Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/15 bl. 15-20
  • Dien Jehovah eensgesind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien Jehovah eensgesind
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle spreek die “suiwer taal”
  • Hulle is begeerlik
  • Hulle persoonlikheid is nuut
  • Ag ander hoër
  • Luister en neem waar
  • Geseën en onderskraag
  • Dankbaar vir ons broederskap
  • Word verenig deur die suiwer taal
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ’n Suiwer taal vir alle nasies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Gaan voort om skouer aan skouer te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Spreek die suiwer taal en lewe vir ewig!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/15 bl. 15-20

Dien Jehovah eensgesind

“Dan sal ek die volke tot ’n suiwer taal wend, sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep, om hom eenparig te dien.”—SEFANJA 3:9, American Standard Version.

1, 2. (a) Die vervulling van watter profesie bring Jehovah nou tot stand? (b) Watter vrae laat hierdie profesie ontstaan?

JEHOVAH GOD doen vandag iets wat mense op hulle eie nooit sal kan doen nie. Sowat 3 000 tale word in hierdie verdeelde wêreld gepraat, maar God bring nou die vervulling van hierdie profesie tot stand: “Ek [sal] die volke ’n suiwer taal laat spreek sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep, ten einde hom skouer aan skouer te dien.”—Sefanja 3:9, NW.

2 Wat is hierdie “suiwer taal”? Wie spreek dit? En wat beteken dit om ‘God skouer aan skouer te dien’?

Hulle spreek die “suiwer taal”

3. Wat is die “suiwer taal”, en waarom is diegene wat dit praat nie verdeeld nie?

3 Op Pinksterdag 33 G.J. is God se heilige gees op Jesus Christus se dissipels uitgestort en dit het hulle in staat gestel om in tale te spreek wat hulle nie geleer het nie. Dit het hulle die geleentheid gebied om mense van baie tale van “die groot dade van God” te vertel. So het Jehovah mense van alle etniese agtergronde in eenheid begin bring (Handelinge 2:1-21, 37-42). Toe gelowige nie-Jode later Jesus se volgelinge geword het, was God se knegte inderdaad ’n veeltalige, veelrassige volk. Hulle is egter nog nooit deur wêreldse grense verdeel nie, want hulle almal praat die “suiwer taal”. Dit is die gemeenskaplike taal van Skriftuurlike waarheid wat in Sefanja 3:9 voorspel is (Efesiërs 4:25). Diegene wat die “suiwer taal” praat, is nie verdeeld nie, maar “eenstemmig”, aangesien hulle “verenig [is] in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening”.—1 Korinthiërs 1:10.

4. Hoe het Sefanja 3:9 op veeltalige en veelrassige samewerking gewys, en waar word dit vandag aangetref?

4 Die “suiwer taal” sou mense van alle nasies en rasse in staat stel om Jehovah “skouer aan skouer”, letterlik ‘met een skouer’, te dien. Hulle sou God “eenparig” (The New English Bible), “soos een man” (NAV) of “met ’n eenparige skouer” (AB) dien. ’n Ander vertaling lui: “Dan sal ek die lippe van al die volke reinig, sodat hulle almal Jehovah se naam kan aanroep en in sy diens kan saamwerk” (Byington). Sulke veeltalige en veelrassige samewerking in God se diens word slegs onder Jehovah se Getuies aangetref.

5. Hoe kan Jehovah se Getuies enige mensetaal benut?

5 Aangesien al Jehovah se Getuies die “suiwer taal” van Skriftuurlike waarheid praat, kan hulle enige mensetaal op die mees verhewe wyse benut—om God te loof en die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Markus 13:10; Titus 2:7, 8; Hebreërs 13:15). Hoe wonderlik tog dat die “suiwer taal” mense van alle etniese groepe aldus in staat stel om Jehovah eensgesind te dien!

6. Hoe beskou Jehovah mense, maar wat sal nuttig wees as daar ’n mate van partydigheid in die hart van ’n sekere Christen is?

6 Toe Petrus vir Cornelius en ander nie-Jode getuig het, het hy gesê: “Ek bemerk seer seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid werk, aanvaarbaar vir hom” (Handelinge 10:34, 35, NW). Volgens ander vertalings is Jehovah ‘geen aannemer van die persoon nie’, ‘maak hy nie onderskeid nie’ en ‘behandel hy almal werklik eenders’ (AB; NAV; Die Lewende Bybel). As Jehovah se knegte moet ons mense van alle etniese groepe net soos hy beskou. Maar gestel daar is nog ’n mate van partydigheid in die hart van ’n sekere Christen. Wat dan? Dan sal dit nuttig wees om te let op hoe ons onpartydige God met sy knegte van elke nasie, stam, volk en taal handel.—Kyk ook Ontwaak! van 8 Maart 1985, bladsye 3-11.

Hulle is begeerlik

7. In watter opsig verskil een Christen nie van ’n ander van enige nasie of ras met betrekking tot ’n verhouding met God nie?

7 As jy ’n gedoopte getuie van Jehovah is, het jy waarskynlik ook eens op ’n tyd ‘gesug en gesteun oor die gruwels’ wat in hierdie goddelose stelsel plaasvind (Esegiël 9:4). Jy was ‘dood deur jou sondes’, maar God het jou genadiglik deur Jesus Christus na hom toe getrek (Efesiërs 2:1-5; Johannes 6:44). In hierdie opsigte het jy nie verskil van ander wat nou jou medegelowiges is nie. Hulle was ook ontsteld oor goddeloosheid, was ‘dood deur hulle sondes’ en het God se genade deur Jesus Christus ontvang. En ongeag ons ras of nasionaliteit, dit is slegs deur geloof dat enigeen van ons nou ’n posisie voor Jehovah God as sy getuies het.—Romeine 11:20.

8. Hoe word Haggai 2:7 nou vervul?

8 Die profetiese woorde van Haggai 2:7 help ons om te sien hoe ons ons medegelowiges van verskillende nasionaliteite behoort te beskou. Jehovah het daar gesê: “Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte [“begeerlike dinge”, NW] van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul.” Hierdie voorspelde verheffing van suiwer godsdiens vind by God se ware tempel, die ryk van sy aanbidding, plaas (Johannes 4:23, 24). Wat is “die begeerlike dinge van al die nasies”? Dit is die duisende liefhebbers van geregtigheid wat gunstig op die Koninkrykspredikingswerk reageer. Hulle stroom uit alle nasies en rasse na ‘die berg van die huis van Jehovah’ en word sy gedoopte getuies en lede van die internasionale “groot menigte” (Jesaja 2:2-4; Openbaring 7:9). Diegene wat Jehovah as lede van sy aardse organisasie loof, is rein, sedelike, godvrugtige persone—inderdaad uiters begeerlik. Elke ware Christen sal dan gewis broederliefde wil toon aan al hierdie begeerlike persone wat vir ons gemeenskaplike Vader in die hemele aanvaarbaar is.

Hulle persoonlikheid is nuut

9. Al het ons in die verlede nie ’n hoë dunk van buitelanders gehad nie, waarom moet ons, noudat ons Christene is, ’n ander beskouing huldig?

9 Ons geestelike broers en susters rondom die aarde is ook begeerlik omdat hulle ag geslaan het op die raad om ‘die ou persoonlikheid met sy gebruike af te lê en hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee’. “Deur middel van noukeurige kennis word [dit] vernuwe na die beeld van Hom wat dit geskep het, waar daar nòg Griek nòg Jood is, besnydenis nòg onbesnydenheid, buitelander, Skith, slaaf, vryman, maar Christus is alles en in almal” (Kolossense 3:9-11, NW). As iemand voorheen nie ’n hoë dunk gehad het van ’n Jood, ’n Griek of ander wat vir hom vreemd is nie, behoort dit anders te wees noudat hy ’n Christen is. Diegene wat “die nuwe persoonlikheid” het, kweek en openbaar die vrugte van God se heilige gees—liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing—ongeag hulle ras, nasionaliteit of kultuur (Galasiërs 5:22). Dit maak hulle bemind by mede-aanbidders van Jehovah.

10. Hoe kan Titus 1:5-12 ons help as ons in die versoeking kom om ongunstige veralgemenings oor medegelowiges van enige ras of nasie te uiter?

10 Anders as Jehovah se knegte maak party wêreldse mense neerhalende aanmerkings oor mense van ander etniese agtergronde. ’n Kretensiese profeet het dan glad eenkeer van sy eie volk gesê: “Kretensers is altyd leuenaars, skadelike wilde diere, werklose vrate”! Die apostel Paulus het aan daardie woorde gedink toe dit nodig geword het om valse leraars onder Christene op die eiland Kreta die swye op te lê. Maar Paulus het beslis nie gesê: Àlle Kretensiese Christene lieg en is skadelik, lui en vraatsugtig’ nie (Titus 1:5-12, NW). Nee, want Christene praat nie neerhalend van ander nie. Daarbenewens het die meeste van daardie Kretensiese Christene hulle met “die nuwe persoonlikheid” beklee, en party was geestelik bekwaam om as ouere manne aangestel te word. Dit is stof tot ernstige nadenke as ons ooit in die versoeking kom om ongunstige veralgemenings oor ons geestelike broers en susters van ’n spesifieke ras of nasionaliteit te uiter.

Ag ander hoër

11. Wat kan ’n Christen doen as daar partydigheid van enige aard in sy hart is?

11 As ’n Christen andersyds voorkeur vir een ras of nasionaliteit toon, sal hy dit waarskynlik deur woorde of dade verraai. Dit sal weer gekwetste gevoelens veroorsaak, veral in ’n gemeente wat uit mense van verskillende etniese agtergronde bestaan. Geen Christen sou sekerlik die eenheid van God se volk so wou ondermyn nie (Psalm 133:1-3). As daar dus enige partydigheid in ’n Christen se hart is, kan hy gerus bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”—Psalm 139:23, 24.

12. Waarom moet ons nie oor onsself of oor ander van ons etniese agtergrond spog nie?

12 Dit is goed om die realistiese beskouing te huldig dat ons almal onvolmaakte mense is wat hoegenaamd geen posisie voor God kon hê as dit nie vir Jesus Christus se offer was nie (1 Johannes 1:8–2:2). Wat maak ons dan anders as ander? Waarom sou ons dan oor onsself of oor ander van ons etniese agtergrond spog, aangesien ons niks het wat ons nie ontvang het nie?—Vergelyk 1 Korinthiërs 4:6, 7.

13. Hoe kan ons tot die eenheid van die gemeente hydra, en wat kan ons uit Filippense 2:1-11 leer?

13 Ons kan tot die eenheid van die gemeente bydra as ons die goeie eienskappe van ander erken en waardering daarvoor toon. Die Joodse apostel Paulus het ons almal stof tot nadenke gegee toe hy vir die nie-Joodse Filippense gesê het: “Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” Jesus Christus het vir ons die voorbeeld gestel in die regte gesindheid wat ons teenoor ander mense van enige ras of nasionaliteit moet openbaar. Hoewel hy ’n magtige geesskepsel was, het hy “aan die mense gelyk geword” en homself vir sondige mense van elke ras en nasie tot die dood aan ’n folterpaal verneder (Filippense 2:1-11, vgl. NW). Moet ons, as Jesus se volgelinge, dan nie liefdevol, nederig en medelydend wees en erken dat ander hoër as ons is nie?

Luister en neem waar

14. Wat kan ons help om ander hoër as onsself te ag?

14 Dit kan ons dalk help om ander hoër as onsself te ag as ons werklik luister wanneer hulle praat en hulle gedrag noukeurig waarneem. Ons sal moontlik eerlik teenoor onsself moet erken dat ’n mede- ouere man—miskien van ’n ander ras—op bekwamer wyse as ons doeltreffende raad in die Teokratiese Bedieningskool gee. Ons besef moontlik dat dit sy geestelikheid en nie noodwendig sy uitspraak of spreekwyse is nie wat hom in staat stel om medegelowiges met welslae te help om bekwame Koninkryksverkondigers te word. En dit is duidelik dat Jehovah sy pogings seën.

15. Wat kan ons opmerk wanneer ons na die stellings van mede-aanbidders luister?

15 Wanneer ons met ons broers en susters gesels of na hulle kommentare by vergaderinge luister, bemerk ons dalk dat party van hulle ’n beter begrip van sekere Skriftuurlike waarhede het as ons. Hulle broederliefde lyk miskien sterker, hulle het blykbaar meer geloof of hulle gee blyk van groter vertroue in Jehovah. Hetsy hulle dus van ons etniese agtergrond is of nie, hulle spoor ons tot liefde en goeie werke aan, help om ons geloof te versterk en beweeg ons om in groter mate op ons hemelse Vader te vertrou (Spreuke 3:5, 6; Hebreërs 10:24, 25, 39). Dit is duidelik dat Jehovah tot hulle genader het, en ons moet ook.—Vergelyk Jakobus 4:8.

Geseën en onderskraag

16, 17. Lig die feit toe dat Jehovah nie partydig is in die seëninge wat hy oor sy knegte van enige nasionaliteit of ras uitstort nie.

16 Jehovah is nie partydig in die seëninge wat hy oor sy knegte van enige nasionaliteit of ras uitstort nie. Beskou byvoorbeeld die land Brasilië. Dit was nie van buitelandse sendelinge nie, maar uit die mond van agt Brasiliaanse matrose, wat mense in Brasilië aanvanklik die Koninkryksboodskap in om en by 1920 gehoor het. God se seën is duidelik, want teen die 1987-diensjaar was daar ’n hoogtepunt van 216 216 Koninkryksverkondigers in daardie land met 141 302 000 inwoners—’n verhouding van een verkondiger tot 654.

17 Beskou ’n ander voorbeeld van goddelike seën. In April 1923 is twee Swart getuies van Jehovah van die Karibiese eiland Trinidad gestuur om die Koninkryksboodskap in Wes-Afrika te verkondig. Dit is hoe dit gekom het dat broer en suster W. R. Brown jare lank daar gedien het en hy as “Bible Brown” bekend geword het. Hulle het “geplant” en “God het laat groei” namate ander ook in daardie uitgestrekte gebied gewerk het (1 Korinthiërs 3:5-9). Vandag is daar meer as 32 600 Koninkryksverkondigers in Ghana en ruim 133 800 in Nigerië alleen.

18, 19. Gee voorbeelde van hoe ons onpartydige God sy knegte van alle rasse en nasies onderskraag.

18 Jehovah seën nie net sy knegte van alle nasies en rasse nie, maar onderskraag hulle ook. Beskou byvoorbeeld die geval van twee Japannese getuies van Jehovah. Op 21 Junie 1939 is Katsoeo Mioera en sy vrou ten onregte in hegtenis geneem, opgesluit en geskei van hulle vyfjarige seuntjie, wat deur sy ouma versorg moes word. Suster Mioera is na agt maande vrygelaat, maar broer Mioera is meer as twee jaar aangehou voor hy verhoor is. Hy is mishandel, skuldig bevind en tot vyf jaar gevonnis. In die tronk in Hirosjima het God hom onderskraag deur middel van die Skrif, wat hom voortdurend vertroos en versterk het. Deur ’n skynbare wonderwerk het broer Mioera op 6 Augustus 1945 behoue gebly toe die atoombomontploffing sy tronk in puin gelê het. Twee maande later is hy met sy vrou en seun in die noorde van Japan verenig.

19 Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah se Getuies in talle lande hewige vervolging ondergaan. Robert A. Winkler was byvoorbeeld een Duitse broer wat in Nazi-konsentrasiekampe in Duitsland en Nederland gely het. Omdat hy nie sy mede-Getuies wou verraai nie, is hy wreed geslaan totdat hy onherkenbaar was. Maar hy het geskryf: “Die gedagtes aan Jehovah se beloftes dat hy jou in enige soort moeilikheid sal help, het my vertroos en versterk om dit alles te verduur. . . . Die Gestapo het my Saterdag geslaan, en die volgende Maandag sou ek weer deur hulle ondervra word. Wat sou nou gebeur en wat moes ek doen? Ek het my in gebed tot Jehovah gewend en op sy beloftes vertrou. Ek het geweet dat ek teokratiese oorlogstrategie sou moes gebruik ter wille van die Koninkrykswerk en om my Christenbroers te beskerm. Dit was vir my ’n groot beproewing om te volhard en ek was die sewentiende dag heeltemal uitgeput, maar ek het Jehovah gedank dat ek in sy krag hierdie beproewing kon verduur en my onkreukbaarheid kon handhaaf.”—Psalm 18:36; 55:23; 94:18.

Dankbaar vir ons broederskap

20. Wat kan ons respek vir medegelowiges van alle rasse en nasies laat toeneem?

20 Jehovah seën en onderskraag onteenseglik sy getuies van elke nasie en ras. Hy is nie partydig nie, en as sy toegewyde knegte het ons geen verskoning of rede om partydigheid aan die dag te lê nie. Daarbenewens sal ons respek vir ons broers en susters van elke ras en nasie toeneem as ons dink aan maniere waarop hulle ons meerderes is. Hulle pas ook hemelse wysheid toe, wat nie partydige onderskeid maak nie, maar uitstekende vrugte lewer (Jakobus 3:13-18). Ja, en hulle vriendelikheid, vrygewigheid, liefde en ander godvrugtige eienskappe stel vir ons goeie voorbeelde.

21. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

21 Hoe dankbaar moet ons dan tog nie vir ons veelrassige, veelvolkige broederskap wees nie! Laat ons, met die hulp en seën van ons hemelse Vader, hom in broederliefde en met onderlinge respek ‘skouer aan skouer dien’. Dit behoort inderdaad ons innige begeerte en vaste voorneme te wees om Jehovah eensgesind te dien.

Wat is jou kommentare?

◻ Wat stel die “suiwer taal” Jehovah se knegte van alle etniese agtergronde in staat om te doen?

◻ Hoe word Haggai 2:7 vandag vervul, en hoe moet dit ons beskouing van ander knegte van God raak?

◻ Hoe kan Filippense 2:3 ons verhouding met mense van alle rasse en nasies raak?

◻ Wat sal ons omtrent medegelowiges van ander nasionale agtergronde opmerk as ons luister en opmerksaam is?

[Prente op bladsy 17]

Mense van alle rasse en nasies loof Jehovah eensgesind

[Prent op bladsy 18]

Luister noukeurig en wees opmerksaam. Die liefde en geloof wat uit die woorde en dade van ander getuies van Jehovah blyk, sal jou raak

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel