Liefde vir God werk sedelikheid in die hand
VERSTANDIGE persone sal geredelik saamstem dat onsedelikheid bekamp moet word. Soos ’n leraar van die Verenigde Kerk van Kanada dit gestel het: “Wanneer individue en die gemeenskap die sedewet ignoreer, is die gevolge skrikwekkend; oorloë, inflasie, Watergate en anargie.” Soos die vorige artikel getoon het, het die vernaamste godsdienste van hierdie wêreld sedelikheid nie veel bevorder nie. As ons dus persoonlik ’n sedelike lewe wil lei, moet ons ons tot ’n ander gesag wend wat so ’n motiveringskrag sal verskaf en dan gewillig wees om ons aan daardie gesag te onderwerp.
’n Voorval in die lewe van Josef, die Hebreeuse administrateur van ’n hofbeampte in Egipte, getuig van die invloed van so ’n hoër gesag. Toe die beampte se vrou Josef in versoeking gebring het om geslagsgemeenskap met haar te hê, het hy dit weerstaan en gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:7-9). Die erkenning van God se gesag en die begeerte om hom te behaag, het Josef die sedelike krag gegee om haar toenaderings te weerstaan.
Tweehonderd jaar later het die nasie Israel, afstammelinge van Josef se vader Jakob, die Tien Gebooie ontvang, wat ’n deel was van die Wet wat deur die bemiddeling van Moses gegee is. Terwyl ongehoorsaamheid Jehovah God se misnoeë meegebring het, het gehoorsaamheid aan hierdie Wet goddelike seëninge meegebring. Hierdie gebooie het derhalwe as ’n sedelike rigsnoer vir die nasie gedien.
Die Tien Gebooie—’n krag ten goede
Hoe ’n sterk motiveringskrag was die Tien Gebooie? Hulle invloed strek selfs tot in ons 20ste eeu. In 1962 het die destydse goewerneur-generaal van Nieu-Seeland gesê: “Sommige beskou die Tien Gebooie seker maar as verouderd. Maar die feit dat die gewone landswet oorbodig sou wees indien ons almal hulle vandag noukeurig onderhou het, kan nie sonder betekenis wees nie.”
Nogtans het Jesus Christus, tydens ’n gesprek met ’n jong Joodse heerser, getoon dat die onderhouding van die Tien Gebooie nie genoeg was nie. Die jongman het gevra: “Watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” Toe Jesus gesê het dat hy ‘die gebooie moet onderhou’ en party van die Tien Gebooie opgenoem het, het die heerser geantwoord: “Al hierdie dinge het ek onderhou . . . Wat kom ek nog kort?” Jesus het geantwoord: “Gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” Die verslag sê voorts: “Toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.”—Mattheüs 19:16-22.
Wanneer hierdie verslag met ’n soortgelyke in Lukas 10:25-28 vergelyk word, word ons gehelp om die jong heerser se basiese probleem te verstaan. Ons lees: “’n Sekere wetgeleerde [het] opgestaan wat Hom [Jesus] versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” Jesus het hom gehelp om oor die saak te redeneer, en die man kon gevolglik sy eie vraag beantwoord deur, in breë trekke, te sê: ‘Jy moet Jehovah God liefhê met jou hele hart, siel, krag en verstand en jou naaste soos jouself.’ Jesus het toe afgesluit: “Doen dit, en jy sal lewe.”
Kan jy nou sien wat die probleem van die jong heerser was wat vroeër gemeld is? Sy liefde vir stoflike besittings was groter as sy liefde vir God en vir sy naaste. Hoe jammer tog! Al het hy probeer om die Tien Gebooie te onderhou, het hy gevaar geloop om die ewige lewe te verloor.
Wat beteken dit om God lief te hê?
Ons lewe in ’n tyd waarin liefde vir God en naasteliefde verdring word deur eieliefde sowel as liefde vir stoflike besittings en seks. In baie verstande het geloof in die onbewese evolusieteorie dan selfs geloof in God as ’n Skepper vervang. Wat was die oorsaak van al hierdie dinge?
Die Christendom se geestelikes het eeue lank die nie-Bybelse leerstelling van ’n verskriklike helvuur gebruik in ’n poging om die sedes van die mense te beheers. Die Encyclopedia International sê: “Deur die Middeleeue heen was die vrees vir die hel ongetwyfeld die sterkste krag wat gewone mense ten goede beïnvloed het; dit het selfs konings en keisers aan die Kerk diensbaar gemaak en was waarskynlik die enigste kniehalter om hulle onbeteuelde drifte in bedwang te hou.” Hierdie leerstelling van die helse vuur het die indruk geskep dat God liefdeloos, ongenadig en wraaksugtig is. Selfs al was die leerstelling ’n kniehalter vir sommige het dit baie ander God die rug laat toekeer en veroorsaak dat hulle maklik die slagoffers van onskriftuurlike leerstellings en teorieë, soos dié van evolusie, geword het.
Maar die Bybel leer nie dat God siele in ’n helse vuur pynig nie. Die apostel Johannes sê eerder vir ons: “God is liefde.” “Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe.” Moses het geskryf: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (1 Johannes 4:8; 1:9; Exodus 34:6). Dit is net ’n paar van God se wonderlike eienskappe. Hulle trek ons na hom. Dit is hierdie eienskappe, veral sy liefde, wat die begeerte om hom lief te hê in ons wek. “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Dit is by uitstek hierdie liefde vir God wat sedelikheid in die hand werk; dit kan tot die ewige lewe lei!
Opregte liefde vir God is nie net ’n abstrakte eienskap nie. Dit beweeg ’n mens om ander se belange te bevorder. Die apostel Paulus het ’n hele paar maniere genoem waarop hierdie liefde betoon kan word. Om net ’n paar te noem: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie” (1 Korinthiërs 13:4, 5). Ons probeer om ons hemelse Vader na te volg wanneer ons hierdie liefde betoon. Jesus het gesê: “In hierdie twee gebooie [liefde vir God en vir ons naaste] is die hele wet en die profete saamgevat” (Mattheüs 22:40, NAV). Met ander woorde, as ons hierdie liefde openbaar, sal ons nie van ons naaste steel, hom doodmaak of met sy vrou owerspel pleeg nie. Die apostel Johannes het saamgestem en gesê: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.”—1 Johannes 5:3.
Liefde vir God—’n krag ten goede
Kyk watter uitwerking liefde vir God op vroeë Christene gehad het, soos Tertullianus, wat in die tweede eeu gelewe het, onder ons aandag bring. Hy het sy teenstanders uitgedaag om na een enkele Christen onder hulle misdadigers te wys. Toe hulle nie kon nie, het hy bygevoeg: “Dan is dit net ons wat sonder misdaad is.” Die boek The Old Roman World steun hierdie beskouing en sê: “Ons het bewys van hulle smettelose lewens, van hulle onberispelike sedes.” Insgelyks haal Christianity Today kerkgeskiedskrywer Roland Bainton aan: “Sedert die einde van die Nieu-Testamentiese tydperk tot en met die dekade van 170-180 is daar hoegenaamd geen bewys dat Christene in die leër was nie.” Liefde vir God het hulle beweeg om hom te gehoorsaam deur sedelike lewens te lei. Maar miskien wonder jy: ‘Is daar vandag bewys van hierdie voordelige sedelike krag?’
Daar is inderdaad! Koerantrubriekskrywer Mike McManus het in die Herald & Review geskryf dat hy nog nooit ’n preek teen voorhuwelikse seks gehoor het nie. ’n Maand later het hy berig dat een van die reaksiebriewe wat hy ontvang het van ’n 14-jarige was, een van Jehovah se Getuies, wat geskryf het: “Net die gedagte dat jy hierdie siektes kan opdoen, behoort genoeg te wees om die meeste mense [van voorhuwelikse seks] af te skrik. Maar die rede waarom Getuies hulle daarvan onthou, is omdat Jehovah ons beveel om te vlug vir die hoerery.” (Ons kursiveer.) Toe hy kommentaar op die brief gelewer het, het McManus gevra: “Hoeveel 14-jariges in jou gemeente kan St. Paulus so duidelik aanhaal (1 Kor. 6:18)?”
Dieselfde beginsel waaroor daardie jong meisie geskryf het, naamlik gehoorsaamheid aan Jehovah se bevele, word ook op ander gebiede deur die Getuies toegepas. Party van God se bevele wat in die Skrif opgeteken is, lui in hoofsaak: ‘Wees eerlik in alle dinge’, ‘Bewaar julleself van afgode’, ‘Onthou julle van bloed en hoerery’, ‘Spreek die waarheid’, ‘Voed julle kinders op in God se weë’ (Hebreërs 13:18, NW; 1 Johannes 5:21; Handelinge 15:29; Efesiërs 4:25; 6:4). Het jy opgemerk hoe Jehovah se Getuies in jou buurt of by jou werk probeer om hierdie bevele te gehoorsaam? Het jy ooit gewonder waarom hulle dit doen, waarom hulle bloedoortappings van die hand wys, waarom hulle weier om te gaan veg, waarom hulle jou by jou huis besoek, kortom, waarom hulle anders is? Die antwoord is: hulle liefde vir God.
Die liefde faal nooit nie
Omdat Jehovah se Getuies God wil behaag, slaan hulle ag op die raad: “Word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Wanneer hulle leer wat die “wil van God” vir hulle is, wil hulle dit doen. Hulle liefde vir God is die motiveringskrag agter hierdie begeerte. Meen jy dat dit onrealisties en onprakties vir ons dag is? Dink ’n bietjie na oor die volgende feitlike verhale.
José, van Sao Paulo, Brasilië, het in 1963 met Eugênia, wat reeds getroud was, begin saamlewe. Twee jaar later het hulle begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Die paartjie het uit hierdie studie geleer dat God vereis dat “die huwelik in alle opsigte eerbaar [moet] wees” (Hebreërs 13:4). Hulle het besef dat hulle moet trou, maar Brasilië het geen egskeidingswet gehad wat Eugênia kon vrymaak om met José te trou nie. Maar toe ’n egskeidingswet in 1977 van krag geword het, het sy om ’n egskeiding aansoek gedoen en kon hulle in 1980 trou en aan God se vereistes voldoen. Hulle liefde vir God is beloon.
In New York het Inire met allerhande dwelms geëksperimenteer. Hy het met sy vriendin, Ann, saamgelewe. Omdat hy geld nodig gehad het, het hy haar oorreed om foto’s van haarself vir ’n bekende manstydskrif in te stuur. Sy is ’n groot som geld aangebied om tydens ’n fotosessie naak te poseer. Intussen het Inire begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer, en Ann het later by hom aangesluit. Inire het sy dwelmgewoonte laat vaar. Drie weke later het hulle, uit eie beweging, besluit om te trou. Toe het Ann, nadat sy uit die Bybel geleer het dat ’n Christin beskeie geklee moet wees, besluit dat sy nie gewetensgetrou tot die fotosessie kon instem nie, ongeag hoeveel geld hulle haar sou aanbied (1 Timotheüs 2:9). Wat dink jy het aanleiding gegee tot sulke veranderinge? Ann sê dat sy, toe sy besef het dat jy nie een van Jehovah se Getuies is deur net by ’n godsdiens aan te sluit nie maar dat dit ’n lewe van toegewydheid aan God behels, geweet het dat sy vinnig veranderinge moes aanbring. Liefde vir God is voorwaar ’n sterk krag ten goede.
Iemand dink miskien: ‘Wel, hierdie is alleenstaande gevalle.’ Maar hulle is nie. Soortgelyke veranderinge is iets algemeens op plekke waar Jehovah se Getuies bedrywig is. Ondersoek die saak gerus verder. Vergewis jou daarvan dat liefde vir God, soos dit in ware godsdiens geopenbaar word, steeds die krag is wat sedelikheid in die hand werk.
[Lokteks op bladsy 6]
Die boek “The Old Roman World” sê aangaande vroeë Christene: “Ons het bewys van hulle smettelose lewens, van hulle onberispelike sedes.” Wat was die motiveringskrag agter hulle “onberispelike sedes”?
[Prent op bladsy 7]
Liefde vir God kan jou help om nie vir die versoeking te swig nie