VRAE van LESERS
• Wat is die verband tussen die “asem van die lewe” wat in Genesis 2:7 gemeld word en die “gees” van die mens wat elders in die Bybel gemeld word?
Genesis 2:7 beskryf die skepping van die eerste man, Adam, soos volg: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Die Skrif toon met ander woorde dat God lewenskrag (of gees) en die asem wat nodig is om die lewe te onderhou aan die gevormde liggaam gegee het toe hy ‘die asem van die lewe in Adam geblaas het’.
Ons kan hierdie gevolgtrekking beter begryp deur eers te kyk na ’n paar ander dinge wat die Bybel oor “gees” sê.
Die Hebreeuse woord wat dikwels “gees” vertaal word, is ru’ahh. Dit kan ’n aantal verskillende betekenisse hê, afhangende daarvan hoe dit gebruik word en wat die verband is. In party gevalle dui ru’ahh byvoorbeeld ’n onsigbare beweging van lug aan en kan dit dus met “wind” vertaal word (Ex. 10:13; Sag. 2:6). Die woord kan ook vir ’n “gees”-persoon, ’n onsigbare wese soos ’n engel, of selfs vir God gebruik word (1 Kon. 22:21, 22). En ru’ahh kan God se onsigbare werkende krag (heilige gees) aandui, soos in Psalm 104:30, wat van die “Gees” of werkende krag praat wat Jehovah God gebruik om te skep.
Maar Psalm 104:29 lig ’n ander betekenis van ru’ahh toe—lewenskrag. Ons lees: “U [God] neem hulle asem [gees, NW] weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.” Ja, soos hierdie en talle ander tekste toon, het mense sowel as diere ’n onpersoonlike lewenskrag of gees wat in elke lewende liggaamsel teenwoordig is. Die Bybel toon dat ’n mens of ’n dier sonder hierdie lewegewende gees dood is.—Pred. 3:19, NW; 9:10; Ps. 146:4.
Jy besit daardie gees van die lewe of lewenskrag. Hoe kan jy dit onderhou? Wel, jy moet eet, drink en slaap. Maar iets wat nog belangriker is, is dat jy suurstof moet inneem, moet asemhaal. As jy net ’n paar minute ophou asemhaal, sal jy sterf. Trouens, asemhaling is die vernaamste sigbare bewys dat ’n persoon lewe of die lewensgees in hom het. Die Bybel toon dus dat daar ’n noue verband bestaan tussen “asem” (Hebreeus, nesha·mah’) en “gees” (ru’ahh) en plaas hulle selfs in parallel. Genesis 7:22 sê byvoorbeeld die volgende van die mense en die diere wat in die Vloed omgekom het: “Alles wat die asem [nesha·mah’] van die lewensgees [ru’ahh] in sy neusgate gehad het, . . . het doodgegaan.”—Vergelyk Jesaja 42:5; Job 27:3-5, NW.
Wat het dus gebeur toe God Adam geskape het?
Jehovah het eers ’n menseliggaam gemaak. Maar dit was leweloos of dood. Wat het dit nodig gehad om lewend te word en ’n lewende siel te wees? Dit sou nie genoeg wees om net lug of asem in die dooie longe in te blaas nie, net soos dit nie sou help as ons probeer het om met kunsmatige asemhaling lug in die longe van ’n ou lyk in te blaas nie. Daardie pasgeskape liggaam het die lewensvonkie of -gees sowel as asem nodig gehad om lewend te word en te bly.
Wanneer Genesis 2:7 gevolglik sê dat Jehovah “die asem van die lewe” in die liggaam ingeblaas het, moet dit in daardie geval meer beteken as net asem of lug wat in die longe inbeweeg. Dit was die “asem van die lewe”. Ja, God moes tegelykertyd vir Adam die “gees” of lewensvonk sowel as die asem gegee het wat nodig is om hom lewend te hou.
Wat gebeur egter wanneer ’n persoon sterf? Hy hou gevolglik op om asem te haal. Kort daarna verlaat die lewensvonk of lewenskrag sy selle. Dan kan hy nie meer deur kunsmatige asemhaling gehelp word nie. Prediker 12:7 sê dat “die stof [van sy liggaam] na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het”.
Dit is nie ’n onsigbare, onsterflike siel of enigiets anders wat letterlik die liggaam verlaat, na die hemel reis en deur God ontvang word nie. Dit beteken bloot dat dit van God afhang of daardie dooie ooit weer sal lewe. Jehovah is die Een wat hom kan onthou en kan opwek—vir hom ’n liggaam kan maak en die lewensgees daarin kan plaas.