Werke van geloof lei tot Koninkryksvermeerdering
KONINKRYKSVERMEERDERING is vandag ’n werklikheid omdat Jehovah sy getroue getuies seën. Ondervindinge wat by die onlangse „Koninkryksvermeerdering”-byeenkomste vertel is, gee ons ’n idee van die werke van geloof wat tot hierdie teokratiese groei aanleiding gee. Onder hierdie ondervindinge was die volgende:
Uitsonderlike werke van geloof is in die veldbediening te sien. ’n Pasgedoopte broer in Korea wou byvoorbeeld ’n volle aandeel in die intekeningkampanje hê. Hy het sy sakekennisse opgesoek en in net een maand 76 intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! verkry. Dit het hom so aangemoedig dat hy in nege maande 656 intekeninge gekry het—tot 164 in ’n enkele maand!
Hoe prysenswaardig is dit tog wanneer jongmense die Koninkryksprediking ernstig opneem! In Japan het ’n jong Koninkryksverkondiger wat in standerd een is, gehoor dat sy klas na ’n Sjinto-heiligdom sou gaan vir ’n kunsles. Met sy moeder se hulp het hy vir sy onderwyseres ’n brief geskryf en haar toe gebel om te verduidelik waarom hy nie kon saamgaan nie. Die onderwyseres was hoogs beïndruk en het vir die seuntjie se moeder gesê dat sy in haar skooljare ’n verkondiger was maar dat sy weens gesinsteenstand tou opgegooi het. Waartoe het die seuntjie se getrouheid gelei? Die onderwyseres het weer ’n aktiewe Getuie geword!
’n Vyfjarige seuntjie in Kenia het vir sy moeder, ’n pionier, gesê dat hy ’n spesiale pionier wil word. Sy het gemeen dat hy nie eens ’n gewone pionier kon wees nie omdat hy nie ’n Bybelstudie hou nie. Sy het aan die hand gedoen dat hy My boek met Bybelverhale neem en ander kinders daaruit probeer leer. Hy het ’n paar kinders genooi om die Bybel saam met hom te studeer, en kort voor lank het tien gereeld die studie bygewoon. As sy jong studente nie die hersieningsvrae kon beantwoord wat hy aan die einde van elke studie gevra het nie, het hy weer die materiaal behandel. Agt van die kinders het weldra gemeentevergaderinge bygewoon. Maar wat van die ander twee? Wel, hulle was nog te klein.
Vergaderplekke is noodsaaklik solank Koninkryksvermeerdering voortduur. Toe sekere Getuies in Tsjaad besluit het om ’n Koninkryksaal te bou, het dit die kerkmense wat oorkant die straat byeengekom het so ontstig dat hulle ’n hele paar keer die broers se handewerk afgebreek het. Die teenstanders het hulle uiteindelik so geskaam vir hulle onchristelike gedrag dat hulle opgehou het om die Getuies te hinder, en die saal is voltooi. Hoe bly was die gemeentetjie tog toe 73 vir die Gedenkmaal opgedaag het!
Ander blyke van geloof in aksie dra ook tot Koninkryksvermeerdering by. In Papoea Nieu-Guinee was ’n groep belangstellendes, waaronder 15 mans, vrouens en kinders, vasbeslote om ’n streekbyeenkoms by te woon wat 110 kilometer van hulle huise af gehou sou word. Om daar te kom, moes hulle ’n boomkano met ’n buiteboordmotor gebruik. Maar toe die weer guur word, moes hulle sterk rivierstrome en ’n onstuimige see trotseer. Hulle moes met mag en mening water uitskep, maar het uiteindelik ná tien uur hulle bestemming bereik. En dink net daaraan—die persoon wat hierdie ekspedisie gereël het, is blind! Maar hulle geloof is ruim beloon by daardie ryk, geestelike fees!