Die Christendom word ontmasker as die voorstander van valse aanbidding
“Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie.”—JEREMIA 7:28.
1, 2. Hoe het Jeremia op sy Godgegewe opdrag gereageer?
“DIE vuur van ware oortuiging het in hom gebrand; daar was ’n dwingende krag om die waarheid te spreek, om te berispe maar ook om aan te moedig.” Met hierdie woorde het twee Hebreeuse geleerdes Jeremia se rol beskryf. Hoewel sy toewysing van God ontsagwekkend was, het hy geweet dat hy sy verantwoordelikheid teenoor die nasie Juda moes nakom. Soos hy self gesê het: “Want die woord van Jehovah het vir my ’n oorsaak van smaad en spot geword die hele dag. En ek het gesê: ‘Ek sal van hom nie melding maak nie, en ek sal nie meer in sy naam spreek nie.’” Ja, die druk en die vervolging het amper vir hom te veel geword. Maar het hy tou opgegooi?—Jeremia 20:8, 9a, NW.
2 Jeremia het verder gesê: “En in my hart was dit soos ’n brandende vuur, opgesluit in my beendere; en ek het moeg geword om dit in te hou, en ek kon dit nie verduur nie” (Jeremia 20:9b, NW). Jeremia het nie sy toewysing om Jehovah se oordele aan Juda bekend te maak, ontduik nie.—Jeremia 6:10, 11.
Die hedendaagse Jeremia
3. Watter gesindheid het Jesus en die dissipels teenoor hulle opdrag getoon?
3 Soos Jeremia het Christus Jesus en die vroeë Christendissipels die ongewilde boodskap van God se Koninkryk onbevrees aan die Jode en die nasies verkondig. Hoewel hulle vroeër weens die predikingswerk opgesluit is, het Petrus en die ander apostels hulle godsdiensbeskuldigers moedig geantwoord: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Op bevel van die godsdiensowerheid is hulle as gevolg van hulle onverskrokkenheid geslaan. Hoe het die apostels gereageer? “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”—Handelinge 5:29, 40-42; Mattheüs 23:13-33.
4. Wie het Jeremia se voorbeeld in die 20ste eeu gevolg, en hoe het hulle dit gedoen?
4 Die vroeë, gesalfde Christene het derhalwe soos Jeremia opgetree. Hulle het God se oordele bekendgemaak, ondanks ’n oorweldigende oormag en hardnekkige godsdiensvyande. Wie het daardie selfde voorbeeld in hierdie 20ste eeu gevolg? Wie het God se oordele oor hierdie stelsel, en in die besonder oor Jerusalem se teëbeeld, die Christendom, in die openbaar en van huis tot huis bekendgemaak? Die geskiedkundige getuienis hoop nou al meer as 68 jaar op om te toon dat die hedendaagse Jeremia-klas ’n klein maar moedige groepie van Jehovah se gesalfde getuies is. Hulle is sedert 1935 aangevul en gehelp deur die toenemende “groot menigte” van miljoene gewillige metgeselle, wat ook as Jehovah se Getuies bekend staan. Met ’n verenigde stem het hulle Jeremia se rol vervul deur valse godsdiens as ’n strik en ’n bedrogspul aan die kaak te stel.—Openbaring 7:9, 10; 14:1-5.
Die Christendom—Waarom is dit Jerusalem se hedendaagse parallel?
5. In watter opsigte is die Christendom soos eertydse Jerusalem?
5 ‘Maar’, vra jy dalk, ‘in watter opsig kom die Christendom met eertydse Jerusalem ooreen?’ In sover die gesindhede en toestande wat vandag in die trotse Christendom heers eenders is. Sy lidmate stel hulle vertroue in hulle ‘heilige stede’ en heiligdomme, soos Rome, Jerusalem, Kantelberg, Fatima, Guadalupe en Saragossa, om maar ’n paar te noem. Hulle verheerlik graag hulle katedrale, basilieke, tempels en kerke, en spog oor hoe oud hulle is en oor hulle argitektuur asof dit hulle spesiale aansien by God gee. Hulle sê selfs dat hulle godsdiensgeboue ‘tot eer van God’ gebou is. Maar hoeveel van hierdie geboue dra in werklikheid die naam van Jehovah God? Inteendeel, jy word gedurig herinner aan die argitekte wat hulle ontwerp het, die kunstenaars en beeldhouers wat hulle versier het, die ryk begunstigers wat vir hulle betaal het of die “heiliges” aan wie hulle toegewy is. Die Christendom se vertroue in oudheid en tradisie is net so bedrieglik soos Juda se vertroue in sy heilige tempel.—Jeremia 7:4.
6. Hoe is Jesus se veroordeling van die Joodse geestelikes op die Christendom se geestelikes van toepassing?
6 Wat kan, in ooreenstemming met Jeremia se veroordeling van die Joodse priesters en profete, van die Christendom se hedendaagse godsdiensleiers gesê word? Net so rondborstig soos Jeremia het Jesus ’n beskrywing van die Joodse geestelikes gegee wat die geestelikes van die Christendom vandag nog pas: “Hulle doen self nie wat hulle sê nie . . . Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word . . . Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges” (Mattheüs 23:3-7, NAV). Hoe dikwels sien ons tog dat vooraanstaande geestelikes en predikers politieke en nasionalistiese vergaderinge en saamtrekke met hulle teenwoordigheid eer—en dat hulle die media se aandag saam met die politici geniet!
7. (a) Hoe mislei party predikers die mense? (b) Watter uitdaging het die geestelikes vermy?
7 Nou, in die eeu van die televisie, het ons TV-predikers wat daardie medium misbruik deur allerhande teatrale kunsies en sielkundige metodes te gebruik om die volksmassa te mislei en die kudde te melk. Jeremia se veroordeling is selfs nou, sowat 2 600 jaar later, inderdaad uiters toepaslik! “Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.” Terselfdertyd wil nie een van hulle die uitdaging van die ware Christelike bediening aanvaar om persoonlik met die mense van huis tot huis te gaan praat nie. Net Jehovah se Getuies—die gesalfde Jeremiaklas en die “groot menigte”—het daardie verantwoordelikheid aanvaar.—Jeremia 6:13; Handelinge 20:20, 21.
Is die Christendom gered?
8. Waarom glo die Christendom dat hy by Armageddon sal vryspring?
8 Hierdie einste TV-predikers wek by die publiek ’n valse gevoel van veiligheid met hulle onoordeelkundige gebruik van die slagspreuke en leer rakende ‘wedergeboorte’ en “eenmaal gered, altyd gered”. Miljoene mense van feitlik elke godsdiens en sekte van die Christendom is onder die indruk gebring dat hulle “weer gebore” en “gered” is. Skaamtelose politici maak ook ewe ongeërg daarop aanspraak. Ja, hulle gunsteling-predikers sê vir hulle dat hulle in vrede met God verkeer omdat hulle “gered” is—en dít ondanks hulle godsdienstige, politieke en nasionalistiese verdeeldheid! En die mense hou daarvan, net soos in Jeremia se dag! (Jeremia 5:31; 14:14). Hulle dink dat hulle God se oordeel by Armageddon sal vryspring.—Jeremia 6:14; 23:17; 1 Korinthiërs 1:10; Openbaring 16:14, 16.
9. (a) Op wie is ‘wedergeboorte’ werklik van toepassing? (b) Wat sê die Bybel oor die siel? (Meld verdere gedagtes uit Redenering uit die Skrif ter ondersteuning van albei vrae.)
9 ’n Noukeurige studie van God se Woord en Christus se leer toon egter dat slegs ’n beperkte getal in die voorreg deel om weer gebore te word, gebore ‘uit water en uit gees’, om aldus saam met Christus deel te hê aan hemelse heerskappy (Johannes 3:3-5; Romeine 8:16, 17; Openbaring 14:1-3). Die “groot menigte” ware Christene van vandag hoef nie weer gebore te word nie, aangesien hulle hoop op die ewige lewe ’n aardse hoop en nie ’n hemelse hoop is nie (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Daarbenewens is die Christendom se leer op ’n valse veronderstelling gebaseer—dat die mens ’n onsterflike siel het wat gered moet word. Die Bybel ondersteun nêrens so ’n leerstelling nie, wat in werklikheid van antieke Griekse filosofie oorgeneem is.a
Geen behae in sy Woord of naam nie
10. Hoe beskou talle geestelikes die Bybel?
10 Daar is ander ooreenkomste tussen eertydse Jerusalem en die hedendaagse Christendom. Jeremia het gesê: “Kyk, die woord van die HERE is vir hulle ’n smaad, hulle het daar geen behae in nie” (Jeremia 6:10). Die geestelikes verkies om filosowe en wetenskaplikes eerder as die Woord van Jehovah aan te haal. Talle skaam hulle vir die Bybel; hulle dryf selfs deur hulle “hoër kritiek” die spot daarmee. Hulle beweer dat dit mites en legendes is wat as goeie literatuur aangebied word (Jeremia 7:28). En wat die naam van die Outeur daarvan betref, hulle minag dit. Watter bewys het ons vir hierdie stelling?
11. Watter verskil is daar tussen die Christendom en Jeremia wat hulle gebruik van God se naam betref?
11 Hoewel die Hebreeuse tetragrammaton (יהוה) feitlik 7 000 keer in die Hebreeuse Skrifte voorkom, is die naam “Jehovah”, of “Jahweh”, in talle Engelse Bybels deur die anonieme “HERE” vervang. Die naam is byvoorbeeld heeltemal uit die jongste vertalings van die Afrikaanse Bybel weggelaat. Die naam is in die oorspronklike uitgawe van die Spaanse Franquesa-Solé-vertaling gebruik. Toe die hersiene vertaling gepubliseer is, het die goddelike naam verdwyn en is dit deur Señor (Here) vervang. En selfs wanneer die Christendom se vertalings wel God se naam bevat, gebruik die geestelikes dit selde. Jeremia het egter God se kenmerkende naam 726 keer in sy profetiese boodskap gebruik!b
Die “hemelkoningin” en afgodediensb
12-14. (a) Met watter ywerige werk was Joodse gesinne besig? (b) Hoe het Jehovah hulle aanbidding beskou?
12 Ons vind nog ’n parallel wanneer ons Jeremia se boodskap aan Jerusalem ondersoek. Toe Jehovah vir sy profeet gesê het om nie ten behoewe van die volk te bid nie, het hy getoon waarom. “Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg.” En met watter ywerige onderneming was die hele gesin besig? “Om [offerkoeke] te maak vir die hemelkoningin”!—Jeremia 7:16-18, vgl. NW; 44:15, 19.
13 ’n Joodse verhandeling sê: “Die verering van die ‘hemelkoningin’ is ywerig en openlik beoefen.” Dit is ongelooflik dat die nasie Juda afgodediens beoefen het en ’n heidense godin, moontlik die Babiloniese vrugbaarheidsgodin, Isjtar, die derde godheid van die Babiloniese astrale drie-enige god, aanbid het. Of hierdie ‘koningin’ kon die ooreenstemmende Kanaänitiese godin, Astoret, gewees het.—1 Konings 11:5, 33.
14 Benewens hierdie godinaanbidding het hulle ander afgodediens beoefen. Jehovah het hulle hiervoor veroordeel en gesê: “Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode?” Die aanklag is voortgesit: “[Hulle het] na my stem nie geluister en daarin nie gewandel . . . nie, maar gewandel . . . agter die verhardheid van hulle hart en agter die Baäls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het” (Jeremia 8:19; 9:13, 14). Het die Christendom in dieselfde strik getrap?
15. (a) Watter situasie bestaan daar vandag in die Christendom in verband met afgodediens? Meld plaaslike voorbeelde. (b) Watter standpunt neem ware Christene ten opsigte van Maria in? (Kyk ook Redenering uit die Skrif, bladsye 286-293.)
15 Jy kan feitlik enige kerk of katedraal besoek—Protestants, Katoliek of Ortodoks—en jy sal ten minste beelde van die kruis vind. Maar in die Katolieke en Ortodokse ryke is daar beelde van “die immer maagdelike Heilige Maria, Moeder van die Ware God” in ’n eindelose verskeidenheid omstandighede en posisies.c Sy word oorlaai met alle voortreflike titels, met inbegrip van “Hemelkoningin” en “Koningin van die heelal”!d Daarenteen het die Jeremia-klas, hoewel hulle Maria as Jesus se moeder en ’n gesalfde gelowige respekteer, nougeset die apostoliese raad gevolg: “Bewaar julleself van die afgode.”—1 Johannes 5:21; Jeremia 10:14.
Drie-eenheid vervang een Soewereine Heer Jehovah
16. Watter leerstelling het die deur oopgemaak vir die verering van Maria, en hoe?
16 ‘Maar’, vra jy dalk, ‘hoe het hierdie aanbidding en verering van Maria ontstaan?’ Weens ’n ander stap deur die vroeë afvallige kerk om heidense aanbidders in te neem. Drie-enige gode was ’n algemene begrip in die heidense wêreld. Die ou Romeine het tempels met groepe van drie vertrekkies gehad wat “toegewy is aan drie-enige gode wat in opvattinge en aanbidding met mekaar geassosieer is. Dit was die geval met die tempel van Jupiter Optimus Maximus in die Kapitool, wat gewy is aan die Kapitolynse drie-eenheid Jupiter-Juno-Minerva.”e
17, 18. (a) Wat is onderdruk en het die Drie-eenheidsleer verder laat posvat? (b) Meld bykomende argumente in Redenering uit die Skrif
17 Ten einde die ontluikende leerstelling van die “Allerheiligste Drie-eenheid” in die derde en vierde eeu te bevorder, moes die Katolieke Kerk die Hebreeuse begrip onderdruk wat so duidelik in Jeremia se woorde na vore kom: “Geeneen is soos U nie, o [Jehovah]! U is groot, en u Naam is groot in krag. Maar [Jehovah] is waarlik God, Hy is die lewende God en ’n ewige Koning.” Jesus het daardie begrip bevestig toe hy Moses se woorde aangehaal het: “Hoor, o Israel, Jehovah ons God is een Jehovah.”—Jeremia 10:6, 10, vgl. NW; Markus 12:29, NW; Deuteronomium 6:4, vgl. NW.
18 Gesteun deur die Joodse bygeloof om nie “Jahweh”, of “Jehovah”, uit te spreek nie, het die afvallige Christendom die gebruik van God se naam laat vaar. Dit het ’n teologiese vakuum gelaat wat die ‘Heilige Drieeenheid’ kon vul.f
19. (a) Wat het die Christendom se aanvaarding van die Drie-eenheid tot gevolg gehad? (b) Watter bedrog is gepleeg ten einde die Drie-eenheidsargument te steun?
19 Die Christendom het dus verkies om ‘agter ’n ander god aan te wandel’, die drie-enige god, wat vir die Jode en vir Christus en die ware Christene heeltemal onbekend was. En om hierdie drie-enige verborgenheid te steun, het die Christendom se vertalers hulle selfs skuldig gemaak aan bedrog in hulle Afrikaanse vertaling (1933).g As ’n logiese gevolg van die Drie-eenheidsleer het ’n groot deel van die Christendom boonop in die aanbidding of verering van sy “hemelkoningin” verval.—Jeremia 7:17, 18.
Geestelikes stig vervolging aan
20, 21. Watter weg het die Christendom se geestelikes ingeslaan, en watter vrae is nou gepas?
20 In die lig van die voorgaande is Jeremia se vraag gepas vir die Christendom se geestelikes: “Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die HERE is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers. . . . Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” (Jeremia 8:8, 9). Hulle het Jehovah en sy verteenwoordigers, sy getuies, verwerp. Net soos die priesters en profete Jeremia vervolg het, was die geestelikes van die Christendom hoofsaaklik agter die wrede vervolging van Jehovah se Getuies dwarsdeur hierdie eeu.
21 Waarom het hulle hierdie vervolging aangestig? Wat het die Getuies gedoen om hulle gramskap te wek en die teiken van hulle kritiek te word? Die laaste artikel in hierdie reeks sal daardie en verwante vrae bespreek.
[Voetnote]
a Vir ’n uitvoerige bespreking van hierdie punte, kyk bladsye 343-348, 378, 379 en 421-425 in Redenering uit die Skrif, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word.
b Vir verdere inligting oor die verswyging van die goddelike naam, kyk die brosjure “Laat u Naam geheilig word”—Watter naam? met 32 bladsye, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word.
c The Image of Guadalupe—Myth or Miracle?, deur Jody Brant Smith, bladsy 6.
d The Glories of Mary, deur Alphonsus de Liguori, bladsy 424.
e Las Grandes Religiones Ilustradas (Die vername godsdienste geïllustreer), bladsy 408.
f Vir ’n studie van die Drie-eenheidsleer, kyk Redenering uit die Skrif, bladsye 95-117.
g 1 Johannes 5:7 is ’n onegte byvoeging, en “ook nie die Seun nie” wat in Mattheüs 24:36 ontbreek, is ’n oneerlike weglating. Kyk die voetnoot op bladsy 803 van The Emphatic Diaglott, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, en The Codex Sinaiticus and The Codex Alexandrinus, bladsy 27, wat deur die Trustees van die Britse Museum uitgegee word.
Onthou jy?
◻ Hoe is die hedendaagse Jeremia-klas geïdentifiseer?
◻ Wat is party parallelle tussen eertydse Jerusalem en die Christendom?
◻ Hoe het die geestelikes die mense wysgemaak dat hulle in vrede met God verkeer?
◻ Watter versuim en afgodediens is tipies van die Christendom?
[Prent op bladsy 16]
In 1938 het die Getuies valse godsdiens veroordeel
[Prente op bladsy 17]
Die Christendom vertrou op sy tradisionele heiligdomme, net soos die Jode op die tempel vertrou het
[Prent op bladsy 18]
Die Christendom se TV-predikers maak miljoene wys dat hulle “gered” of “weer gebore” is