God se Woord is lewend
Die skyn bedrieg
Abraham en sy neef Lot het ’n probleem gehad. Albei manne se troppe en kuddes het so groot geword dat hulle veewagters begin twis het. Om die vrede te bewaar, het Abraham voorgestel dat hy en Lot skei. Hy het Lot die eerste keuse gegee. ‘Gaan jy links’, het Abraham gesê, ‘dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.’
Lot het van hulle uitkykpunt af gekyk en die pragtige, waterryke gebied naby die stede Sodom en Gomorra gekies. Die gebied het goed gelyk. Maar was dit werklik goed? Die bewoners van die gebied was sedelik verdorwe, en dit het tot moeilikheid aanleiding gegee.—Gen. 13:5-13.
Mettertyd het Lot en sy gesin reg tot in Sodom verhuis. Dit het hulle in ’n gevaarlike situasie geplaas. Koning Kedor-Laomer en sy bondgenote het die koning van Sodom verslaan en Lot en sy gesin gevange weggevoer, soos jy kan sien. Kort daarna het Abraham en sy manne egter almal gered en al hulle goed teruggekry. Lot en sy gesin het weer in Sodom gaan woon.—Gen. 14:4-16.
Lot se vrou het moontlik party dinge in Sodom baie aantreklik gevind. Maar die skyn het waarlik bedrieg. Sodom en Gomorra se mense is gekenmerk deur geslagsverdorwenheid en ’n algehele minagting vir goeie sedes. Eindelik het Jehovah God besluit om die stede te vernietig weens hulle goddeloosheid. Maar in sy barmhartigheid het God twee engele gestuur wat Lot, sy vrou en sy twee dogters aan die hand geneem en uit die stad uitgelei het. Toe het een van die engele gesê: ‘Vlug vir julle lewe! En moenie omkyk nie.’
Lot en sy dogters was gehoorsaam. Hulle het van Sodom af weggehardloop sonder om om te kyk. Maar Lot se vrou het die engel se bevel verontagsaam, omgekyk, moontlik met verlange na die materiële dinge wat sy in Sodom agtergelaat het, en ’n soutpilaar geword.—Gen. 19:1-26; 2 Pet. 2:7, 8.
Daar is vir ons ’n les hierin opgesluit. Net soos Sodom kan die ou stelsel van dinge op aarde vandag vir ons mooi lyk. Maar daardie skyn is bedrieglik. Daardie stelsel is in werklikheid sedelik verdorwe, en dit gaan net so seker vernietig word as wat God se vurige oordeel aan eertydse Sodom voltrek is.—Luk. 17:28-30.