Gileadsendelinge—getrou aan een doel
“VERLEDE week was julle studente, volgende week sal julle sendelinge wees!” Daardie woorde het die gevoel van die 23 graduerende studente van die 81ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead goed uitgedruk. Vir hulle, sowel as vir die 4 262 ander aanwesiges, was die gradeplegtigheid in die Jersey City-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies op 7 September 1986 ’n geleentheid wat lank onthou sal word.
Martin Poetzinger het die verrigtinge met gebed geopen, waarna Carey Barber, voorsitter by die geleentheid, die program ingelei het deur te meld dat duisende van hierdie evangeliste deur die jare heen met een doel voor oë hulle Gileadopleiding ondergaan het: om na die eindes van die aarde uitgestuur te word as ware sendelinge wat die Koninkrykshoop verkondig. Hoe bly is ons tog nie dat hierdie nuwe sendelinge, in die gees van die naam “Gilead”, ’n deel sal word van die ‘hoop getuienis’ nie!
Die eerste spreker, Milton Henschel, het verduidelik dat hierdie gegradueerdes, soos die apostels van Jesus se dag, vir ’n groot taak voorberei is. Die sendeling Paulus het sy beskouing van hierdie werk goed uitgedruk toe hy gesê het: “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win.”—1 Korinthiërs 9:19.
Wat toon hierdie woorde van Paulus? Dat hierdie nuwe sendelinge in mense moet belangstel. Dit moet hulle begeerte wees om allerhande mense met die lewensreddende boodskap van die waarheid te help—selfs die wat hegte bande met ’n ander godsdiensorganisasie het.
Die volgende spreker, Theodore Jaracz, het die nuwe sendelinge daaraan herinner dat hulle, anders as toeriste wat reis om plekke te gaan besigtig, na verskillende stede van die wêreld gestuur word om die goeie nuus te verkondig. Hy het hulle aangespoor om die voorbeeld van Jesus en die vroeë dissipels te onthou, sowel as die voorbeeld van die hedendaagse sendelinge, waarvan baie nog getrou in hulle onderskeie toewysings dien. “Wees doelgerig”, het hy gesê. “Moenie toelaat dat materialistiese strewes julle aandag aftrek nie. As julle oog ‘reg’ is, dan is julle doelgerig” (Lukas 11:34). “As Gileadsendelinge”, het hy bygevoeg, “is julle getrou aan een doel—om verdienstelike mense te soek en die goeie nuus te verkondig.”
Max Larson van die Fabriekskomitee het tydige raad gegee oor watter stappe om te doen wanneer probleme in ’n sendingtoewysing opduik. “Moenie tou opgooi en huis toe gaan nie”, het hy verduidelik. “Los julle probleme op.” Hoe? “Deur God se siening van sake te verkry” (1 Korinthiërs 2:11-16). Larson het beklemtoon dat sendelinge tot Jehovah moet bid om hulp en gereeld hulle verhouding met God in oënskou moet neem.
Lon Schilling van die Watchtower Farms-komitee het getoon hoe belangrik dit is om die regte gesindheid te verkry en te behou. “Hoe sal julle verstand werk wanneer julle voor ’n uitdaging of situasie te staan kom wat ’n aanpassing verg?” het hy gevra. “As mense met ’n vrye wil is ons individueel verantwoordelik vir ons dade.” Hy het daarop gewys dat God “ons nie deur die een of ander hemelse afstandsbeheerstelsel beheer nie”. Sendelinge moet dus nie meer van God verwag as wat redelik is nie. Diegene wat toelaat dat Jehovah God hulle deur sy Woord, sy gees en sy organisasie lei, sal die regte gesindheid kan behou.
“Hoe goed is julle waardebegrip?” Daardie vraag is gestel deur Ulysses Glass, een van die instrukteurs van die Gileadskool. Deur ’n reeks illustrasies het hierdie veteraaninstrukteur getoon dat “’n gebalanseerde, oordeelkundige, onwrikbare waardebegrip [sendelinge] altyd in staat sal stel om die Koninkryksbelange voor oë te hou”. Hy het ’n posseël omhoog gehou en gesê dat dit, hoe wel klein in waarde, nuttig is omdat dit aan een ding kleef tot dit die bestemming bereik. “Word soos daardie posseël”, het hy gesê, “en kleef aan een ding—julle opdrag om te preek—totdat julle veilig by julle bestemming kom, die ander kant van die groot verdrukking.”
Jack Redford, Gileadinstrukteur en self ’n voormalige sendeling, het in sy finale toespraak gepraat oor sommige van die uitdagings waarvoor die nuwe sendelinge te staan sal kom. Hy het beklemtoon dat volkome vertroue in Jehovah hulle sal help om enige struikelblok te bowe te kom, hetsy dit is om ’n nuwe taal te leer, heimwee te bowe te kom, met ander mense saam te lewe, hulle by ’n nuwe kultuur aan te pas of persoonlikheidsbotsings op te los. Die punt wat hy gestel het, was: “Moet dit nie in julle eie krag probeer doen nie. 1 Korinthiërs 3:9 sê: ‘Ons is medewerkers van God.’” Hy het hulle verseker: “Doen julle deel, en julle kan daarvan seker wees dat Jehovah sy deel sal doen.”
“Die Wagtoring-Bybelskool Gilead is ’n gawe van God!” Met daardie woorde het Frederick W. Franz, die Genootskap se President, die laaste toespraak van die oggend ingelei. Die doel van die Gileadskool, het hy gesê, “was om mense op te lewer wat as getuies sou dien, ’n lewende bewys van die feit dat die Koninkryk van God onder Jesus Christus nou regeer”. Toe het hy die 81ste klas daaraan herinner dat getrouheid aan hierdie een doel ’n groot verantwoordelikheid op hulle skouers plaas, “want julle betree die getuienisveld op die kritiekste tyd in die mensegeskiedenis. Daarom het Jehovah aan ons die taak opgedra om die goeie nuus van daardie Koninkryk bekend te maak en om alle mense tot aan die uithoeke van die aarde van God se weg tot redding te vertel”.
Die graduerende studente se vreugde en dankbaarheid oor die voorreg om die Gileadskool by te woon, was duidelik toe hulle hulle diplomas ontvang het. Met hulle doel as sendelinge duidelik voor oë het die 81ste klas van Gilead in ’n brief aan die Bestuursliggaam en die Bethelgesin hulle vasbeslotenheid uitgespreek om die belange van Jehovah God lojaal te bevorder en onder die nasies ‘tot eer van sy Naam te sing’ (2 Samuel 22:50). In die middag, na die uitbeelding van getuienistonele in vorige toewysings, in New York en in die sendingveld, asook ’n roerende drama met ’n moderne agtergrond, het Lyman Swingle die Gileadprogram met gebed afgesluit.
Die 23 graduerende studente sien met afwagting uit na die vreugde van sendingdiens. Waarom? Soos een gegradueerde verduidelik het:
“Jesus het gesê: ‘Verkoop jou goed en kom hier, volg My . . . en verkondig die koninkryk van God’ [Mattheüs 19:21; Lukas 9:60]. Sendingdiens was ’n doelwit wat ons gestel het weens ons begeerte om soveel mense as ons kan geestelik te help, op enige plek waar ons nodig is en die beste gebruik kan word.”—Fredrick Steiner, toegewys na Guatemala.
Kan jy jou diens aan God uitbrei en dit produktiewer maak? Lê jou dan daarop toe, soos hierdie graduerende studente gedoen het om hulle vir die sendingveld te bekwaam. Hulle grootste vreugde, en joune ook, lê in ’n vol lewe van toegewyde diens aan Jehovah.—Maleagi 3:10.
[Venster op bladsy 22]
“Broer Larson se toespraak het my regtig laat besef dat ek bereid moet wees om aanpassings te maak. Om my rol as sendeling te vervul, moet ek ’n ‘vleeslike gesindheid’ vermy en eerder die sin van Jehovah en sy Seun, Jesus, probeer verkry.”—Alain Saint-Jean, toegewys na Nieu-Caledonië.
[Venster op bladsy 23]
“Broer Glass se toespraak het my laat besef hoe belangrik die regte waardebegrip is. Ons moenie toelaat dat onbenullighede ons aandag aftrek nie. Ons moet gebalanseerd wees.”—Humphrey Hermanus, toegewys na Suriname.
[Venster op bladsy 24]
“Terwyl ek na broer Redford geluister het, het ek die geborge gevoel gekry dat die probleme wat ons sal teëkom nie nuwe probleme is nie. Ander het hulle te bowe gekom, en ons kan ook, mits ons op Jehovah se krag vertrou en nie op ons eie nie.”—Veronica Lipham, toegewys na Papoea Nieu-Guinee.
[Venster op bladsy 24]
KLASSTATISTIEK:
Aantal lande verteenwoordig: 7
Aantal lande waarheen toegewys: 12
Gemiddelde ouderdom: 30,3
Gemiddelde jare in die waarheid: 13,4
Gemiddelde jare in voltydse bediening: 9,3
[Prente op bladsy 23]
COSTA, Alan en Betty Verenigde State
GANSLMEIER, Anton en Rita Duitsland
GONZALES, John en Cynthia Verenigde State
GRAULICH, Uwe en Katherine Duitsland
HERMANUS, Humphrey en Ludmila Nederlands-Antille
JOHANSEN, Bård en Ester Noorweë
KLOOSTERMAN, Otto en Yvonne Nederland
LARSON, Gary en Annette Kanada
LIPHAM, Mark en G. Veronica Verenigde State
SAINT-JEAN, Alain Frankryk
STEINER, Fredrick en Helen Verenigde State
SZYMANSKI, Cynthia Verenigde State
WILKE, David Verenigde State