Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 10/1 bl. 4-7
  • Daniël—’n Geloofwaardige boek van profesieë

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Daniël—’n Geloofwaardige boek van profesieë
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Betroubare profeet
  • Die Messias se koms en dood
  • Dieragtige wêreldmoondhede
  • Daniël—’n Boek in die soeklig
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Die boek Daniël en jy
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Bybelboek nommer 27—Daniël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 10/1 bl. 4-7

Daniël​—’n Geloofwaardige boek van profesieë

DIE Bybelverslag sê vir ons: “In die eerste jaar van Belsasar, die koning van Babel, het Daniël ’n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die [volledige relaas van die sake] vertel.”​—Daniël 7:1, vgl. NW.

Daniël het hierdie en ander drome en gesigte wat ons vandag raak in die tweede helfte van die sesde eeu v.G.J. neergeskryf. Ons het “die volledige relaas” van sulke gesigte in die profetiese boek Daniël.

’n Betroubare profeet

Christus self het getuig dat Daniël ’n profeet was. Interessant genoeg, Jesus het dit in sy profesie oor die teken van sy ‘teenwoordigheid en van die voleinding van die wêreld’ gedoen. Hy het dus die volkome vervulling van Daniël se profesie in ons dag geprojekteer, wanneer ons die verskillende aspekte van die teken sien, soos internasionale oorloë, voedseltekorte, aardbewings en wêreldwye smarte.​—Mattheüs 24:3-8, 15, vgl. NW.

Jesus het gesê: “Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei . . . hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Wanneer julle dan die gruwel van verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom​—laat hy wat lees, oplet—​dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug . . . Voorwaar, Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”​—Mattheüs 24:11-34.

Die feit dat Jesus, net voordat hy sy dissipels na “die profeet Daniël” verwys het, gewaarsku het dat daar valse profete sou wees, bewys dat hy Daniël as ’n ware profeet van God beskou het. Ons het in die vorige artikel opgemerk dat party van Daniël se geïnspireerde profetiese uitinge, soos dié wat Nebukadnesar se tydelike kranksinnigheid en die val van Babilon voorspel het, in Daniël se dag vervul is. Maar Daniël het ook dinge voorspel wat eeue later sou plaasvind. Wat is van die langtermynprofesieë wat in die boek Daniël opgeteken is?

Die Messias se koms en dood

’n Profesie wat met sekerheid toon dat Daniël ’n betroubare profeet was, staan bekend as die 70 profetiese weke. Dit lui ten dele: “Sewentig sewetalle [of, weke] is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen . . . Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle [altesaam 69] . . . En na die twee-en-sestig sewetalle [dit wil sê, 7 + 62, of na die 69ste week] sal ’n Gesalfde uitgeroei word . . . En hy sal een week lank [die 70ste] met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou.”​—Daniël 9: 24-27.

Talle Joodse, Katolieke en Protestantse Bybelgeleerdes is dit eens dat die “sewetalle” of weke van hierdie profesie jaarweke is. Die Revised Standard Version, ekumeniese uitgawe, sê: “Sewentig jaarweke is vir jou volk vasgestel.” Daardie 490 jaar het in 455 v.G.J. begin toe Nehemia deur Persiese koning Artasasta gemagtig is “om Jerusalem te herstel en op te bou” (Nehemia 2:1-8). Nege-en-sestig jaarweke later, dit wil sê, in 29 G.J., is Jesus gedoop en gesalf, en so het hy die Christus, of die Gesalfde, die Messias, geword. “Gedurende die helfte van die [70ste] week”, in 33 G.J., is hy “uitgeroei”. Sy offerdood het versoening bewerkstellig vir die sondes van die mensdom en het so die diereofferandes onder die Wet van Moses “laat ophou”.a

Danksy hierdie betroubare profesie het eerste-eeuse Jode “geweet dat die sewentig jaarweke wat deur Daniël bepaal is ten einde geloop het; niemand was verbaas om Johannes die Doper te hoor aankondig dat die koninkryk van God naby gekom het nie”.​—Manuel Biblique, deur Bacuez en Vigouroux.

Dieragtige wêreldmoondhede

Nog ’n langtermynprofesie wat vir mense wat vandag lewe van die allergrootste belang is, het ’n reeks wêreldmoondhede voorspel wat deur skrikwekkende diere gesimboliseer word en wat vir God se Koninkryk sal moet plek maak.

Daniël het vertel: “Ek het in die nag in my gesig gesien . . . en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander. Die eerste was soos ’n leeu . . . En kyk, ’n ander dier, ’n tweede, het gelyk soos ’n beer . . . en kyk, daar was ’n ander een soos ’n luiperd . . . Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ’n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk . . . Hierdie groot diere wat vier is​—vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.”​—Daniël 7:2-18.

Dat hierdie diere wêreldmoondhede voorstel, blyk duidelik uit ’n ander gesig wat Daniël gehad het. Hy het ter uitlegging van hierdie gesig geskryf: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland.”​—Daniël 8:20, 21.

Die vier diere van Daniël hoofstuk 7 simboliseer insgelyks vier wêreldmoondhede wat van Daniël se dag af opeenvolgend sou heers tot die tyd van die oprigting van God se Koninkryk. Daniël het die val van die Babiloniese Wêreldmoondheid (die leeu) asook die begin van sy opvolger, Medo-Persië (die beer), gesien. Daniël se langtermynprofesie het voorspel dat Medo-Persië voor Griekeland (die luiperd) sou val, wat weer deur “’n vierde dier”, die Romeinse Ryk en sy uitspruitsel, die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, vervang sou word.b

Daniël het die reeks wêreldmoondhede, wat almal in hulle sug na wêreldheerskappy soos wilde diere bloed vergiet het, akkuraat voorspel. So ook sal die regverdige Koninkryk wat hy voorspel het binnekort hedendaagse politieke magte vervang. In ’n gesig het Daniël gesien dat “die Oue van dae”, Jehovah God, aan die “Seun van ’n mens”, Jesus die Messias, “heerskappy en eer en koningskap [gee]; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer”. Sal dit ’n blywende oplossing vir die mensdom se probleme bied? Ja, want Jesus se heerskappy word hier beskryf as “’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk [as] een wat nie vernietig sal word nie”.​—Daniël 7:13, 14; vergelyk Mattheüs 16:27, 28; 25:31.

Die korttermyn- en langtermynprofesieë wat kortliks in hierdie twee artikels bespreek is, is net ’n paar van die drome, gesigte en profesieë wat in Daniël opgeteken is. Hierdie voorbeelde is bewys dat Daniël ’n geloofwaardige boek van profesieë is​—geskiedenis wat vooruit geskryf is. Die vervulling van hierdie profesieë strek tot in die 20ste eeu, en hulle bied ’n wonderlike hoop, soos komende nommers van hierdie tydskrif sal verduidelik.

[Voetnote]

a Kyk hoofstuk 7 van die boek “Let Your Kingdom Come”, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, vir nadere besonderhede oor hierdie profesie.

b Kyk hoofstukke 6 en 7 van die boek Ons inkomende wêreldregering​—God se koninkryk, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, vir ’n breedvoerige verduideliking van hierdie profesie.

[Venster op bladsy 6]

DIE “LATER TYD”-TEORIE

DIE Bybel skryf die boek Daniël aan die profeet met daardie naam toe, wat die skrywe van hierdie boek in die sesde eeu v.G.J. plaas (Daniël 7:1). Maar die profesieë daarin is so verstommend dat talle daaraan getwyfel het of hulle voor die voorspelde gebeure neergeskryf is. Party nie-Christene, en selfs talle Bybelkommentators wat hulleself Christene noem, het twyfel gewek oor die egtheid van die boek Daniël. Hulle verkies die sogenaamde ‘later tyd’-teorie, of Makkabese-tyd-teorie, wat deur ’n anti-Christelike filosoof van die derde eeu G.J. genaamd Porphyrius opgestel is. Watter argumente word ter ondersteuning van hierdie teorie aangevoer, en wat is dit werd?

Op die vooronderstelling dat alle profesieë onmoontlik is, het Porphyrius aangevoer dat die boek met Daniël se naam in werklikheid deur ’n onbekende Jood geskryf is gedurende die Makkabese tyd, naamlik die tweede eeu v.G.J., dit wil sê, ná baie van die voorspelde gebeure in Daniël plaasgevind het. Hy het bespiegel dat die bedrieër wat onder Daniël se naam geskryf het dit gedoen het om die moreel van die Jode gedurende die Makkabese opstand teen die Seleucides in die tweede eeu v.G.J. op te bou. Maar kan die eerbiedige en geweldlose optrede van Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle in Babilon enigsins as ’n aansporing tot gewapende opstand beskou word? Hoegenaamd nie (Daniël 1:8; 2:49; 3:16-18, 30). Die verskyning van die “Gesalfde, ’n Vors”, presies op tyd in 29 G.J., aan die einde van die 69 “sewetalle” of weke van jare van Daniël 9:25, maak ook Porphyrius se bewerings omtrent die tweede eeu v.G.J. belaglik.

Volgens die Joodse geskiedskrywer Josephus was die kanon van die Hebreeuse Skrifte, wat Daniël insluit, in die tyd van Esra, in die vyfde eeu v.G.J., voltooi. Hoe kan daar dan gesê word dat Daniël eers op ’n “later tyd”, in die tweede eeu v.G.J., geskryf is? Daarbenewens toon die Dooie See-rolle dat die boek Daniël in die tweede eeu v.G.J. in Joodse kringe algemeen as deel van die Skrif aanvaar is. Sou dit die geval gewees het as die boek ’n werk van daardie tyd was?

Nog ’n argument wat Porphyrius en talle hoër kritici aanvoer, is dat die boek Daniël geskiedkundige onjuisthede bevat. Hulle teorie is dat Daniël in die tweede eeu v.G.J. geskryf is. Maar op daardie tydstip het oordeelkundige Jode die Eerste Boek van Makkabeërs verwerp as ongeskik om in die Bybelkanon ingesluit te word, hoewel hulle dit as geskiedkundig akkuraat beskou het. Geleerde Jode, wat toegang tot die geskrifte van sekulêre geskiedskrywers soos Herodotus gehad het, sou ongetwyfeld die boek Daniël verwerp het as dit geskiedkundige onjuisthede bevat het. Daarbenewens het argeologiese ontdekkings die bestaan van Belsasar en ander besonderhede in Daniël gestaaf wat volgens Porphyrius en falle hoër kritici onjuis is.

Philip R. Davies, verbonde aan die Departement van Bybelse Studies van die Universiteit van Sheffield, Engeland, skryf aangaande Porphyrius se aantyging dat Daniël se profesieë ná die voorspelde gebeure geskryf is: “Dit is ’n betreurenswaardige uitspraak oor die boek Daniël, naamlik dat dit hoofsaaklik ’n opsetlike poging is om ’n (kwansuis) liggelowige publiek te bedrieg met die doel om ’n sogenaamd verdienstelike saak deur oneerlike metodes te bevorder . . . Dit is vir my moeilik om sulke liggelowigheid aan die oorspronklike lesers van die boek toe te skryf. As daar liggelowigheid in hierdie geval is, is dit waarskynliker dat dit aan die kant van rasionalistiese kritici is.”​—Journal for the Study of the Old Testament, Nommer 17, 1980.

Dit is nouliks verbasend dat ’n neo-Platoniese filosoof sou ontken dat ’n Bybelskrywer deur God geïnspireer is om toekomstige gebeure te voorspel. Maar dat Bybelkommentators wat beweer dat hulle Christene is mense se vertroue in ’n belangrike profetiese boek van die Skrif probeer ondermyn, is betreurenswaardig. Dit openbaar ’n gebrek aan geloof in die Een wat gesê het: “Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie.”​—Jesaja 46:10, NAV.

[Diagram op bladsy 5]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

70 weke (490 jaar)

69 weke (483 jaar) 1 week (7 jaar)

455 v.G.J. 29 G.J. 33 G 36 G.J.

“Van die uitgang “tot op ’n “sal ’n ”En Hy sal een week lank . . . ’n sterk verbond sluit”

van die woord Gesalfde, ’n Gesalfde

om Jerusalem te Vors . . . uitgeroei word”

herstel en op te

bou . . .” Daniël 9:24-27

[Prente op bladsy 7]

Babilon

Medo-Persië

Griekeland

Rome​—Brittanje en V.S.A.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel