Die eerste vrou wat bedrieg is
SY WAS uniek onder vroue. Sy was nooit ’n baba of ’n kind nie en het nooit die puberteitsjare beleef nie. Sy was uit die staanspoor ’n volwasse vrou. Trouens, die eerste dag van haar bestaan was haar huweliksdag.
Toe hy haar sien, is haar man Adam beweeg om te sê: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.”—Gen. 2:23.
Waarom het Adam hierdie verklaring gemaak oor die eerste vrou wat hy ooit gesien het? ’n Ruk lank was die man die enigste lid van die mensdom wat in ’n pragtige paradys, tuin of park gelewe het wat hom van al die lewensbenodigdhede voorsien het. Namate hy die verskillende diere dopgehou het en toe gepaste name vir hulle gekies het, kon hy sien dat hulle almal maats gehad het. Maar onder hulle het hy nie een van sy soort gesien met wie hy intieme kameraadskap en liefde kon deel nie (Gen. 2:19, 20). Hy het dus dadelik besef dat die vrou ’n geskikte maat, ’n komplement, vir hom was. Later het hy haar Eva genoem wat “Lewende” beteken, aangesien sy ‘die moeder sou word van almal wat lewe’.—Gen. 3:20.
HAAR BEGIN
Anders as ander mense wat as ’n selletjie begin het, was Eva se begin ’n rib wat die Skepper uit Adam se sy verwyder het. In die lig van huidige mediese kennis is die keuse van ’n rib uiters gepas. Wanneer die periosteum (beenvlies) nie verwyder word nie, is die verwydering van ’n rib nie permanent nie. Die rib sal weer groei. Dit was beslis nie vir die Skepper, wat dit vir ’n mens moontlik gemaak het om uit ’n bevrugte eiersel in die baarmoeder te ontwikkel, moeilik om die talle selle van ’n rib te neem en hierdie selle tot ’n vrou te bou nie. Aangesien Adam in ’n diepe slaap was toe die rib uit sy sy geneem is, moes hy by die Skepper gehoor het hoe die vrou in aansyn gekom het. Dit sal verklaar waarom hy na Eva as ‘been van my gebeente en vlees van my vlees’ verwys het.—Gen. 2:21-23.
Eva en haar man Adam het ’n wonderlike vooruitsig gehad. Dit was om die aarde met hulle soort te vul en om die gebied buitekant hulle tuintuiste in ’n pragtige paradys te omskep (Gen. 1:28). Hulle lewe in die paradys het egter afgehang van gehoorsaamheid aan die bevel van hulle Maker. Die Allerhoogste het gesê dat die vrug van die “boom van die kennis van goed en kwaad” vir Adam en Eva verbode was (Gen. 2:16, 17). Daardie boom was ’n simbool van die Skepper se reg om te bepaal wat vir sy mensekinders goed en wat kwaad was. Hoe onvanpas sou dit tog vir die skepping wees om die standaard vir goed en kwaad vas te stel!
BEDRIEG DEUR MIDDEL VAN ’N SLANG
Dit was nietemin in verband met die “boom van die kennis van goed en kwaad” dat Eva bedrieg is. Eendag, terwyl haar man nie by haar was nie, het sy ’n baie eienaardige ondervinding gehad. ’n Versigtige slang het oënskynlik wysheid ontvang en is in staat gestel om te praat. Sonder dat Eva dit geweet het, het ’n verraderlike geesseun van God daardie slang gebruik baie soos ’n buikspreker ’n pop gebruik. (Vergelyk Johannes 8:44.) Hierdie nederige slang het ’n oënskynlik onskuldige vraag gestel: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Gen. 3:1). Eva het reg geantwoord, want Adam moes vir haar vertel het van die “boom van die kennis van goed en kwaad”. Sy het gesê: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe” (Gen. 3:2, 3). Die slang se navraag het egter subtiel ’n vraag in Eva se gedagte geplant, ’n vraag waaroor sy dalk nie vantevore nagedink het nie. Die vraag was: Waarom was die vrug van die “boom van die kennis van goed en kwaad” op straf van die dood verbied?
Die slang was gereed met ’n antwoord: “Julle [meervoud, sluit Adam dus in] sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Gen. 3:4, 5). Nou het Eva voor ’n besluit gestaan. Sou sy die Skepper, aan wie sy haar bestaan te danke gehad het en wat vir haar en haar man alles voorsien het wat hulle vir ’n ewige lewe in geluk nodig gehad het, verdedig? Of sou sy ag slaan op die woorde wat gekom het van ’n nederige skepsel wat nog nooit iets vir haar gedoen het nie? Eva was goed toegerus om die regte besluit te neem. Sy het God se wet geken en het onomstootlike getuienis van haar Skepper se liefde vir haar en haar man gehad. Eva moes dus tot die gevolgtrekking gekom het dat daar ’n goeie rede vir God se bevel moes bestaan het en dat dit in haar belang was om dit te gehoorsaam. Aangesien haar man een vlees met haar was, was dit daarbenewens net reg dat sy hom eers oor die saak moes raadpleeg.
Ongelukkig het Eva klaarblyklik nie die nodige waardering vir haar Maker opgebou om die goddelike gebod in ’n positiewe lig te sien nie. Die Bybelverslag berig: “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet” (Gen. 3:6a). In ’n gees van onafhanklikheid het Eva verkies om self te besluit wat goed en wat kwaad was in plaas daarvan om haar te onderwerp aan God se besluit hieroor. Sy is volkome bedrieg deur die leuen wat vir haar deur die slang vertel is. Toe sy dus die verbode vrug geëet het, het sy dit gedoen in die hoop om haar toestand te verbeter.
Eva het geen gras onder haar voete laat groei nie en haar man genader met die doel om hom te oorreed om ook God se wet te oortree. Adam het geweet dat dit die dood vir hom sou beteken indien hy van die vrug eet. Hy het nie die slang se woorde, “Julle sal gewis nie sterwe nie” geglo nie. Maar eindelik het Adam op aandrang van sy vrou van die vrug geëet.—Gen. 3:6b.
TRAGIESE GEVOLGE
Wat was die gevolg? Die onmiddellike gevolg was onaangenaam. Adam en Eva kon mekaar se naakte liggame nie meer deur rein oë aanskou nie. Hulle skuldige gewetens het hulle onrein laat voel en gewaarwordinge laat ontstaan wat hulle nog nooit tevore ervaar het nie. Met vyeblare het hulle vir hulle skorte gemaak.—Gen. 3:7.
Later, toe hulle God se stem hoor, het Eva saam met haar man tussen die bome in hulle tuintuiste weggekruip. In antwoord op die Skepper se vraag oor hulle dade, het Eva erken: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”—Gen. 3:8-13.
Die gevolge vir daardie eerste mensepaar was tragies. Eva het die perke van haar Godgegewe rol oorskry en haar die hoedanigheid van onderrigter ten opsigte van haar man toegeëien. Die vonnis wat die Skepper oor haar gevel het, het die skadelike uitwerking getoon wat hierdie handelwyse op haar huwelik sou hê. Adam sou oor haar “heers”, wat aandui dat sy hoofskap van toe af op ’n dominerende, tirannieke wyse uitgeoefen sou word. Sy sou egter ’n begeerte na haar man, ’n intense behoefte aan hom hê.—Gen. 3:16.
Moederskap sou ook met probleme gepaard gaan. Die goddelike beslissing was: “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar” (Gen. 3:16). In haar onvolmaakte toestand daarna het Eva dalk sulke barensweë ondervind dat dit haar laat besef het dat dit die dood vir haarself en haar kinders kon meebring.
Mettertyd sou sy sowel as haar man sterf. Hulle liggame sou ontbind en na die elemente van die aarde terugkeer.—Gen. 3:19.
Daarbenewens is Eva en haar man uit hulle pragtige paradystuiste gewerp om nou onder moeilike omstandighede in ’n onbewerkte gebied te lewe. Die Skepper het egter liefdevol vir hulle lang kledingstukke van vel gemaak.—Gen. 3:21-24.
Mettertyd het Eva die moeder van Kain en Abel geword, asook van ander seuns en dogters (Gen. 4:1, 2; 5:4). Stel jou voor hoe sy moes gevoel het toe sy uitvind dat Kain sy broer Abel vermoor het. Wat ’n skok moes daardie eerste menslike dood tog nie gewees het nie! Daarna, toe Adam 130 jaar oud was, het Eva nog ’n seun gebaar. Sy het hom Set genoem en gesê: “God het my ’n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.”—Gen. 4:25; 5:3.
Hoe kragtig lig die geval van Eva tog toe dat veronagsaming van ’n goddelike wet ernstige probleme meebring! Laat ons, wanneer pogings aangewend word om sonde vir ons aantreklik te laat lyk, nooit vergeet wat met Eva gebeur het nie. Geluk kan eenvoudig nie voortspruit uit die veronagsaming van ons Skepper se standaard van wat goed en kwaad is nie. Laat ons nie soos Eva wees en ons, tot ons ewige nadeel, laat bedrieg nie.