“Vervul jou bediening”
“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel . . . vervul jou bediening.”—2 TIMOTHEÜS 4:1, 5.
1. Wat was die verhouding tussen Paulus en Timotheüs?
TOE die apostel Paulus sy tweede brief aan Timotheüs geskryf het, het Paulus sy doel as ’n bedienaar van God al sowat 30 jaar nagejaag. Hy het baie seëninge van Jehovah ontvang (2 Timotheüs 1:2). Paulus het Timotheüs gekies om ’n intieme medewerker op sy reise te wees waartydens hy gemeentes bedien het. Saam het hulle jare lank vrugbare ondervindinge geniet.—Handelinge 16:1-5.
2. Wat is die betekenis van Paulus se woorde in 2 Timotheüs 4:6-8?
2 Paulus se bediening was nou besig om ten einde te loop. Hy het geskryf: “Ek word alreeds as ’n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Timotheüs 4:6-8). Dit het geïmpliseer dat Paulus se dood ophande was. Daar word gemeen dat Paulus om die lewe gebring is tydens Nero se vervolging in 66 G.J. Watter gedagtes sou by Paulus opkom toe hy die dood tegemoetgegaan het? Moontlik die volgende: Het ek my goed van my taak gekwyt? Het ek my bediening met welslae vervul? Ja, Paulus kon uiting gee aan sy oortuiging dat dit die geval was! Sy geloof was baie sterk, en hy was seker dat hy die prys van die hoë roeping sou verkry. Watter genoegdoening moes hy tog gesmaak het omdat hy nooit van sy toewysing afgewyk het nie!
3. Watter goeie ding kon Paulus voor sy dood vir Timotheüs doen?
3 Paulus het nog ’n bietjie tyd gehad om iets goeds te doen. Watter goeie ding kon Paulus vir Timotheüs doen voordat hy ontslaap het? Onder inspirasie het hy belangrike raad gegee. Ons lees sy gedagtes en woorde in die boek Tweede Timotheüs. Dit is ook sy laaste brief in die Skrif wat ons tot nut strek.
4. Wat het Paulus Timotheüs vermaan om te doen?
4 Timotheüs het nog nie sy toewysing in die bediening voltooi nie, en daarom het Paulus geskryf: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk; verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening.—2 Timotheüs 4:1-5.
5. Waarom is Paulus se raad vir ons van besondere belange?
5 Daardie goeie raad moes vir Timotheüs van groot voordeel gewees het. Maar sal ons ook daarby baat vind? Ons lewe in “die laaste dae” waarvan Paulus geskryf het. Baie mense het vandag ‘’n gedaante van godsaligheid, maar verloën die krag daarvan’ (2 Timotheüs 3:1-5). Sulke persone is geneig om slegs te luister na “leraars” wat hulle in hul gehoor streel. Maar benewens die verkondiging van die woord in die gemeente, rus daar ’n verpligting op ware Christene om dit in die openbaar aan almal te verkondig en na diegene te soek wat op “die woord” sal reageer. Hierdie raad is dus vandag van betekenis vir Christengetuies van Jehovah.
Hoe om die bediening te vervul
6. (a) Waarom moet ons ‘die woord verkondig?’ (b) Wat is die voordele as ons ag gee op hoe ons ons bediening verrig?
6 Die bediening het verskeie fasette; daar is baie dinge wat die bedienaar moet doen. Paulus het eerstens gemeld: “Verkondig die woord.” Dit is die woord wat Jehovah besluit het om aan sy dienaars te openbaar. Dit is die woord van waarheid waarvan Jesus gepraat het. Jehovah maak bekend wat sy boodskap vir die mensdom
op ’n bepaalde tydstip is en hy het sy getuies op die aarde om sy kant van die saak te stel. Dit is Jehovah se gebruik om die waarskuwingsboodskap te laat hoor voordat hy tot optrede oorgaan (2 Kronieke 36:15, 16; Jesaja 42:9; 43:12; Jona 3:2-4). Sy boodskap het goeie gevolge vir diegene wat daarna luister; hulle kan ’n veilige hawe vind. Diegene wat nie daarop ag slaan nie, dra die gevolge wanneer Jehovah tot optrede oorgaan om sy oordeel te voltrek. Hulle moet self hulle verantwoordelikheid dra (Handelinge 20:20, 21, 26, 27). Die verstandige weg vir ’n bedienaar van God is egter: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”—1 Timotheüs 4:16.
7. Waarom is dit ’n dringende werk selfs wanneer toestande ongunstig lyk?
7 Die predikingswerk word onder verskillende toestande gedoen, maar dit moet voortgaan. “Hou aan tydig en ontydig [“in gunstige tyd, in moeilike tyd,” NW]”, het Paulus geskryf. Die boodskap kan vir mense die lewe beteken. Ongeag die omstandighede waarin die getroue bedienaar homself bevind, beskou hy die boodskap as dringend en vind hy maniere om die woord te verkondig, selfs al ontstaan daar teenstand teen die predikingswerk. Dit blyk duidelik uit die voorbeeld van Jesus en die verslag in die Bybelboek Handelinge.
8. (a) Wat kan die bedienaar help om die woord te verkondig? (b) Waarom is teregwysing ’n deel van die bediening?
8 Om die woord te verkondig, hetsy binne of buite die gemeente, moet die bedienaar vertroud wees met die Woord van God en ’n studie daarvan maak. Hy moet tyd afstaan aan studie, oordenking en bepeinsing en daarna streef om dit goed te verstaan. Die prediking moet berus op vertroudheid met die leerstellings van die waarheid. Paulus het vir Titus gesê dat die opsiener moet “vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Titus 1:9). God se Woord dien as teregwysing vir diegene wat nie optree in ooreenstemming met wat Jehovah vereis nie en help die oortreder vir sy eie beswil reg. Dit is alles ’n deel van die vervulling van die bediening.
Vermaning is nodig
9. Waarom is Christelike vermaning nodig?
9 Soms het diegene wat nie alles doen wat hulle moet doen nie, of wat ’n gebrek aan waardering en ywer vir Jehovah se aanbidding het, herinneringe nodig. Christelike vermaning word hoog op prys gestel deur diegene met liefde vir Jehovah. Hulle hoor graag wat Jehovah sê en beskou dit as ryk geestelike voedsel (Jesaja 55:3; Hebreërs 12:5, 6). Dit is dus ’n goeie diens aan ons medewerkers—en ook aan mense wat die neiging toon om Jehovah te aanbid—as ons hulle met God se woord vermaan. Paulus self het mense dikwels vermaan.—Romeine 15:30; 16:17; 1 Korinthiërs 1:10, 11; 1 Timotheüs 4:13; 6:11, 12; Hebreërs 10:24.
10. Waarom is lankmoedigheid nodig wanneer daar vermaan word?
10 Die toegewyde bedienaar moet ook weet hoe om die vrug van God se gees aan te kweek. Dit verg baie geduld en volharding om diegene te vermaan wat nie geredelik gehoor gee nie. Sommige kan selfs ’n gebrek aan waardering toon vir die pogings wat aangewend word om hulle te vermaan en te bemoedig. Dit moet nietemin gedoen word, veral deur alle Christenouere manne. Die onderrigkuns speel ’n rol. Hoe meer ’n mens Jehovah se Woord gebruik, des te bedrewener word hy in die gebruik daarvan. Wanneer ’n onderrigter ’n leerling leer ken, behoort hy inligting aan hom te kan oordra. Paulus gee ’n goeie beskrywing van die regte metode in 1 Thessalonicense 5:14: “Ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”
Keer jou van afvalliges af
11. Wat moet ons omtrent afvalliges doen?
11 Paulus wou hê dat Timotheüs sy ewewig moes bewaar, of in alles nugter moes bly. Hy moes nie word soos diegene wat nie die gesonde leer verdra het nie en hulle oor van die waarheid afgekeer het. Die ware bedienaar van God raak nie vandag onnodig bekommerd en word nie maklik van stryk gebring in sy bedrywighede wanneer hy vind dat sommige hulle van die Woord van God en sy gesonde leer afkeer nie. Ons is gewaarsku dat daar afvalliges sal wees, asook mense wat bloot in die gehoor gestreel wil wees. Raad soos dié wat gevind word in 2 Johannes 9-11, 1 Korinthiërs 5:11-13 en 2 Timotheüs 3:5 laat ons nie toe om te assosieer met diegene wat hulle van die waarheid afkeer nie. Ons koop of lees ook nie hulle geskrifte nie. Daar is baie ander wat graag die waarheid hoor, en dit is met hulle dat ons ons Christelike omgang geniet.—1 Timotheüs 6:20, 21.
12. Waarom neem die Christenbedienaar hierdie ferm standpunt in?
12 Paulus het gesê: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word” (2 Timotheüs 3:13). In die lig van daardie waarskuwing is die Christenbedienaar dit nie met sulke persone eens nie. Hy slaan ag op die apostel se goeie raad: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:14-17). Gereelde studie van die Woord van God is ’n seën vir diegene wat daarna streef om hulle bediening te vervul.
Die seëninge van Christelike omgang
13. Hoe was dit vir Timotheüs voordelig om saam met Paulus in die bediening te werk, en hoe kan ons daarby baat vind?
13 Dit was vir Timotheüs ’n groot seën om jare lank met Paulus te assosieer en om te sien hoe ’n getroue, volwasse bedienaar van God hom gedra. Paulus het hulle ondervindinge as ’n goeie herinnering vir Timotheüs gebruik: “Jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Anthiochië, in Ikonium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos. En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timotheüs 3:10-12). Hoewel ons nie vandag regstreeks met Paulus in aanraking is nie, kan die breedvoerige verslag van sy handelwyse wat in die Bybel aangetref word, ons ook help.
14. Waarom moet ons bereid wees om verdrukking te ly?
14 Paulus het sy vervolginge en lyding gemeld, en sy raad aan die Christenbedienaar is om bereid te wees om verdrukking te ly (2 Timotheüs 4:5). Dit is dikwels nodig om ’n mate van vervolging te verduur om ons bediening te vervul. Dit is ’n voorreg om onkreukbaarheid tydens beproewing te bewaar en om Jehovah se hart te verbly (Spreuke 27:11). ’n Getuienis kan tot Jehovah se lof gegee word!
Die werk van ’n evangelis
15. Waarom moet ons evangelisasiewerk doen terwyl ons ons bediening vervul?
15 Evangelisasiewerk neem ’n groot deel van die getroue Christenbedienaar se tyd in beslag. Jesus het gesê: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Hy het dit duidelik gestel dat die einde eers sou kom wanneer die evangelie voldoende verkondig is. Paulus het die voorreg gehad om die evangelie aan baie gelowiges dwarsdeur die Romeinse Ryk te verkondig. Dit het meegebring dat nuwe gemeentes gestig en opsieners aangestel is. Hulle het weer saam met hulle Christenbroers en -susters aan die evangelisasiewerk deelgeneem sodat die predikingswerk wyd en syd gedoen is. ’n Groot deel van die werk word gedoen soos Paulus dit beskryf het—‘onderrigting in die openbaar en van huis tot huis’ (Handelinge 20:20, NW). Daar was destyds goeie resultate, en daar is vandag uitstekende resultate wanneer die Christelike prediking wêreldwyd gedoen word.—Johannes 14:12.
16. Wat toon dat baie Paulus se raad in 2 Timotheüs 4:5 toepas?
16 Baie benut met geloof die geleenthede om hulle bedrywighede in die evangelisasiewerk uit te brei. Duisende het sendelinge geword, en honderdduisende is in een of ander vertakking van die pionierdiens. In 205 lande is daar nou meer as 2 650 000 evangeliste in meer as 46 000 gemeentes, en die getal neem toe. Hierdie wonderlike dinge is bewys dat Jehovah se toegewyde dienaars hulle goddelike opdrag ter harte neem en hulle bediening “vervul”.
Die volvoering van die werk
17. Wat sien Jehovah graag dat sy dienaars doen omtrent die werk wat vandag aan hulle opgedra is?
17 Jehovah het ’n bediening aan sy gesalfdes opgedra, en die “groot menigte” werk skouer aan skouer met hulle. In Esegiel hoofstuk 9 word die werk profeties vergelyk met die aanbring van ’n teken op die voorhoofde van diegene wat sug en steun. Aan die hand van daardie profesie weet ons dat die tyd gaan aanbreek wanneer die man met die skrywer se inkpot sal sê: “Ek het gedoen soos U my beveel het.” Jehovah is ingenome met sy dienaars wanneer hulle doen wat hy hulle beveel.—Esegiel 9:4, 11; Genesis 6:22; 1 Korinthiërs 4:2.
18, 19. Wat is sommige maniere waarop jy nou Paulus se vermaning in 2 Timotheüs 4:1-5 kan toepas?
18 Wanneer ons sien hoedat wêreldtoestande ontwikkel volgens die profesieë oor hierdie laaste dae, kan ons nie anders as om te besef hoe dringend die predikingswerk is wat aan ons opgedra is nie. Lewens is op die spel. Die insameling vind plaas en Jehovah versnel dit op die bestemde tyd (Jesaja 60:22, NW). Wat jou verantwoordelikheid as ’n toegewyde dienskneg van Jehovah ook al is, jy moet jou daarop toelê om hom ten volle te behaag (Kolossense 1:10; 3:23, 24). Hou die werk wat aan jou opgedra is in gedagte en probeer om dit te volvoer. As jy sekere pligte by die Koninkryksaal het, moet jy die werk deeglik doen. As jy ’n toewysing kry om saam met ’n Gemeentelike Boekstudiegroep te werk, moet jy ten nouste met die ander saamwerk en hulle vermaan en bemoedig. As jy ’n pionier of ’n sendeling is, moet jy sorg dat jy hard werk om jou diensdoelwitte te bereik.—Romeine 12:6-9.
19 Jy kan jouself ook afvra: Kan ek meer doen om ander Christene, veral nuwelinge in die gemeente, te help en hulle op te bou? As ’n deel van jou bediening diens as ’n ouere man in die gemeente is, moet jy die voorkoms van “die kudde” ken en goed omsien na almal wat daaraan verbonde is. Skenk aandag daaraan dat niemand onbedrywig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus is nie (2 Petrus 1:5-8). Let bowenal op na wat jy in die evangelisasiewerk doen ten einde ‘jou bediening te vervul’.
Onthou jy?
◻ Wat was Paulus se situasie toe hy Tweede Timotheüs geskryf het?
◻ Waarom is dit noodsaaklik om die woord te verkondig?
◻ Waarom is vermaning belangrik?
◻ Wat moet met valse leraars gedoen word?
◻ Waarom is evangelisasiewerk vandag so belangrik?
[Prent op bladsye 16, 17]
Paulus se tweede brief het Timotheüs gehelp om ‘sy bediening te vervul’