BELONINGE wanneer kinders godvresend grootgemaak word
“VADERS, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Ef. 6:4). Hierdie woorde toon dat dit hoofsaaklik op die vader of gesinshoof is dat Jehovah God die verantwoordelikheid plaas om kinders op ’n godvrugtige wyse groot te maak. Wanneer die vader sy Godgegewe verantwoordelikheid nakom, word die hele gesin nader aan mekaar gebring en versterk. Maar wat kan ’n Christen doen wanneer haar man ’n ongelowige is?
Sy moet alles in haar vermoë doen om haar kinders op te lei. Terwyl sy versigtig is om nie hulle gevoel vir hulle vader te ondermyn nie, moet sy geleenthede om met hulle oor die Skepper en Sy eienskappe te praat goed benut. Selfs al keur haar man dit nie goed nie, het sy steeds die verpligting van Jehovah God om haar kinders op te lei tot die mate moontlik. Die Bybel sê: “Verwerp die onderwysing van jou moeder nie”, en “’n dwase seun is ’n bekommernis vir sy moeder” (Spr. 6:20; 10:1). As sy nie wil hê dat haar kinders haar in die toekoms met hulle dwaasheid in die skande moet steek nie, sal sy ’n goeie invloed op hulle moet uitoefen in geestelike sake.
’N VOORBEELD UIT DIE OU TYD
Dit is opmerklik dat gelowige vroue in vervloë tye Skriftuurlike opleiding voorsien het. Timotheüs, byvoorbeeld, het die “heilige Skrifte” van kleins af leer ken weens die pogings van sy moeder Eunice en waarskynlik ook van sy grootmoeder Loïs. Die Bybel sê nie of Timotheüs se ongelowige Griekse vader dit goedgekeur het dat Eunice hulle seun so oplei en of hy haar teengestaan het nie. Wat ook al die geval was, Eunice het haar goed van haar taak gekwyt. Haar pogings het vrug afgewerp. Timotheüs “het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikonium” (Hand. 16:1, 2; 2 Tim. 1:5; 3:15). Die apostel Paulus het van Timotheüs geskryf: “Ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie; want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie. Maar julle ken sy beproefdheid, dat hy, soos ’n kind teenoor sy vader, saam met my in die evangelie gedien het” (Filip. 2:20-22). Eunice moes baie bly gewees het toe sy gesien het dat haar seun so deur God gebruik word om die gemeentes van sy volk te dien. Wat ’n goeie beloning vir haar harde werk!
HEDENDAAGSE WELSLAE MET DIE OPLEIDING VAN KINDERS
Christinne in hedendaagse tye is eweneens geseën. ’n Vrou in Afrika wie se man haar pogings teëgestaan het om God se Woord aan hulle kinders te leer, vertel: “Ek het aangehou om die Bybel met my kinders te bestudeer. Ek het in die veld met hulle gestudeer. Wanneer ek dit tuis gedoen het, het een van my seuns by die deur wag gehou. Ek het dit jare lank gedoen. Ek het elke dag tot Jehovah gebid oor my kinders.” Wat is die gevolg?
Sy gaan voort: “Jehovah het voorwaar my gebede verhoor. My dogter is getroud, en haar man dien as ’n ouere man in die gemeente waaraan hulle verbonde is.” Hierdie vrou se seuns probeer ook om volgens die Skrifte lewe. Sy sluit af: “My gesinstudie is inderdaad geseën. Ek wil my dank betuig aan Jehovah vir die wyse waarop hy my gebede verhoor het.”
’n Ander Christin sê: “Na skool en voordat my ongelowige man van die werk af gekom het, het ek met my twee dogters gestudeer. By ander geleenthede het ek met hulle gesels oor goeie Christelike gedrag en dinge wat ek by die vergaderinge gehoor het. Nou is ek bly oor die resultate van my pogings. Een van die meisies is met ’n bedieningskneg getroud. Die ander doen ook goed. Jehovah het waarlik my gebede verhoor.”
Dit is duidelik dat gebed baie belangrik is as Jehovah ons pogings moet seën. Christene moet hulleself kragtig inspan en nie ontmoedig raak deur die tyd en inspanning wat dit verg om kinders onder ongunstige omstandighede op te lei nie. Met behulp van God se gees kan ’n persoon daarin slaag.—Luk. 13:24; Filip. 4:13, NW.