Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 8/1 bl. 26-29
  • Die gees wat Jehovah seën

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gees wat Jehovah seën
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Christene openbaar die regte gees
  • Die goedgekeurde gees word vandag geopenbaar
  • Openbaar die regte gees op ander lewensterreine
  • Hulle het ‘hulle gewillig aangebied’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Hoe ons ons gewillig vir elke goeie werk kan aanbied
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • ’n Vrywillige bydrae om rein aanbidding te bevorder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Verenigde bouwerk op wêreldskaal
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 8/1 bl. 26-29

Die gees wat Jehovah seën

“MAG die Here wees met die gees wat jy aan die dag lê. Mag sy onverdiende goedheid met julle wees.” Paulus het sy tweede brief aan Timotheüs met hierdie woorde afgesluit (2 Timotheüs 4:22, NW). Watter vreugde moes hierdie lof Timotheüs en dié by hom tog nie verskaf het nie—om te weet dat hulle die gees openbaar wat Jehovah seën!

Maar wat is die gees wat Jehovah seën presies? Wat kenmerk werklik diegene wat hierdie gees het? En hoe kan ons ook hierdie gees openbaar en Jehovah se seën ontvang?

Om hierdie vrae te help beantwoord, moet ons teruggaan na die tyd van Moses. Die Israeliete is in die woestyn. Jehovah het kort tevore die Wetsverbond met hulle gesluit, en hy onderrig hulle nou in die manier waarop hulle hom moet aanbid. Dit sluit die oprigting van ’n draagbare tent van samekoms in wat met ’n groot hoeveelheid goud, kosbare metale en vakmanskap gebou sal moet word. Die nasie is met die volgende woorde die geleentheid gebied om die nodige materiaal en arbeid deur middel van vrywillige offergawes te voorsien: “Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE: goud en silwer en koper; en pers en purperrooi [stowwe] . . . En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die HERE beveel het: die tabernakel, sy tent en sy dekkleed.”—Exodus 35:5-19.

Hoe het die nasie op hierdie geleentheid gereageer? Die res van hoofstuk 35 deel ons mee dat dié ‘wie se hart hulle opgewek’ en ‘wie se gees hulle aangedryf het’ bydraes gemaak en begin werk het met ywer wat getoon het dat hulle hierdie geleentheid wat hulle gebied is diep waardeer het (Verse 21, 22, 26). Hulle reaksie was sodanig dat hoofstuk 36, vers 6, vir ons sê: “Daarop het Moses bevel gegee, en hulle het ’n oproep deur die laer laat gaan en gesê: Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met die offergawe vir die heiligdom nie. Toe het die volk opgehou om te bring.” Ja, hulle moes bedwing word! Jehovah het geen druk uitgeoefen toe hy die aankondiging laat maak het nie: “Laat elkeen wat gewillig is in sy hart . . . ” Die gevolg was dat die nasie ’n gewillige gees getoon het, en dit het seëninge meegebring in die vorm van groot vreugde, sowel as Jehovah se beskerming en leiding in alles wat hulle onderneem het.

Jare later is dieselfde gees weer eens geopenbaar. Dit was toe koning Hiskia hom beywer het om ware aanbidding in Israel te herstel. Die verslag vertel ons dat die vergadering, toe hulle die geleentheid gebied is, “slagoffers en lofoffers gebring [het], en elkeen wat gewillig van hart was, brandoffers”. Die gevolg? “En Jehiskia en die hele volk was bly oor wat God vir die volk berei het; want dit het gou gegaan.”—2 Kronieke 29:31-36.

Christene openbaar die regte gees

Sien ons dieselfde gees van gewillige selfopoffering in Christelike tye? Let op wat Paulus in Filippense 1:3-5 oor die Christene in Filippi geskryf het: “Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink—en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap—oor julle gemeenskap aan [“bydrae tot”, NW] die evangelie van die eerste dag af tot nou toe.” In watter opsigte was die Christene in Filippi uitsonderlik in hulle “bydrae tot die evangelie”? Die volgende verse toon duidelik dat hulle nie net hulle lewenswyse bereidwillig na Bybelbeginsels geskik het ten einde die goeie nuus te bevorder nie, maar dat hulle ook die goeie nuus ywerig aan ander verkondig en hulle geleer het.

Hebreërs 13:15 beklemtoon dat alle Christene bereid moet wees om in hierdie opsigte aan die predikingswerk deel te neem: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Die verkondiging van die goeie nuus deur elke Christen is derhalwe ’n belangrike manier waarop ons die gewillige gees kan toon wat ware aanbidders van Jehovah vandag kenmerk. Christene word ook daaraan herinner dat hulle nooit ‘die weldadigheid en mededeelsaamheid moet vergeet nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers’.—Hebreërs 13:16.

Die broers in Filippi het hierdie gewillige gees op nog ’n manier geopenbaar. In hoofstuk 4 meld Paulus verskeie geleenthede toe hulle hom finansieel gehelp en so die verkondiging van die goeie nuus bevorder het (Filippense 4:14-17). So het hulle die goeie voorbeeld van daardie vroeëre aanbidders van Jehovah gevolg. Dit is duidelik dat hulle “Jehovah met [hulle] waardevolle dinge” geëer het (Spreuke 3:9, NW). Toon ons dieselfde gees wanneer ons soortgelyke geleenthede gebied word?

Die goedgekeurde gees word vandag geopenbaar

Psalm 110 toon dat daar in die laaste dae van hierdie stelsel wanneer die meeste mense net in “my” belangstel talle sou wees wat hierdie voortreflike gees van gewillige selfopoffering sou openbaar. Vers 3 (NW) vertel ons dat God se volk ‘hulle gewillig sou aanbied’ nadat die Messias in 1914 in die Koninkryk aan die bewind gekom het, en dat diegene wat dit doen so talryk soos “doudruppels” sou wees. Was dit die geval?

In April 1881 het Die Wagtoring ’n oproep gedoen om 1 000 predikers om die voltydse predikingswerk te betree. Die nommer vir Mei 1881 het benadruk dat diegene wat aan hierdie werk deelneem persone moes wees wat “om hemelse beloninge werk”. Binne vier jaar het meer as 300 gereageer—’n uitsonderlike getal met die oog op die klein aantal toegewyde Christene wat destyds aan die Wagtoringgenootskap verbonde was.

Dieselfde gees kan vandag nog gesien word. In 1986 het gemiddeld 391 294 pioniers (voltydse bedienaars) byvoorbeeld elke maand gerapporteer. Dit was ’n vermeerdering van 21,2 persent, of 68 473 meer as die vorige jaar! Hierdie gewillige gees word egter nie net getoon deur diegene wat al hulle tyd aan die predikingswerk kan bestee nie.a

Talle wat ander Skriftuurlike verantwoordelikhede het—soos om na ’n gesin of invalide of bejaarde ouers om te sien—en diegene wat weens hulle gesondheid nie aan die voltydse Christenbediening kan deelneem nie, openbaar ook hierdie selfde gees van gewillige selfopoffering wat Jehovah baie behaag. Dit is duidelik wanneer ’n mens besef dat die Koninkrykspredikingswerk in die meeste lande hoofsaaklik gedoen word deur bedienaars wat die meeste van hulle tyd aan ’n sekulêre werk moet bestee of na gesinsverpligtinge of ander Skriftuurlike verantwoordelikhede moet omsien. Dit is voorwaar ’n prysenswaardige betoning van die gees wat Jehovah seën.

Openbaar die regte gees op ander lewensterreine

Soos in Moses en Hiskia se dag, ontstaan daar vandag geleenthede om ’n gewillige gees aan die dag te lê wanneer plaaslike gemeentes ’n Koninkryksaal of ander soortgelyke fasiliteite bou. Is dieselfde gees in sulke gevalle te sien? Ja, baie beslis!

Dit het veral na vore gekom ten opsigte van ’n nuwe metode om Koninkryksale te bou, wat dikwels kits-Koninkryksaalprojekte genoem word. Honderde Getuies kom saam en werk van vroeg Saterdagoggend tot Sondagaand—en party werk heelnag—om te bou wat koerante ’n “naweekwonder” genoem het. Waar daar Vrydag bloot ’n betonplak op die perseel was, word ’n voltooide Koninkryksaal Sondagaand vir ’n vergadering gebruik!b

Selfs groter geleenthede om ’n gewillige gees te toon, doen hulle voor wanneer takfasiliteite in verskillende lande gebou word. Die hoeveelheid heeltemal vrywillige arbeid, wat bygedra word tot die werk wat aan hierdie verskillende projekte gedoen word, gaan die verstand te bowe. Benewens die bydraes in die vorm van arbeid, is daar natuurlik die geldelike bydraes wat dit moontlik maak om die nodige materiaal te koop. Getuies dra dikwels spontaan die nodige artikels by wat die koste van die gebou aansienlik verlaag.

Dit het byvoorbeeld gedurende die oprigting van die nuwe tak in Sydney, Australië, gebeur. Daar het broers wat in die verre noorde van Queensland woon vier leunwaens vol timmerhout met ’n geskatte waarde van tussen R85 000 en R100 000 berei en na die bouperseel gestuur! Gedurende die bou van die tak het busse vol Getuies van so ver soos Wes-Australië, 4 000 kilometer daarvandaan, gekom om vier weke op ’n slag met die werk te help. Heelparty geskoolde ambagsmanne het maande lank en party selfs ’n jaar of langer op die perseel gewerk. Dit was waarlik ’n betoning van dieselfde gees wat Jehovah so oorvloedig deur die afgelope eeue heen geseën het en wat vandag dikwels ook in ander lande getoon word.

Bykomende geleenthede om ’n gewillige gees te toon, ontstaan wanneer Getuies by kring- en streekbyeenkomste saamkom. Daar is altyd talle vrywilligers by sulke byeenkomste nodig, dikwels maande voor die tyd, om te verseker dat alles glad sal verloop en goed georganiseer is. En gedurende die byeenkoms bied tot een uit vier Getuies wat dit bywoon soms aan om te help met die talle nodige takies, wat ’n aangename en suksesvolle byeenkoms verseker. Die werk kan die opdien van voedsel of skoonmaakwerk insluit. Dit kan ’n taak wees wat nie deur die meeste byeenkomsgangers raakgesien word nie. Maar Jehovah sien dit raak! Hy beloon diegene wat gewillig aanbied om die nodige te doen. Geniet jy ook die beloning wat daaruit voortspruit wanneer Christene ‘mekaar deur die liefde dien’ deur gewillig jou dienste by byeenkomste aan te bied? Het julle al daaraan gedink om dit as gesin te doen?—Galasiërs 5:13.

Hoewel hierdie spesiale projekte ons uitstekende geleenthede bied om ons hulp gewillig aan te bied, is daar dag na dag en week na week talle ander geleenthede om dieselfde gees te openbaar. Het jy byvoorbeeld ’n volle aandeel aan die skoonmaak en instandhouding van die Koninkryksaal ná dit gebou is? Ondersteun jy die werking daarvan deur geldelike bydraes te maak namate Jehovah jou materieel seën? Ondersteun jy die predikingswerk in jou land deur bydraes aan die plaaslike takkantoor te stuur? En selfs belangriker, verkondig jy gereeld die goeie nuus en probeer jy om dissipels te maak van mense in jou omgewing? Niks kan ooit werklik die plek inneem van ons persoonlike deelname aan hierdie werk wat Jesus aangewys het as die allerbelangrikste werk wat nou, voor die einde van hierdie stelsel, gedoen moet word nie.—Mattheüs 24:14; 28:19; Handelinge 1:8.

Almal wat hierdie gees aankweek wat so ryklik deur Jehovah geseën word, het gevind dat Jehovah waarlik “nie onregverdig [is] om julle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat julle betoon het vir sy Naam”. Deur hierdie gees van gewillige selfopoffering te toon, kan jy ook bewys dat ‘die seën van Jehovah ryk maak—en hy geen smart daarby voeg nie’.—Hebreërs 6:10; Spreuke 10:22, NW.

[Voetnote]

a Kyk die volgende nommers van The Watchtower vir aangrypende en besielende voorbeelde van persone wat gewillig hulle lewe in die voltydse werk deurgebring het: 15 Mei 1955, bladsye 317-318; 15 Junie 1962, bladsye 375-379; 15 Julie 1963, bladsye 437-442; 1 November 1970, bladsye 666-670; 15 Maart 1971, bladsye 186-190; 15 Augustus 1976, bladsye 485-490; en Die Wagtoring van 1 September 1980, bladsye 23-27. Kyk Watchtower Publications Index 1930-1985 onder die onderhofie “Life Stories of Jehovah’s Witnesses” vir nog voorbeelde.

b Kyk Die Wagtoring van 15 Oktober 1982, bladsye 8-11 en Ontwaak! van 8 November 1981, bladsye 18-22.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel