Roep vryheid uit!
DIE VYFMILJARDSTE persoon op aarde is glo op 7 Julie 1986 gebore. Wat hou die toekoms vir hierdie vyfmiljardste persoon, en trouens vir alle mense, in? Bestaan daar enige moontlikheid dat miljarde mense eendag ware vryheid sal geniet? Ons kan met vrymoedigheid ja sê. Maar wat beteken “vryheid”? Beteken dit dat ons kan doen net wat ons wil? Nee, want soos die 19de-eeuse Engelse romanskrywer Charles Kingsley geskryf het: “Daar is twee soorte vryhede, die valse waar die mens vry is om te doen wat hy wil, en die ware waar hy vry is om te doen wat hy behoort te doen.”
Die mens sal ware vryheid verkry slegs deur te doen “wat hy behoort te doen”. En wat behoort hy te doen? Toe Jesus hier op aarde was, het hy eenvoudig gesê dat daar twee groot gebooie is—die eerste is om God met jou hele hart, siel, verstand en krag lief te hê, en die tweede is om jou naaste soos jouself lief te hê (Markus 12:29-31). Slegs diegene wat werklik sulke opregte liefde toon—liefde vir God en hulle medemens—kan ware vryheid verkry.—Johannes 8:31, 32.
Toon die wêreld vandag daardie soort liefde? Ongelukkig nie. Sonder liefde is die valse soort vryheid aan die orde van die dag. Dit adem ’n selfsugtige, onafhanklike gees. Dit dring daarop aan om ‘sy eie ding te doen’, sonder om God of naaste in ag te neem. Hierdie gees is nie net tot die individu beperk nie, maar dit strek verder na gemeenskappe, rasse en nasies. Solank die ek-eerste-gesindheid voortduur, moet die grondslag vir enige vryheid, enige vrede, enige geluk op hierdie aarde wankelrig wees. Onthou, Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Sulke naasteliefde is noodsaaklik as ons ware vryheid wil geniet.
Die Verenigde Volke is in die lewe geroep om die mensdom te bevry deur oorlog deur “vrede en veiligheid” te vervang. Ter herdenking van sy 40ste bestaansjaar het die VV 1986 tot Internasionale Vredesjaar uitgeroep. Maar het dit neergekom op ’n uitroeping van vryheid met ’n waarborg van vrede? Is die ontsaglike uitgawes aan wapentuig (nou meer as R2,2-biljoen per jaar) besnoei? Het terrorisme en die opblaas van motors afgeneem? Het godsdiensslagtings in Noord-Ierland, die Midde-Ooste en Asië bedaar? Godsdiensleiers bemoei hulle met die politiek en praat baie oor vrede. Maar die duif van ware vrede is vandag ver buite die bereik van die VV en die wêreld se godsdienste.
Is daar vandag ’n groep wat die gewelddadige, egosentriese weë van die wêreld die rug toegekeer het? Ja, daar is! Die voorspelde “Vredevors”, Jesus Christus, het liefhebbers van vrede ‘uit alle stamme, tale, volke en nasies’ versamel (Jesaja 2:3, 4; 9:5, 6; Openbaring 5:9; 7:9). Hulle is bly dat God se Koninkryk in die hande van Christus alle goddeloosheid gaan vernietig en ’n aardwye paradys van vrede gaan bring waar ware vryheid sal heers. Hierdie groep staan bekend as Jehovah se Getuies (Daniël 2:31-35, 44; Jesaja 43:10, 12; 65:17-25). Hierdie Christene is verenig in ’n jubelende aankondiging wat deur aspekte van die jubeljaarreëling in eertydse Israel afgeskadu is. In meer as 200 lande rondom die aarde gehoorsaam hulle met vreugde God se gebod: ‘Roep ’n vrylating in die land uit aan al sy bewoners’ (Levitikus 25:10). Het jy daardie jubelende uitroep gehoor en daarop ag gegee?