag daar op diegene wat “werkers van ongeregtigheid” is?
5 Wat ons doen of beoefen, wys in werklikheid wat ons innerlik is. En vroeër of later maak ’n persoon “die verborgene” openbaar deur goed of kwaad te beoefen (Psalm 51:8). Salomo het gesê: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is” (Spreuke 20:11). Dit was waar van Jakob en Esau toe hulle jonk was. Met verloop van tyd het Esau se dade sy gebrek aan geestelike waardering verraai (Genesis 25:27-34; Hebreërs 12:16). Dit was ook waar van duisende wat beweer het dat hulle op Jehovah vertrou, maar wat was wat die Bybel “werkers van ongeregtigheid” noem (Job 34:8). Die psalmis het geskryf: “As die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.”—Psalm 92:8.
6. Waarom is dit gebiedend dat ons nou ons vertroue in Jehovah openbaar?
6 Die aantal goddelose mense neem toe, en hulle ondergang is ophande; God sal nie oortreders vir ’n onbepaalde tyd duld nie (Spreuke 10:29). Dit is derhalwe gebiedend dat ons ons vertroue in Jehovah openbaar deur toe te pas wat ons leer. “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon”, vermaan Petrus (1 Petrus 2:12). Wat is dan party gebiede waarop ons kan verbeter?
Ons verhoudinge met ander
7. Waarom moet ons versigtig wees in ons verhoudinge met “die wat buite is”?
7 Een gebied kan ons verhoudinge met ander wees. Spreuke 13:20 waarsku: “Hy wat met dwase verkeer, versleg.” Party versuim om hierdie geïnspireerde raad toe te pas en raak te intiem met wêreldlinge by die werk en by die skool. ’n Getroude broer het hom derhalwe skuldig gemaak aan onrein gedrag met ’n vrou by sy werk. Hy het ook saam met werkmaats na kroeë gegaan en gevolglik dronk geword. Ons moet beslis voortgaan om te “wandel in wysheid teenoor die wat buite is”.—Kolossense 4:5.
8. Hoe kan party hulle verhoudinge met mede-Christene verbeter?
8 Maar wat van ons verhouding met mede-Christene? Gestel jy skuld ’n broer byvoorbeeld geld. Sloer jy onnodig om hom te betaal deur te redeneer dat jy dit meer nodig het as hy, aangesien die broer blykbaar goed daaraan toe is? “Die goddelose leen en gee nie terug nie”, sê Psalm 37:21. Of gestel jy is ’n werkgewer. Pas jy die beginsel: “Die arbeider is sy loon werd”, toe wanneer jy Getuie-werknemers moet betaal? (1 Timotheüs 5:18). Paulus kon van sy eie optrede sê: “Ons [het] oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree . . . met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom.”—2 Korinthiërs 1:12, NAV.
Beskeie kleredrag en persoonsversorging
9. Watter tendense in kleredrag en persoonsversorging het party ouere manne opgemerk?
9 ’n Reisende opsiener in Duitsland het party plaaslike Christene as “die tennisskoengeslag” beskryf as gevolg van hulle slenterdrag by die vergaderinge. Die takkantoor het bygevoeg dat party vergaderingbywoners “amper slordig is”, hoewel “die oorgrote meerderheid van ons broers beskeie aantrek”. ’n Ander land berig eweneens dat “’n gebrek aan persoonlike higiëne hier ’n probleem is . . . Party broers dra nie skoon klere nie. Hulle hare is ongekam en vuil wanneer hulle na die vergaderinge toe gaan of velddiens gaan doen.” Hoe belangrik is dit tog vir Jehovah se knegte om in elke opsig netjies en skoon te wees!—2 Korinthiërs 7:1.
10. (a) Watter beginsel moet ons keuse van kleredrag en persoonsversorging rig? (b) Wanneer kan raad gepas wees, en hoe moet ons reageer?
10 Ons moet “waardig, beskeie en ingetoë” aantrek, veral wanneer ons aan geestelike bedrywighede deelneem (1 Timotheüs 2:9, NAV). Die geskil is nie of ’n sekere styl uiters modieus is nie, maar of dit gepas is vir iemand wat bely dat hy of sy ’n bedienaar van God is (Romeine 12:2; 2 Korinthiërs 6:3). Slenterdrag of stywe klere kan afbreuk doen aan ons boodskap. Style wat mans openlik en opsetlik vervroulik of vroue mannetjiesagtig laat lyk, is beslis onvanpas. (Vergelyk Deuteronomium 22:5.) Plaaslike gebruike kan natuurlik verskil na gelang van die weer, werkbehoeftes, ensovoorts, sodat die Christengemeente nie vaste reëls neerlê om die wêreldwye broederskap te dek nie. Ouere manne moet ook nie hulle persoonlike smaak aan die kudde opdring nie. Maar as ’n Koninkryksverkondiger se persoonsversorging die gemeente oor die algemeen ontstel of afbreuk doen aan die bediening, is vriendelike raad gepas. Sal jy nederig op sulke raad ag slaan en vertroue in Jehovah openbaar?—Hebreërs 12:7.
Vertrou God om na Koninkryksoekers om te sien
11. Hoe is party vasgevang in die najaging van materiële dinge, en waarom is dit onverstandig?
11 “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Hoe jammer tog wanneer party nie op hierdie woorde ag slaan nie! Omdat hulle die mite van finansiële veiligheid sluk, jaag hulle rykdom, geleerdheid en wêreldse loopbane koorsagtig na en ‘vertrou hulle op hulle besittings’ (Psalm 49:6, NAV). Salomo waarsku: “Moet jou nie afsloof om ryk te word nie . . . Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg; dit kry vlerke en vlieg die lug in soos ’n arend.”—Spreuke 23:4, 5, NAV.
12. Hoe ‘deurboor’ diegene wat rykdom najaag ‘hulleself met baie smarte’?
12 Die apostel Paulus waarsku verder: “Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer het, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timotheüs 6:10). In ’n onderhoud in U.S. News & World Report het dr. Douglas LaBier gesê dat baie jong mans en vroue wat rykdom najaag, gesê het dat hulle “onvergenoegdheid, angs, neerslagtigheid, ’n gevoel van leegheid, paranoia, sowel as ’n hele reeks fisiese kwale—hoofpyne, rugpyn, maagprobleme, slapeloosheid, eetprobleme—ondervind het”.
13. Waarom is dit die beste om met “voedsel en klere” tevrede te wees?
13 Diegene wat op Jehovah vertrou om na hulle om te sien, spaar hulleself baie pyn en angs. Om bloot met “voedsel en klere” tevrede te wees, beteken dalk wel ’n meer beskeie lewenstandaard (1 Timotheüs 6:8). Maar waardevolle “goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie” (Spreuke 11:4). Wanneer ons ons diens aan Jehovah uitbrei, stel ons ons boonop in ’n posisie om “die seën van Jehovah” te ontvang wat ‘ryk maak, en hy voeg daar geen smart by nie’.—Spreuke 10:22, NW.
‘Soek vrede en jaag dit na’
14, 15. (a) Watter soort geskille versteur soms die vrede van gemeentes? (b) Hoe kan vrede nagejaag word wanneer onenigheid ontstaan?
14 Nog ’n manier waarop ons ons vertroue in Jehovah openbaar, is deur ‘vrede te soek en dit na te jaag’ onder ons medegelowiges (1 Petrus 3:10-12). Maar soms word daar toegelaat dat kleinighede ’n bron van bittere twis tussen broers word: die Koninkryksaal se dekor, veranderinge in gemeentegebiede, Boekstudietoewysings, die hantering van tydskrif- en lektuurvoorrade. Of in plaas van persoonlike of sakegeskille in die gees van Mattheüs 18:15-17 te besleg, het broers in party gevalle opgehou om met mekaar te praat of het hulle die gemeente met hulle geskil ontstel.
15 Jakobus sê: “Die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede” (Jakobus 3:18). In die belang van vrede moet ons derhalwe geneig wees om ander se smaak of menings te aanvaar, selfs ten koste van persoonlike regte. (Vergelyk Genesis 13:5-12.) As twee gemeentes ’n Koninkryksaal deel, moet een gemeente byvoorbeeld nie die standpunt inneem dat dit die saal “besit” en die gesag het om vergaderingtye of ander sake aan die ander gemeente voor te skryf nie. Daar moet onderlinge respek en samewerking wees.
16. Van watter waarde is dit as teokratiese orde in die huis en in die gemeente erken word?
16 Baie onenigheid kan vermy word as ons eenvoudig teokratiese orde erken en op ons regte plek bly (1 Korinthiërs 11:3; Efesiërs 5:22-27). Wanneer vrouens die wense van hulle mans, kinders die bevele van hulle ouers en bedieningsknegte die leiding van ouere manne respekteer, bevorder hulle optrede ‘die groei van die gemeente vir sy eie opbouing in liefde’ (Efesiërs 4:16). Mans, ouers en ouere manne skiet weliswaar soms te kort (Romeine 3:23). Maar verbeter dit die situasie as daar gerebelleer of gekla word of as goedbedoelde instruksies teëgestaan word? Hoeveel beter is dit tog nie om ons plek wat deur God toegewys is te behou en vrede te soek nie!
Ons moet ons in die veld inspan
17. (a) Watter redes verstrek party vir hulle minimale aandeel in die predikingswerk? (b) Hoe het Jesus Christene aangespoor om op vandag se druk te reageer?
17 Vir talle is die grootste uitdaging egter om die Christelike opdrag om die goeie nuus te verkondig uit te voer (Mattheüs 24:14; 28:19). Party het maar ’n minimale aandeel in die velddiens en redeneer moontlik dat die druk om hulle brood te verdien en ’n gesin groot te maak dit vir hulle moeilik maak om meer te doen. Die druk van “die laaste dae” is weliswaar baie groot (2 Timotheüs 3:1). Jesus het egter gewaarsku dat ons ‘harte nie beswaar moet word deur sorge van die lewe nie’. Namate toestande versleg, moet Christene ‘na bo kyk en hulle hoofde ophef’ (Lukas 21:28, 34). Een van die beste maniere om teen Satan se aanvalle ‘vas te staan’, is vir ons om “as skoene aan [ons] voete die bereidheid vir die evangelie van vrede” te hê—om gereeld aan die predikingswerk deel te neem!—Efesiërs 6:14, 15.
18. Om watter rede het party moontlik nie ’n volle aandeel in die predikingswerk nie?
18 Destyds, in Paulus se dag, het baie Christene (ten minste in party gemeentes) “hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie”, gesoek (Filippense 2:21). Kan dit waar wees van party onder ons vandag? Miskien beskou hulle nie die Koninkryk soos daardie man wat ’n “baie kosbare pêrel” gevind het waarvoor by enigiets sou opoffer nie (Mattheüs 13:45, 46). Daar hulle voor eiebelang swig, kies hulle die maklikste uitweg en verrig bloot vormlike diens. Onthou egter dat liefde vir Jehovah en liefde vir ons naaste ware Christene beweeg om te preek, al is dit nie vir ons natuurlik om met vreemdelinge ’n gesprek aan te knoop nie.—Mattheüs 22:37-39.
19. Waarom is Jehovah ontevrede met halfhartige pogings, en hoe kan ons ons diens aan hom evalueer?
19 As ons nie beweeg word om te preek nie, is ons liefde vir Jehovah en ons vertroue in hom weinig meer as ’n geestesbewustheid. “Ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart”, het Dawid Salomo gemaan, “want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes” (1 Kronieke 28:9). Ons kan Jehovah nie met halfhartige pogings om die bos lei nie. Selfs ’n gereelde deelname aan velddiens bevredig hom nie as ons hom net ’n deel gee van wat ons kan doen as ons ‘al ons kragte sou inspan’ nie (Lukas 13:24, NAV). Elke Christen moet dus sy aandeel in die velddiens eerlik in oënskou neem en hom afvra: ‘Doen ek werklik soveel ek kan?’ Miskien moet ons aanpassings in ons voorkeure maak.
Beweeg om te “doen wat goed is” deur die voorbeelde van ander
20. Waarom is dit gepas om die goeie voorbeelde van mede-Christene te ondersoek?
20 Ons diens aan God word nie gedoen op grond van ‘’n vergelyking met dié van ander nie’ (Galasiërs 6:4, NAV). Die goeie voorbeelde van ander kan ons nietemin dikwels beweeg om meer te doen. Die apostel Paulus het self gesê: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Kyk dan hoeveel tyd ons broers elke maand in die velddiens deurbring. In die Verenigde State het verkondigers se gemiddelde ure van 8,3 uur in 1979 tot 9,7 uur in 1987 gestyg! Ons broers het voortdurend die tyd vermeerder wat hulle in die veld deurbring. Het jy dit gedoen?
21. Wat het baie beweeg om die pionierdiens te betree? Lig dit toe.
21 Rekordgetalle betree die gewone pionierdiens omdat hulle deur die ywerige voorbeelde van ander beweeg is. In Kalifornië (VSA) het ’n jong suster met die naam Angela ’n aanloklike werksaanbod ontvang, met inbegrip van ’n studiebeurs vir die universiteit van haar keuse. Angela het eerder die voltydse bediening gekies. Haar rede? “In my omgang met baie pioniers het ek ’n werklik groot vreugde en bevrediging opgemerk, nie net met hulleself nie, maar in hulle verhouding met Jehovah. Ek wou hierdie groot vreugde en bevrediging smaak.”
22. Watter voordele spruit uit die toepassing van dinge wat geleer is?
22 Wil jy “groot vreugde en bevrediging” geniet? ‘Vertrou dan op Jehovah en doen wat goed is’! Laat die dinge wat jy weet jou beweeg om jou bes in Jehovah se diens te doen. As jy die dinge toepas wat jy geleer het, sal jou geestelike vooruitgang vir almal duidelik wees en sal dit ander in ’n lewensreddende opsig tot voordeel strek (1 Timotheüs 4:15, 16). Mag almal derhalwe ag slaan op Paulus se woorde in Filippense 4:9: “Wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.”
Gedagtes ter hersiening
◻ Wat moet ons reaksie wees wanneer ons diep in die spieël van God se Woord intuur?
◻ Hoe kan ons ons verhoudinge met ander verbeter?
◻ Waarom is dit onverstandig om materiële dinge na te jaag?
◻ Hoe kan ons vrede in die gemeente soek?
◻ Wat moet ons beweeg om ’n volle deelname aan die velddiens te hê?
[Prent op bladsy 16]
Dit is nie genoeg om geestelike foute en gebreke te sien nie. Ons moet dit regstel!
[Prente op bladsy 18]
Diegene wat rykdom najaag, veroorsaak dikwels vir hulleself “baie smarte”