‘Die hele Israel sal gered word’
“So sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend.”—ROMEINE 11:26.
1. (a) Watter vrae word geopper in verband met Romeine 11:26? (b) Waarom is die Republiek van Israel nie die Israel wat “gered” sou word nie?
WATTER nasie word hier bedoel? Hoe word dit gered? En hoe word alle ander nasies deur die redding daarvan geraak? Wel, toe die Britse mandaat oor Palestina in 1948 verstryk het, het die Jode op ’n deel van daardie gebied beslag gelê en die Republiek van Israel opgerig. Deur ’n oorwinning oor Arabiese magte in die sesdaagse oorlog van 1967 het die Israeli’s die grense van hulle republiek uitgebrei. Maar sedert die totstandkoming van die Republiek van Israel moes hy geweld gebruik om voort te bestaan. Of die hedendaagse Israel nou kernbomme opgehoop het vir volksbehoud of nie, hy vertrou beslis nie op enige ‘verlosser uit Sion’ nie. Hierdie betreklik jong politieke staat is dan glad saam met heidense nasies deel van die Verenigde Volke! Hierdie republiek is duidelik nie ’n teokrasie soos die nasie Israel destyds in 1513 v.G.J. in die dae van Moses geword het nie.
2. Hoe het die oprigting van die Republiek van Israel verskil van die herstelling van die Jode in hulle tuisland in 537 v.G.J.?
2 Die Oostenrykse Israeliet Theodor Herzl, wat in 1897 die Sioniste-wêreldvereniging gestig het, het gesê dat die Jode ’n nasie is en het daarop aangedring dat gebied opsy gesit word vir die oprigting van ’n Joodse staat. Maar geeneen van die verwikkelinge in verband met die Republiek van Israel toon enige ooreenkoms met die herstelling van die Jode in hulle tuisland in 537 v.G.J., die eerste jaar van die Persiese keiser Kores die Grote, nie. Daardie antieke herstelling het die verklaarde voorneme van Israel se God, Jehovah, vervul, net soos Jesaja 45:1-5 voorspel het (2 Kronieke 36:22, 23; Esra 1:1-4). Maar met die oprigting van die Republiek van Israel sien ons nie dat hulle ’n vreedsame weg met volle vertroue in die God van eertydse Israel ingeslaan het nie. Dit kan dus nie vertolk word as ’n vervulling van die profesieë in die Hebreeuse Skrifte nie; dit is ook nie ’n bewys dat die koms van die Joodse Messias ophande is nie.
3. Hoe het die Internasionale Bybelstudente eens die redding van “die hele Israel” beskou, maar wat het in 1932 in hierdie verband gebeur?
3 Reg tot 1929 het die lede van die Internasionale Bybelstudentevereniging gemeen dat die natuurlike Jode steeds God se uitverkore volk is, dat hulle in ongeloof na Palestina teruggebring sou word, dat hulle daar bekeer sou word om Jesus Christus as die beloofde Saad van Abraham te aanvaar en dat hulle dan die aarde se vernaamste nasie tot seën van die hele mensdom sou word. In 1932 is daar egter bewys dat dit ’n verkeerde begrip van Bybelprofesie, ondermeer van die woorde in Romeine 11:26 oor die redding van “die hele Israel”, was.—Kyk Studie VIII van die boek Thy Kingdom Come, kopiereg 1891 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.
Wie maak “die hele Israel” uit?
4. Watter omstandighede toon vandag dat die Republiek van Israel nie “die Israel van God” is nie?
4 Wat die Joodse skrywer van Romeine 11:26 “die hele Israel” genoem het, het hy in Galasiërs 6:16 “die Israel van God” genoem. Wie is dan die lede daarvan as die natuurlike Jode in die Republiek van Israel en rondom die aardbol nie “die hele Israel” uitmaak nie? Dit is ’n lewensbelangrike vraag, aangesien die natuurlike Jode van vandag nie weet aan watter van Israel se 12 stamme hulle behoort nie. Hulle het rabbi’s maar geen priesterdom nie, geen hoëpriester op aarde nie, geen tempel te Jerusalem nie en geen altaar aldaar waarop offerandes gebring kan word volgens die Wet wat God deur Moses aan hulle gegee het nie. Al hierdie dinge ontbreek sedert die Romeine Jerusalem in 70 G.J. vernietig het. Daar is ook geen getuienis dat die God wie se naam hulle weier om uit te spreek langer met hulle as ’n nasie is nie. Tog het Jehovah God ’n Israel op aarde, selfs in hierdie 20ste eeu. Wie is dan die lede daarvan?
5, 6. Hoe het Paulus getoon dat lidmaatskap van “die Israel van God” nie van natuurlike, vleeslike omstandighede afhang nie?
5 Die natuurlike Jood Saulus van Tarsus, wat die voorreg gehad het om die Christenapostel Paulus te word, verstrek ’n bevredigende antwoord. Omstreeks die jaar 56 G.J. het hy ’n lang brief aan “al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is”, gerig (Romeine 1:1, 7). In daardie brief het Paulus diegene geïdentifiseer wat deur God as ware Israeliete beskou word—nie Israeliete na die vlees nie, maar na die gees. Paulus het geskryf:
6 “Hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag [saad, NW] is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. . . . En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word; want Hy volbring ’n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ’n saak wat verkort is, op die aarde sal doen. En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie ’n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het.”—Romeine 9:6-9, 27-29.
7, 8. Waarom het die natuurlike Israeliete nie al die plekke gevul as takke van die simboliese olyfboom wat in Romeine hoofstuk 11 beskryf is nie?
7 Later, in Romeine hoofstuk 11, het Paulus die nasie Israel vergelyk met ’n olyfboom wat verband hou met “’n vriend van God”, die aartsvader Abraham (Jakobus 2:23). Nadat daardie “vriend” sy gehoorsaamheid getoon het, het God vir hom gesê: “Deur middel van jou saad sal alle nasies van die aarde hulself stellig seën, as gevolg van die feit dat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:18, NW). Omdat die meerderheid van die natuurlike Jode nie die geloof van hulle voorvader Abraham getoon en God gehoorsaam het nie, is daardie ongelowige Israeliete afgekap van die simboliese olyfboom wat in die Grotere Abraham, Jehovah God, gewortel is. Hulle plekke is ingeneem deur gelowige heidene of nie-Jode sodat die simboliese boom sy volle getal takke kon hê. Diegene wat die plekke van die natuurlike Israeliete ingeneem het, het “Abraham se saad” geword as proseliete of as Israeliete wat deur God, die Een groter as Abraham, aangeneem is (Galasiërs 3:26-29, NW). Hulle het in ’n geestelike sin Israeliete geword, dit wil sê, geestelike Israeliete. Daarom het Paulus voorts gesê:
8 “Ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.”—Romeine 11:25-27.
9. Wat is die Republiek van Israel se standpunt teenoor die Middelaar van die nuwe verbond, al het die vasgestelde “tye van die nasies” in 1914 verstryk?
9 Ons merk dat Paulus nie sê ‘totdat die tye van die heidene vervul is’ nie. Hy sê eerder: “totdat die volheid van die heidene ingegaan het” of “totdat die volle getal uit die heidennasies . . . . ingegaan het” (NAV). Die Heidense Tye, of die vasgestelde “tye van die nasies” het verstryk in 1914, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het (Lukas 21:24, vgl. Authorized Version). Vandag, 70 jaar later, beweer die Republiek van Israel en die natuurlike Jode dwarsoor die aarde nietemin nie dat hulle in die nuwe verbond is wat Jehovah gesê het hy met die huis van Israel sou sluit nie (Jeremia 31:31-34). Meer as 19 eeue gelede, op 14 Nisan 33 G.J., op die nag van die Joodse Pasga, het die aanstaande Middelaar van daardie verbond ’n beker wyn aan sy getroue apostels gegee en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word” (Lukas 22:20, NAV). Maar na al hierdie eeue erken die Republiek van Israel Jesus Christus nog steeds nie as die Middelaar van die verbond wat in Jeremia se profesie voorspel is nie.
10. Hoe ’n groot deel van Abraham se “saad” tot seën van die hele mensdom het die gelowige, natuurlike Jode uitgemaak, en met watter gevolg?
10 Volgens die Israeli’s het “die Verlosser” nog nie uit Sion gekom nie (Jesaja 59:20; Romeine 11:26). Maar op Pinksterdag van 33 G.J. het ’n oorblyfsel van eertydse Israel Jesus wel as die Messias aangeneem. Daardie oorblyfsel het toe die beloofde heilige gees ontvang en is toe in ’n voorspelde nuwe verbond ingebring. Maar ’n oorblyfsel was nie genoeg om die geestelike “bruid” van Christus, wat uit 144 000 sou bestaan, voltallig te maak nie (Openbaring 7:1-8; 14:1-3; 21:9). Gevolglik het nie genoeg natuurlike Israeliete deel geword van die simboliese olyfboom wat gewortel is in die Grotere Abraham, wat beloof het dat die antieke aartsvader se “saad” al die aarde se families, Joods en nie-Joods, tot seën sou strek nie.
11, 12. Op watter Israel het “die hele Israel” betrekking, en hoe kan dit Skriftuurlik bewys word?
11 Hoe sou “die hele Israel” dan deur die beloofde “Verlosser” “gered” word? Let asseblief daarop dat Paulus sy brief omstreeks 56 G.J. aan die Romeine geskryf het, nadat hy (omstreeks 50-52 G.J.) aan die Galasiërs geskryf het. Romeine 11:25-27 is gevolglik geskryf ná sy woorde in Galasiërs 6:16 oor “die Israel van God”. Daardie Israel is die nasie met wie die nuwe verbond deur bemiddeling van Jesus Christus, nie deur die profeet Moses nie, gesluit is. Jesus was die Middelaar vir ’n Christelike Israel, ’n geestelike Israel, wat op Pinksterdag van 33 G.J. as ’n nasie gebore is toe die heilige gees uitgestort is op die Jode wat Jesus Christus as Middelaar van die nuwe verbond aangeneem het.
12 Die Joodse apostel Petrus was by daardie geleentheid teenwoordig. Later het hy geskryf aan diegene “uitverkore volgens die voorkennis van God” en gesê: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, . . . julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is” (1 Petrus 1:1, 2; 2:9, 10). Dit bevestig die feit dat die Israel wat in sy geheel “gered” gaan word, nie die hedendaagse republiek van die Israeli’s of die verstrooide, natuurlike Israeliete rondom die aardbol is nie. “Die hele Israel” wat “gered” sou word, was die geestelike Israel wat op Pinkster van 33 G.J. gebore is deur toe met God se voortplantingsgees verwek te word. Dit was na hierdie “Israel van God” dat die beloofde Verlosser sou kom.
13. (a) Hoe en wanneer het die beloofde Verlosser uit Sion gekom? (b) Wie het “die Israel van God” mettertyd ingesluit?
13 Hierdie Verlosser het dan ook op Pinksterdag van 33 G.J. gekom. Hoe? Deur Jehovah se heilige gees op ongeveer 120 dissipels in die bovertrek in die nasionale hoofstad Jerusalem uit te giet. So het daardie dissipels die eerste deel geword van
“die Israel van God” wat tot geestelike lewe verwek is en die hoop op die ewige lewe in die geesteryk daarbo het. Hierdie geestelike Israel het eindelik die nie-Joodse gelowiges in die beloofde Verlosser ingesluit. Wanneer? Met die bekering van die Samaritane—en later van volslae nie-Jode met die bekering van die Romeinse hoofman Cornelius en sy gesin en vriende in 36 G.J.—het Jehovah, die Grotere Abraham, al hierdie nie-Joodse gelowiges in sy eniggebore Seun, Jesus Christus, die simboliese stam van die figuurlike olyfboom, aangeneem. So kon hierdie nie-Jode die plekke inneem van die ongelowige Jode wat afgebreek is van daardie olyfboom met 144 000 “takke”.—Handelinge, hoofstuk 10; 15:14-21.
Die inentingswerk nou volbring
14. Waarvoor is daar nou oortuigende bewys in verband met “die hele Israel”?
14 Eenduisend-negehonderd-agt-en-veertig jaar het verstryk sedert daardie kardinale gebeurtenis in 36 G.J. Dit is gevolglik logies dat die almagtige God se werk om “die hele Israel” te red nou op heerlike wyse volbring is. Daardie tydperk was veel langer as die Joodse eeu van uitsluitlike goddelike guns van 1513 v.G.J., in Moses se dag, tot 36 G.J., met die bekering van die eerste onbesnede nie-Jode of heidene. Hierdie lang tydperk het ongetwyfeld genoeg tyd toegelaat om “die hele Israel” te red, wat die volle ledetal betref. Daar is nou oortuigende bewys hiervan.
15. Hoe het Jesus in sy profesie oor die “teken” van “die voleinding van die wêreld” gesê dat die “uitverkorenes” versamel sou word?
15 Jesus Christus het na daardie tydperk verwys toe hy ’n profesie oor sy onsigbare “teenwoordigheid” as gees en “die voleinding van die wêreld” gegee en gesê het: “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Mattheüs 24:3, 30, 31). Wanneer het daardie “teenwoordigheid” van Jesus Christus begin?
16, 17. Wanneer het Jesus Christus se “teenwoordigheid” begin, en watter belangrike gebeure rakende die vergaderde “uitverkorenes” het gevolg?
16 Jesus se “teenwoordigheid” het begin met die beëindiging van die “sewe tydperke” van die heidene in die noordelike herfs van 1914 (Daniël 4:23-36). Dit was toe dat die verheerlikte Jesus Christus aandag geskenk het aan die uitoefening van sy mag oor die oorloggeteisterde aarde. Die geskiedenisfeite bewys dat die heersende Koning Jesus Christus sy hemelse engele in die na-oorlogse jaar 1919 uitgestuur het om die “uitverkorenes” uit alle dele van die aarde te versamel. Onder toesig van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap is hulle in wêreldwye eenheid byeengebring om van toe af hulle kragte saam te snoer ter uitvoering van Jesus se profetiese bevel wat in Mattheüs 24:14 opgeteken is: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
17 By die algemene byeenkoms van God se volk in 1931 het hulle eenparig die nuwe naam aangeneem om as Jehovah se Getuies bekend te staan. Dit is later gevolg deur die publikasie van die Genootskap se boek Jehovah, wat gehandel het oor die naam van God wat hulle met graagte gedra het. Jehovah se Getuies het daardie nuwe boek met dank in 1934 ontvang toe die Nazi-Führer, Adolf Hitler, begin het met sy poging om die Getuies in Sentraal-Europa uit te wis.
18. Watter verwikkeling het mettertyd getoon dat die volledige getal van die “uitverkorenes” versamel is?
18 Die daaropvolgende gebeure het getoon dat die insameling van die toegewyde, gedoopte “uitverkorenes” vir die hemelse Koninkryk volbring is. Hoe so? Want in 1935 is die aandag en krag van daardie “uitverkorenes” gerig op die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 in ’n gesig beskryf is. Uit wie sou hierdie “groot menigte” bestaan? Uit mense wat heerlikheid en eer aan Jehovah God en Jesus Christus sou toeskryf en wat beloon sou word met die ewige lewe op ’n paradysaarde wat hulle sou beërf sonder om te sterf ondanks die grootste “verdrukking” in die hele mensegeskiedenis. Hierdie begunstigdes is geïdentifiseer as die aardse “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus. Saam met die oorblyfsel van “die hele Israel” wat nog op aarde gelewe het, sou hulle vreugdevol “een kudde” gemaak word.—Johannes 10:16.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom is die Republiek van Israel nie die Israel wat in Romeine 11:26 bedoel word nie?
◻ Waarom het die natuurlike Israelite nie al die plekke as takke van die simboliese olyfboom gevul nie?
◻ Wie is die beloofde Verlosser, en wanneer en hoe het hy uit Sion gekom?
◻ Wie maak “die hele Israel” uit, en wanneer was die volle getal versamel?
[Prent op bladsy 12]
Wat het die “beker” voorgestel toe Jesus die Here se Aandmaal ingestel het?
[Prent op bladsy 14]
Die buitegehoor by die byeenkoms in Washington, D.C. in 1935
[Lokteks op bladsy 14]
In 1935 is die “ander skape” wat met die oorblyfsel van “die hele Israel” assosieer as die “groot menigte” geïdentifiseer