Jesus se lewe en bediening
Wat maak ’n mens onrein?
TEENSTAND teen Jesus neem toe. Nie alleen verlaat baie van sy dissipels hom nie, maar Jode in Judea wil hom doodmaak, net soos toe hy gedurende die Pasga van 31 G.J. in Jerusalem was.
Dit is nou die Pasga van 32 G.J. Jesus gaan waarskynlik na die Pasga in Jerusalem, volgens God se vereiste dat dit bygewoon word. Hy doen dit egter versigtig omdat sy lewe in gevaar is. Daarna keer hy terug na Galilea.
Jesus is moontlik in Kapernaüm wanneer Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem na hom kom. Hulle soek redes om hom van die verbreking van godsdienswette aan te kla. “Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou mense?” vra hulle. “Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie.” Dit is nie iets wat deur God vereis word nie, maar die Fariseërs beskou dit as ’n ernstige oortreding wanneer hierdie tradisionele voorskrif nie nagekom word nie, wat onder andere beteken het dat hulle tot by die elmboë was.
Eerder as om op hulle beskuldiging te antwoord, wys Jesus hulle op hulle goddelose en opsetlike verbreking van God se Wet. “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?” wil hy weet. “Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is ’n offergawe—dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie.”
Die Fariseërs leer inderdaad dat geld, eiendom of enigiets wat as ’n gawe aan God gewy is aan die tempel behoort en dat dit vir geen ander doel gebruik kan word nie. Maar die gewyde gawe bly in werklikheid in die besit van die persoon wat dit gewy het. Op hierdie manier kan ’n seun, deur bloot te sê dat sy geld of eiendom “korban” is—’n gawe wat aan God of aan die tempel gewy is—sy verantwoordelikheid ontduik om sy bejaarde ouers te help, wat moontlik in ernstige nood verkeer.
Jesus, wat met reg verontwaardig is oor die Fariseërs se goddelose verdraaiing van God se Wet, sê: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
Die skare het moontlik teruggestaan sodat die Fariseërs vrae aan Jesus kon stel. Nou, met die dat die Fariseërs geen antwoord het nadat Jesus hulle skerp veroordeel het nie, roep hy die skare nader. “Luister almal na My”, sê hy, “en verstaan. Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak.”
Wanneer hulle later ’n huis binnegaan, vra sy dissipels: “Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?”
“Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word”, antwoord Jesus. “Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.”
Dit lyk asof Jesus verbaas is wanneer Petrus, namens die dissipels, om ’n verduideliking vra oor wat ’n mens onrein maak. “Is julle dan ook nog sonder verstand?” vra Jesus. “Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie? Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.”
Jesus raai nie hier normale higiëne af nie. Hy voer nie aan dat ’n persoon nie sy hande hoef te was voor hy voedsel berei of ’n maaltyd nuttig nie. Jesus veroordeel eerder die geveinsdheid van godsdiensleiers wat slinks probeer om God se regverdige wette te omseil deur aan te dring op onskriftuurlike tradisies. Ja, dit is goddelose dade wat ’n mens onrein maak, en Jesus toon dat hulle in ’n mens se hart ontstaan. Johannes 7:1; Deuteronomium 16:16 Mattheüs 15:1-20; Markus 7:1-23; Exodus 20:12; 21:17; Jesaja 29:13.
◆ Voor watter teenstand kom Jesus nou te staan?
◆ Watter beskuldiging maak die Fariseërs, maar hoe verbreek die Fariseërs, volgens Jesus, opsetlik God se Wet?
◆ Wat toon Jesus is die dinge wat ’n mens onrein maak?