Help jou kind om toe te neem in goddelike wysheid
DENKENDES van baie nasies en agtergronde erken dat Jesus ’n wonderlike onderrigter en moralis was. Maar het sekere dinge in sy vroeë opleiding hiertoe bygedra? Watter lesse kan hedendaagse ouers uit sy gesinslewe en opvoeding leer?
Die Bybel sê baie min oor Jesus se kinderdae. Sy eerste 12 jaar word basies in twee verse saamgevat: “Toe [Josef en Maria] alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galilea, na hulle stad Nasaret. En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom” (Lukas 2:39, 40). Maar hierdie verse bevat lesse vir ouers.
Die jong kind “het gegroei en sterk geword”. Dit beteken dat sy ouers liggaamlik vir hom gesorg het. Hy was ook “vol van wysheid”.a Wie se verantwoordelikheid was dit om by hom kennis en begrip, die grondslag vir sulke wysheid, in te skerp?
Volgens die Mosaïese Wet was dit sy ouers se plig. Die Wet het aan Israelitiese ouers gesê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Die feit dat Jesus “vol van wysheid” was, asook dat ‘die genade van God op hom was’, toon dat Josef en Maria gehoorsaam was aan hierdie gebod.
Sommige meen miskien dat Jesus se opvoeding nie werklik ’n realistiese voorbeeld vir die grootmaak van ander kinders is nie, aangesien Jesus ’n volmaakte kind was. Maar Josef en Maria was nie volmaak nie. Tog het hulle aangehou om in sy liggaamlike en geestelike behoeftes te voorsien, en dit ondanks die druk van ’n groeiende gesin (Mattheüs 13:55, 56). Buitendien moes Jesus, hoewel hy volmaak was, nogtans van die babastadium deur die kinderjare en adolessensie tot volwassenheid groei. Sy ouers moes heelwat vormingswerk doen, en hulle het dit klaarblyklik goed gedoen.
Jesus op twaalfjarige leeftyd
“En sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan” (Lukas 2:41). Volgens God se Wet moes alle mans vir die feeste na Jerusalem gaan (Deuteronomium 16:16). Maar die verslag sê dat ‘sy ouers gewoond was om te gaan’. Josef het Maria, en waarskynlik die res van die gesin, op daardie moeisame reis van meer as 100 kilometer na Jerusalem geneem vir die vrolike geleentheid (Deuteronomium 16:6, 11). Dit was hulle gewoonte—’n gereelde deel van hulle lewens. Hulle het ook nie net vlugtig daar ’n draai gemaak nie; hulle het vir al die dae van die fees gebly.—Lukas 2:42, 43.
Dit bevat ’n nuttige les vir ouers vandag. Hierdie jaarlikse feeste in Jerusalem was tye van plegtige vergadering sowel as van vrolikheid (Levitikus 23:4, 36, vgl. NW). Dit was geestelik opbouende geleenthede vir Josef, Maria en die jong Jesus. Vandag kan ouers met vrug soortgelyke geleenthede benut waar hulle jong kinders ’n opwindende verandering kan geniet en boonop geestelik opgebou kan word. Ouers wat Jehovah se Getuies is, doen dit deur hulle kinders na die groot byeenkomste te neem wat met gereelde tussenpose gedurende die jaar gehou word. Sodoende kan kinders die opwinding van reis geniet en die geleentheid hê om ’n paar dae saam met honderde of duisende medegelowiges deur te bring. ’n Vader wat tien kinders suksesvol grootgemaak het, skryf sy sukses in ’n groot mate toe aan die feit dat hy nooit een sessie van enige byeenkoms gemis het vandat hy 45 jaar gelede as ’n Christen gedoop is nie. En hy het sy gesin aangespoor om sy voorbeeld te volg.
’n Misverstand
Toe Jesus jonger was, het hy ongetwyfeld tydens hierdie jaarlikse reise na die groot stad Jerusalem naby sy ouers gebly. Maar namate hy ouer geword het, is hy moontlik meer vryheid gegee. Toe hy 12 was, was hy min of meer op die ouderdom wat die Jode as ’n belangrike mylpaal op die pad na manlikheid beskou. Moontlik weens hierdie normale en natuurlike verandering het daar ’n misverstand voorgekom toe dit tyd geword het dat Josef se gesin Jerusalem verlaat en huis toe gaan. Die verslag lui: “Terwyl hulle teruggaan, het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie. Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle ’n dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek.”—Lukas 2:43, 44.
Daar is aspekte van hierdie voorval wat sowel ouers as kinders sal herken. Daar is egter een verskil: Jesus was volmaak. Omdat hy gehoorsaam en onderdanig aan Josef en Maria was, kan ons ons nie voorstel dat hy ongehoorsaam was aan die een of ander reëling wat hulle met hom gemaak het nie (Lukas 2:52). Dit is veel waarskynliker dat daar ’n gebrek aan kommunikasie was. Die ouers het gedink dat Jesus by die familie en bekendes is (Lukas 2:44). ’n Mens kan jou maklik voorstel dat hulle, in die gewoel toe hulle uit Jerusalem vertrek het, hoofsaaklik aan hulle jonger kinders aandag geskenk het en aangeneem het dat hulle oudste seun, Jesus, ook daar is.
Aan die ander kant het Jesus blykbaar gedink dat sy ouers sou weet waar hy is. Ons lei dit af uit sy latere antwoord: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Hy was nie oneerbiedig nie. Sy woorde toon bloot dat hy verbaas was dat sy ouers nie geweet het waar om hom te kry nie. Dit was ’n tipiese misverstand wat menige ouer van groeiende kinders kan begryp.—Lukas 2:49, NAV.
Dink aan Josef en Maria se besorgdheid aan die einde van daardie eerste dag toe hulle ontdek het dat Jesus soek is. En stel jou hulle toenemende kommer voor gedurende die twee dae wat hulle in Jerusalem na hom gesoek het. Dit blyk egter dat die opvoeding wat hulle Jesus gegee het goeie vrugte afgewerp het tydens hierdie krisis. Jesus het nie in slegte geselskap beland nie. Hy het nie sy ouers in die skande gesteek nie. Toe hulle Jesus gevind het, was hy “in die tempel . . . , terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.”—Lukas 2:46, 47.
Die feit dat hy sy tyd so deurgebring het, sowel as sy goeie begrip van Skriftuurlike beginsels, getuig ook van die goeie opvoeding wat Josef en Maria hom tot op daardie tydstip gegee het. Maria se reaksie is nietemin tipies van ’n bekommerde moeder: eers is sy verlig wanneer sy vind dat haar seun veilig is; dan gee sy uiting aan haar bekommernis en frustrasie: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek” (Lukas 2:48). Dit is nie onverwags dat Maria eerste gepraat en die besorgdheid van albei ouers uitgespreek het nie. Baie tieners wat die verslag lees, sal waarskynlik sê: “Dit klink net soos my ma!”
Lesse vir ons
Watter lesse kan ons uit hierdie ondervinding leer? Tieners neem dikwels aan dat hulle ouers weet wat hulle dink. ’n Mens hoor baiemaal dat hulle sê: “Maar ek het gedink Ma/Pa sou weet.” Ouers, as julle tiener dit al ooit gesê het wanneer daar ’n misverstand was, is julle nie die eerstes wat daardie probleem ondervind het nie.
Wanneer kinders adolessensie nader, raak hulle minder afhanklik van hulle ouers. Hierdie verandering is natuurlik, en ouers moet toegewings daarvoor maak. Maar selfs met die beste opleiding sal misverstande voorkom en sal ouers hulle soms oor hulle kinders bekommer. Maar as hulle die goeie voorbeeld van Josef en Maria volg, sal daardie opleiding hulle kinders goed te pas kom wanneer daar ’n krisis ontstaan.
Jesus se ouers het blykbaar deur sy tienderjare heen saam met hom gewerk. Ná die voorval wat ons pas ondersoek het, het hy onderdanig “saam met hulle gegaan” na sy tuisdorp en ‘was hy hulle onderdanig’. Met watter gevolg? “Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.” Hierdie episode het dus ’n gelukkige einde gehad (Lukas 2:51, 52). Ouers wat die voorbeeld van Josef en Maria volg, wat hulle kinders help om in goddelike wysheid toe te neem, wat vir hulle ’n goeie huislike atmosfeer skep en wat hulle aan die goeie invloede van godvrugtige omgang blootstel, vergroot die moontlikheid dat iets soortgelyks met hulle kroos sal gebeur. Sulke kinders het ’n beter kans om ’n gelukkige lewe te lei terwyl hulle tot verantwoordelike, Christelike volwassenheid opgroei.
[Voetnoot]
a Die oorspronklike Grieks bevat hier die gedagte dat Jesus voortdurend en progressief ‘met wysheid gevul is’.—Vergelyk NW.