Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 1/15 bl. 21
  • Insig in die nuus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Insig in die nuus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die bedreiging van „apokalips”
  • Armageddon ​—Wat is dit?
  • Tienermoeders
  • Armageddon—Wat dit nie is nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Armageddon—wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Armageddon—’n gelukkige begin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wat is die oorlog van Armageddon?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 1/15 bl. 21

Insig in die nuus

Die bedreiging van „apokalips”

Indien bomme met ’n plofkrag van 5 000 miljoen ton TNT tydens ’n kernoorlog gebruik sou word, sal die gevolglike rook en roet​—veral van groot stede—​die noordelike halfrond maande lank in duisternis hul en ysige, lewensgevaarlike weer veroorsaak. So lui die kernwinterteorie. „As die ontleding korrek is”, sê Nobelpryswenner Herbert A. Simon in die tydskrif Science, „kan geen nasie ’n grootskaalse kernaanval teen selfs ’n ongewapende vyand doen sonder om selfmoord te pleeg nie.”

Talle kenners meen dat hierdie teorie ’n groot dryfveer tot kernontwapening sal wees as dit bewys kan word. „Erkenning van die kernwinterprobleem is, ofskoon skrikwekkend, ’n wonderlike stukkie geluk ter elfder ure”, skryf Thomas Powers in The Atlantic. Maar sal dit ’n einde maak aan die wapenwedloop? Nouliks. Powers voer aan dat die supermoondhede verplig sal wees om „’n hele nuwe geslag wapentuig” te vervaardig met „’n baie groter getal baie kleiner, hoogs akkurate wapens wat teikens in stede kan vernietig sonder om die stede rondom die teikens te verbrand”. Hy meen dat die kernwinterprobleem „nie die moontlikheid van ’n groot oorlog uitskakel nie . . . , maar ontwerpers wel in ’n nuwe rigting stuur, weg van apokalips af.”

In plaas dat dit hoop bied, wek die bedreiging van ’n kernwinter bloot nuwe vrese. Sal die supermoondhede nie meer geneig wees om „veilige” wapens te gebruik om hulle geskille te besleg nie? Sal strydende nasies nie dalk uit wanhoop buitendien kernwapens gebruik om ’n neerlaag te voorkom nie, al kan dit hulle eie ondergang beteken? Die selfsugtige krygstrategieë van die nasies bied aan die almagtige God nog ’n rede om sy oorlog van Armageddon te bring. Dit gaan hy eersdaags doen, en sy Woord verseker ons dat ,’n koning nie verlos word deur ’n groot leër nie’.​—Psalm 33:16; Openbaring 16:14, 16.

Armageddon ​—Wat is dit?

In ’n televisiedebat het President Ronald Reagan van die V.S.A. gesê dat niemand weet of Bybelprofesieë bedoel „dat Armageddon duisend jaar weg is en of dit oormôre gaan kom nie”. Maar waar hy sommige van Reagan se verklarings saamvat, sê Andrew Lang, navorsingsdirekteur van die Christic Institute, ’n ekumeniese sentrum vir gemeenskapsbelang: „Ons het ’n reeks stellings wat lui dat Armageddon in ons geslag kan plaasvind, dat Armageddon in die Midde-Ooste kan plaasvind en dat Armageddon Sowjet-magte kan insluit.”

Die Bybel toon dat „die konings van die aarde en die hele wêreld” by Armageddon versamel sal word vir vernietiging, hoewel ’n „groot menigte” van God se gunsgenote behoue sal bly (Openbaring 7:14,15; 16:14, 16; 19:19-21). Armageddon (Hebreeus, „Harmagedon”, wat „Berg van Megiddo” beteken) is nie ’n letterlike plek in die Midde-Ooste nie. En al die leërs van die nasies kan ook nie in die gebied rondom Megiddo, ’n eertydse, Bybelse stad, ontplooi word nie. Armageddon is dus ’n situasie, dit wil sê, die wêreld se stellinginname teen Jehovah God. Hierdie situasie sal op die „teken” volg wat ons tans aanskou. Armageddon sal in ons geslag plaasvind.​—Mattheüs 24:3-15, 21, 34.

Tienermoeders

„Daar is ’n sterk neiging onder die van ons wat verontrus is oor die styging in swangerskappe en kinderbaring onder Swart tienderjariges om die probleem te probeer oplos deur ons op die pragmatiese sy van die saak toe te spits”, skryf Swart rubriekskrywer William Raspberry. Wat bedoel hy? Daar word vir tienermeisies gesê om nie babas te hê nie „omdat dit hulle opvoeding onderbreek, hulle beroepsvooruitsigte benadeel en hulle lewenskanse skaad. Hulle babas sal waarskynlik ’n lae geboortemassa hê en aan leergebreke onderworpe wees.” Maar, sê Raspberry, „wat my verbaas en ontstel, is hoe selde die kwessie van moraliteit in hierdie besprekings te berde kom”.

Tienderjariges moet inderdaad geleer word dat promiskuïteit, wat dikwels tot swangerskap lei, ’n skending van die Bybel se sedewette is (Galasiërs 5:19-23). Hulle moet ook die beginsels in God se Woord rakende die huwelik en die grootmaak van kinders geleer word. Die apostel Paulus het getoon dat Christene selfbeheersing moet aankweek en eers moet trou wanneer hulle „oor die jeugdige leeftyd is”, wanneer seksuele begeertes begin opwel of sterk word (1 Korinthiërs 7:8, 9, 36). Hedendaagse studies, wat toon dat volwassenes die beste ouers maak, bevestig hierdie sedewette en -beginsels.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel