God die Seun of “die Seun van God”?
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”—MATTHEÜS 16:16.
1. (a) Hoe beskou baie kerklidmate Jesus? (b) Watter interessante kommentaar het Jesus hieroor gemaak?
1 WAS Jesus God? Baie lede van die Christendom se kerke sou ja antwoord. Maar het jy geweet dat Jesus self iemand “God” genoem het? Maak jou eie Bybel by Johannes 20:17 oop en lees Jesus se eie woorde naby die einde van daardie vers: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.” As dit vir jou ’n verrassing is, sal jy moontlik verbaas wees oor van die ander dinge wat die Bybel omtrent Jesus en God sê.
2. Watter interessante kommentare maak die Bybel oor die verhouding tussen Jesus en God?
2 Dink vir ’n oomblik aan die engel wat vir Maria van Jesus se geboorte vertel het. Hy het nie gesê dat haar seun God sou wees nie, maar dat hy “Seun van God” genoem sou word (Lukas 1:35). En die Skrif sê ook nie, soos sommige wel sê, dat “God self” aarde toe gekom het om die losprys te voorsien nie, maar wel dat “God sy Seun uitgestuur [het]” om dit te doen.—Galasiërs 4:4, 5; 1 Johannes 4:9, 10.
3, 4. Hoe verskil verklarings deur Petrus en Johannes die Doper van die Christendom se Drie-eenheidsleer?
3 Jesus het sy dissipels gevra wie hulle geglo het dat hy was. Het Simon Petrus geantwoord: “U is God”? Nee. Petrus het gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Het Jesus Petrus reggehelp? Nee, Jesus het gesê: “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.”—Mattheüs 16:15-17.
4 Godsdiensskrywers wat glo dat God ’n Drie-eenheid is, praat van “God die Seun”. Maar Johannes die Doper het Jesus nie “God die Seun” genoem nie, maar “die Seun van God”. Jesus se dissipels het nie gesê: “U is God die Seun” nie, maar: “Waarlik, U is die Seun van God!” Hierdie verklarings verskil hemelsbreed van mekaar.—Johannes 1:34; Mattheüs 14:33.
Is die Vader groter?
5. Wat kan gesê word oor Jesus se hemelse posisie?
5 Die Bybel vertel van Jesus se voormenslike bestaan. Hy het voor Abraham bestaan, hy was by sy hemelse Vader “voordat die wêreld was” en deur hom “is alle dinge geskape” (Johannes 17:5; 8:58; Kolossense 1:15-17, vgl. NW). Jesus het “Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die [folterpaal]. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is.” Die Bybel sê ook dat “die God van onse Here Jesus Christus . . . Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in ie toekomstige”.—Filippense 2:8, 9; Efesiërs 1:17, 20, 21.
6-8. Wat is sommige van die dinge wat Jesus omtrent sy posisie in verhouding tot die Vader gesê het?
6 Jesus het herhaaldelik getoon dat hy nie gelyk is aan die Vader nie, maar onderdanig aan Hom. Hy het gesê dat hy deur sy Vader gestuur is, deur sy Vader geleer is, deur sy Vader beveel is wat om te sê (Johannes 3:17; 5:36; 6:38; 12:49, 50). Jesus het gesê dat hy die werk wat sy Vader hom gegee het om te doen “volbring” het, en dat sy volgelinge “erken [het] dat U [die Vader] My gestuur het”.—Johannes 17:4, 6, 18, 25.
7 Selfs Jesus se vyande het hom nie daarvan beskuldig dat hy gesê het dat hy God is nie. Hulle het eerder gesê dat hy homself “met God gelykgestel het” deur God sy Vader te noem. Hulle wou Jesus doodmaak omdat hy, soos ’n bekende Rooms-Katolieke vertaling dit stel, “van God gepraat het as sy eie Vader en homself aldus God se gelyke gemaak het”. Jesus het gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so.”—Johannes 5:18, 19, vgl. The Jerusalem Bible.
8 Ondanks sy hoog verhewe posisie het Jesus vir sy apostels gesê: “My Vader [is] groter . . . as Ek” (Johannes 14:28). Sommige mense sê dat dit alleen waar was omdat Jesus nog op aarde was en dat dit nie langer die geval is noudat hy na die hemel opgevaar het nie. Maar dit is nie wat die Bybel sê nie.
Na Jesus se hemelvaart
9. Hoe het Paulus die verskil tussen selfs die verrese Jesus en God getoon?
9 Nadat Jesus na die hemel opgevaar het, het sy volgelinge aangehou om te verkondig dat die Vader groter is as die Seun. Meer as 20 jaar later het Paulus geskryf van “die God en Vader van onse Here Jesus Christus” (Romeine 15:6). Kyk goed na daardie woorde. Paulus praat van Jesus se God. Dienooreenkomstig tref Paulus hierdie onderskeid nie alleen tussen die Vader en Jesus nie, maar tussen God en Jesus. Hy skryf van God en Christus. Paulus se standaardbegroeting in sy briewe was: “Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!” (Romeine 1:7; 1 Korinthiërs 1:3; 2 Korinthiërs 1:2; Galasiërs 1:3; Efesiërs 1:2; Filippense 1:2). Paulus het ook geskryf, nie dat Christus God is nie, maar dat hy “die beeld van God is” deurdat hy hom volmaak verteenwoordig (2 Korinthiërs 4:4). Die vertaler van The Living Bible, wat glo dat God ’n Drie-eenheid is, het egter hierdie vers verander sodat dit lui: “Christus, wat God is.” Maar omdat dit nie is wat dit werklik sê nie, het hy hierdie voetnoot bygevoeg: “Letterlik, wat die beeld van God is’.”
10. Hoe toon Openbaring die onderskeid tussen Jesus en God?
10 Die Bybelboek Openbaring onderskei ook nie net tussen Jesus en die Vader nie, maar tussen Jesus en God. Dit begin met die woorde: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het” (Openbaring 1:1). Meer as 60 jaar na Jesus se hemelvaart haal Openbaring die verheerlikte, hemelse Jesus soos volg aan: “Wie oorwin. Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, . . . Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die Nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”—Openbaring 3:12.
11. Hoe word die onderskeid tussen Jesus en God in die Bybel se laaste hoofstuk gemaak?
11 Hierdie onderskeid tussen God en die Lam Jesus Christus word reg tot in die laaste hoofstuk van die Bybel gemaak, waar die groot hemelse troon van die luisterryke Nuwe Jerusalem beskryf word, nie as die troon van ‘n denkbeeldige Drie-eenheid nie, maar as “die troon van God en van die Lam” (Openbaring 22:1, 3). Hierdie verklarings is nie moeilik om te verstaan nie, tensy jy geleer is om hulle iets te laat sê wat hulle nie sê nie.
“Aan die regterhand van die krag van God”
12. (a) Hoe het Jesus die posisie verduidelik wat hy na sy opstanding sou beklee? (b) Hoe toon Psalm 110:1 dat Jesus nie Jehovah is nie?
12 Toe Jesus se vyande rede gesoek het om hom dood te maak, het hulle nie gevra of hy beweer het dat hy God is nie, maar of hy “die Christus, die Seun van God, is”. Hy het geantwoord: “U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel” (Mattheüs 26:63, 64). Vroeër het Jesus Dawid se woorde aangehaal en op homself toegepas: “Die here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” Jesus het nie gesê dat hy Jehovah of deel van ’n onskriftuurlike Drie-eenheid is nie, maar dat hy aan Jehovah se regterhand sou sit en wag op die ontvouing van God se tydrooster en voornemens.—Psalms 110:1; Mattheüs 22:42-44.
13. Wat het Stefanus gesien net voordat hy sy lewe vir sy geloof opgeoffer het?
13 Stefanus, die eerste persoon wat vir sy geloof in Christus gesterf het, het ’n gesig ontvang van die verrese Jesus in die hemel. Het hy Jesus as God gesien, of as deel van ’n Drie-eenheid? Nee. Soos Jesus en Dawid voorspel het, het hy Jesus “aan die regterhand van God” sien staan. The Living Bible sê dat Stefanus “Jesus die Messias langs God sien staan [het], aan sy regterhand!”—Handelinge 7:55, 56.
14. Wat toon Daniël se gesig oor “Een . . . soos die Seun van ’n mens”?
14 Ons vind ’n groter beeld hiervan in Daniël se grootse gesig van die Oue van dae. Daniël het geskryf; “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Daniël 7:13, 14). Jesus was nie die Oue van dae, Jehovah God, nie, maar hy was die Seun van ’n mens. En let daarop dat hy nader gebring is voor sy hemelse Vader, om te ontvang “heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer”.—Vergelyk Mattheüs 25:31.
15. Watter verskil sal hierdie groot menigte volgens Openbaring ken?
15 Die Bybelboek Openbaring toon duidelik dat die groot menigte uit alle nasies en tale, wat onder Christus se heerskappy staan, persone sal wees wat die verskil tussen God en die Lam Jesus Christus ken, want hulle uitroep van lof is: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Daarbenewens het die 144 000 wat saam met die Lam Jesus Christus op die hemelse berg Sion staan “sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe”.—Openbaring 7:9, 10; 14:1.
Wie se Seun?
16. Wat het die Jode daaronder verstaan toe Jesus gesê het dat sy Vader die een is wat hulle hulle God genoem het?
16 Die Jode het God se naam geken. Hulle het geweet van wie Jesus praat toe hy gesê het: “Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is” (Johannes 8:54). Wie was hierdie God? Of hulle dit nog uitgespreek het of nie, hulle het sy naam in hulle kopieë van die Skrif gesien. Dit was in die boek-rolle in hulle sinagoges, en dit het in Hebreeuse karakters voorgekom in die Griekse Septuapínta-Bybelvertaling wat hulle gelees en gebruik het. (Kyk die artikel “God se naam in die Christelike Skrifte”, bladsy 7.) Jehovah is nie ’n ander naam vir Jesus nie. Toe Jesus “God sy eie Vader” en homself “die Seun van God” genoem het, het sy Joodse hoorders ongetwyfeld verstaan dat hy gesê het dat hy die Seun was van die een wie se naam met die vier Hebreeuse letters JHWH geskryf is. Hy het nie gesê dat hy Jehovah is nie, maar dat hy Jehovah se Seun is.—Johannes 5:18; 11:4.
Die nuwe verbond vir Christene
17, 18. (a) Watter sleutelpunte sien jy in Jeremia se profesie oor die nuwe verbond, en hoe belangrik is hierdie profesie? (b) Wat het die middelaar van hierdie verbond gedoen?
17 Jeremia se groot profesie oor die nuwe verbond toon dat nie alleen Jode nie, maar ook Christene ’n volk vir Jehovah se naam sou wees. As die vertalers van jou Bybel tereg God se naam gebruik het waar dit in die oorspronklike Hebreeus verskyn, sou jy gelees het:
“Kyk, daar kom dae, spreek [Jehovah], dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; . . . Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek [Jehovah]: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken [Jehovah]; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek [Jehovah].”—Jeremia 31:31-34, vgl. NW.
18 Die Christenapostel Paulus wy vier hoofstukke van die boek Hebreërs (hoofstukke 7-10) aan ’n bespreking van hierdie nuwe verbond wat God met geestelike Israel gesluit het. Paulus gee nêrens te kenne dat Christus die sluiter was van hierdie verbond (wat deur sy bloed bekragtig is) nie, maar sê dat Christus die “Middelaar” daarvan was. Die verbondsluiter was Jehovah God. Aangaande die middelaar het Paulus geskryf: “Christus het . . . ingegaan . . . in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.”—Hebreërs 8:6; 9:15, 24.
19. Wie sou, volgens hierdie profesie, die God wees van diegene in die Christelike nuwe verbond?
19 Wie het Jeremia gesê sou die God van die Christene in die nuwe verbond wees? Jehovah! Dit is Jehovah wat gesê het: ‘Ek sal ’n nuwe verbond sluit . . . Ek gee my wet . . . Ek sal vir hulle ’n God wees.’ En hierdie profesie sê van Christene in die nuwe verbond: “Hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek [Jehovah].” Almal wat werklik deel is van die Christelike nuwe verbond—sowel as hulle getroue Christenmetgeselle—sal dus persone wees wat Jehovah ken en dien! Meer as 400 jaar gelede het Johannes Calvyn geskryf: “Daardie woorde, Ken Jehovah’, dui die grondbeginsels van die geloof aan.”—Commentaries on the Book of the Prophet Jeremia and the Lamentations, deur Johannes Calvyn, vertaal deur John Owen, bladsy 136.
’n Veranderde situasie
20. Wat moes Jesus se hoorders besef?
20 In Jesus se dag het sy hoorders die God van Abraham, van Isak en van Jakob geken. Hulle voorvaders het Jehovah aanbid, en hulle het Jehovah se tempel in hulle midde gehad. Wat hulle moes besef, was die belangrikheid daarvan om Jesus te eer en te volg. Jesus het derhalwe gesê dat almal die Seun moet “eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.”—Johannes 5:23.
21, 22. (a) Hoe is hierdie situasie vandag omgekeer? (b) Wat moet ons nie oor die hoof sien nie?
21 Vandag is die situasie omgekeer. Lede van die Christendom se kerke het baie te sê oor die Seun, maar hulle vergeet “die Vader wat Hom gestuur het”. Dit was God wat Jesus “uitermate verhoog [het] en Hom ’n naam gegee [het] wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader”.—Filippense 2:9-11.
22 Ons moenie daardie feit oor die hoof sien, soos baie gedoen het nie, naamlik dat ons belydenis van Jesus “tot heerlikheid van God die Vader” moet wees. Baie van vandag se godsdiensleiers, en derhalwe hulle kuddes, het die Vader feitlik heeltemal vergeet. In gebed tot sy hemelse Vader het Jesus egter gesê; “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God.” Maar dit is nie genoeg nie. Ons moet ook die een wat deur God uitgestuur is, leer ken en hom volg. Daarom het Jesus voorts gesê: “En Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
Hersieningsvrae
◻ Watter Bybelse verklarings toon die verskil tussen Jesus en God?
◻ Was Jesus se woorde dat “my Vader groter is as Ek” nog waar nadat Jesus na die hemel teruggekeer het?
◻ Wat het Dawid en Daniël gesê wat ons help om Jesus se posisie in die hemel te verstaan?
◻ Wat sou ware Christene omtrent God weet, soos blyk uit Jeremia se profesie oor die nuwe verbond?
[Venster op bladsy 17]
“God die Seun” ’n latere gedagte
Die “New Catholic Encyclopedia”, Deel 13, bladsy 426, sê: “lemand wat sou vra of die N[uwe] T[estament] Jesus as God die Seun voorstel”, “soek ’n benaming vir Hom wat eers later ontstaan het”.
Jesus en sy apostels het verkondig dat hy “die Seun van God” is, maar dit was latere kerkmanne wat die gedagte van “God die Seun” ontwikkel het.