Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 3/1 bl. 8-9
  • ’n Les in vergewensgesindheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Les in vergewensgesindheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Les in vergewensgesindheid
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Dit is belangrik om te vergewe
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Hoekom ons moet vergewe
    Leer by die Groot Onderwyser
  • “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 3/1 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

’n Les in vergewensgesindheid

JESUS is blykbaar steeds saam met sy dissipels in die huis in Kapernaüm. Hy het met hulle bespreek hoe probleme tussen broers hanteer moet word en daarom vra Petrus: “Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe?” Aangesien die Joodse godsdiensleraars voorstel dat ’n mens tot drie maal moet vergewe, meen Petrus waarskynlik dat dit baie grootmoedig is om voor te stel: “Tot sewe maal toe?”

Maar die hele idee om hiervan boek te hou is verkeerd. Jesus help Petrus reg: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.” Hy toon dat Petrus geen beperking moet stel op die aantal kere wat hy sy broer vergewe nie.

Jesus vertel die dissipels ’n gelykenis om hulle hul verpligting om vergewensgesind te wees op die hart te druk. Dit handel oor ’n koning wat met sy diensknegte wil afreken. Een dienskneg wat hom die ontsaglike bedrag van 10 000 talente (ongeveer R100 000 000) skuld, word na hom gebring. Hy kan dit glad nie betaal nie. Daarom, verduidelik Jesus, gee die koning bevel dat die dienskneg en sy vrou en kinders verkoop moet word sodat hy betaal kan word.

Daarop val die dienskneg voor sy heer se voete neer en smeek: “Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal.”

Die dienskneg se heer kry hom innig jammer en skeld hom dus die ontsaglike skuld kwyt. Maar nouliks het hy dit gedoen, gaan Jesus voort, of die dienskneg kom op ’n mededienskneg af wat hom slegs 100 pennings (ongeveer R180) skuld. Die man gryp sy mededienskneg aan die keel, begin hom wurg en sê: “Betaal my wat jy skuld.”

Maar die mededienskneg het nie die geld nie. Daarom val hy voor die voete van die dienskneg neer by wie hy in die skuld is en smeek: “Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal.” Die dienskneg is nie barmhartig soos sy heer nie en laat sy mededienskneg in die gevangenis gooi.

Wel, gaan Jesus voort, die ander diensknegte wat dit sien gebeur het, gaan vertel dit aan die heer. Hy is op sy beurt baie kwaad en ontbied die dienskneg. “Jou slegte dienskneg”, sê hy, “al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?” Die heer is ontstoke, en hy gee die onbarmhartige dienskneg aan die tronkbewaarders oor totdat hy al die skuld betaal het.

Dan sê Jesus ten slotte: “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.”

Wat ’n uitstekende les in vergewensgesindheid is dit tog! Vergeleke met die groot sondeskuld wat God ons vergewe het, is enige oortreding wat ons Christenbroer teen ons pleeg inderdaad gering. Buitendien het Jehovah God ons duisende kere vergewe. Dikwels is ons nie eers bewus van ons sondes teen hom nie. Kan ons dan nie, selfs al het ons ’n geldige klagte, ons broer ’n paar keer vergewe nie? Onthou dat God, soos Jesus in die Bergpredikasie geleer het, ‘ons ons skulde sal vergeef soos ons ook ons skuldenaars vergewe het’. Mattheüs 18:21-35; 6:12; Kolossense 3:13.

◆ Wat gee aanleiding tot Petrus se vraag aangaande vergifnis teenoor sy broer, en waarom meen hy dalk dat die ‘sewe keer’ wat hy voorstel grootmoedig is?

◆ Hoe het die koning se reaksie op sy dienskneg se smeking van die dienskneg se reaksie op ’n mededienskneg se smeking verskil?

◆ Wat leer ons uit Jesus se gelykenis?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel