Die sleutel tot ware godsdiens
IN HIERDIE 20ste eeu bely meer mense dat hulle aan die Christelike godsdiens behoort as aan enige ander. En tog was hierdie eeu die moeitevolste in die mensegeskiedenis. Waarom die paradoks?
Eerstens, talle neem nie hulle godsdiens ernstig op nie. Vir hulle is Christelikheid slegs iets oppervlakkigs, nie ’n oorheersende krag in hulle lewe nie. Boonop huldig diegene wat wel hulle godsdiens ernstig opneem talle teenstrydige opvattinge en onderskryf hulle selfs uiteenlopende sedelike standaarde. En hulle word deur nasionale, rasse- en finansiële verskille verdeel. Daarbenewens het hulle mekaar bedrieg, selfs mekaar vervolg, teen mekaar oorlog gevoer en mekaar doodgemaak. Die twee grootste oorloë in die geskiedenis is dus basies tussen “Christelike” nasies gevoer.
Watter gevolgtrekking kan ons hieruit maak? Òf die Christelike godsdiens is nie die ware godsdiens nie, òf daar lê baie myle tussen doen en sê wanneer dit by Christelikheid kom. Volgens Jesus Christus, die stigter van die Christelike godsdiens, is die tweede gevolgtrekking reg. By een geleentheid het hy gepraat van party wat hom as “Here, Here” sou aanspreek. Met ander woorde, hulle sou beweer dat hulle Christene is en Jesus as hulle Here aanvaar. En hulle sou baie besig wees om oënskynlik belangrike werke in sy naam te doen. En tog sou Jesus vir hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”—Mattheüs 7:22, 23.
Nie een van ons wil tog seker in daardie situasie verkeer nie! Hoe kan ons dus vasstel of ons ware Christene is al dan nie? Is daar ’n sleutel tot die ware godsdiens?
Die sleutel
Ja, daar is. Christelikheid behels natuurlik baie dinge. Die ware Christen moet byvoorbeeld sterk geloof in God hê, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6). Hy moet ook die regte werke verrig. Die dissipel Jakobus het gewaarsku dat “die geloof sonder die werke dood” is (Jakobus 2:26). Daarbenewens het die apostel Paulus beklemtoon hoe belangrik dit is om juiste “kennis van [God se] wil in alle wysheid en geestelike insig” te hê (Kolossense 1:9). Maar nie een van hierdie dinge voorsien die sleutel tot die Christelike godsdiens nie.
Feit is dat ons goeie Bybelkennis en sterk geloof kan hê en baie goeie werke kan verrig en nogtans slegs skynchristene kan wees. Hoe is dit moontlik? Die apostel Paulus het verduidelik: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.”—1 Korinthiërs 13:1-3.
Ja, die sleutel om die ware godsdiens te herken, is die besef dat dit op ware liefde berus. Ons geloof, goeie werke en juiste kennis is noodsaaklik, onontbeerlik. Maar as ons dit nie in liefde beoefen nie, is dit van weinig nut sover dit ons betref. Hoe so? Waarom is liefde van sulke oorheersende belang?