Waarom jy die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkoms moet bywoon
’n Boeiende vierdaagse program van Bybelonderrig wag op jou by die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies. Deur middel van praktiese demonstrasies, dramas en leersame toesprake sal lewensbelangrike Bybelvoorligting voorsien word. Jy sal ook iets ontvang wat ’n groot invloed sal hê op die werk wat Christene gaan doen in die dae wat voorlê.
Sorg dat jy Donderdagmiddag om 1:20 nm. teenwoordig is wanneer die byeenkomsprogram begin. Jy moet die vraag wat die programrede stel vierkant onder die oë sien: “Waar staan jy ten opsigte van die Koninkryksgeskil?” Vrydag sal jy iets ontvang wat jy ongetwyfeld so baie sal waardeer dat jy dit met ander in die gemeenskap sal wil deel.
Saterdag se program is vol praktiese en nodige raad oor hoe om in vandag se selfsugtige, onsedelike wêreld te lewe. Jy sal toesprake hoor met titels soos “Hoe om permissiwiteit met Bybelbeginsels teë te werk” en “Pas op vir musiek wat verderf”. Jy moet beslis nie die toespraak mis waarmee Saterdag se program afsluit nie—dit sal informasie bevat wat ’n langdurige uitwerking op die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk gaan hê.
Sondag se drama “Onverskrokke verkondiger van ’n ongewilde boodskap” sal jou aanspoor om soos God se profeet Jeremia te wees. En jy sal natuurlik nie die openbare toespraak “Die waarheid wat jou kan vrymaak” wil mis nie.
Aangesien 19 byeenkomste vir Suider-Afrika alleen gereël is, sal daar ’n byeenkoms nie ver van jou af gehou word nie. Vra vir die plaaslike Getuies waar en wanneer die een naaste aan jou gehou gaan word.