God se Woord is lewend
HY IS AS KIND VERVOLG
AS ’N jong persoon vind jy dit vandag waarskynlik moeilik om ’n ware Christen te wees. Ander spot jou moontlik omdat jy nie rook of dwelmmiddels gebruik nie. Of jy word dalk vervolg omdat jy nie deelneem aan seremonies of vierings wat met Bybelbeginsels bots nie. Dit laat ’n mens dink aan die vervolging van Isak, die jong seun van Abraham en sy geliefde vrou Sara.
Isak se probleme het ’n kritieke punt bereik tydens ’n groot maaltyd wat Abraham berei het op die dag toe Isak gespeen is. Isak was toe omtrent vyf jaar oud. Moeders het hulle kinders in daardie dae baie langer met die bors gevoed. Tydens die feesmaal het Ismael, Abraham se tienderjarige seun by sy Egiptiese slavin Hagar, begin om met sy halfbroer te spot. Dit was nie sommer net ’n rusie tussen kinders nie. Dit was die kwaadwillige treitering van ’n baie kleiner kind. Die Bybel sê dat Ismael Isak in werklikheid “vervolg” het.—Gal. 4:29.
Sara het gesien wat gebeur en dit het haar glad nie aangestaan nie. Ismael se gespot met Isak het klaarblyklik in verband gestaan met wie Abraham se erfgenaam sou wees. Sara het dus na Abraham gegaan en gesê: ‘Jaag Hagar en haar seun weg. Hy gaan nie saam met my seun Isak erf nie.’
Dit het Abraham ontstel. Hy wou Ismael nie wegstuur nie, want Ismael was ook sy seun. Maar God het vir Abraham gesê om na sy vrou Sara te luister. Abraham het Hagar en Ismael dus van die nodige vir hulle reis voorsien en hulle weggestuur.—Gen. 21:8-14.
’n Persoon wat vervolg word, kan troos put uit hierdie Bybelverhaal oor Isak. Waarom? Want daar is mettertyd ’n einde gemaak aan die treitering deur Ismael. Jehovah God het toegesien dat Abraham iets doen om die oorsaak van die probleem uit sy huis te verwyder. God sal vandag eweneens nie toelaat dat jy meer ly as wat jy kan verduur nie. Hy sal jou die krag gee om te volhard, of hy sal toesien dat die oorsaak van die probleem mettertyd verwyder word.—1 Kor. 10:13.