‘Julle behoort leraars te wees’
‘’n Dienaar van die Here moet bekwaam wees om ander te leer.’—2 TIMOTHEÜS 2:24, NAV.
1, 2. Op watter besondere wyse moet Christene Jesus navolg?
EEN lentedag in 31 G.J. het Jesus ’n opelugtoespraak gehou voor ’n groot, gemengde skare wat byeengekom het om te luister hoe hy ander leer. Hy het sonder die hulp van hedendaagse mikrofone gepraat en die natuurlike akoestiek van ’n berghang benut om homself hoorbaar te maak. En die dinge wat hy gesê het, was verbasend. Toe hy klaar was, het sy hoorders saamgestem dat hulle nog nooit tevore so iets gehoor het nie. Die verslag deel ons mee: “Die skare [was] verslae oor sy leer” (Mattheüs 7:28). By hierdie en talle ander geleenthede het Jesus getoon dat hy inderdaad ’n meesteronderrigter was.
2 Hy het daarbenewens vir sy volgelinge gesê dat hulle ook leraars of onderrigters moes wees. Hy het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Die apostel Paulus het ook beklemtoon dat Christene ’n verantwoordelikheid het om ander te leer. Hy het vir die Hebreeuse Christene gesê dat hulle “vanweë die tyd leraars behoort te wees” (Hebreërs 5:12). Hy het ook vir Timotheüs gesê: “’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer.”—2 Timotheüs 2:24, NAV.
3. Wanneer word daar van ’n Christen verwag om ander te leer?
3 Waarom hierdie klem op onderrigting? Wel, Christene moet weet hoe om ander te leer wanneer hulle van huis tot huis en op straat preek, of wanneer hulle teruggaan om belangstellendes te besoek en Bybelstudies met hulle te hou. Hulle probeer om al hulle kontak met ander te gebruik as geleenthede om te onderrig. (Kyk Johannes 4:7-15.) ’n Christenbedienaar moet boonop onderrig wanneer hy die gemeente by die Koninkryksaal toespreek of wanneer hy iemand persoonlik raad gee. En ryp vroue word vermaan om jonger vroue te leer “wat goed is” (Titus 2:3-5). Christenouers probeer ook om hulle kinders groot te maak in “die tug en vermaning van die Here”—iets wat baie onderrigvermoë verg (Efesiërs 6:4; Deuteronomium 6:6-8). Geen wonder dat die apostel Paulus gesê het dat ’n Christen ‘bekwaam moet wees om ander te leer’ nie!
4, 5. Watter hulp het ons om goeie onderrigters te word?
4 Maar dit is nie maklik om ander te leer nie. Dit is ’n kuns (2 Timotheüs 4:2, NW). Hoe kan Christene, onder wie daar “nie baie wyse na die vlees” is nie, die kuns aanleer? (1 Korinthiërs 1:26). Dit kan slegs met Jehovah se hulp gedoen word (Mattheüs 19:26). Jehovah gee wysheid aan diegene wat daarom vra (Jakobus 1:5). Sy heilige gees onderskraag diegene wat sy wil wil doen, en hy het vir ons die Bybel gegee, wat ‘nuttig is tot lering’ en ons kan help om ‘toegerus te wees vir elke goeie werk’, onder meer onderrigting.—2 Timotheüs 3:16, 17.
5 Die Bybel help ons om beter onderrigters te word. Dit doen dit veral deur getrou die bediening van Jesus te beskryf, wie se onderrigvermoëns sy tydgenote so verbaas het (Markus 1:22). As ons uitvind wat hom so ’n goeie onderrigter gemaak het, kan ons hom probeer navolg. Daar is in werklikheid twee aspekte wat ons in ag moet neem waar dit by onderrigting kom: die onderrigter se eienskappe en die wyse waarop hy onderrig gee. Kom ons kyk hoe dit waar was in die geval van Jesus, en wat ons uit sy voorbeeld kan leer.
Die onderrigter . . .
6. Wat is een aspek van Jesus se onderrigting wat vir ons uiters belangrik is om na te volg? Waarom?
6 By een geleentheid het Jesus gesê: “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het” (Johannes 7:16). By ’n ander geleentheid het hy gesê: “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28). Jesus het sodoende die aandag op sy hemelse Vader gevestig. Hoewel hy die Messias was, was sy beweegrede die verheerliking van Jehovah se naam, nie sy eie nie (Mattheüs 6:9; Johannes 17:26). Hierdie nederige gesindheid het daartoe bygedra om Jesus ’n besondere onderrigter te maak. Hedendaagse Christenonderrigters moet soortgelyke nederigheid besit. Hulle beweegrede is om Jehovah as die Bron van hulle leer te loof, nie hulself as onderrigters nie. Hulle leerlinge word dus God se dienaars, nie die dissipels van ’n mens nie.—Vergelyk Handelinge 20:30.
7, 8. (a) Watter goeie gesindheid het Jesus teenoor die waarheid gehad? (Psalm 119:97). (b) Hoe sal ’n soortgelyke gesindheid ons onderrigvermoë verbeter?
7 Hou ook in gedagte dat Jesus gekom het om “vir die waarheid te getuig”, en dat hy ’n deeglike kennis van sy onderwerp gehad het (Johannes 17:17; 18:37). Op die ouderdom van 12 het hy al diep in Skriftuurlike sake belanggestel (Lukas 2:46, 47). Dit is duidelik dat Jesus die waarheid liefgehad het (Psalm 40:9). Hierdie diep insig en waarheidsliefde het Jesus daarvan oortuig dat ander sy boodskap moes hoor, en hy was vasbeslote om dit so effektief moontlik aan ander te leer.—Johannes 1:14; 12:49, 50.
8 Wat van ons? Ons weet waarskynlik heelwat van die waarheid af. Maar het ons dit lief? Wy ons tyd aan studie sodat ons dit meer bedrewe kan gebruik? Geniet ons dit om met ander daaroor te praat? Namate ons kennis van die waarheid verbreed, sal ons liefde daarvoor toeneem, en so ook ons geesdrif om ander daarvan te vertel. Die psalmis het gesê dat die man wie se ‘behae in die wet van Jehovah is en wat sy wet dag en nag oordink’ gelukkig is. Die Bybel sê van so ’n man: “Alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit”, en dit sluit onderrigting in.—Psalm 1:1-3.
9. Watter ander eienskap van Jesus het tot sy goeie onderrigvermoë bygedra?
9 Maar goeie kennis van ’n onderwerp alleen sal ons nie noodwendig bedrewe leraars of onderrigters maak nie. Toe jy op skool was, het jy miskien ’n onderwyser gehad wat sy vak goed geken het, maar nie ’n goeie onderwyser was nie. Waarom? Daar het moontlik ’n eienskap in hom ontbreek wat Jesus oorvloedig gehad het: ’n innige liefde vir en besorgdheid oor ander. Die verslag deel ons mee wat by een geleentheid gebeur het: “Toe [Jesus] die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Mattheüs 9:36). Hy was nooit te moeg of te besig om ander te help nie (Johannes 4:6-26). Hy was vriendelik en saggeaard en het hulle swakhede geduldig verdra. Hy wou help (Lukas 5:12, 13). Die Christenonderrigter het vandag dieselfde eienskappe nodig as hy ook welslae wil behaal.
10. Waarom is ’n goeie voorbeeld onontbeerlik vir suksesvolle onderrigting?
10 Let ook op ’n vierde ding wat Jesus as ’n onderrigter onderskei het. “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie” (1 Petrus 2:22, NAV). Hy het nooit iets gedoen wat afbreuk sou doen aan sy onderrigting nie. Is dit ook waar van ons? Paulus het aan die Romeine geskryf: ‘Jy dan, wat ’n ander leer “dat ’n mens nie mag steel nie”, steel jy?’ (Romeine 2:21). Is die ouere man wat vir die gemeente die belangrikheid van velddiens leer eweneens self bedrywig in die velddiens? Het die een wat ’n toespraak hou waarin hy ander aanspoor om die Bybel te lees self ’n Bybelleesprogram? In sommige situasies kan gedrag alleen, sonder enige woorde, ’n teenstander ‘win’ (1 Petrus 3:1). Dade kan luider spreek as woorde. As ons dade ons woorde loën, sal ’n leerling gou die verskil raaksien en sal ons onderrigting waarskynlik tevergeefs wees.
11. Watter verdere aspek van onderrigting word hier bespreek?
11 Die onderrigter se begeerte om Jehovah te loof, sy begrip van en liefde vir die waarheid, sy vriendelike besorgdheid oor ander en sy goeie voorbeeld is alles onontbeerlik om ’n goeie onderrigter of leraar te wees. Opregte leerlinge word aangetrek deur sulke eienskappe al is die onderrigter se leerwyse en -tegnieke nie besonder goed nie. Onderrigting is nietemin ’n kuns, en ’n bespreking van leerwyses en -tegnieke kan ons onderrigting verbeter. Beskou enkele van die tegniese aspekte van Jesus se onderrigting en kyk of dit jou kan help om ’n beter onderrigter te wees.
. . . en sy onderrigting
12. (a) Watter kenmerk van Jesus se onderrigting is opvallend in Mattheüs 5:3-12? (b) Hoe kan jy dit toepas om jou onderrigvermoë te verbeter?
12 Lees gerus die eerste paar verse van Jesus se Bergpredikasie om ’n idee van sy onderrigting te kry (Mattheüs 5:3-12). Wat tref jou dadelik? Wel, Jesus het sy woorde versigtig gekies. Die reeks kort sinne wat begin met die woorde “Salig is . . . ” is ’n onvergeetlike inleiding. Maar let ook op: Hy gebruik nie ingewikkelde, hoogdrawende woorde of sinne nie. Hy het diep waarhede gestel, maar hulle in eenvoudige taal uitgedruk. Hier is ’n geheim van doeltreffende onderrigting: EENVOUD. Lees deur die res van Jesus se redevoering en let op enkele ander voorbeelde van diep waarhede wat eenvoudig en duidelik gestel is (Mattheüs 5:23, 24, 31, 32; 6:14; 7:12). Dink dan hoe jy sommige diep waarhede, soos die Tye van die Nasies, of waarom die Bybel ’n hemelse sowel as ’n aardse hoop voorhou, eenvoudig kan verduidelik.
13, 14. Hoe het illustrasies Jesus se woorde laat lewe?
13 Lees nou Mattheüs 5:14-16. Jesus spoor sy nederige hoorders aan om die waarheid deur hulle goeie woorde en dade uit te dra. Hierdie gedagte het hulle moontlik verbaas. In daardie dae is die skrifgeleerdes en Fariseërs beskou as die leraars van die Joodse nasie. Maar Jesus het die gedagte beklemtoon, sodat dit baie redelik klink. Hoe? Deur ’n meesterlike illustrasie te gebruik. Hier het ons ’n waardevolle leerhulp wat Jesus dikwels gebruik het: ILLUSTRASIES.
14 Waarom illustrasies? Omdat ons verstand die beste in beelde dink. En deur van bekende dinge gebruik te maak, kan illustrasies geestelike begrippe makliker maak om te snap. Jesus het Jehovah, die Hoorder van die gebed, gevolglik vergelyk met ’n vader wat goeie dinge aan sy kinders gee. Die moeilike pad na die lewe is beskryf as ’n nou poort tot ’n smal weg. Valse profete is vergelyk met wolwe wat hulle as skape vermom of met bome wat slegte vrugte dra (Mattheüs 7:7-11, 13-21). Hierdie lewensgetroue illustrasies het Jesus se woorde laat lewe. Sy lesse het onvergeetlik geword.
15. Verstrek voorbeelde van hoe Christene vandag illustrasies kan gebruik om hulle onderrigting te verbeter.
15 Hedendaagse Christenonderrigters gebruik eweneens illustrasies om nuwe gedagtes vir ander aanneemliker te maak. Sommige het die onredelikheid van die helvuurleerstelling toegelig deur vir die hoorder te vra wat hy sou dink van ’n ouer wat sy ongehoorsame kind straf deur sy hand in ’n vuur te steek. Die waarheid dat betreklik min lede van die mensdom hemel toe gaan terwyl die meeste die hoop het om vir ewig op aarde te lewe, kan toegelig word deur ’n nasie waar slegs ’n paar lede die regering uitmaak, terwyl die meeste die voordele van daardie regering geniet. Maar ’n illustrasie moet gewoonlik ontleen word aan dinge wat vir die hoorder bekend is. Dit moet nie ’n lang verduideliking verg of so lank wees dat die les daarvan oorskadu word nie.
16. Watter soort illustrasies is veral duidelik?
16 Moenie vergeet dat illustrasies ook aanskoulik kan wees nie. Toe daar vir Jesus gevra is of dit reg is om aan die keiser belasting te betaal, het hy om ’n muntstuk gevra, ’n denarius, en dit gebruik om sy antwoord toe te lig (Mattheüs 22:17-22). Toe hy die nodigheid vir nederigheid beklemtoon het, het hy die punt toegelig deur ’n kindjie nader te roep (Mattheüs 18:1-6). En toe hy van volkome toegewydheid gepraat het, het hy na ’n weduwee gewys wat alles wat sy gehad het—twee geldstukkies—in die tempel se skatkis gegooi het (Markus 12:41-44). Sommige sprekers op Christenvergaderinge by die Koninkryksaal vind skryfborde, prente, tabelle en skyfies eweneens baie nuttig, terwyl gedrukte illustrasies of ander leermiddele by tuisbybelstudies gebruik kan word. Aanskoulike illustrasies is baie doeltreffender as blote woorde.
17. Meld nog ’n onderrigmetode wat Jesus dikwels gebruik het.
17 Lees ten slotte hoe Jesus die Fariseërs hanteer het tydens die voorval wat in Mattheüs 12:10-12 beskryf word. Let op hoe vernuftig hy ’n baie netelige vraag beantwoord het. Ja, hy het ’n illustrasie gebruik. Maar het jy opgemerk hoe hy dit bewoord het? As ’n vraag. Hy het sy hoorders sodoende vernuftig gehelp om die Sabbat meer gebalanseerd te beskou. VRAE is dus nog ’n onskatbare leermiddel wat Jesus gebruik het. Let op hoe Jesus vrae gebruik het om sy hoorders te laat dink en om teenstanders te dwing om hulle standpunt in heroorweging te neem.—Mattheüs 17:24-27; 21:23-27; 22:41-46.
18. Verstrek voorbeelde van hoe Christene vandag vrae tydens leerstellige besprekings kan gebruik.
18 Christene kan vrae vandag op soortgelyke wyse gebruik. Wanneer iemand wat aan die Drie-eenheid glo Mattheüs 28:18 gebruik om te bewys dat Jesus almagtig, en gevolglik gelyk aan God, is, het ervare onderrigters dit nuttig gevind om vrae te gebruik om hom te help redeneer. Ons kan moontlik vra: ‘As alle mag aan Jesus gegee is, soos die vers sê, wie het dit dan aan hom gegee? En wat was Jesus se posisie voordat dit aan hom gegee is?’ Die Trinitariër word aldus gehelp om daardie teks in ’n nuwe lig te sien. Iemand wat aan die helse vuur glo, kan eweneens die gelykenis van die ryk man en Lasarus gebruik om te probeer bewys dat ’n vurige hel bestaan (Lukas 16:19-31). Vrae soos die volgende kan hom help: Waarheen het die arm man gegaan toe hy gesterf het? As hy hemel toe is, beteken dit dan dat almal in die hemel in Abraham se boesem lê? En wat het Abraham daar gemaak aangesien Jesus gesê het dat niemand voor Sy dag hemel toe gegaan het nie? (Johannes 3:13). Sulke vrae sal help om te toon dat die arm man se nadoodse toestand, soos in die gelykenis beskryf word, simbolies moet wees. Die ryk man se toestand nadat hy “gesterwe” het, is dus ook simbolies en moet nie letterlik opgeneem word nie—veral nie in die lig van wat ander tekste oor die hel sê nie.—Prediker 9:10.a
19. Waarom is vrae so waardevol in alle situasies waar ons onderrig gee?
19 Vrae laat ’n leerling meedoen aan die onderrigproses. Selfs retoriese vrae (waar die spreker nie verwag dat sy hoorders moet antwoord nie) spoor die hoorder aan om te dink. Let op Jesus se gebruik van retoriese vrae in Mattheüs 11:7-11. Vrae het ook ’n ander nut. Ons moet dikwels weet wat ’n persoon dink voordat ons hom kan help. Aangesien ons nie soos Jesus harte kan lees nie, is daar net een manier waarop ons hierdie inligting kan bekom: deur weldeurdagte vrae te stel.—Spreuke 18:13; 20:5.
20. Wat is die belonings as ons ‘op onsself en op ons leer let’? (1 Timotheüs 4:16).
20 Ja, onderrigting is ’n kuns. Om dit aan te leer, moet die onderrigter eienskappe ontwikkel en hom daarop toelê om te leer hoe om te onderrig. Dit is nie maklik nie, maar ’n mens kan dit aanleer. Die Christen moet egter ’n onderrigter wees. So baie Christelike verpligtinge verg onderrigting. Ons kan dus gerus Paulus se raad toepas: “Let op jouself en op die leer.” Sommige het weliswaar van nature ’n groter aanleg hiervoor as ander. Maar almal kan met welslae onderrig as hulle hulself daarop toelê en op Jehovah steun vir hulp. In daardie geval is die belonings onberekenbaar. Soos Paulus voorts gesê het: “Volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”—1 Timotheüs 4:16.
[Voetnoot]
a Kyk New World Translation-naslaanbybel, voetnoot; ook Aanhangsel 4-B.
Kan jy verduidelik?
◻ Watter eienskappe het Jesus gehelp om ’n goeie onderrigter te wees?
◻ Hoe sal hierdie eienskappe ons help?
◻ Waarom is eenvoud noodsaaklik vir ’n onderrigter?
◻ Waarom sal die gebruik van illustrasies en vrae ons onderrigting verbeter?
[Prent op bladsy 9]
Jesus se leerwyse het van die godsdiensleiers s’n verskil
[Prent op bladsy 11]
Net soos Jesus benut Christene vandag alle geleenthede om ander te leer