Vrae van lesers
♦ Hoe kan Openbaring 7:17 vandag op Christene toegepas word aangesien ons soms nog huil?
Openbaring 7:17 sê van die “groot menigte” wat die hoop op ewige lewe op aarde het: “Die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.”
Die apostel Johannes is meegedeel dat die groot menigte “uit die groot verdrukking kom” (Openbaring 7:9-14). Openbaring 7:14-17 is dus van toepassing op persone wat hulle nou aan God se kant skaar, Christus se bloed aanneem en die huidige stelsel se einde tydens die “groot verdrukking” oorlewe.
Openbaring sê dat ‘hulle hulle klere gewas het in die bloed van die Lam, dat hulle nie meer honger of dors het nie, dat die son se hitte nie op hulle val nie en dat God alle trane van hulle oë afvee’. Hierdie woorde moet nie letterlik opgeneem word nie. Waarom nie? Wel, hulle het nie letterlik hulle klere in Christus se bloed gewas nie. En hulle is soms fisies honger en dors, net soos dit met die volmaakte man Jesus die geval was (Lukas 4:2; Johannes 4:7, 8; 19:28, 29). Openbaring 7:14-17 se vernaamste toepassing moet dus simbolies of geestelik wees.
Die boek “Then Is Finished the Mystery of God” bladsye 207 en 208, verduidelik hierdie verse. Dit toon dat die groot menigte nie nou in ’n geestelike sin honger of dors het nie; hulle neem God se Woord in en het ’n aandeel in sy diens, wat vir hulle voedsel en drank kan wees, net soos dit vir Jesus was (Johannes 4:32-34). Hulle ondervind nie die hitte van Goddelike afkeuring nie, en hulle sal dit ook nie gedurende die groot verdrukking ondervind nie. En hulle ween nie meer (soos tevore) omdat hulle onkundig omtrent God is of ’n slegte verhouding met hom het nie. ln hierdie sin het God reeds ‘alle trane van hulle oë afgevee’.
Maar ons word later, in Openbaring 21:3, 4, verseker dat getroue mense na die groot verdrukking en die oprigting van ’n regverdige nuwe stelsel fisiese seëninge sal ontvang sodat hulle nooit weer droefheid, geween of pyn sal ondervind nie. Dan sal die trane as gevolg van pyn, teleurstelling en smart werklik tot die verlede behoort.
♦ Wat het Jesus bedoel toe hy van ’n demon gesê het: “Hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie”?
’n Man wie se seun besete was van “’n stomme gees” het vir Jesus gevra om die bose gees uit te dryf, want die dissipels kon dit nie doen nie. Met God se sterk krag het Jesus die demon uitgewerp. Daarna het die dissipels gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie?” Volgens Markus se verslag het Christus geantwoord: “Hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie” (Markus 9:14-29, NW), ln sy parallelle verslag gee Mattheüs Jesus se antwoord soos volg weer: “Deur julle ongeloof.”—Mattheüs 17:14-20.
Waarom het hy geloof en gebed beklemtoon? Die ondervinding toon dat die demone nie almal noodwendig dieselfde belange of vermoëns het nie. Party konsentreer oënskynlik daarop om deur huise te dwaal, terwyl ander bose geeste hulle daarop toelê om mense te kwel of van hulle besit te neem. En uit Jesus se antwoord kan ons aflei dat party demone besonder magtig is.—Efesiërs 6:12.
Terwyl Jesus op aarde was, het God party van sy knegte in staat gestel om bose geeste uit te werp wat van mense besit geneem het. Die twaalf apostels en sewentig dissipels is in staat gestel om dit te doen (Mattheüs 10:8; Lukas 10:17). Maar die apostels wat betrokke was by die voorval wat in Mattheüs 17:14-20 en Markus 9:14-29 opgeteken is, kon nie die demon uitdryf nie. Waarom nie? Wat het ontbreek? Dit was klaarblyklik die voorbereiding wat nodig was om die betrokke soort demon aan te pak. Sterk geloof was nodig, tesame met gebed voor die tyd waarin God se hulp versoek is. Hoewel dis verslae nie meld dat Jesus by daardie geleentheid ’n spesifieke gebed gedoen het nie, het hy dit moontlik gedoen. Toe het hy daarin geslaag om die magtige demon uit te werp.