“Christus, die Seun van die lewende God”
NADAT sy dissipels verslag gedoen het oor wie die mense sê hy is, het Jesus gevra: “Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.”—Mattheüs 16:15, 16.
Was dit net Petrus wat hierdie gevolgtrekking gemaak het? Hoegenaamd nie! Kyk wie anders dit ook gedoen het, en let op wat die grondslag van hierdie identifikasie was.
VROEË VOLGELINGE: Johannes die Doper, die dissipels Natanael en Martha, en Saulus van Tarsus het onder diegene getel wat Jesus die Seun van God genoem het (Mattheüs 14:33; Johannes 1:33, 34, 49, 50; 11:27; Handelinge 9:20). Hulle oortuiging is versterk namate hulle gesien het hoe profesiee wat die beloofde Messias sou identifiseer in Jesus vervul is.
VROEË TEENSTANDERS: Jode wat Jesus wou doodmaak, het hom die Seun van God genoem, en so ook die soldate wat teenwoordig was toe hy aan die paal gehang is (Mattheüs 27:54; Johannes 19:7). Hoewel dit nie noodwendig toon dat sulke teenstanders dit geglo het nie, toon dit ten minste dat hulle bekend was met wat ander omtrent Jesus beweer het; en die bonatuurlike gebeure wat met sy teregstelling gepaard gegaan het, het sommige van hulle blykbaar beweeg om die kwessie van sy identiteit in heroorweging te neem.
ENGELE: Toe die engel Gabriël Jesus se geboorte aangekondig het, het hy hom die Seun van God genoem (Lukas 1:32, 35). Selfs demoonbesetenes, onder die invloed van goddelose engele, het uitgeroep: “Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God?” (Mattheüs 8:28-32). Weens Jesus se voormenslike bestaan in die hemel is dit vanselfsprekend dat goeie sowel as slegte engele sou weet wie hy is.
JESUS SELF: Jesus het nooit gespog oor die feit dat hy God se Seun is om sodoende ander se guns te probeer wen of om hom te verlustig in die aansien wat hierdie verhouding gebied het nie. Inteendeel, hy het homself in die meeste gevalle nederig “die Seun van die mens” genoem (Mattheüs 12:40; Lukas 9:58). Maar hy het wel by verskeie geleenthede erken dat hy die Seun van God is.—Johannes 5:24, 25; 10:36; 11:4.
JEHOVAH GOD: Wie kon Jesus Christus met groter gesag identifiseer as Jehovah God self? Jehovah het twee maal vanuit die hemel getuig: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.”—Mattheüs 3:17; 17:5.
God het Jesus goedgekeur—Doen jy dit?
In die eerste eeu het duisende mense Jesus aanvaar vir wat hy was: die beloofde Messias, of Christus, wat na die aarde gestuur is om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en om sy lewe as ’n losprys vir die mensdom op te offer (Mattheüs 20:28; Lukas 2:25-32; Johannes 17:25, 26; 18:37). Weens bittere teenstand sou mense nouliks geneë gewees het om Jesus se volgelinge te word as hulle onseker was oor sy identiteit. Hulle het die werk wat by hulle gegee het, naamlik om ‘dissipels van al die nasies te maak’, ywerig en dapper aangepak.—Mattheüs 28:19.
Vandag weet miljoene Christendissipels dat Jesus geen mite is nie. Hulle aanvaar hom as die hemelse Koning van God se opgerigte Koninkryk wat op die troon geplaas is en nou besig is om die aarde en die aangeleenthede daarvan progressief onder sy beheer te bring. Hierdie inkomende goddelike regering is welkome nuus, want dit beloof verligting van wêreldprobleme. Hierdie ware Christene toon dat hulle God se gekose Heerser heelhartig steun deur “hierdie [goeie nuus] van die koninkryk” aan ander te verkondig.—Mattheüs 24:14, vgl. NW.
Dié wat die Koninkryksreëling in die hande van “Christus, die Seun van die lewende God” steun, sal lewe om ewigdurende seëninge te geniet. Hierdie seëninge kan ook joune wees!
[Lokteks op bladsy 8]
Miljoene wat eens onseker was oor Jesus se identiteit gee nou hulle verenigde steun aan hom as die Heerser van God se Koninkryk
[Prent op bladsy 7]
Petrus het Jesus as “Christus, die Seun van die lewende God” geïdentifiseer. Vandag doen meer as 3 000 000 getuies van Jehovah dieselfde