VERMY DIE TRAGEDIE VAN VERKRAGTING
ONDERVINDING is ’n goeie leermeester. Maar hoeveel beter is dit tog om, wat verkragting betref, uit die ondervinding van ander te leer eerder as om self ’n slagoffer te wees. Dit is met hierdie doel dat die twee volgende ware verhale vertel word.
Die meisie was ’n aantreklike tienderjarige, ’n lid van ’n groot gesin wat in ’n buitedistrik gewoon het. Sy was egter nie tevrede met die geselskap van haar familie nie. Sy het die gewoonte gehad om die meisies wat in die omgewing gewoon het op haar eie te besoek.
Dit is nie heeltemal duidelik wat haar beweegredes vir hierdie besoeke was nie. Sy wou blykbaar net nuwe vriendinne maak. Maar ’n jongman aldaar het haar raakgesien. Ons weet nie of sy hom vroeër leer ken het en iets gedoen het om sy belangstelling verder aan te wakker nie. Hy het haar egter by hierdie geleentheid gedwing om omgang met hom te hê.
Daardie verkragting was skynbaar nie beplan nie, maar dié van ’n ander meisie was wel. ’n Jongman het sy halfsuster hartstogtelik begeer. Eendag het hy gemaak asof hy siek is en sy vader gevra om sy suster na sy huis te stuur om vir hom kos te maak. Toe hulle alleen was, het hy haar gegryp. Ondanks die feit dat sy ernstig by hom gepleit het om dit nie te doen nie, het hy haar oorweldig en verkrag.
Baie van julle het al vantevore van hierdie verkragtings gelees. Die meisies was Dina, die dogter van Jakob, en Tamar, die dogter van Dawid. Die verslae is in die Bybel opgeteken.—Gen. 34:1-7; 2 Sam. 13:1-14.
’N MISDAAD WAT VINNIG TOENEEM
Verkragting word vandag al hoe algemener. ’n Hoofrede is voor-die-hand-liggend. Seks en geweld word op die TV, die silwerdoek, die radio, in koerante, tydskrifte en op aanplakborde opgedis. In die stede, op die platteland—so te sê net waar ’n mens gaan—is daar ongeoorloofde seks en geweld. En mense doen wat hulle sien en hoor. Die Bybel se beskrywing van die wêreld voor die vloed pas beslis ons dag: “Die boosheid van die mens op die aarde [was] groot . . . en die aarde was vol geweld.”—Gen. 6:1-5, 11; Judas 6, 7.
Die geweld het destyds klaarblyklik geslagsaanranding ingesluit, net soos vandag die geval is. “Verkragting neem vinniger toe as enige ander gewelddadige misdaad in die Verenigde State”, sê The World Book Encyclopedia. “Amptenare raam dat die werklike aantal verkragtings ten minste vier keer meer is as die getal wat aangemeld word.” Aangesien daar elke jaar sowat 70 000 verkragtings aangemeld word, is die werklike syfer heel moontlik meer as ’n kwartmiljoen. Dit beteken dat daar elke twee minute iemand in die Verenigde State verkrag word!
Maar party gevalle waar seks op mense afgedwing word, word oor die algemeen selfs nie eens as verkragtings geklassifiseer nie. Sosioloog Richard Gelles van Rhode Island-Universiteit het hieroor gesê: “Ek kan my nie ’n huwelik voorstel waar ’n man sy vrou aanrand wat nie ook soms gedwonge seks insluit nie. Daar kan 400 000 gewelddadige verkragtings van huweliksmaats per jaar wees, maar indien jy verkragting deur intimidasie insluit—die dreigement dat geweld gebruik sal word—sal dit waarskynlik ’n paar miljoen wees.”
Maar iets wat ’n mens nog hartseerder maak, is die ontsaglike aantal geslagsoortredings teenoor jongmense—dikwels blote kinders. Tienduisende is elke jaar slagoffers. In die pasverskene boek The Sex Offender skryf Bart Delin: “Daar word geraam dat een uit elke ses meisies gemolesteer sal word voordat sy sestien is.”
Jakob se dogter Dina was klaarblyklik slegs in haar vroeë tienderjare toe sy verkrag is. Waarom vertel die Bybel vir ons van sulke tragiese misdade? Die apostel Paulus verstrek ’n antwoord wanneer hy sê: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe.”—Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11.
Wat kan ons uit sulke Bybelverslae leer?
LEER OM OORDEELKUNDIG TE WERK TE GAAN
Dina het nie goeie oordeel aan die dag gelê nie. Die Bybel se sy “het uitgegaan om die dogters van die land te leer ken” (Gen. 34:1). Die bewoners van Kanaän was onsedelik en prostitusie was klaarblyklik iets algemeens (Gen. 34:31; 38:21). Dina het klaarblyklik geen verskoning gehad om op haar eie met hulle om te gaan nie. Haar ouers het haar waarskynlik gewaarsku teen omgang met die meisies van die land. In daardie geval het sy nie na hulle geluister nie en het dit aanleiding gegee tot moeilikheid.
Talle jong vroue word vandag eweneens verkrag omdat hulle hulle onnodig in gevaarlike situasies plaas. Rylopers is ’n voorbeeld. In Oregon se Multnomah-graafskap word daar volgens berig elke dag ’n persoon verkrag. En meer as die helfte van diegene wat verkrag word, is jong rylopers!
Baie mans is net op soek na iemand om geslagsomgang mee te hê, en hulle aanvaar dat ’n vrou wat ryloop haarself inderdaad vir daardie doel aanbied. Dit is nou ’n taamlik algemene beskouing. Waar ’n regter van Kalifornië byvoorbeeld verduidelik het waarom ’n verkragter se vonnis tersyde gestel is, het hy geskryf: “Dit is nie onredelik dat ’n man in die posisie van die verweerder sal glo dat die vroulike [ryloper] met hom omgang sou hê nie.” So ’n beskouing lyk wel wreed en verkeerd, maar dit lig die werklikhede van vandag se wêreld toe.
Alhoewel ’n man onder geen omstandighede die reg het om ’n vrou te dwing om omgang met hom te hê nie, moet vroue aandag skenk aan hoe mans hulle optrede kan beskou. Die vors se seun wat Dina verkrag het, het moontlik aanvaar dat Dina ’n onkuise meisie was omdat sy alleen uitgegaan het. Hy het miskien tot die gevolgtrekking gekom dat die doel van haar besoeke nie was om vriendinne te besoek nie, maar eintlik om hom te sien. Hy het dalk geglo dat Dina omgang met hom wou hê.
TREE VANDAG OORDEELKUNDIG OP
Dit is vandag selfs belangriker dat vroue hulle nie gedra op ’n wyse wat mans verkeerdelik kan vertolk as ’n uitnodiging om geslagsomgang met hulle te hê nie. Frederic Straska, wat die verskynsel van verkragting bestudeer en al baie lesings daaroor gehou het, het gesê:
“Vroue terg mans indirek wanneer hulle dinge in die openbaar doen wat ander kan laat glo dat hulle seks met iemand gehad het of steeds het. Ek verwys hoofsaaklik na openbare liefkosings, maar daar is ander dinge wat hierdie indruk kan skep.
“Talle jong manne en vroue sit deesdae saam huis op sonder die voordeel van die huwelik, en dit is hulle eie saak. Maar daar is moontlik manne in die omgewing wat anders dink. Hierdie manne dink dat enige vrou wat bereid is om saam met ’n man te woon, en klaarblyklik om saam met hom te slaap, sonder om met hom te trou ’n maklike teiken is.”
Weens jou eerbied vir God se sedewette sal jy ongetwyfeld nooit toestem tot geslagsomgang met ’n man wat nie jou eggenoot is nie. Maar ander dade kan mense laat dink dat jy ’n onkuise vrou is. Indien jy byvoorbeeld sekere kroeë of disko’s besoek wat besoek word deur vroue met losse sedes, kan mans tereg dink dat jy ook daardie soort vrou is.
Onbetaamlike, noupassende of loerklere kan mans prikkel of deur hulle as ’n “uitnodiging” beskou word. Die Bybel bevat baie pertinente en waardevolle raad hieroor. Dit raai vroue aan om “hulle [te] versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid”.—1 Tim. 2:9.
IN DIE AFSPRAAKSITUASIE
Goeie oordeel is veral belangrik in die geval van afsprake. ’n Groot persentasie, volgens party die meeste, verkragtings vind tydens hierdie geleenthede plaas. Waarom?
Dit is eerstens omdat die vrou miskien uitgaan met ’n man wat geen eerbied vir die Bybel se sedelike standaarde het nie. Sy neem aan dat hy betroubaar is omdat hy godsdiensvergaderinge bywoon. Maar dit is op sigself geen waarborg dat hy glo of doen wat die Bybel leer nie. Selfs in die eerste-eeuse Christengemeente was daar persone wat verkeerde beweegredes gehad het. Die apostel Petrus het van hulle geskryf: “Met oë vol van owerspel . . . verlok [hulle] onvaste siele” (2 Pet. 2:14). Dit is dus belangrik om vas te stel wat ’n jongman se ware beweegredes is voordat jy saam met hom uitgaan.
Daarbenewens beskou baie persone afsprake as ’n soort speletjie en nie as ’n manier om ’n moontlike huweliksmaat beter te leer ken nie. Maar wat gebeur dikwels wanneer ’n vrou instem om saam met ’n man na ’n verlate plek te gaan en hulle mekaar soen en liefkoos? Vir baie mans in vandag se onsedelike gemeenskap is sulke voorbereidende minnekosery ’n “belofte” van geslagsomgang, en hulle sal ’n vrou dwing om daardie “belofte” te hou. Selfs al is dit die jongman se voorneme om hom eerbaar te gedra, kan die geslagtelike opwekking van soene en liefkosing hom van sy goeie voornemens laat vergeet sodat hy die meisie met geweld dwing om omgang te hê.
Wat van die meisie se gevoelens in so ’n situasie? Gestel dat jy, as ’n jong vrou, toelaat dat so ’n situasie ontstaan met ’n jongman waarvan jy hou. Dit kan probleme skep soos dié wat verkragtingdeskundige Straska beskryf het: “Gedagtig aan die feit dat jy nie alleen sukkel om vir hom nee te sê nie, maar ook vir jouself, sal jy dit dalk moeilik vind om te besluit of dit werklik verkragting was of nie. Jy sal moontlik jou gewete wil sus deur vir jouself te sê dat dit die geval was.”
Moenie dink dat jy afsprake as ’n speletjie kan beskou of jouself op ander maniere in gevaarlike situasies kan plaas sonder dat daar enige slegte gevolge sal wees nie. Jong vroue, onder meer lede van die Christengemeente, wat gedink het dat hulle mans genoeg is vir die situasie, het al keer op keer lelik seergekry. Wees verstandig. Lê goeie oordeel aan die dag. Leer uit Skriftuurlike lesse, en vermy situasies wat tot ongeoorloofde geslagsomgang kan lei.
WEES OPMERKSAAM
Leer ook ’n les uit die jammerlike ervaring van Tamar, die jong vrou wat deur ’n set van haar halfbroer Amnon alleen saam met hom in ’n plek beland het waar hy haar verkrag het. Hierdie geval lig toe hoe nodig dit is om opmerksaam te wees, om bewus te wees van ander se gesindhede teenoor en gevoelens vir jou. Indien Tamar vroeër Amnon se hartstog vir haar bespeur het, kon sy dalk die situasie waarin sy beland het, vermy het.
’n Vrou kan natuurlik nie alle moontlikhede voorsien nie. ’n Jong vrou het byvoorbeeld ’n naweek by haar vriendin gaan kuier. Gedurende die oggend, terwyl sy nog in die bed was, het haar vriendin en die se moeder kruideniersware gaan koop, sodat sy alleen saam met die vader tuis was. Hy het by die kamer waar sy gerus het, ingeloop en op haar bed gaan sit.Toe hy vir haar sê dat hy omgang wou hê, was sy so geskok en verward dat sy haar nie veel teëgesit het nie.
Wat kon die jong vrou egter gedoen het? Wat kan jy as ’n vrou doen wanneer iemand probeer om jou te verkrag? Daar is etlike dinge wat ’n vrou kan doen.a
DIE BESTE EN DIE REGTE WEG
Sy moet haar bowenal nie laat intimideer nie. Sy moet hom uit die staanspoor duidelik laat verstaan dat sy onder geen omstandighede omgang sal toelaat nie. Nadat hulle die beamptes by ’n aantal sentrums vir die behandeling van verkragte vroue in die Verenigde State en Kanada geraadpleeg het, het verteenwoordigers van Toronto se Star hierdie gemeenskaplike tema gemeld:
“Wanneer ’n vrou deur ’n verkragter gemolesteer word, is die eerste minuut die kritiekste. Indien ’n vrou haar nie op hierdie stadium fisies en geestelik teësit nie, word haar kanse om geslagsaanranding te vermy al hoe kleiner.”
Die Cleveland Rape Crisis Centre het verduidelik:
“Die verkragter toets eers sy slagoffer om te sien wat haar gesindheid sal wees. Hy soek nie moeilikheid nie; hy wil die vrou stil intimideer. Hoe banger die vrou lyk, des te groter is die kans dat sy aangerand sal word. Hoe langer sy die konfrontasie laat voortduur, in des te groter moeilikheid is sy.”
Die jong vrou wat hierbo gemeld is, moes dus dadelik die bedreiging van verkragting op ’n ferme, vasbeslote wyse teëgestaan het, nie as ’n passiewe indiwidu wat na ’n antwoord soek nie. Sy kon iets soos die volgende gesê het: “Hoe sou u voel indien dit met u dogter gebeur het? Baie dink dat ek en u dogter baie eenders lyk, weet u.”
Selfs al het daardie benadering nie die aggressie gestuit nie, kon die verkragting ongetwyfeld voorkom gewees het indien sy reg uit die staanspoor getoon het dat sy ’n moeilike, aggressiewe opponent was. Susan Brownmiller, ’n vooraanstaande woordvoerder oor verkragting verduidelik:
“Wanneer hulle ’n vrou molesteer, kry verkragter gaandeweg al hoe meer moed. Dit is regtig so. ln die meeste gevalle begin die aanrander met minder sekerheid as wat die slagoffer sal glo. Indien hy vind dat hy sy slagoffer behoorlik die skrik op die lyf gejaag het, kry hy meer vertroue.”
In Junie 1974 het Ontwaak! beskryf hoe ’n man met ’n rewolwer twee van Jehovah se Getuies in ’n hotelkamer aangehou het. Toe hy sy hand na die ritssluiter van die een meisie se bloes uitgesteek het, het sy uitgeroep: “Nee! Nee! Nie dit nie!” Sy het vir hom gesê dat as hy aan haar sou durf raak, sy sou skreeu soos hy niemand nog ooit hoor skreeu het nie. Sy het verduidelik dat indien sy nie skreeu nie, sy haar verhouding met Jehovah God en die Christengemeente sou bederf. (Vergelyk Deuteronomium 22:22-29.) Haar ferme waarskuwing: “Moenie aan my raak of naby my kom nie” het die verkragter op ’n afstand gehou.
Hierdie vrou het die ding gedoen wat Skriftuurlik reg was, en dit was in werklikheid ook die beste ding om te doen. ’n Christen staan onder verpligting om weerstand te bied, want die betrokke geskil is een van gehoorsaamheid aan God se wet om ‘vir die hoerery te vlug’ (1 Kor. 6:18). Dit sal hoegenaamd nie vir haar reg wees om aan ’n verkragter toe te gee nie.
’n Mens kan dus baie leer uit die ondervindinge van persone in vervloë Bybeltye sowel as van persone wat vandag lewe oor hoe om verkragting te voorkom. Aangesien verkragting in party plekke die misdaad is wat die vinnigste toeneem, is dit voorwaar verstandig van vroue om te dink aan wat hulle kan doen om weerstand te bied.
[Voetnoot]
a Kyk Ontwaak! van 8 November 1980 vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie onderwerp.
[Prent op bladsy 3]
Dina het vriende gemaak met persone wat God nie gedien het nie
[Prent op bladsy 4]
Tamar het die vernederend ondervinding gehad om deur haar halfbroer Ammon verkrag te word
[Prent op bladsy 5]
Rylopery kan gevaarlik wees
[Prent op bladsy 7]
’n Vrou moet ’n verkragter uit die staanspoor ferm teëstaan, en skreeu, indien nodig