Het godsdiens in ons behoeftes voorsien?
MARIA was 21 jaar lank ’n Rooms-Katolieke non. Sy het in ’n streng godsdienstige milieu grootgeword. Selfs as kind het sy glad in die nag opgestaan om vir ander te bid! Maar die armoede, lyding en onregverdigheid wat ondanks duisende jare van godsdiensinvloed voortgeduur het, het haar uiteindelik laat wonder: ‘Het godsdiens werklik in ons behoeftes voorsien?’
Die meeste godsdienste staan hoë ideale en sedelike beginsels voor. Godsdiens word egter meermale beskou as iets wat probleme veroorsaak en ons moeilikhede vererger pleks van in ons behoeftes te voorsien. Beskou byvoorbeeld hierdie opmerkings deur waarnemers van die godsdienstoneel: “Die diepliggendste rede vir onmenslike wreedheid is godsdienstig” (National Review). “Die hoofmotivering vir oorlog is nie meer hebsug nie, maar godsdiens” (Toronto Star). “Die slagting van die Jode ‘was geheel en al die werk van gedoopte Christene’.”—The Tampa Tribune.
Is dit ’n wonder dat mense nie ag slaan op godsdiens se beweringe dat dit in ons behoeftes voorsien nie? Hulle het die vrugte daarvan gesien. The Christian Century het byvoorbeeld gesê: “Dit was Sjintoïsme, die volksgodsdiens van Japan, wat die oorlogmasjien nie net heelhartig ondersteun het nie, maar die grondrede daarvoor voorsien het.” Hoeveel godsdienste het nie presies dieselfde gedoen nie—‘die oorlogmasjien heelhartig ondersteun’! Dink aan die slagtings en vergeldings deur Boeddhiste en Hindoes in Sri Lanka, die moorde en wreedhede waarby Katolieke en Protestante in Ierland betrokke is—die lys lyk eenvoudig eindeloos! Die U.S.News & World Report het die feit betreur dat “Hindoes, Moslems, Sikhs en ander sektes in Indië al eeue lank mekaar se bloed vergiet”.
Ander beskou godsdiens miskien nie as ’n krag ten kwade nie, maar hulle beskou dit seer seker nie as ’n sterk krag ten goede nie. Die National Catholic Reporter het gepraat van “die tradisionele kerk se versuim om afdoende aandag aan menslike begeertes en behoeftes te skenk”. En die tydskrif Liberty het gesê dat die gemeenskap die geestelike skynbaar as ’n “saligspreker-heiligmaker-seënwenser” beskou, wat net by seremoniële geleenthede uitgehaal word. Dit het bygevoeg: “In die gedagtes van talle mense is die geestelike die dienaar van die status quo.” Het jy godsdiens in daardie lig beskou—dat dit ons waarskynlik nie skade sal berokken nie, maar ons waarskynlik ook nie veel sal baat nie?
Hedendaagse godsdiens is baie soos dit was toe Jesus Christus op die aarde was. Hy het gesê dat die godsdiensleiers van sy dag God bloot met hulle lippe geëer het. Die gevolg van hulle gebruike was dat hulle mense se laste verswaar het eerder as om in hulle behoeftes te voorsien. “Hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense”, het hy gesê (Mattheüs 23:4). Godsdiens belowe vandag veel, maar lewer skynbaar baie min. Is daar dus enige rede om te glo dat godsdiens in ons behoeftes kan voorsien?