Weerstaan jy die gees van ontevredenheid?
MURMURERING in die gees van ontevredenheid word vroeg in die Heilige Skrif onder ons aandag gebring (Exodus 15:24). Vandag vind ons hierdie soort murmurering oral om ons heen. Trouens, dit word feitlik oorverdowend. Dit dreig om almal in te sluk, want dit oefen ’n sterk invloed uit. Die gees daaragter kom dikwels tot uiting in klaery, miskien in ’n lae, murmurerende stemtoon, ’n ontevrede of misnoegde gemompel. Ware Christene moet sulke murmurering weerstaan. Maar hoe kan ons die gees van ontevredenheid weerstaan?
Hoe dit begin het
Daar is goeie redes om ontevrede te wees oor sekere omstandighede. “Die klaaggeroep oor Sodom en Gomorra” het begryplikerwys luid geword vanweë die goddeloosheid van hulle inwoners (Genesis 18:20, 21, NW). Maar ongegronde klaery en murmurering is in ontevredenheid gewortel. En die eerste bevorderaar van die gees van ontevredenheid was Satan die Duiwel, “wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). In die tuin van Eden het hy ’n situasie laat ontstaan wat bedoel was om ontevredenheid te wek, eers in Eva en toe in Adam (Genesis 3:1-7). Sedertdien het Satan daarin geslaag om situasies te skep wat ontevredenheid bevorder.
Eeue na die opstand in Eden het Jehovah naam gemaak deur die Israeliete uit Egipte te verlos en hulle tot ’n nasie te organiseer (Exodus 9:16). Was hulle dankbaar teenoor hulle Verlosser? Nee. Gedurende hulle omswerwing van 40 jaar in die woestyn het hulle herhaaldelik teen Jehovah gemurmureer, hetsy regstreeks of onregstreeks deur Moses en Aäron te kritiseer! In een geval het Jehovah gevra: “Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer?” (Numeri 14:26, 27; Exodus 16:2, 7). Die gees van ontevredenheid het deur die hele geskiedenis van eertydse Israel voortgeduur.—Esegiël 18:25.
Klaery oor jou lewenslot
Omdat mense onvolmaak is, kan dit natuurlik gebeur dat hulle oor hulle omstandighede begin kla. Die regverdige man Job was so ongelukkig oor sy vreeslike ondervindinge dat hy die dag van sy geboorte vervloek het (Job 3:1-3). Kan persone wat bely dat hulle Christene is ontevrede raak oor hulle lewenslot? Ja, hulle kan, en sommige het ook.
Waar hy gepraat het van “goddelose mense” wat in die eerste-eeuse Christengemeente ingesluip het, het die dissipel Judas geskryf: “Hulle is murmureerders wat oor hul lot kla, en volgens hulle [verdorwe, onsedelike] begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel” (Judas 3, 4, 16). Ons moet sulke klaers vermy indien ons as Christene getrou wil bly. En hoeveel beter is dit tog nie om ons baie seëninge as Jehovah se knegte te tel en sodoende ’n gees te behou wat God se goedkeuring wegdra nie!—Galasiërs 6:18.
Teen broers of metgeselle
Knegte van Jehovah moet daarna streef om ’n liefdevolle, behulpsame gesindheid teenoor mekaar te behou. Murmurering kan egter nadelig wees vir ons goeie verhoudinge met ander. Die Leviet Korag en sy ondersteuners het teen Moses en Aäron gemurmureer en ’n jaloerse gees geopenbaar. Jehovah was baie ongelukkig hieroor, en die murmureerders is tereggestel.—Numeri, hoofstuk 16.
Eeue later het die apostel Johannes melding gemaak van die eersugtige Diotrefes, wat ‘met slegte woorde teen hom uitgevaar het’. As Johannes daardie gemeente kon besoek, sou hy die nodige aandag aan daardie murmureerder skenk.—3 Johannes 9, 10.
Ons moet derhalwe waak teen ontevredenheid en nie murmureer oor ons voorregte in die gemeente nie. Dit sal byvoorbeeld verstandig wees om te stry teen ’n gevoel van ontevredenheid wanneer iemand anders aangestel word om na verantwoordelikhede om te sien waarvoor ons ons meer bevoeg ag. Ons kan verkeerd wees, en ons wil beslis nie ’n gees soos die van Korag of Diotrefes hê nie.
Soek hulp uit die Bybel
Omdat ons onvolmaak is en in moeilike tye lewe, voel ons ongetwyfeld almal van tyd tot tyd ontevrede. Maar ons het die nodige hulp, want die Skrif wys vir ons hoe om die gees van ontevredenheid en die neiging om te kla te bowe te kom.
’n Basiese feit wat ons onder die oë moet sien, is dat murmurering nie Jehovah se goedkeuring wegdra nie, daar dit gebrek aan geloof en gebrek aan liefde vir God verraai. Daarom het die apostel Paulus gewaarsku: “Moenie murmureer soos ook sommige van hulle [die Israeliete in die woestyn] gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom” (1 Korinthiërs 10:10; Numeri 14:35-38). Paulus het ook geskryf: “Doen alles sonder murmurering en teëspraak” (Filippense 2:14). Hoe kan ’n mens immers “die gelukkige God” van ganser harte dien en terselfdertyd ’n chroniese klaer wees? (1 Timotheüs 1:11, NW). Ons moet dus Jehovah se beskouing van sake ons eie maak en volle vertroue hê in sy vermoë om ons tevrede en gelukkig te maak. Onthou dat die vrug van sy gees blydskap insluit.—Galasiërs 5:22.
Iets wat ons help om die gees van ontevredenheid te weerstaan, is die besef dat dinge in hierdie lewe voortdurend aan die verander is. Enige rede tot misnoeë is dus hoogstens tydelik. (Vergelyk 2 Korinthiërs 4:17.) Daardie wete behoort ons te help om te alle tye vreugde uit ons diens aan Jehovah te put. In plaas daarvan om aan angs of ontevredenheid toe te gee, wil ons ‘vergenoeg wees met voedsel en klere’ (1 Timotheüs 6:8). Dit is ook gerusstellend om Jehovah se versekering te hoor: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Laat ons dan, veilig en geborge in die sorg van ons hemelse Vader, nie oor ons lewenslot kla nie, maar laat ons ‘tevrede wees met wat ons het’.—Hebreërs 13:5.
Onthou ons geseënde posisie
Voel jy soms ontevrede oor wat jy in jou lewe bereik het? Dink dan gerus aan jou vroeëre status en jou huidige, begunstigde posisie in die geestelike paradys wat ware Christene geniet. (Vergelyk 2 Korinthiërs 12:1-4.) Gesalfde volgelinge van Christus is ‘uit die duisternis geroep tot God se wonderbare lig’. Hulle metgeselle, die “groot menigte”, geniet ook die wonderlike lig van die waarheid en het heerlike vooruitsigte (1 Petrus 2:9; Openbaring 7:9-14). Behoort ons nie tevrede—trouens, onbeskryflik gelukkig—te wees omdat ons geestelike lig geniet en die voorreg het om Jehovah God en ons Koning, Jesus Christus, te ken en te dien nie?
Ons vorm deel van ’n internasionale gemeenskap van broers en susters, ’n groot reklameorganisasie wat deur Jesus Christus, deur middel van “die getroue en verstandige dienskneg”, gerig word. Hierdie wêreldwye broederskap volbring Jehovah se wil deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Mattheüs 24:14, 45-47; 28:19; 1 Petrus 2:17). Watter kragtige redes tot tevredenheid!
As ons egter ontevrede is oor die een of ander aspek van gemeentelike werking, is dit heel moontlik dat ons sekere ontwikkelinge verkeerd verstaan of ’n enigsins verkeerde beskouing het—iets wat beslis nie onmoontlik is onder onvolmaakte mense en selfs toegewyde Christene nie. (Vergelyk Spreuke 16:2; Galasiërs 2:11-14; Filippense 4:2.) Gestel andersyds dat ons gelyk het. Behoort ons dan nie vertroue te hê dat Jehovah deur middel van sy Seun, die Hoof van die gemeente, die nodige veranderinge kan aanbring nie? (Efesiërs 5:22, 23). Hoeveel beter is dit tog om geduldig in plaas van ontevrede te wees!
Wanneer ons peins oor Jehovah se handelinge met sy volk as ’n organisasie, het ons goeie redes om tevrede te wees. Bybelleerstellings is byvoorbeeld baie duidelik gemaak, en dit het Jehovah se volk geestelik opgebou. God se beskouing in verband met rein gedrag is opgehelder, sodat Jehovah se Getuies, ofskoon onvolmaak, uitsonderlike sedes handhaaf. Ons begrip van die werking van die ware Christenorganisasie het in so ’n mate verbeter dat ons Jehovah in ooreenstemming met Skriftuurlike voorskrifte vir gemeentelike organisasie dien (Filippense 1:1). Behoort dit nie by te dra tot ons tevredenheid as toegewyde Christene nie?
Getroue Christene het boonop ’n wonderlike hoop vir die toekoms, een wat ons behoort te help om enige tydelike ontevredenheid te bowe te kom. Die tyd is nou so naby wanneer almal wat asem het Jehovah sal loof! (Psalm 150). Intussen wil ons murmurering vermy. Laat ons eerder ons liefdevolle hemelse Vader met godvrugtige tevredenheid dien.