Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 1/15 bl. 3-8
  • Neutraliteit in ’n verwarde wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Neutraliteit in ’n verwarde wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE VRUG VAN NEUTRALITEIT
  • WAARLIK “NIE VAN DIE WÊRELD NIE”
  • HULLE VERMY BLOEDSKULD
  • NEUTRALITEIT ’N BESKERMING
  • Christelike neutraliteit in ’n bloedbevlekte wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • “Hulle is geen deel van die wêreld nie”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Die wettelose mens” word aan die kaak gestel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Hulle is geen deel van die wêreld nie”
    Aanbid die enigste ware God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 1/15 bl. 3-8

Neutraliteit in ’n verwarde wêreld

OP 1 November 1939 het The Watchtower ’n hoofartikel met die titel “Neutraliteit” gepubliseer. Hoe tydig was daardie informasie tog!

Net twee maande tevore, op 1 September, het die Nazi-oorlogmasjien Pole sonder aanleiding aangeval. Met behulp van ’n Russiese inval vanuit die ooste het Duitsland daardie land in net vyf weke verower. Intussen het Groot-Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Indië, Suid-Afrika en Frankryk oorlog teen Duitsland verklaar. Maar sewe maande lank was dit stil op die Westerfront, en was daar min militêre optrede. Dit is gevolglik ’n “skynoorlog” genoem.

Dit was tydens hierdie tydperk dat talle jong manne groot aandag aan die Bybel en die materiaal in daardie Wagtoring-artikel oor “Neutraliteit” geskenk het. Watter standpunt moes die Christen inneem in die lig van die feit dat die wolke van die Tweede Wêreldoorlog opgesteek het? Moes jong Christene aan albei kante van die slaglinies uittrek om diegene aan die ander kant af te maai, selfs al het Katolieke en Protestantse geestelikes aan albei kante gesê dat dit ’n persoon se plig voor God is? Was dit hierdie jong manne se plig om mee te doen aan die bloedvergieting aan die kant waar hulle toevallig gelewe het, indien die wêreld oorlog sou voer? Talle van hulle het Jesus se woorde onthou, woorde soos: “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê. . . . Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”—Joh. 15:17-19; 17:14, 16; 18:36.

As gevolg van ’n ywerige studie van God se Woord kon hierdie jong Christene ’n besluit neem. Niemand anders het hierdie besluit vir hulle geneem nie. Hulle kon dit self doen op grondslag van elkeen se Bybelopgeleide gewete. Hulle besluit was om hulle te weerhou van dade van haat en geweld teen hulle medemens in ander nasies. Ja, hulle het aan die vervulling van Jesaja se bekende profesie geglo en wou ’n aandeel daaraan hê: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4). Dit is presies wat hierdie jong manne uit alle nasies gedoen het.

DIE VRUG VAN NEUTRALITEIT

Gevolglik het nie een van Jehovah se Getuies in enige nasie gedurende daardie ses onstuimige jare wat gevolg het sy Christenbroer in ’n ander nasie doodgemaak nie. Talle Protestante is deur Protestante doodgemaak, en talle Katolieke deur Katolieke, maar nooit kon enige bedroefde persoon een van Jehovah se Getuies die skuld gee vir haar man of seun se dood nie. Stel jou voor wat die gevolg sou wees indien alle Katolieke, Protestante, ja, en Jode dwarsoor die wêreld ’n soortgelyke standpunt ingeneem het! Daar sou eenvoudig geen oorlog gewees het nie. En hoeveel bloedvergieting en droefheid sou die wêreld moontlik gespaar gebly het indien pous Pius XII Katolieke Hitler geëkskommuniseer het, soos hy aangespoor is om te doen! Dit wil sê, indien dit Hitler en sy militêre trawante sou gekeer het.

Die Tweede Wêreldoorlog het egter sy loop gevolg. En watter tol het dit geëis? The World Book Encyclopedia deel ons mee: “Die Tweede Wêreldoorlog het meer mense gedood, meer gekos, meer skade aan eiendom aangerig, meer mense geraak en waarskynlik verreikender veranderinge tot gevolg gehad as enige ander oorlog in die geskiedenis. Dit het die Atoomeeu ingelui, en het ingrypende veranderinge op die gebied van oorlogvoering tot gevolg gehad.” Sowat 16 miljoen soldate en twee en ’n half keer soveel burgerlikes het as gevolg van die oorlog gesterf. Dit het “meer as [R1 000 000 000 000] gekos. Meer as 50 lande het aan die oorlog deelgeneem, en die hele wêreld het die gevolge daarvan waargeneem.”

Dit was voorwaar ’n wêreldoorlog, en die wêreld het ’n smartlike oes gemaai. Maar wat van diegene wat ag geslaan het op Jesus se vermaning om “nie van die wêreld” te wees nie? In party opsigte was dit in werklikheid vir hulle moeiliker as wat dit vir diegene was wat met die wêreld saamgeloop het. Dit is een ding om in ’n skuilgat dapperheid aan die dag te lê wanneer die geveg op sy ergste is; dit is ’n heel ander saak om ’n mens se Bybelopgeleide gewete moedig te gehoorsaam wanneer jy gesmaad en gespot word, wanneer jy in tronkselle gegooi word wat dikwels vol goggas is, en dit soms in die skadu van ’n vuurpeloton of die valbyl. Hierdie onsydiges tydens die Tweede Wêreldoorlog was nie pasifiste nie. Hulle was stryders in ’n geestelike sin, goed opgelei in die gebruik van “die swaard van die Gees—dit is die woord van God” (Ef. 6:17). Hulle was handhawers van onkreukbaarheid. En hulle het dikwels hulle onkreukbaarheid met hulle lewensbloed verseël. Hulle was nie bang om vir ’n regverdige saak te sterf nie.

Dit word toegelig deur die geval van talle jong Christene wat deur Hitler en sy handlangers gedood is. Die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses het berig: “Die talle teregstellings wat gedurende die Derde Ryk [in Duitsland] geskied het, beklee ’n besondere plek in die geskiedenis van vervolging. Volgens onvolledige verslae is ten minste 203 broers en susters òf onthoof òf geskiet. Hierdie syfer sluit nie die in wat weens verhongering, kwale en ander wrede behandeling gesterf het nie.” Dit kom alles ooreen met Jesus se woorde: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. . . . As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.”—Joh. 15:18-20.

Hier volg ’n paar verslae oor handhawers van onkreukbaarheid:

Kort voor sy teregstelling op 9 November 1940 het ’n jong man aan sy vader geskryf: “Nou is ek ook die geleentheid gebied om my getrouheid aan die Here tot die dood toe, ja, nie net in getrouheid tot die dood toe nie, maar selfs tot in die dood te toon. My doodvonnis is reeds gevel, en ek is dag en nag vasgeketting—die merke (op die papier) is dié van die boeie—maar ek het nog nie ten volle oorwin nie. Hulle maak dit nie vir een van Jehovah se Getuies maklik om getrou te bly nie . . . My liewe vader, in gees roep ek tot u, bly getrou, soos ek gestreef het om getrou te bly, en dan sal ons mekaar weer sien. Ek sal tot op die laaste aan u dink.—U seun Johannes. Auf Wiedersehen!”

’n Christin het die klimaks van maande se bittere beproewing met hierdie woorde beskryf: “Op 11 Oktober 1941 is my man onthoof. In sy laaste brief, wat hy toegelaat is om net ’n paar uur voor sy teregstelling te skryf, het hy gesê: ‘Wanneer julle hierdie brief ontvang, my dierbare Maria en my vier kinders, Christa, Walter, Waltraud en Wolfgang, sal alles reeds verby wees en sou ek die oorwinning deur Jesus Christus behaal het, en ek hoop dat ek ’n oorwinnaar sal wees. Uit my hart wens ek julle ’n geseënde ingang in Jehovah se koninkryk toe. Bly getrou! Hier is drie jong broers by my wat môre-oggend dieselfde weg as ek sal bewandel. Hulle oë glinster!’”

En daar is nog baie meer opgetekende voorbeelde.

WAARLIK “NIE VAN DIE WÊRELD NIE”

Waar sy die standpunt van Jehovah se Getuies in Nazi-konsentrasiekampe beskryf, het Poolse sosioloog Anna Pawelczynska die volgende geskryf in haar boek Values and Violence in Auschwitz, wat vir die eerste keer in 1973 verskyn het:

“Hierdie groepie gevangenes was ’n gedugte ideologiese mag en hulle het in hulle stryd teen Nazisme geseëvier. Die Duitse groepie lede van hierdie sekte was ’n klein eiland onvermoeide weerstand in die boesem van ’n geterroriseerde nasie, en dit was met daardie selfde onverskrokke gees dat hulle in die kamp te Auschwitz opgetree het. Hulle het daarin geslaag om die respek van hulle medegevangenes . . . , van gevangenisamptenare en selfs van die SS-offisiere af te dwing. Almal het geweet dat geen Jehovahsgetuie ’n bevel sou gehoorsaam wat strydig is met sy godsdiensopvatting en oortuigings nie of niks aan iemand anders sou doen nie, selfs al was daardie persoon ’n moordenaar en ’n SS-offisier. Hy sou andersyds enige ander taak, selfs die onaangenaamste taak, na sy beste vermoë doen, indien dit vir hom moreel neutraal was. Die politieke gevangenes het ’n aktiewe stryd in die kamp gevoer, weerstand georganiseer en geveg vir die behoud van hulle medegevangenes. Die Jehovahsgetuies het passiewe weerstand ter wille van hulle geloof gebied, ’n geloof wat teen alle geweld en oorlog gekant is.” (Ons kursiveer.)

Dit was egter nie net in Duitsland nie, maar ook in al die strydende nasies rondom die wêreld dat Jehovah se Getuies eensgesind die gebod om ‘jou naaste lief te hê’ belangriker geag het as die wêreld se aandrang dat ’n mens jou medemens moet haat (Matt. 22:39; Hand. 5:29). Hulle straf het, afhangende van die land waar hulle gewoon het, gewissel van die doodstraf tot maande, en selfs jare gevangenisstraf. In een tronk het ’n man wat ’n lewenslange vonnis uitgedien het vir een van die Getuies gesê: “Ek is opgesluit omdat ek ’n polisieman doodgemaak het, en jy is opgesluit omdat jy weier om dood te maak. Dit is nogal eienaardig, nie waar nie?” Maar of dit nou vir ander “eienaardig” was of nie, Jehovah se Getuies het die Bybelse weg bewandel deur “nie van die wêreld” te wees of deel te neem aan sy orgie van bloedvergieting nie.

HULLE VERMY BLOEDSKULD

In sy alombekende Bergpredikasie het die Leier van Jehovah se Getuies, naamlik Jesus Christus, onder andere gesê: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. . . . Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur [Gehenna, NW].” Gehenna is ’n afbeelding van ewige vernietiging, want Jesus het later vir sy dissipels gesê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna, NW]” (Matt. 5:9, 21, 22; 10:28). Gevolglik het die Getuies van Jehovah altyd daarna gestrewe om vredeliewend te wees in ’n verwarde wêreld en altyd moorddadige neigings soos toornigheid en dreigemente vermy.

Hulle stryd is dus ’n geestelike stryd wat nie teen vredeliewendheid indruis nie, want die apostel Paulus het vir sy mede-Christene van die eerste eeu gesê: “Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:4, 5). Aldus het Jehovah se Getuies bloedskuld vermy.

Bloedskuld het tot die ondergang van eertydse Israel bygedra, en in hierdie verband is dit interessant om ag te slaan op die handelwyse van koning Manasse. Van hom staan daar geskrywe: “En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die HERE. Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan [as mense-offers] in die dal van die seun van Hinnom en met goëlery en met verklaring van voortekens en towery omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg” (2 Kron. 33:5, 6). Later tydens sy bewind van 55 jaar was Manasse berouvol oor sy slegte weg en het hy stappe gedoen om afgodediens in Jerusalem uit te roei. Maar bloedskuld het voortgeduur, want “Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het” (2 Kon. 21:16). Hierdie bloedvergieting was die gevolg van eiesinnigheid. Dit is nie vergiet tydens regverdige oorlogvoering op bevel van Jehovah nie.

Die bloedskuld wat Manasse hom op die hals gehaal het, is nie gedelg met die afsterwe van daardie koning nie. Dit het as ’n klad op Israel voortgeduur. Daar is nie aan die eise van geregtigheid voldoen sodat dit verwyder is nie. Gevolglik het Jehovah Nebukadnesar, die koning van Babilon, as Sy skerpregter teen Jerusalem gestuur. “Sekerlik het dit volgens die bevel van die HERE oor Juda gekom, om hulle van sy aangesig te verwyder vanweë die sondes van Manasse, volgens alles wat hy gedoen het; en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het; daarom wou die HERE nie vergewe nie.”—2 Kon. 24:1-4.

Die hedendaagse teenbeeld van ontroue Jerusalem is die valse Christendom in wie se ryk die twee bloedige wêreldoorloë van ons eeu uitgebreek het. Die valse Christendom het dus ook tallose ‘seuns en dogters’ aan die oorlogsgod geoffer (Jer. 7:31). Wat ’n groot bloedskuld rus daar tog op die valse Christendom—dit beloop tienmiljoene siele! As Manasse se bloedskuld nie vergewe kon word nie, hoeveel minder dan nie dié van die valse Christendom nie! Godsdiensorganisasies wat die geweld van die twee wêreldoorloë, asook van ander oorloë van hierdie eeu, ondersteun het, het ’n aandeel aan daardie bloedskuld. Die valse Christendom maak ’n groot deel uit van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, wat deur die apostel Johannes beskryf is as “dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus”. Dit is dus geen wonder dat die “stem uit die hemel” tot alle liefhebbers van geregtigheid roep nie: “Gaan uit [Babilon] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”—Openb. 17:5, 6; 18:4, 5.

Hoewel die valse Christendom gedoem is weens haar afgodediens en haar bloedskuld, het honderdduisende opregte persone uit daardie stelsel gekom, berou getoon oor hulle verbintenisse van die verlede en ’n rein posisie voor God en die Lam, Christus Jesus, verkry (Openb. 7:9, 10). Hulle sluit derduisende in wat as soldate in die wêreldoorloë en ander botsings van hierdie eeu geveg het. Die berouvolles kan daarvan seker wees dat God hulle hul vorige lewenswandel vergewe het (1 Joh. 1:9, 10; Jes. 1:18). Sy seën sal op hulle rus terwyl hulle nou toon dat hulle dissipels is van die “Vredevors” wat ten tye van sy inhegtenisname en verhoor gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het” (Joh. 18:36; Jes. 9:5, 6). Hulle moet dus ook voortaan geen deel van hierdie bloedskuldige wêreld wees nie. Hulle moet onder Christus se beskerming bly.—Vergelyk Numeri 35:11, 32.

NEUTRALITEIT ’N BESKERMING

Talle Christengetuies van Jehovah in Nazi-Duitsland en elders het hulle lewens verloor omdat hulle neutraal gebly het. Wanneer hulle die dood in die oë gestaar het, het hulle troos geput uit Jesus se woorde: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna, ’n simbool van ewige dood]” (Matt. 10:28, vgl. NW). Hulle is verseker van ’n opstanding (1 Kor. 15:22, 23; Hebr. 11:35). Die neutraliteit van ander was ook ’n beskerming, dikwels onder buitengewone omstandighede.

Beskou byvoorbeeld Jehovah se Getuies in Afrika. In die statte is hulle gasvry mense wat maaltye in hulle huise voorsit aan enige vreemdeling wat daarlangs kom. Hulle het egter geweier om in of ten behoewe van enige partysugtige organisasie te dien. Toe guerillasoldate eenkeer ’n indoktrineringsvergadering vir plaaslike statsbewoners belê het, het die neutrale Getuies geweier om dit by te woon. Toe vyandelike magte dus op daardie vergadering toegeslaan het en 105 van die aanwesiges met masjiengewere afgemaai het, was die Getuies se afwesigheid hulle behoud. Met die toename van vyandelikhede het die posisie van die Getuies moeiliker geword, maar hulle het altyd getoon dat hulle “nie van die wêreld” is nie.

Gedurende die komende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal die neutraliteit van Jehovah se Getuies weer eens tot hulle redding meewerk (Openb. 16:14, 16). Omdat hulle “nie van die wêreld” is nie, sal hulle vry wees van die bloedskuld daarvan. God sal andersyds die soort oordeel aan die bloedskuldige Christendom (en, wat dit betref, die hele wêreld) voltrek wat oor eertydse Jerusalem gevel is en waarvan Esegiël geprofeteer het: “So spreek die Here HERE: Stad wat daarbinne bloed vergiet, dat sy tyd kan kom, en drekgode teen homself maak, om hom te verontreinig! Deur die bloed wat jy vergiet het, het jy skuldig geword; en deur jou drekgode wat jy gemaak het, is jy verontreinig; . . . Kyk, so slaan Ek dan in my hand oor . . . jou bloedskuld wat in jou is. . . . en Ek sal jou onreinheid uit jou wegruim. . . . en jy sal weet dat Ek [Jehovah] is.”—Eseg. 22:3, 4, 13-16.

“Naby is die groot dag van die HERE”! (Sef. 1:14). ’n Hele bloedskuldige wêreld sal eerlank vernietig word. Maar aan diegene wat onbevrees “nie van die wêreld” is nie, sal Jehovah die uitnodiging rig: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie” (Jes. 26:20, 21). Nadat Jehovah met die bloedskuldige wêreld afgereken het, sal sy rein volk voortkom uit die skuilplek wat wonderdadig vir hulle voorsien is sodat hulle ewige vrede kan geniet op ’n aarde wat nooit weer bevlek sal word met die bloed van oorloë en geweld nie (Ps. 46:9, 10). Dan sal diegene wat ‘geen deel was van die wêreld’ wat vergaan het nie, in God se nuwe orde oorbly om vir ewig sy wil te doen (1 Joh. 2:17). Hulle sou sodoende hulle deel bygedra het tot ’n bloedvrye geskiedenis van Christelike neutraliteit in ’n verwarde wêreld.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel