Jesus se lewe en bediening
Vereer voordat hy gebore is
DIE engel Gabriël het pas vir die jong vrou Maria gesê dat sy ’n seuntjie sal baar wat ’n ewige koning sal word. Maar Maria vra: ,Hoe is dit moontlik, aangesien ek nog nooit met ’n man omgang gehad het nie?’
‘God se heilige gees sal oor jou kom’, verduidelik Gabriël, ,en daarom sal die seuntjie God se Seun genoem word.’ Om Maria te help, sê Gabriël verder: ,Jou bejaarde familielid Elisabet, wat almal gedink het nie kinders kan hê nie, is reeds ses maande swanger.’ Maria glo Gabriël en sê: ,Laat met my gebeur wat u gesê het.’
Kort nadat Gabriël vertrek het, maak Maria haar gereed en gaan kuier vir Elisabet, wat saam met haar man Sagaria in die bergstreek van Judea woon. Dit is ’n lang reis van omtrent drie of vier dae van Maria se huis in Nasaret af.
Wanneer Maria eindelik by Sagaria se huis kom, gaan sy in en groet hulle. Toe word Elisabet met heilige gees vervul, en sy sê vir Maria: ,Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die kind wat jy sal hê. Wat ’n voorreg tog dat die moeder van my Heer na my toe kom! Kyk, toe ek hoor hoe jy my groet, het die kindjie in my gespring van vreugde.’
Maria is verheug en sê: ,Van nou af sal almal my gelukkig noem, omdat God groot dinge vir my gedoen het.’ Maria bly omtrent drie maande by Elisabet, en sy is ongetwyfeld ’n groot hulp in hierdie laaste weke van Elisabet se swangerskap. Dit is inderdaad goed dat hierdie twee getroue vroue, wat albei met God se hulp swanger is, in hierdie geseënde tyd van hulle lewe saam kan wees!
Het jy opgelet dat Jesus selfs voor sy geboorte vereer is? Elisabet het hom „my Heer” genoem, en haar ongebore kind het van vreugde gespring toe Maria opgedaag het. Daarenteen het ander Maria en haar ongebore kind sonder respek behandel, soos ons later sal sien. Maar in ons volgende artikel sal ons meer omtrent Elisabet se kind, Johannes, leer. Lukas 1:26-56.
♦ Wat het Gabriël gesê sodat Maria kon verstaan hoe sy swanger sou word?
♦ Hoe is Jesus vereer voordat hy gebore is?
♦ Hoe lank het Maria by Elisabet gebly, en waarom was dit gepas dat Maria gedurende hierdie tyd by Elisabet gebly het?