Lees en leer uit die twee boeke van die Kronieke
“WAAROM die boeke van die Kronieke?” Talle studente het hierdie vraag gestel wanneer hulle vir die eerste keer deur die Bybel lees. Hulle lees die boeke Samuel en Konings en sien hoe die geskiedenis van God se volk onder die konings in ’n lewendige, voortreflike manier aangebied word. Nou moet hulle die twee boeke van die Kronieke lees: nege lang hoofstukke met geslagslyste wat gevolg word deur ’n herhaling van baie van wat hulle reeds gelees het. Eerdmans’ Bible Handbook sê: “Op die oog af lyk dit of die Kronieke die dinge wat ons reeds in 2 Samuel en die Konings gelees het op ’n oninteressanter en moralistieser manier herhaal.”
Maar dit is slegs oppervlakkig beskou. Net soos die vier Evangelies in die Christelike Griekse Skrifte almal min of meer dieselfde materiaal dek, maar elkeen ’n ander perspektief bied en inligting byvoeg wat dit uniek maak, het die skrywer van Kronieke sy eie perspektief en verskaf hy inligting wat nêrens anders gevind kan word nie, al dek hy basies dieselfde materiaal as vorige boeke. Hy het vir ’n spesiale tydperk geskryf en het spesifieke, duidelik omlynde doelwitte gehad. Wanneer ons dit verstaan, kan ons dit geniet om die boeke te lees en lesse te leer wat ons vandag sal help.
Hulle voorsien in ’n behoefte
Die boeke van die Kronieke is waarskynlik deur Esra geskryf tot nut van die Jode wat na die 70 jaar se gevangenskap in Babilon na die Beloofde Land teruggekeer het. Nadat hy die bewind van Dawid en Salomo en die daaropvolgende verdeling van God se volk in twee nasies verhaal het, het die skrywer hom toegelê op die suidelike koninkryk van Juda en die geskiedenis daarvan op so ’n manier aangebied dat die teruggekeerde ballinge lesse daaruit kon leer. Hy het die ontwikkeling van die belangrike koningslyn van Dawid nagespeur en sodoende uiters belangrike vrae beantwoord: Waarom het Jehovah toegelaat dat sy uitverkore volk in ballingskap na ’n heidense land weggevoer word? En hoe kon die teruggekeerde Jode (sowel as ware Christene vandag) die foute vermy wat tot hierdie straf gelei het?
Die belangrike geslagslyste
Die eerste nege hoofstukke van 1 Kronieke bevat lang geslagslyste. Waarom het die skrywer dit ingesluit? Omdat geslagslyste in Israel belangrik was. Erfporsies en diensvoorregte het daarmee verband gehou. Party van die terugkerende Israeliete, sommige van die priesterlike geslag inkluis, kon nie hulle afkoms bewys nie en dit het groot ongerief veroorsaak (Esra 2:59-63). Hierdie noukeurige naspeuring van geslagslyne was dus vir hulle van boeiende belang.
Maar wat van die Bybelleser vandag? Moet hy hierdie nege hoofstukke oorslaan en Eerste Kronieke van die verslag van Saul se dood in hoofstuk 10 af begin lees? Nee, hierdie geslagslyste is deel van “die hele Skrif” wat “deur God ingegee” is (2 Timotheüs 3:16). Die eerste nege hoofstukke van Eerste Kronieke bevat belangrike en fassinerende inligting.
Dit is slegs hier wat ons byvoorbeeld lees van Jabes, ’n afstammeling van Juda, wat buitengewoon geëerd was (1 Kronieke 4:9, 10). Ons vind hier ook ’n nuttige lys van die koningslyn van Dawid, wat die belangrike feit openbaar dat Serubbabel, die Jode se goewerneur na hulle terugkeer uit Babilon, in daardie lyn was.—1 Kronieke 3:10-19.
Dit vertel ons meer van Dawid
Die vorige hoofstukke van Eerste Kronieke vul die geskiedkundige relaas van vorige boeke aan en bou veral ons kennis van koning Dawid uit. In vorige boeke het die Bybelleser Dawid leer ken as ’n toegewyde kneg van Jehovah, ’n bedrewe krygsman, ’n digter en ’n uitstekende leier. In Eerste Kronieke leer ons dat hy ook ’n voortreflike organiseerder was. Hy het die nasie en die leër georganiseer, en hy het die aanbidding by die tempel georganiseer deur die priesters, Leviete en sangers in 24 klasse te verdeel.—1 Kronieke 23:1-27:22.
Tweede Samuel beskryf Dawid se innige begeerte om ’n “huis”, of ’n tempel, vir die verbondsark te bou (2 Samuel 7:2-5). Jehovah wou Dawid nie toelaat om met sy planne voort te gaan nie en Eerste Kronieke verduidelik waarom nie. Dawid was ’n man van bloed. Die tempel sou gebou word deur Dawid se opvolger, ’n vreedsame man (1 Kronieke 22:8-10). Tweede Samuel vertel ons ook waarom Dawid die dorsvloer gekoop het waar die tempel eindelik gebou is (2 Samuel 24:18-25). Eerste Kronieke vul dit aan deur die groot bydrae te beskryf wat Dawid bymekaar gemaak het, sowel as al die reëlings wat hy getref het, sodat wanneer Salomo die tempel kon begin bou alles vir hom gereed sou wees (1 Kronieke 22:6-19). Jehovah het selfs die tempelplan vir Dawid gegee, en hy het dit getrou aan Salomo oorgedra.—1 Kronieke 28:9-21.
Jehovah se seën . . .
Soos jy die tweede boek van die Kronieke verder lees, sal jy opmerk dat ’n tema na vore begin kom: Wanneer die konings van Juda volkome op Jehovah vertrou het, is hulle geseën. Wanneer hulle dit nie gedoen het nie, het die volk daaronder gely. Koning Rehabeam se seun Abia het byvoorbeeld teen Israel oorlog gevoer en is sleg uitoorlê deur Jerobeam, die stryderkoning van die noordelike koninkryk. Abia se leer is heeltemal omsingel en “hulle het die HERE aangeroep, terwyl die priesters op die trompette blaas”. Die gevolg? “God [het] Jerobeam en die hele Israel voor Abia en Juda verslaan.”—2 Kronieke 13:14, 15.
Asa, Abia se seun, het eweneens ’n groot leër van ’n miljoen Kusiete verslaan omdat hy op Jehovah vertrou het (2 Kronieke 14:9-12). Asa se seun Josafat is gered van die verenigde aanval deur Ammon, Moab en die Edomiete, terwyl sy afstammeling, koning Hiskia, baie jare later uit die mag van Assirië gered is danksy daardie selfde vertroue.—2 Kronieke 20:1-26; 32:9-23.
. . . en misnoeë
Maar baie van die konings het nie hierdie vertroue gehad nie, gewoonlik om een van drie redes. Die eerste was dat talle in die strik van afgodediens getrap het. Joas, Josafat se agterkleinseun, het goed begin maar hom toe tot afgodediens gewend. Jehovah het sy beskerming teruggetrek en Joas is in die stryd deur ’n leër van Aram verslaan en later vermoor (2 Kronieke 24:23-25). Joas se seun, Amasia, het getoon hoe verloklik afgodediens kan wees. Amasia het begin deur voorbeeldige geloof in Jehovah te stel. Toe het hy na ’n suksesvolle oorlog waarin hy die Edomiete verslaan het sowaar die Edomiete se gode geneem en hulle begin aanbid! (2 Kronieke 25:14). Jehovah het dus weer eens sy beskerming van die koning weggeneem.
Die ergste voorbeeld van afgodediens is waarskynlik Manasse. Hierdie koning het nie net valse gode aanbid nie, maar hy het diegene wat getrou gebly het aan die aanbidding van Jehovah daadwerklik vervolg. Dit was omdat “hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het” dat Jehovah besluit het om Juda te vernietig. “Die HERE [wou] nie vergewe nie” (2 Konings 21:11; 23:26; 24:3, 4). Maar verbasend genoeg was Manasse die seun van Hiskia, een van die getrouste Joodse konings. Trouens, sy geboorte was die gevolg van ’n wonderwerk. Hy is gebore nadat Jehovah sy vader Hiskia se lewe wonderdadig verleng het (Jesaja 38:1-8; 2 Kronieke 33:1). En daar is ’n laaste verrassing. Nadat hy baie jare lank aanbidders van Jehovah vervolg het, het Manasse berou gehad en was aan die einde van sy lewe ’n kneg van Jehovah!—2 Kronieke 33:1-6, 12-17.
’n Tweede ding wat die konings van Juda verstrik het, was verbonde met die ander nasies. Dit het die goeie koning Asa in die moeilikheid laat beland, sowel as die minder goeie koning Agas (2 Kronieke 16:1-5, 7; 28:16, 20). ’n Tragiese gevolg van so ’n verbond blyk uit die geval van Josafat. Hierdie goeie kneg van Jehovah het dwaaslik ’n verbintenis aangegaan met Baälaanbiddende koning Agab van Israel. Hy het Agab op onverstandige militêre ekspedisies vergesel en toegelaat dat Jehoram, sy seun, met Agab se dogter, Atalia, trou. Atalia was ’n slegte invloed op haar man, Jehoram, en op Ahasia, haar seun, toe hulle op hulle beurt konings geword het. Toe Ahasia gesterf het, het sy die troon oorgeneem en die meeste potensiële mededingers om die lewe gebring. Gelukkig het Jehovah dinge bestier sodat die koningslyn van koning Dawid behoue gebly het. Maar wat ’n tragiese gevolg tog van onnodige verbintenisse met die ander nasies!
’n Derde strik waarin sommige van die konings gevang is, was hoogmoed. Dit het die laaste jare van goeie koning Asa beklad, en as gevolg daarvan het koning Ussia, die militêre genie, sy laaste dae as ’n melaatse in afsondering deurgebring. Selfs getroue koning Hiskia het in hierdie strik getrap toe hy deur gesante van Babilon besoek is en hy vir hulle trots die tempelskatkis gewys het.—2 Kronieke 32:25, 26; Jesaja 39:1-7.
Lees en leer by hulle
Ja, die twee boeke van die Kronieke is ’n ryke bron van kennis. Hulle wys watter soort gedrag Jehovah behaag, en hulle toon dat selfs konings in sonde kan verval. Watter waarskuwing hou dit tog vandag in, veral vir diegene wat posisies van gesag in die Christengemeente beklee! Hedendaagse afgodediens is net so subtiel soos afgodediens in die dae van die Israelitiese konings, en ons moet vasbeslote wees om dit te vermy (Efesiërs 3:19; Kolossense 3:5; Openbaring 13:4). Ons moet ook onnodige verbintenisse met die wêreld vermy (Johannes 17:14, 16; Jakobus 4:4). En trots, of hoogmoed, is beslis nog steeds ’n probleem waarteen ons moet stry.—Spreuke 16:5, 18; Jakobus 4: 6, 16.
As ons die twee boeke van die Kronieke lees en daaruit leer, sal dit ons voorneme versterk om Jehovah te dien volgens die goeie voorbeelde, en om die slegte voorbeelde in die Joodse geskiedenis te vermy. Dit sal ons aanspoor om die goeie na te volg en die slegte te vermy “sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê”.—Romeine 15:4.
[Venster op bladsy 28]
Hoe help Eerste Kronieke om te bewys dat Jesus nie op die 25ste Desember gebore is nie?
Volgens Eerste Kronieke het koning Dawid die priesters in 24 klasse of groepe verdeel, en elke groep moes ’n week lank by die tempel dien. Gevolglik sou ’n lid van elke groep twee keer per jaar by die tempel dien, met tussenpose van nagenoeg ses maande.
Die eerste groep het direk na afloop van die huttefees begin dien, omstreeks die einde van September of die begin van Oktober. Die agtste groep, wat na Abia vernoem is, het ’n week lank in laat November/vroeg Desember gedien, en dan weer ’n week lank in laat Junie/vroeg Julie. Waarom is die afdeling van Abia belangrik? Want volgens Lukas se verslag het Johannes die Doper se vader, Sagaria, tot “die afdeling van Abia” behoort, en hy het juis in die tempel gedien toe die engel aan hom verskyn en die komende geboorte van Johannes aangekondig het.—Lukas 1:5, 8, 9.
Lukas se verslag toon dat Johannes kort hierna ontvang is. Hy is gevolglik nege maande later gebore, òf vroeg in September òf vroeg in April. Lukas se verslag toon ook dat Jesus ses maande jonger as Johannes was (Lukas 1:26). Hierdie feit in die boek van die Kronieke toon derhalwe dat Jesus, in plaas van aan die einde van Desember, òf vroeg in Maart òf vroeg in Oktober gebore is. Ander tekste toon dat laasgenoemde die regte tyd is.—Kyk The Watchtower van 15 Junie 1954, bladsy 382, vir nadere besonderhede.
[Venster op bladsy 29]
Waarom het Josef vader van twee stamme van Israel geword terwyl sy broers elkeen slegs een stam verwek het?
Eerste Kronieke help ons om hierdie vraag te beantwoord. Josef het die dubbele deel ontvang wat die eersgeborene toegekom het. Josef was weliswaar amper die jongste van Jakob se 12 seuns, maar hy was die oudste seun van Jakob se gunstelingvrou, Ragel. Volgens geboorte moes die eersgeboortereg na Jakob se oudste seun, Ruben, sy eersgeborene by Lea, gaan. Maar soos Eerste Kronieke vir ons vertel, het Ruben dit deur ’n ernstige sonde verbeur. Die verslag sê: “Ruben . . . was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie.” Die verslag voeg by: “Want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad.”—1 Kronieke 5:1, 2.