Christinne—handhaaf onkreukbaarheid by die werk
“DIE spanning by [die werk] is soms so groot dat jy dit met ’n stok kan aanvoel.” So het een werkende vrou gesê.a Die druk om produktief te wees, verraderlike wedywer, veeleisende opsieners, eentonigheid—dit is net ’n paar van die dinge wat baie betrekkings sleurwerk maak. Min betrekkings bied die glans en opwinding wat mediapropaganda belowe. Maar as jy ’n werkende vrou is, moet jy probeer om ’n sukses van jou werk te maak.
Ons praat egter nie hier van geldelike voordeel nie. Die werkplek is ’n arena waarin jou Christelike onkreukbaarheid op die proef gestel word! Die manier waarop jy jou werk doen, die gees van moordende wedywer afweer en sedelike oortredings weerstaan, openbaar hoe toegewy jy aan godvrugtige beginsels is. Om Jehovah God se guns te verkry, moet die werkende vrou soos die psalmis kan sê: “Ék wandel in my [onkreukbaarheid].”—Psalm 26:1, vgl. NW.
Die Bybel help jou om juis dit te doen. Wanneer jy byvoorbeeld aangespoor word om van meedoënlose taktiek gebruik te maak of in die versoeking kom om toe te laat dat ’n betrekking jou gesinsverantwoordelikhede, Bybelstudie, Christenvergaderinge en die bediening oorskadu, kan jy gerus die woorde van koning Salomo onthou: “Verder het ek gesien dat al die moeitevolle arbeid en al die bekwaamheid by die werk naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is tevergeefs en ’n gejaag na wind” (Prediker 4:4). So ’n beskouing van sekulêre werk voorkom vurige ambisie of laat dit afkoel. Dit help jou om ’n betrekking in die regte perspektief te sien en dit as ondergeskik aan geestelike dinge te beskou.—Mattheüs 6:33.
Maar beteken dit dat jy onverskillig teenoor sekulêre werk moet staan? Nouliks, want die Bybel veroordeel luiheid (Spreuke 19:15). Dit sê dat jy ‘die goeie moet geniet by jou moeitevolle arbeid’ (Prediker 2:24). Dit is boonop ’n Godgegewe verantwoordelikheid om vir jou gesin te sorg (1 Timotheüs 5:8). As die nakoming van daardie verpligting dan beteken dat jy onaangename sekulêre werk moet doen, moet jy nadink oor die Bybel se woorde in Kolossense 3:23: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” Die beskouing dat jy “soos vir die Here” werk, is ’n kragtige beweegrede om produktief te wees, baie kragtiger as ’n salarisverhoging of die verlokking van bevordering.
Werkgewers wat ‘moeilik is om te behaag’
’n Vrou met die naam Sally sê: “Dit voel vir my asof [my opsiener] heeltyd oor my skouer loer. Hy sê nooit iets goeds vir enigiemand nie.” Dit is net so frustrerend om onder ’n baas te werk wat ‘moeilik is om te behaag’ of een wat kortgebonde is, veral as ’n mens eers onlangs begin werk het.—1 Petrus 2:18, NW.
Maar dit is miskien finansieel buite die kwessie om te bedank. Dit sal dus moontlik die beste wees om die Bybel se raad te volg dat werkers—manlik en vroulik—“onderdanig” moet wees (1 Petrus 2:18). Pleks van ’n konflik te vererger met sarkasme of oneerbiedigheid, moet jy probeer om werkgewers ‘te behaag en nie teë te praat nie’ (Titus 2:9). Sulke selfbeheersing kan selfs verhoed dat jy jou werk verloor. Salomo het gesê: “As die toorn van die heerser [’n gesaghebber] teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want bedaardheid voorkom groot foute.”—Prediker 10:4.
’n Hardvogtige werkgewer kan selfs beskaamd gemaak word wanneer sy ongeduld met sagmoedigheid beantwoord word, sy onredelike eise met vriendelikheid (Spreuke 15:1; Kolossense 4:6, NAV). En namate jy jou vaardigheid en betroubaarheid bewys, kan sy gesindheid teenoor jou geleidelik verbeter. Indien nie, het jy dalk geen ander uitweg as om “geduldig” te wees nie, wetende dat jou Christelike gedrag God behaag.—Jakobus 5:7, 8.
Bly sedelik rein
Onkreukbaarheid sluit ook Christelike sedes in. ’n Artikel in Ladies’ Home Journal het gewaarsku: “Die kantoor—waar daar van almal verwag word om goed aan te trek, hulle ordentlik te gedra, tyd saam deur te bring en gemeenskaplike doelwitte na te streef—het ’n atmosfeer wat maklik seksueel gelaai kan word.” ‘Kantoorverhoudings’ is algemeen. Dit is derhalwe raadsaam om versigtig te wees. Hou betrekkinge met mans by die werk op ’n professionele grondslag. Vermy gesprekke wat romantiese gevoelens kan wek. “Want dit is die wil van God . . . dat julle jul moet onthou van die hoerery.”—1 Thessalonicense 4:3, 4.
Maar vroue is soms die slagoffers van ’n eeue-oue probleem: seksuele molestering. Die Bybel deel ons mee dat ’n man met die naam Boas die jong manne in sy diens beveel het om Rut, ’n vrou wat in sy land gewerk het, “nie aan te raak nie”. Bybelgeleerde John P. Lange praat van “die growwe grappe waarmee sulke plaasarbeiders moontlik gewoond was om vroue lastig te val” (Rut 2:9). En hoewel sommige hedendaagse werkgewers probeer om hulle werkneemsters te beskerm, skat party dat 40 tot 85 persent van werkende vroue (in die Verenigde State) al die een of ander vorm van seksuele molestering ondervind het.
’n Jong vrou met die naam Valerie het byvoorbeeld as ’n sekretaresse gewerk. Haar baas—meer as drie keer ouer as sy—het van tyd tot tyd suggestiewe opmerkings oor haar klere gemaak. Hy het eenkeer op slinkse wyse probeer om haar na pornografiese foto’s te laat kyk. Eindelik het hy haar na sy kantoor ontbied en vir haar gesê: “As jy jou werk wil behou, sal jy seksuele gunste aan my moet bewys.” Sy het natuurlik geweier om dit te doen.
Sulke vernederende behandeling neem talle vorme aan. Die Britse tydskrif New Statesman sê: “Dit wissel van ’n lokkende blik, ’n knyp, onnodige liggaamlike kontak tot suggestiewe opmerkings.” Die druk om jou aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak, is dikwels so subtiel soos om vleinaampies (Skattie, Skattebol) genoem te word of so openlik soos ’n direkte voorstel. Party vroue duld die molestering uit vrees dat hulle hul werk sal verloor. En opnames toon dat ’n minderheid vroue skynbaar selfs gevlei voel deur die aandag!
Maar hoewel aandag van die ander geslag miskien vleiend is, is vrypostigheid dikwels die eerste skuif in die seduksiespel. Dit is derhalwe ’n aanval op jou onkreukbaarheid en ’n belediging vir jou Christelike waardigheid.—1 Korinthiërs 6:18.
Voorkomingsmaatreëls
“Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, . . . oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak” (Spreuke 2:10, 11, NAV). Hoe kan jy praktiese wysheid en oordeelkundigheid aan die dag lê om jouself te beskerm? ’n Werkende vrou, Diane, sê: “Ek het gesorg dat die mense by die werk weet dat ek een van Jehovah se Getuies is.” (Vergelyk Mattheüs 5:16.) Wanneer mans weet dat jy hoë sedelike standaarde het, is hulle dikwels nie so geneig om toenadering te soek nie.
’n Oordeelkundige vrou met die naam Betty het nog ’n voorsorgmaatreël getref. Sy sê: “Ek is baie versigtig wanneer dit by omgang met my medewerkers kom, want hulle het nie dieselfde sedes as ek nie” (1 Korinthiërs 15:33). Dit beteken nie dat jy kil of vyandig teenoor medewerkers moet wees nie. Maar wanneer hulle daarop aandring om dinge te bespreek wat vir ’n Christen aanstootlik is, moet jy nie huiwer om jou te verskoon nie (Efesiërs 5:3, 4). As jy na sulke onsedelike praatjies luister, kan dit mans by die werk die indruk gee dat jy ontvanklik sal wees vir hulle toenadering.
’n Professionele houding kan ook ongewenste aandag ontmoedig. Die Bybel vermaan vroue boonop om hulle te “versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid”. (1 Timotheüs 2:9; vergelyk Spreuke 7:10.) Die boek Sexual Harassment on the Job sê: “Prikkelende klere—dit wil sê, lae halslyne; sonrokke; kort, kort rompe; en swaar, glinsterende grimering—hoort nie by die werk nie. . . . Jou kanse om ’n professionele beeld te skep, is baie beter as jy stemmig aantrek.”
Laastelik, ’n oordeelkundige vrou vermy kompromitterende situasies. ’n Uitnodiging om ’n drankie te maak of ná werk sonder duidelike rede agter te bly, kan ’n strik wees. (Vergelyk 2 Samuel 13:1-14.) “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom”, sê ’n wyse spreuk.—Spreuke 22:3.
Sit molestering stop
Dit is natuurlik nie realisties om te dink dat jy die denke of diepgewortelde gedragspatrone van al die mans by die werk kan verander nie. (Vergelyk Jeremia 13:23.) En dit is nie regverdig om te meen dat alle mans wat ietwat oorvriendelik lyk “oë vol van owerspel” het nie (2 Petrus 2:14). Dit is derhalwe gepas om iemand soms die voordeel van die twyfel te gee.
Maar neem ’n ferm standpunt in wanneer daar duidelike vrypostigheid is. Toe Salomo ongevraagde toenadering by ’n jong meisie gesoek het, was sy nie skugter nie. Sy het sy vleitaal met betuigings van onwankelbare liefde vir ’n beskeie herder beantwoord. Aangesien sy geweier het om voor Salomo se toenadering te swig, kon sy sê: “Ek is ’n muur.”—Hooglied 8:10.
Wees net so ferm. Toenadering kan dikwels in die kiem gesmoor word deur te sê: “Hou asseblief jou hande tuis”; “Noem my by my naam”; of “Ek hou nie van daardie soort humor nie”. Een Christin het meer as een keer eenvoudig gesê: “Hou nou op!” Toon in elk geval duidelik dat jou nee nee is! (Vergelyk Mattheüs 5:37.) ’n Flou reaksie kan ’n molesteerder net aanspoor om harder te probeer.
As jy getroud is, sal dit goed wees om jou gevoelens met jou man te bespreek. Hy het dalk praktiese idees oor hoe om die situasie te hanteer. As dit lyk of dit die beste is om eenvoudig van werk te verander, moet jy God se belofte onthou: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”—Hebreërs 13:5.
Jou werk en jou onkreukaarheid
Hoewel sekulêre werk dikwels nodig is, kan dit in sommige gevalle ’n bedreiging vir jou Christelike onkreukbaarheid inhou. Jesus se woorde in Mattheüs 10:16 (NW) is derhalwe heel toepaslik: “Wees so versigtig soos slange en tog so onskuldig soos duiwe.”
Dit is nie maklik om Christelike onkreukbaarheid by die werk te handhaaf nie, maar dit kan gedoen word. Duisende vroue onder Jehovah se Getuies doen dit deur die raad van die Bybel te volg. Hulle bly geestelik sterk deur middel van Bybelstudie, gebed, Christenvergaderinge, die Koninkrykspredikingswerk en ander godvrugtige bedrywighede. Hulle geniet gevolglik iets wat geen salaristjek kan bied nie. Dit is die wete dat hulle die guns geniet van Jehovah, die Een wie se Woord belowe: “Hy wat in [onkreukbaarheid] wandel, wandel veilig.”—Spreuke 10:9, vgl. NW.
[Voetnoot]
a Hier word ’n vrou met sekulêre werk bedoel. Huisvroue, moeders en ander vroue werk natuurlik ook.
[Prente op bladsy 7]
Om onkreukbaarheid by die werk te handhaaf:
Wees versigtig wanneer dit by omgang met medewerkers kom
Laat mense weet dat jy hoë sedelike standaarde het
Trek beskeie aan