Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 9/15 bl. 5-7
  • Hoe jy ware vriende kan maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe jy ware vriende kan maak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die boek van ware vriendskap
  • Vriendskap op ’n hoër vlak
  • Ons beste vriende
  • “Waar u gaan, sal ek gaan”
    Volg hulle geloof na
  • Rut en Naomi
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • “Waar u gaan, sal ek gaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Rut en Naomi
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 9/15 bl. 5-7

Hoe jy ware vriende kan maak

“DIE enigste manier om ’n vriend te hê is om ’n vriend te wees”, het die Amerikaanse digter, Emerson, geskryf. Vriendskap is ’n tweerigtingstraat wat mededeelsaamheid behels. Introverte en diegene met selfsugtige neigings vind dit moeilik om ware vriende te maak. Hulle kan nietemin slaag, soos ons sal sien.

Ware vriendskap groei uit liefde omdat liefde mense aantrek. Maar party vind dit moeilik om vriende te maak. Hoe kan ’n mens die probleem te bowe kom?

“Wees ’n goeie luisteraar. Spoor ander aan om oor hulleself te praat”, is die advies van Dale Carnegie. Wie is die persone wat vriende maak wanneer vreemdelinge, miskien by ’n geselligheid, kennis maak? Nie die praatkouse nie, maar diegene wat ’n hartlike belangstelling in ander toon, wat hulle laat ontdooi en werklik na hulle luister. As ’n mens name en interessante feite aangaande nuwe kennisse onthou, kan dit ook help om vriendskappe te laat groei.

In Fundamentals of Interpersonal Communication beveel Kim Giffin en Bobby R. Patton selfonthulling en opregtheid aan. “Voordat iemand vir jou belangrik kan wees”, sê hulle, “moet jy iets omtrent hom of haar weet wat jy belangrik ag . . . [Wees] te alle tye openhartig en eerlik . . . Jou reaksie teenoor die ander persoon moet opreg wees.”

Ware vriende is nie net eerlik nie, maar ook bedagsaam, misbruik mekaar nooit of is nie te besitlik nie. Hulle verstaan mekaar, kan die ander persoon se beskouing van dinge aanvoel en kan derhalwe empatie betoon. Namate die verhouding groei, open hulle hulle harte teenoor mekaar en word hulle nie alleen ware vriende nie, maar ook boesemvriende. Nie alle ware vriende is boesemvriende nie. Jesus Christus, die vriendelikste persoon wat ooit op aarde was, het baie vriende gemaak, maar slegs ’n paar was werklik boesemvriende.—Markus 9:1-10; Lukas 8:51.

Die boek van ware vriendskap

Die Bybel, verreweg die beste boek oor die onderwerp van vriendskap, sê: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood” (Spreuke 17:17). Ware vriende is medelydend en bereid om hulp te verleen wanneer probleme ontstaan. Hier is ’n goeie voorbeeld daarvan—’n verhaal uit die dae van eertydse Israel.

As gevolg van hongersnood het ’n man van Juda met sy vrou, Naomi, na Moab getrek. Mettertyd het hy gesterf. Sy twee seuns het later met die Moabitiese meisies Rut en Orpa getrou. Toe het die seuns gesterf en drie weduwees alleen nagelaat. Die moeder, Naomi, het besluit om na Juda terug te keer en haar twee skoondogters het saam met haar vertrek. Langs die pad het Naomi egter by die jong vroue aangedring om terug te gaan en met een van hulle volksgenote te trou. Orpa het dit gedoen, maar Rut het daarop aangedring om saam met Naomi te gaan. Waarom? Omdat sy veel meer as ’n skoondogter was; sy was ook ’n ware vriendin. Haar jammerhartige geaardheid sou haar vereers nie toelaat om die bejaarde weduwee, wat van haar gesin beroof is, alleen verder te laat gaan nie.—Rut 1:1-17.

Rut het ware empatie, goedhartigheid, lojaliteit en liefde betoon. Daardie eienskappe vorm die vaste grondslag van ware vriendskap. Daar was egter nog ’n faktor in Rut se verhouding met Naomi.

Vriendskap op ’n hoër vlak

Toe Naomi by haar aangedring het om terug te gaan, het Rut gesê: “Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat . . . nie; want waar u gaan, sal ek gaan; . . . u volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16). Naomi het Rut, wat voorheen ’n heidin was, gehelp om die ware God, Jehovah te ken en lief te hê. Hulle gemeenskaplike geloof het ’n kragtige, geestelike band geword wat die twee vroue as ware vriendinne na mekaar getrek het. En Jehovah het hulle met ’n nuwe gesin geseën. Na verloop van tyd is Rut met Boas, ’n vermoënde grondeienaar in Juda, getroud en het hulle ’n seun genaamd Obed gehad wat die grootvader van koning Dawid geword het.—Rut 4:13-22; Mattheüs 1:5, 6.

Hierdie geestelike faktor plaas vriendskap op ’n hoër vlak. Hoe? In die geval van Rut en Naomi was albei aanbidders van Jehovah, ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Exodus 34:6). “God is liefde” en as ons hom opreg in gees en waarheid aanbid, sal ons liefde vir hom en medeskepsele gewis toeneem (1 Johannes 4:8; Johannes 4:24). Sodoende verander ons. Ons ontwikkel ’n vriendelike belangstelling in ander, veral in die sagmoedige, lydende mense van alle rasse. Introverte word dus minder egosentries. Selfsugtige mense ontwikkel besorgdheid oor ander. Ons begin om die vrug van God se gees te openbaar—“liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Galasiërs 5:22.

Hierdie eienskappe help ons om die uiters belangrike vermoë te ontwikkel om die swakhede en foute in ander te vergewe—“Nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe”, soos Jesus gesê het (Mattheüs 18:21, 22). Dit is hier dat talle vriendskappe verbrokkel. Maar Jesus Christus het dit verkondig sowel as beoefen. Hoe dikwels het hy nie sy onvolmaakte, feilbare dissipels hulle foute vergewe nie, waaronder selfs Petrus se skandelike verloëning van die Here!—Mattheüs 26:69-75.

As gevolg van al hierdie geestelike ontwikkeling groei ons vriendekring. Uiteindelik vind ons dat ons aan ’n ontsaglike, aardwye gesin van vriende behoort! Ons vind ook dat die algemene standaard van ons vriende veel hoër is. Brian, ’n betreklik nuwe aanbidder van Jehovah, vertel byvoorbeeld dat voormalige vriende daarvoor verantwoordelik was dat hy drank misbruik en sy vrou en kinders verwaarloos het. Maar nou is hy baie geheg aan sy gesin. Aangaande sy talle nuwe vriende met dieselfde geloof in Jehovah sê hy: “Ek weet dat as ek ’n probleem het ek die gehoorbuis kan optel en enigeen van hulle kan oplui, en hulle sal met genoeë help.”

Alan het vriende gehad wat gewoonlik oor motors en meisies gepraat het. Maar hy het daardie onderwerpe “oninteressant en leeg” gevind toe hy talle nuwe vriende met medeliefhebbers van Jehovah gemaak het. Hulle het Alan deur hulle “spontane, opregte, liefdevolle belangstelling” in hom oorweldig.

Ons beste vriende

Al hierdie individue en miljoene meer maak ’n aardwye, nie-politieke gesin van vriende uit wat bo nasionale, rasse- en maatskaplike grense uitstyg—’n ware broederskap van mense, net soos dié van die vroeë Christene (3 Johannes 15). Dieselfde band wat Rut en Naomi na mekaar aangetrek het, verenig ook hierdie gesin, naamlik die ware aanbidding van Jehovah God. Hulle erken almal nederig en dankbaar dat Jehovah en Jesus Christus hulle beste vriende is.

‘Die almagtige God en sy Seun as vriende?’ wonder jy dalk. ‘Hoe is dit moontlik? Is dit nie vermetel nie?’ Wel, die Bybel sê: “Abraham het God geglo . . . en hy is ’n vriend van God genoem.” Dit was gewis onverdiende goedheid. Maar Jehovah se Woord sê: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade [“onverdiende goedheid”, NW]”.—Jakobus 2:23; 4:6.

Miskien voel sommige persone te sondig vir so ’n voorreg. Maar Jakobus sê voorts: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”—Jakobus 4:8, 10.

Jesus het gesê: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.” Hy het ook daarop gewys dat om ‘Jehovah ons God lief te hê met ons hele hart, siel en verstand en ons naaste soos onsself’ die grootste gebooie is (Johannes 15:14; Mattheüs 22:37-40). As ons dit doen, sal ons talle ware vriende hê. Sodoende sal ons boonop in aanmerking kom vir nog ’n groot voorreg—die ewige lewe op ’n gereinigde aarde onder God se Koninkryk (Mattheüs 6:9, 10). Jesus het gesê dat “[Jehovah se] gebod die ewige lewe is”.—Johannes 12:50.

Sal jy Jehovah se Getuies toelaat om jou te help? As mense wat opreg vriendelik is, is hulle bereid om jou te besoek en hierdie lewensbelangrike saak kosteloos met jou te bespreek. Hulle kan jou help om talryke ware vriende te maak.

[Venster op bladsy 6]

Enkele riglyne vir ware vriendskap

Kies jou metgeselle versigtig.

Stel opreg belang in ander, en wees ’n goeie luisteraar.

Doen dinge saam—gedeelde wedervaringe versterk vriendskap.

Wees te alle tye eerlik, openhartig en opreg.

Betoon empatie en medelye wanneer ander in moeilikheid verkeer.

Wanneer vriende foute begaan of jou ontstel, moet jy bereid wees om hulle te vergewe—selfs “tot sewentig maal sewe toe’.—Mattheüs 18:22.

Wees lojaal en verdedig vriende wanneer hulle belaster of onbillik gekritiseer word.

Vriendskap word oneindig versterk wanneer Jehovah saam aanbid word.

[Prent op bladsy 7]

Rut wou Naomi nie in die steek laat nie omdat hulle vriendskap ’n vaste geestelike grondslag gehad het. Het jy sulke ware vriende?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel