ALMAL MOET BEROU TOON
JOËL se profesie toon duidelik hoe belangrik dit is om ’n rein posisie voor God te beklee. Die Israeliete het hulle aan ernstige sondes skuldig gemaak en moes dus berou toon indien hulle ’n onheil wou vermy. Uiterlike blyke van droefheid was nie genoeg nie. Jehovah God wou hê dat hulle hulle sonde in hulle hart moes erken. Die profeet Joël het gesê: “Skeur julle hart en nie julle klere nie, bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.”—Joël 2:13.
Omdat almal sondaars was, het niemand se ouderdom hom daarvan verskoon om onder diegene te wees wat by die tempel vergader het om hulleself voor Jehovah God te verneder nie. Selfs babas moes daar wees, en die vreugde van ’n huwelik moes mense nie verhinder om God se vergifnis af te smeek nie. Joël se profesie sê: “Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek” (Joël 2:16). ln ooreenstemming met die gees van hierdie woorde, moet ’n persoon nie toelaat dat enigiets in sy lewe belangriker word as ’n rein posisie voor die Skepper nie.
Omdat suiglinge as sondaars gebore word, het ouers die ernstige verantwoordelikheid om ’n goeie posisie voor God te behou sodat hulle kindertjies as heilig of rein beskou kan word.—Vergelyk 1 Korinthiërs 7:14.