‘Werp jou sorg op Jehovah’—Hoe?
DAWID, die bekende koning van die eertydse twaalfstammeryk van Israel, het ons soos volg bemoedig: “Werp jou sorg op [Jehovah], en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:23.
Waarom is sulke raad veral gepas wanneer dit van koning Dawid af kom? En hoe kan jy daarop ag slaan?
Dawid het ’n veelbewoë loopbaan in Jehovah God se diens gehad. Sommer nog as ’n jong seun het hy ’n leeu, ’n beer en die reus Goliat doodgemaak. Dawid het uitgeblink in oorlogvoering en die grense van antieke Israel uitgebrei tot die perke wat deur God gestel is. Daarbenewens het hy geen gelyke as komponis en psalmdigter gehad nie. Maar Dawid het nie net die vreugde van welslae en voorspoed gesmaak nie, maar ook die bitterheid van berou en teenspoed.—1 Samuel 16:18; 17:34-36; 18:7.
Waarom Dawid ‘sy sorg op Jehovah gewerp het’
Toe Dawid gesê het: ‘Werp jou sorg op Jehovah’, het hy allereers met homself gepraat Waarom kan ons dit sê? Omdat dit uit die verband duidelik is dat Dawid hierdie psalm geskryf het toe sy koninklike prerogatiewe op hul laagste peil was. Dit was toe sy ambisieuse seun Absalom amper daarin geslaag het om die troon van sy vader af te neem.
Dawid se verknorsing blyk duidelik uit die openingswoorde van Psalm 55:1: “O God, hoor my gebed en verberg U nie vir my smeking nie. Luister na my en verberg U nie vir my en verhoor my; in my onrus dwaal ek rond en is verward.” Hy gaan nog ses verse op hierdie trant voort.
Waarom het Dawid hom in hierdie toestand bevind? Deur die toedoen van sy vyande. Hy bid vervolgens dat God teen sy vyande moet optree en meld spesifiek ’n vriend wat ’n verraaier geword het. Dit was ongetwyfeld Agitofel, van wie daar tereg gesê kon word: “Dit is geen vyand wat my smaad nie, . . . maar jy, . . . my vriend en my vertroude! Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare.”—Verse 13-15.
Nadat Dawid sy lot en die oorsaak daarvan beskryf het, spreek hy sy vertroue in Jehovah uit: “Maar ek, ek roep God aan, en [Jehovah] sal my verlos” (Vers 17). Nadat hy vir homself die raad gegee het: “Werp jou sorg op [Jehovah]”, sluit Dawid die psalm af met dieselfde vertroue in die Allerhoogste deur te sê: “U, o God, sal hulle laat neerdaal in die put van vernietiging; . . . maar ék vertrou op U.” En hoe waar het Dawid se woorde tog geblyk te wees! Sy ambisieuse seun Absalom en sy bedrieglike raadgewer Agitofel het ontydig gesterf, terwyl Dawid as God se gesalfde koning bly regeer het.—Verse 23, 24.
Sorge of verantwoordelikhede
Voordat ons bespreek hoe ons ag kan slaan op Dawid se goddelik geïnspireerde raad dat ons ons sorge op Jehovah moet werp, is dit gepas om te meld dat daar sekere verantwoordelikhede is wat ons self moet dra. Die Christenapostel Paulus het geskryf “Elkeen sal sy eie pak dra”(Galasiërs 6:5). Sulke ‘pakke’ is die verantwoordelikhede wat ons het omdat ons eggenote, eggenotes, ouers, kinders, werknemers, Jehovah se Getuies of miskien aangestelde ouere manne in die Christengemeente is. Ons kan nie sulke laste geheel en al en onverantwoordelik op Jehovah werp nie, maar moet dit gewillig self dra. Dit geld ook in die geval van besluite. God se Woord bevat wette en beginsels, maar ons moet dit toepas op die probleme waarmee ons te kampe het. Ons kan en moet God natuurlik om wysheid, krag en sy heilige gees vra om ons te help om hierdie pakke te dra, maar ons moenie probeer om daarvan ontslae te raak nie.
Wat is dan die sorge wat ons op Jehovah kan werp? Dit is bekommernisse, teleurstellings en vrese oor die toekoms, soos wat Dawid gehad het. En dit sluit ook sorge of laste in die vorm van ons swakhede en gebreke in. Dit is die laste wat ons op Jehovah moet werp, want die apostel Petrus sê: “Werp al julle bekommernis op Hom.” Waarom? “Want Hy sorg vir julle,”—1 Petrus 5:6, 7.
Jesus Christus het soortgelyke raad in sy Bergpredikasie gegee. Hoe so?’ vra jy dalk. Wel, hy het nie net vir ons gesê dat ons ons nie moet kwel oor wat ons gaan eet, drink en aantrek nie, maar hy het ook vir ons die rede gegee waarom ons ons nie daaroor moet kwel nie. Jesus het die versekering gegee: “As God . . . die gras van die veld . . . beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? . . . julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Mattheüs 6:25-32.
Deur gebed
Maar hoe kan ons werklik ‘ons sorg op Jehovah werp’? Een manier is deur gereeld tot hom te bid. Is dit nie waar dat een van die laste wat ons daagliks moet dra die wete is dat ons te kort skiet aan God se regverdige vereistes nie? Ja, maar deur tot God te bid, kan ons van hierdie las bevry word. Jesus het dit toegelig in die geval van die tollenaar wat regverdiger as ’n skynheilige Fariseër was omdat hy nederig en opreg tot God gebid het dat Hy hom genadig moes wees. Met ander woorde, die tollenaar is op dié manier van sy skuldlas bevry. Maar ’n woordjie van waarskuwing: Afhangende van ons geestelike toestand, die erns van ons sonde en die aard van ons skuld, moet ons dalk die hulp van ander, soos die gemeentelike ouere manne, inroep om van ons las bevry te word.—Lukas 18:9-14; Galasiërs 6:2; Jakobus 5:14-16.
As ons wil hê dat ons gebede ons moet help om ons sorge op Jehovah te werp, moet ons waarlik opreg, werklik ernstig oor sake wees. Dit is waarom ons beveel word: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Dit sal ons help om van ons laste ontslae te raak, want dan sal ‘die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, ons harte en sinne bewaar’.—Filippense 4:6, 7.
Let asseblief daarop dat Paulus smekinge sowel as gebed meld. Wat is smekinge? Dit is vurige gebede. En wat beteken dit om vurig te wees? Hierdie woord kom van ’n wortel wat beteken “om warm te wees, om te kook”. Om vurig te wees, beteken dus om ywerig, gevoelvol, intens te wees. Dit is hoe ons gebede moet wees as ons daarin wil slaag om deur middel daarvan ‘ons sorge op Jehovah te werp’.
As ons werklik opreg is wanneer ons bid, sal ons ook volhard in die gebed. Nadat onse Here Jesus Christus die nodigheid vir volharding in die gebed toegelig het, het hy ons aangespoor: “Ek sê vir julle: hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word”, (Lukas 11:2-10, NW). Ja, hou aan om te vra, te soek, te klop, en ons hemelse Vader sal die sorge dra wat tereg op hom gewerp kan word.
Geloof en werke
Net soos in elke ander aspek van ons Christelike lewe en bediening geld die volgende beginsel ten opsigte van ons gebede: “Laat dit vir julle wees volgens julle geloof (Mattheüs 9:29). Ons moet die geloof hê wat God behaag. Ons moet nie alleen met ons hele hart glo dat hy bestaan nie, maar ons moet ook seker wees dat hy diegene beloon wat opreg na hom soek (Hebreërs 11:6). Ons moet glo dat God ons sal verhoor.
Om sulke sterk geloof te hê, moet ons God se Woord bestudeer. Ons moet ons daarop toelê om dit en verwante Christelike publikasies daagliks te lees. Dit is maklik om die Bybel se vermaning en die wonderlike versekerings daarin te vergeet. Ons tyd en aandag word deur soveel dinge van ’n sekulêre aard in beslag geneem! Maar dit is slegs deur gereeld God se Woord in te neem dat ons Jehovah, sy wonderlike hoedanighede en die manier waarop hy met sy aardse knegte handel waarlik kan leer ken. Hoe duidelik toon Jehovah se Woord tog sy liefdevolle sorg vir sy volk! Ons lees herhaaldelik hoe hy die gebede van sy knegte verhoor het (Genesis 20:17; Handelinge 12:5, 17). En moet nooit vergeet dat Jehovah die immer betroubare “Hoorder van die gebed” bly nie.—Psalm 65:3.
Nog iets wat ons op meer as een manier help, is om Bybeltekste, veral die wat ons van God se liefdevolle waaksorg verseker, uit die hoof te leer. Dit sluit dié in wat hierbo gemeld is, asook sekere psalms, soos Psalm 23 en 103. Watter beter manier is daar tog om ons gedagtes besig te hou en van kwelgedagtes ontslae te raak as om dele van God se Woord, uit die hoof te leer en op te sê! Wanneer ons Bybeltekste uit die hoof ken, kan ons deur sy Woord versterk word selfs wanneer ons nie in ’n posisie is om die Bybel te lees nie. Ons kan byvoorbeeld oor die Skrif peins wanneer ons snags nie kan slaap nie. (Vergelyk Psalm 63:7.) Al hierdie dinge help ons inderdaad om ‘ons sorg op Jehovah te werp’.
As ons ‘ons sorg op Jehovah wil werp’, moet ons boonop ons deel bydra. Onthou dat “die geloof sonder die werke dood” is (Jakobus 2:26). Jesus het dit in sy Bergpredikasie te kenne gegee, want nadat hy ons aangeraai het om ons nie te kwel nie, maar om te glo dat God vir ons sal sorg, het hy beveel: “Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” As ons op daardie raad ag slaan, sal dit ons inderdaad help om vry van neerdrukkende sorg te bly.—Mattheüs 6:33.
Dit help ook as ons leer om ons verstand te dissiplineer. Ons het moontlik in die gewoonte verval om negatief te dink. Nadat ons versoeke opreg tot Jehovah gerig het en ons sorg op hom gewerp het, moet ons dit daar laat sonder om ons verder daaroor te bekommer. Ons moet onsself ook ten opsigte van ons woorde en dade dissiplineer. Ons moet vordering maak en nie keer op keer dieselfde foute herhaal nie. Laat ons eerder soos die apostel Paulus wees en ‘ons liggame kasty en diensbaar maak’. Ons moet ook ag slaan op Jesus se raad: “Waak en bid”, want “die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”—1 Korinthiërs 9:27; Mattheüs 26:41.
Hoe kan jy dus ‘jou sorg op Jehovah werp’? Deur opreg in die gebed te volhard, deur gereeld God se Woord in te neem, deur eers God se Koninkryk te soek en deur selfdissipline te beoefen. Dan sal Jehovah jou onderhou en jou nooit laat wankel nie, net soos hy beloof het.